Wanneer kom daardie briefie…

Hierdie foto en idee het ek gesteel by ‘n Amerikaanse vriendin se blog:

http://onebrightcorner.blogspot.com/2011/11/opportunity.html

Haar blog het net gegaan oor geleenthede om mense te vertel van die Here se liefde.

Ek wil so bietjie anders vanaand  dink oor geleenthede.

Miskien dink ekke vanaand weer net te diep, en miskien gebeur dit wanneer die Swart Hond my bekruip. Ek het weer hierdie week baie gesukkel om te slaap, en in die dag was ek redelik nutteloos. Soveel so dat ek more maar vir die kerkkantoor gaan vra om vandag as ‘n dag verlof aan te teken. Ek het net by niks en niemand uitgekom nie, behalwe een bruid.

Maar weet julle, dit wat my gevang het, was ‘n baie lekker gesprek gistermiddag  met ‘n gemeentedame wat vandag vir ‘n groot rugoperasie moes ingaan. Ons het baie lekker gesels oor baie dinge, en sy was in ‘n vorige lewe met ‘n dominee getroud, dit het nie so goed geëindig nie…

Die een vraag wat sy my gevra het, en wat my nou  redelik aan die dink het is eenvoudig: Hoe lank is ek al waar ek nou is? Die antwoord is redelik eenvoudig. Of is dit?

Ons  het in onse dorpie ingetrek presies op die dag wat Nelson Mandela president van Suid-Afrika geword het. 10 Mei 1994.  Toe ons so om Pretoria ry, was daar groot weermag en polisieteenwoordigheid oral langs die pad.

Ek en vroulief het een klein rooikopdogtertjie saam met ons gehad, tien maande oud.

Ons is verwelkom op die Platteland, soos seker net Plattelandse gemeentes nog kan doen- ek kan nie uit ‘n stadskonteks uit praat nie, want ek weet nie.

1994 was my eerste jaar in die bediening. Dit was ‘n fantastiese jaar- ek het dit so geniet met die groot plaaswyke wat aan my toegeken is, en om ver te kan ry om mense te gaan ontmoet- toe was dit vir my baie opwindend! Maar  dit was ‘n stormagtige jaar! Daar was soveel politieke emosie in daardie dae. En dan nog in die gemeente ook- twee buiteposte se dienste is afgeskaf- as mense koöperasie toe kan ry Saterdag, kan hulle kerk toe ry sondag ook (ek het nog altyd gedink dit was ‘n dom besluit, en het dit so baie geniet om by die boere te gaan preek by die ou skoolsaaltjie 50 km van die dorp af…)  Daar is in hierdie tyd ook ‘n grenswysiging tussen die twee gemeentes in die dorp gewees, en in daardie warm politieke jaar is besluit om 1/3 van die gemeente met ‘n predikantspos aan die sukkelende buurgemeente te gee. Lyne is getrek, mense is ingelig, en die dominee wat beroep word, moet gaan. Die beplanning  van die sturende gemeente was- een van die ouer kollegas is gereed om te skuif. Die besluit van die ontvangende gemeente was: ek is die goedkoopste een. Ek het nie ‘n keuse gehad nie, ek moes gaan.

Ek was maar 11 maande in my eerste gemeente gewees. Dit het 67 aansoeke en 7 onderhoude geneem om daar uit te kom. Dit het drie maande se onderhandelings en twee kerkrade se vergaderings gekos om my te dwing in my tweede beroep in. En ek het getreur oor daardie vinnige losmaak van ‘n gemeente vir wie ek baie lief geword het.  Daar was twee baie intens persoonlike krisisse in daardie tyd in ons huis, wat ek steeds nie graag oor wil gesels nie.

En in die ander gemeente was dit ‘n Bumpy ride gewees…  Hulle was nog die baie tradisionele gemeente, wat wou gehad het die nuwe kerkraadslede moet almal dadelik swart pakke en wit dasse gaan koop. En toe ek dit heftig teenstaan, is ek dadelik gebrandmerk as ‘n rebel.  Die eerste twee jaar in die gemeente was nag. Daar was baie wantroue, en baie partyskappe gewees. Maar stadigaan het alles rustig geraak.

In die nuwe gemeente is mettertyd nog drie seuns gebore. Die jaarlikse siklusse van gemeentekalenders wat deurgewerk word, het so getrou soos die aarde se reis om die son plaasgevind. Daar was baie goeie dae, en baie slegte dae. Daar was uitstekende jare, en daar was ‘n keer wat ek met my 9mm in die hand gesit en wonder het hoekom ek nie die sneller moet trek nie…

Oor die jare het ons verhoudinge met so baie mense gebou. So baie mense het so baie dinge vir ons beteken. En party het ons soms diep teleurgestel en in die rug gesteek.  Ons het baie goeie vriende gemaak. En dit is die een ding wat ek my hele lewe lank al mee sukkel.  Ek sukkel regtig om diep en blywende verhoudings te bou. Dit gaan nou baie beter, op skool was ek altyd die stil eenkant outjie met die raserige bike…

Geestelike vaders het gekom en gegaan. Party, vir wie ek baie respek het, het sommer net die gemeente verlaat. Sonder om ‘n woord te sê.  Daar was ook al die normale kwota Plattelandse interne politiek- spanning tussen kerke, spanning tussen skole, spanning tussen ryk ouers.

Al hierdie goed kan ons nou al in ons stride hanteer. Maar net soms…

Van ons beste vriende gaan nou Kaap toe trek. Sal hulle darem jaarliks sien met die Argus. Verlede jaar het van ons beste vriende Betlehem toe getrek. Ons sukkel om mekaar gereeld te sien.  En nou is van my beste vriende in die kerk ook besig om hulle poste stadigaan te begin verloor as gevolg van ekonomiese tye en die ontvolking van die Platteland.

Ek vat regtig lank om diep vriendskappe te bou, dit gebeur nie oornag nie.  En ek is besig om stadig uit die mense die naaste aan my (behalwe nou my gesin natuurlik) te hardloop- hulle raak al hoe verder weg van my.

Ek kom met ‘n skok ook agter dat klein Rooikoppie nou ‘n vrou is, besig met haar laaste eksamen, ses weke weg van die einde van haar permanente verblyf in my huis.  En al wys ek dit nie, is dit eintlik so glad nie lekker nie!

Ons het verlede week volgende jaar se beplanning gedoen.  Ek wil nie ‘n negatiewe mens wees nie. Maar dis asof ek so verskriklik opsien na nog ‘n jaar van dieselfde dinge doen, by dieselfde plek.  Dieselfde ou stories oor en oor hoor van dieselfde mense. Dieselfde moeilikheid wat ek nie kan uitsorteer nie- dit sit nie in my om ‘n wonderlike sendingbediening te hê nie.

Ek is vanaand hartseer oor goeie vriende wat nie meer ‘n oproep ver na ‘n bottel rooiwyn toe is nie. Ek verlang na goeie vriende wat al lankal elders bly, en met wie ek min kontak op die oomblik het.

Ek kyk na die advertensies in die Kerkbode. Ek stuur soms my CV weg. Ek wonder soms: is dit nog in my om te skuif, en nuwe mense te ontmoet, en oor te begin? Ek is soms so lus vir nuwe uitdagings en nuwe horisonne, ander dae is ek so verskriklik skytbang dat ek vasgeroes het in my eie groef, en nie meer die uitdaging kan aanvaar nie.

Met elke gemeente wat nee sê, voel die droom al hoe verder. Van my klasmaats sit al in hulle vierde of vyfde dorp, ek sit nog steeds waar ek al my foute as dominee gemaak het, ek kyk vir altyd in dieselfde gesigte vas, en ek sien in ‘n Ringsgemeente hoe dit lyk as die gemeente hulle dominee begin wegwens… ek wil nie so hier weggaan nie…

Soms wens ek ook net vir daardie boodskap in die bottel.  ‘n Uitnodiging na ‘n totaal nuwe lewe. Soms wens ek ek kan beleef wat my goeie vriend nou beleef- ‘n ander maatskappy wat gretig is om jou by hulle te hê, die soek na ‘n nuwe huis. Soms wens ek ek kan ook trek na ‘n plek waar ek op ‘n Vrydagaand die son kan sien sak oor die Atlantiese oseaan…

Soms, net soms, voel ek of die Hemelse Personeelbestuurkantoor van my vergeet het…

Move to trash? Of Publiseer?  Ek is nie seker nie. Ek kan dit vir niemand op my eie naam blog vertel nie. Ek is verseker nie meer lus vir die snotty aanmerkings op litnet nie.  Die vriende vir wie ek hierdie dinge kan sê, is al hoe verder weg…

13 thoughts on “Wanneer kom daardie briefie…

  1. Gelukkig sê jy hierdie dinge vir die heel belangrikste mens in jou lewe, jouself. Want die feit dat jy dit so kan uitskryf, is gesond, want dan erken jy dit aan jouself. Weet jy wat is erger? Om hierdie gevoelens te onderdruk.
    My hele lewe het verander toe ek my woede in al sy naaktheid op papier uitgeskryf het, per hand, en dit om ‘n seremoniële vuurtjie verbrand het. Wioede teenoor almal vir wie ek dit gevoel het, en blameer het vir iets. Van my laerskoolhoof, tot my pa en my man. My kinders. Ek het soos ‘n boesman om ‘n vuurtjie gesit en gekyk hoe ou haat en woede in rook opgaan. Dit was seker so 12 jaar gelede, en van toe af het ek vrede in my hart gehad. En weet jy wat? TOE val my hele lewe in plek.
    Sterkte vir die res van die jaar!

  2. Enige tyd. Ek hoor hulle moor mekaar so bloedig uit daar. Daar gaan net stof en str@nt oorbly as dit so aanhou. Ek is ook nie lus om heeltyd my woorde te moet tel nie. Nie dat ek iets in die openbaar sê waaroor ek my hoef te skaam nie, maar jy moet so watch, want alles wat jy sê word fyn dopgehou en dan later buite konteks aangehaal en teen jou gebruik. En ek het nie lus of tyd vir sulke twak nie. En ek het gatvol geraak dat hulle mens se persoonlike lewe so betree, by my huis kom aanklop onder ‘n voorwendsel van blyplek soek, net om te kyk hoe lyk die suurgat antie, En die oproepe, en dreigemente. Nee wat. DIe mense wie se blogs ek daar mis, ken ek nou buitendien persoonlik, so dit kan my nie ‘n blou duit skeel wat meer daar aangaan nie.

  3. Hou aan CV’s weg stuur. As jy nie aansoek doen nie, weet hulel nie dat jy belangstel nie. Of dat jy leef nie.

    Ek glo dat dit goed sal gaan met jou en joune.

  4. Hierdie stuk is in die algemeen baie vêr bokant my paygrade, maar daar is tog gedeeltes wat heeltemal te bekend lyk.

    Die skryf help, daar kan ek met sekerheid vir Maankind beaam.

    Vir die res, vasbyt en sterkte. Moenie opgee nie, klein treëtjies stap die langste pad klaar.

  5. Dit is nou ‘n moeilike skrywe hierdie een… miskien dink jy ek het my varkies verloor soos die dokter wat vir my gelag het toe hy sien watse boek lees ek. Maar dit wat jy hier bo skryf klink so oorbekend – ‘n man wat hierdie lewens vrae vra – jy wat nie weet hoe om te antwoord of te help nie – ‘n man wat al kwater raak, vir jou vir die kinders vir sy werk, vir God – die antwoorde bly weg. Dan probeer die man selfmoord pleeg, en jy sit stomgeslaan met jou ses kinders om jou. “Here wat gaan aan?”…. en op ‘n wonderbaarlike manier stuur God ‘n boek vir jou “Men in Midlife Crises.” Jy lees van die predikant wat op ‘n Sondag oor sy gemeente kyk en besluit.. weg meg almal, vanmiddag ry ek die wereld in (as ek my nie misgis nie, op sy motorfiets.,) en los alles agter my. Jou mond hang oop van verbasing… hy praat, dink, voel dan soos hierdie man van jou nou al ‘n paar jaar vir jou se hy voel en dink. Nou verstaan jy wat in jou man aangaan, en kan dit beter hanteer. Maar daar is nie ‘n oornag oplossing nie. Sewe jaar en sewe maande later gaan sit jy by die Here se voete…. moeg, sielsmoeg, en vertel Hom dat jy nie meer kans sien nie, dat hierdie man nooit weer die lig gaan sien nie. Drie dae later is alles verby….. nes daardie dominee gese het….. hy is deur die tonnel…. hy is in die lig. Delete maar die skrywe as dit jou…. die Afrikaanse woord is weg “affront.” Sterkte dominee.

    • Nee Lana, natuurlik affronteer jou skrywe my glad nie! Ek sal nie wegloop van my vrou en kinders nie, heeltemal te lief vir hulle. Ook nie sommer net van my gemeente en my mense nie- ek hou darem regtig van 70% van hulle! Maar net soms wonder ‘n mens hoe sou dit wees om vir een maal weer oor te begin op ‘n ander plek… (naby die see, soos almal mos maar droom…)

  6. Dink so daaraan. In ‘n nuwe gemeente moet jy weer ingeburger word en dan het jou nog steeds almal se probleme saam met 10 ander.

    Toe gegee, die enigste swart hond wat ek ken, is ‘n rottweiler en ek sorg altyd dat daar ‘n muur (verkieslik ‘n erf) tussen my en hulle is. 😉

    Sterkte.

  7. Ek het jou blog gisteraand gelees net voor ek gaan slaap het, en toe bly ek wakker en worry oor jou. Toemaar, hou moed. Dinge sal verander. En soos almal jou aanraai, hou aan om aansoek te doen.

    Hierdie aanhaling was nog altyd vir my waar:

    Whatever you can do, or dream you can, begin it. Boldness has genius, power, and magic in it.
    – Johann Wolfgang von Goethe

  8. Die Hemelse Personeelbestuurkantoor het nie van jou vergeet nie – dis nog net nie die regte tyd nie. Ek het met moeite geleer dat MY tyd nie altyd God se tyd is nie. Have patience, have faith. En soos Krista sê, moenie ophou CV’s uitstuur nie.

    Ons is nou wel net vriende agter ‘n skerm, maar ons almal like jou stukkend. Die van ons wat glo, bid vir jou. En die van ons hier wat nie glo nie, bid in elk geval ook vir jou, net op ‘n ander manier. Hugs!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s