Tyd vir ‘n ou liefde…

Ek het moed bymekaar geskraap en Pastoriemoeder vir ‘n kuier na skoonma toe gevat.  Ek was laas daar met Skoonpa se begrafnis in Februarie, en ‘n mens moet darem in die skoonfamilie ook jou kant probeer bring…

Op pad na die kuier toe het ons darem eers vir ‘n slag by Reader’s Warehouse gestop.  En ek het dit nou geniet! Die een boek waarvoor ek al lankal wag, is uiteindelik geskryf, en alreeds goedkoper op die rak. Nelson de Mille se “The Lion”- die opvolg op “The Lion’s Game…”. Ek is destyds ook meegevoer deur die reeks van Tom Hanks en Stephen Spielberg- “Band of Brothers”. Dit is uitstekend nagevors en saamgestel deur Stephen Ambrose, en vir net R40 op die rak. Verder was daar ‘n kompilasie van twee boeke van Jack Coughlin, Kill Zone en Dead Shot.  Couglin was self ‘n Marine Sniper, en ken die wetenskap van skerpskutter wees baie goed.

Na aandete Vrydagaand het ek weggespring met Band of Brothers. Ek kan nie onthou hoe laat ek gaan slaap het nie, maar het Saterdag oggend vinnig die boek klaargemaak. Toe het ek gaan karre en motorfietse kyk. Sommer weer heimwee in my hart gekry- by Piet Spoed se Bikewinkel staan daar tans ‘n 2000 model BMW R1100 RT met panniers, topboks met rugleuning vir die passasier, net 82000 km op, vir R49 000. En ek het daar gestaan en sommetjies maak- as ek nou die fiets koop, en dan vir ou Huisbesoek so R25000 kan kry…  Telkens spring die studies van Matriekmerrie weer in die gedagtes op, en smoor alle drome van ander voertuie dadelik in die kiem.

Saterdag na middagete het ek weggespring met The Lion. Nelson de Mille op sy beste is iemand wie ek nie kan neersit nie. Ek hou van sy sarkastiese helde, ek geniet sy humor, en hy handhaaf ‘n uitstekende spanningslyn reg deur die boek.  So is ek met The Lion besig gewees tot die laaste bladsy laat Saterdagaand.

Sondagoggend het Pastoriemoeder terugbestuur. En ek het lekker gesit en lees aan Kill Zone in die kar op pad terug huis toe.

Ek het baie lanklaas drie boeke oor ‘n naweek kon lees.  Dit bly een van my oudstye liefdes in my lewe. Dit was vir my baie ontspannend, en Pastoriemoeder en skoonma kon lekker gesels en grappies maak terwyl hulle sit en tee drink op die stoep.

Gisteraand was hier uiteindelik ‘n heerlike donderstorm gewees, en vanoggend is die lug die mooiste blou.

Maar nou lê daar ‘n week van Epidermiese proporsies voor- daar is ‘n hoop werk wat wag- ietsie kleins soos die omgeegroep materiaal vir die eerste ses maande  wat al verlede week klaar moes gewees.

Maar nou stap ‘n goeie vriend en kollega hier by my studeerkamer in- een van dié wat my so bekommerd gehad het verlede week. Gaan nou met hom kuier. Sterkte vir jou week, hoop so nou en dan duik daar iets lekkers op, en gebeur daar iets  wat jou asem wegslaan van mooi.

Advertisements

6 thoughts on “Tyd vir ‘n ou liefde…

  1. Dit is seker een van die grootste plesiere in die lewe. Om met ‘n boek te kan gaan sit en dit klaar te lees. Helaas het ek ook nie meer juis tyd daarvoor nie.

    Jy is gelukkig dat jy nie naar raak as jy in ‘n bewegende kar lees nie.

    Ek is baie jaloers op julle donderstorm.

  2. Droom maar aan oor die motorfiets, ‘n Mens is blykbaar nooit te oud vir daardie donderblits nie. Juis die naweek vertel my skoonseun van die (ek praat onder korreksie) 78 jarige oom wat sy Harley uitgetrek het, en, met vroulief agterop (ook oud) die ooppad gevat het.

  3. Ek is baie ernstig besig met die 3de boek van Jean M Auel se reeks Earth’s Cildren – The Mammoth Hunters. Dan gaan ek weglê aan Inheritance van Paolini en Snuff van Pratchett. Ek het ook nog George RR Martin se Ga,e of Thrones en A Clash of Kings wat wag. En I am Number Four.

    (Ek dink ek het ver te min leestyd. Die week in Nelspruit in Desember gaan ‘n lees-week moet wees.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s