“Thanksgiving” dag in die VSA, hoekom nie sommer hier ook nie?

Maankind het vanoggend my gedagtes op loop gesit oor die idee van Dankie Sê…

Vanoggend moes ek gou kyk of die nuwe ogie van my satelietskottel werk. Ek sit op CNN om ook sommer die wêreldnuus te kyk. En een van die berigte is hoe Pres Barack Obama amptelik ‘n kalkoen Presidensiële kwytskelding gee- daardie een gaan nie op ‘n Amerikaanse bord beland vandag nie.

Die Amerikaners vier Thanksgiving op die 4e Donderdag van November elke jaar. Die gedagte gaan terug na hulle Pilgrim Fathers in 1621, met ‘n dankiesê geleentheid in Plymouth in 1621 as gevolg van ‘n goeie oes. Dit het eers anderkant die 1660’s ‘n gereelde verskynsel in Massachussetts geword, wat later ‘n tradisie in die hele land geword het.

Een van die geleenthede heel in die begin was ook gekenmerk deur ‘n oes wat  misluk het, en die Wampanoag  stam het hulle oor die bleekgesigte ontferm en hulle gehelp.

Jaarliks is dit die geleentheid waar families bymekaar kom, en dankie sê vir goeie oeste, vir die hulp van mense, vir familie, vir kosbare gawes en geskenke in elke mens se lewe.

Iets daarvan beleef ons gesin rondom Kersfees.  Maar ek het tog ook gewonder of daar nie meer sulke geleenthede in ons familie se jaar moet wees nie. Tye waarin ons fokus op die mooi dinge in ons lewe. ‘n Tyd om te waardeer, en dit vir ‘n slag te sê.  So dikwels dink ons dalk dankie, maar ons sê dit nie altyd nie.

Waaroor sou ek dankbaar wees as ek vanaand rondom ‘n vet kalkoen saam met familie en vriende kon wees?

  1.  my huwelik- al gaan dit soms met stampe en stote, is dit ook my begeerte om saam met die vrou van my jeug oud te word.
  2.  Vir gesonde kinders, wat elkeen op hulle unieke manier iets bydra in my menswees.
  3. Vir baie goeie vriende, saam met wie ek soms om ‘n bottel rooiwyn en langs ‘n vuurtjie weer die lewe se sin kan herontdek.
  4.  Vir ander baie goeie vriende saam met wie ek galonne koffie per jaar kan opdrink. en so my varkies op hok kry.
  5.  Dat ek nog ‘n geleentheid het om my roeping uit te leef, en mense wat my daarin ondersteun en dra.
  6. Dat my dogter gister haar skoolloopbaan kon afsluit, en dat sy ‘n baie wonderlike jaar beleef het in die akademie, kultuur en sportgebied.
  7.  Dat my oudste seun klaar langer as ek is, ek wou so graag weer lengte in die familie inteel- mission accomplished!
  8.  Dat daar darem nog ‘n vleisie van die basaar oor is om te kan braai.
  9. vir die goedheid van mense in my lewe wat ek deur die blogs ontmoet het, en sommiges wat ek nog nooit van aangesig tot aangesig gesien het nie.
  10.  Vir my motorfiets, wat my steeds groot vreugde gee wanneer die mensdom as geheel my onderkry.
  11. Vir die reënplassies op  ‘n bosveld grondpad wat ek vanoggend moes ry om iemand te gaan bemoedig.
  12.  Vir die prag van drie koedoebulle wat saam in die veld staan en wei, elkeen van hulle ‘n trofeedier wat gelukkig nog lewe!
  13.  Vir ‘n kollega wat ‘n vriend is, en wat my ruimte gee wanneer ek nie eers myself verstaan nie…
  14. Vir al die wonderlike boeke wat ek al in my lewe kon lees, wat ietsie meer van ‘n groot groot wêreld en heelal vir my kon oopmaak.
  15. Vir die vyf eiervrugplante wat wel groei in my groenteboerdery, en die belofte wat nuwe bloeisels bring.
  16. Vir die wonder van slaap, al gebeur dit deesdae met chemiese aanmoediging.
  17.  Vir wonderlike fotos, waarmee mense ietsie van die wêreld met ietsie van hulle eie siel se waardering meng, en dit soms op die internet met ons deel.
  18. vir die paar pasgebore babatjies in ons gemeente, wat so ‘n belofte van hoop en liefde vir die toekomspad saamgebring het…
  19. die wonder van geliefdes se liefde, ver bo wat ek ooit verdien.
  20.  die wonder van God se liefde, wat soveel meer genade gee as wat ek ooit kan opgebruik…

Ek moet vanaand by die Laerskool se prysuitdeling wees.  Dit maak die kalkoengedagte nie moontlik nie. Dalk moet ek dit more aand probeer!

Advertisements

19 thoughts on ““Thanksgiving” dag in die VSA, hoekom nie sommer hier ook nie?

    • Dankie, ek het hierdie idee by jou gekry, en in die opgedateerde weergawe die erkenning daarvoor ook deurgegee. Waar begin ons? Met ons eie gesinne- ons kan mos kies om dit ‘n familie tradisie te maak… dis ‘n baie goeie een, dink ek!

  1. Ek weet darem nie. Om “Thanksgiving” te vier kom vir my neer daarop om die Stars and Stripes te huis en Suid-Afrika die 51ste staat van Amerika te maak. Ek verpes dit hoe ons soms veramerikaans. Ek wil kots as ek net die woord Santa sien en hoekom de duiwel moet ons opsluit Haloween deesdae vier. Thanksgiving is ‘n belangrike dag in hulle geskiedenis en hulle het nie hulp nodig om dit te vier nie.

  2. Dit sal vreeslik wees as mens een dag ‘n jaar uitsonder om dankbaar te wees. Ek is dankbaar as ek by die komplekshek uitry en die doudruppels hang blink aan die doringbome. Ek voel dankbaar as ek my seuntjie gaan oplaai by die skool en ek sien watter gelukkige huppelkind hy is. Ek voel dankbaar dat ek ‘n man het wat vir my lief bly ondanks al my grille en geite. Ek voel dankbaar…oor baie dinge…elke dag. Om dit net op een dag te wees, sal my arm maak.

    Maar ek catch jou drift. 😉

    • Ek stem heeltemal saam met jou! Maar dis ook soos ek wat elke dag vir my vrou lief is. Maar as ek nie bietjie ekstra insit op haar verjaardag en ons herdenking nie, voel sy nie meer so spesiaal nie… Ons mense het maar soms bakens langs die pad nodig om fees te vier, anders verval ons in ‘n groef van gewoonte.

  3. Ek dink ons het reeds 12 dae om vir verskeie redes dankbaar te wees. DAn praat ek nie oor iets soos Moedersdag, Vadersdag of Valentynsdag nie.

    Ek moet toegee dat ek nie noodwendig teen ‘n Dankbaarheidsdag is nie (al voel dit vir my te stroperig), maar dit moet asb net nie die Amerikaners navolg nie.

    • 🙂 Jy klink so kwaai vandag! Nee, sal dit nie in die Amerikaanse styl doen nie, ek weet nie of ek van kalkoen hou nie! Rumpsteak en pap en sous klink meer na my dankbaarheidskos, met so ‘n botteltjie Slanghoek Camerca saam…

  4. Ek sal maar eerder net elke dag dankbaar wees, voor die Merrieperd my ook invlieg 😉 Ek kyk eergisteraand na ‘n program op Kwela waar ‘n Down Sindroom meisie veel meer bereik het as party normale mense en ek huil sommer lekker en besef weereens dat ek nie elke dag genoeg dankbaar is nie – nie eers naastenby genoeg nie!

  5. Ek is elke dag dankbaar: vir my man en ons liefde, vir my werk al kla ek partykeer hoe hard, vir Lindt en Magnum’s, vir noeke en musiek, vir my Ma, vir allerhande klein dingetjies waaraan mens nie altyd dink nie, maar tog dankbaar is voor . . .

    *wink* en dat ons jou (julle) ken *nudge*

  6. Terug pieng: Dankbaar | Toortsie en Kameel

  7. Hoor, hoor… En ek stem, lyk vir my die wa is deur die drif, so ek se sommer dankie tog dat elke drif ook ‘n ‘anderkant’ het. O, en ook vir die feit dat die ‘anderkant’ gewoonlik nie so nat en koud is nie! Geniet die sonnetjie!

    Sommer so vyf dankies in een paragraaf! 🙂

  8. Dit is hartseer dat mens altyd vinnig aan dinge kan dink om oor te kla, maar al die dingetjies wat ons elke dag mee geseën word soms miskyk. Daar is soveel om voor dankbaar te wees – en die feit dat ek weer vanoggend wakker geword het, en nog ‘n dag by my lewe gevoeg is, seker die grootste daarvan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s