“Thanksgiving” dag in die VSA, hoekom nie sommer hier ook nie?

Maankind het vanoggend my gedagtes op loop gesit oor die idee van Dankie Sê…

Vanoggend moes ek gou kyk of die nuwe ogie van my satelietskottel werk. Ek sit op CNN om ook sommer die wêreldnuus te kyk. En een van die berigte is hoe Pres Barack Obama amptelik ‘n kalkoen Presidensiële kwytskelding gee- daardie een gaan nie op ‘n Amerikaanse bord beland vandag nie.

Die Amerikaners vier Thanksgiving op die 4e Donderdag van November elke jaar. Die gedagte gaan terug na hulle Pilgrim Fathers in 1621, met ‘n dankiesê geleentheid in Plymouth in 1621 as gevolg van ‘n goeie oes. Dit het eers anderkant die 1660’s ‘n gereelde verskynsel in Massachussetts geword, wat later ‘n tradisie in die hele land geword het.

Een van die geleenthede heel in die begin was ook gekenmerk deur ‘n oes wat  misluk het, en die Wampanoag  stam het hulle oor die bleekgesigte ontferm en hulle gehelp.

Jaarliks is dit die geleentheid waar families bymekaar kom, en dankie sê vir goeie oeste, vir die hulp van mense, vir familie, vir kosbare gawes en geskenke in elke mens se lewe.

Iets daarvan beleef ons gesin rondom Kersfees.  Maar ek het tog ook gewonder of daar nie meer sulke geleenthede in ons familie se jaar moet wees nie. Tye waarin ons fokus op die mooi dinge in ons lewe. ‘n Tyd om te waardeer, en dit vir ‘n slag te sê.  So dikwels dink ons dalk dankie, maar ons sê dit nie altyd nie.

Waaroor sou ek dankbaar wees as ek vanaand rondom ‘n vet kalkoen saam met familie en vriende kon wees?

  1.  my huwelik- al gaan dit soms met stampe en stote, is dit ook my begeerte om saam met die vrou van my jeug oud te word.
  2.  Vir gesonde kinders, wat elkeen op hulle unieke manier iets bydra in my menswees.
  3. Vir baie goeie vriende, saam met wie ek soms om ‘n bottel rooiwyn en langs ‘n vuurtjie weer die lewe se sin kan herontdek.
  4.  Vir ander baie goeie vriende saam met wie ek galonne koffie per jaar kan opdrink. en so my varkies op hok kry.
  5.  Dat ek nog ‘n geleentheid het om my roeping uit te leef, en mense wat my daarin ondersteun en dra.
  6. Dat my dogter gister haar skoolloopbaan kon afsluit, en dat sy ‘n baie wonderlike jaar beleef het in die akademie, kultuur en sportgebied.
  7.  Dat my oudste seun klaar langer as ek is, ek wou so graag weer lengte in die familie inteel- mission accomplished!
  8.  Dat daar darem nog ‘n vleisie van die basaar oor is om te kan braai.
  9. vir die goedheid van mense in my lewe wat ek deur die blogs ontmoet het, en sommiges wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.
  10.  Vir my motorfiets, wat my steeds groot vreugde gee wanneer die mensdom as geheel my onderkry.
  11. Vir die reënplassies op  ‘n bosveld grondpad wat ek vanoggend moes ry om iemand te gaan bemoedig.
  12.  Vir die prag van drie koedoebulle wat saam in die veld staan en wei, elkeen van hulle ‘n trofeedier wat gelukkig nog lewe!
  13.  Vir ‘n kollega wat ‘n vriend is, en wat my ruimte gee wanneer ek nie eers myself verstaan nie…
  14. Vir al die wonderlike boeke wat ek al in my lewe kon lees, wat ietsie meer van ‘n groot groot wêreld en heelal vir my kon oopmaak.
  15. Vir die vyf eiervrugplante wat wel groei in my groenteboerdery, en die belofte wat nuwe bloeisels bring.
  16. Vir die wonder van slaap, al gebeur dit deesdae met chemiese aanmoediging.
  17.  Vir wonderlike fotos, waarmee mense ietsie van die wêreld met ietsie van hulle eie siel se waardering meng, en dit soms op die internet met ons deel.
  18. vir die paar pasgebore babatjies in ons gemeente, wat so ‘n belofte van hoop en liefde vir die toekomspad saamgebring het…
  19. die wonder van geliefdes se liefde, ver bo wat ek ooit verdien.
  20.  die wonder van God se liefde, wat soveel meer genade gee as wat ek ooit kan opgebruik…

Ek moet vanaand by die Laerskool se prysuitdeling wees.  Dit maak die kalkoengedagte nie moontlik nie. Dalk moet ek dit more aand probeer!