Oudword is nie vir sissies nie…

Ek werk mos die afgelope paar maande saam met my gemeente die Predikerboek in ons weeklikse Bybelstudie deur. En die Prediker is nogal swaar leesstof om te verteer… alles is ‘n gejaag na wind, dis beter om dood te wees as om te lewe, om te sterf eerder as om gebore te word… daardie tipe dinge. Moreoggend sluit ons gelukkig die Prediker af, met die laaste hoofstuk, hoofstuk 12.

Daar is nogal baie goeie raad in daardie hoofstuk. Dit begin met die bekende vers 1, wat ons herinner om aan ons Skepper te dink in die dae van ons jeug, want later word ons ouer, en dan word dit al hoe moeiliker om te verander.

Die oudword proses word so mooi beskryf in die Prediker.  Ons sien al hoe swakker- vers 2 praat van die son, maan en sterre wat stadigaan begin verduister.  Die wolke kom terug na die reën- dit word al hoe donkerder.  Die wagters voor die huis begin bewe, seker ‘n vermelding van eens sterk arms en bene wat net nie meer is wat dit was nie. Die malers staak hulle werk en word min- ons begin tande verloor.  Die geruis van die meul verswak, ons hoor nie meer so mooi nie.   Die lied van die voëltjies word al dowwer- die mooi dinge skuif stadig buite die bereik van ons sintuie.

Die Prediker het selfs my aftreedorpie geken! In vers 5 praat hy van die mense wat vinnig bang word vir hoogtes en verskriklike dinge aanvang op die pad!  Die lentebloeisels van die amandeltak maak hom nie meer opgewonde nie, en die kapperkruid (stimulante?) werk nie meer nie…  En uiteindelik word die silwerdraad afgebreek, die goue kruik val, en die lewe is verby soos ‘n stukkende kruik by ‘n put, waarvan die wiel van die katrol ingeval het…

Digterlike taal, en ‘n mens lees met soveel deernis daarvan as jy gereeld met bejaarde mense werk. Ek het juis verlede week vir twee in die negentig jarige dames gaan kuier by ons ouetehuis. Die een se dogter het mooi gevra- gaan kuier, want sy is bang vir die einde… die ander een is al 96 en dink die Here het haar hier vergeet, sy wil ook graag gaan kyk waar is die res van haar gesin en vriende wat alreeds deur die Jordaan is…

Hoekom skryf ek oor hierdie onderwerp vandag? Die Bybelstudie van more het my seker geïnspireer.  Maar ek dink ook daardie middeljare ding is nie aldag ‘n man se vriend nie. Dit begin my regtig  vang dat my eerste kind die huis oor ses weke gaan verlaat. Dinge gaan nooit weer dieselfde wees nie- van nou af is sy ‘n kuiergas by my, nie meer ‘n inwoner nie. Dis nie meer vanselfsprekend dat sy saamgaan as ek iets beplan vir die gesin nie.

Ek self is besig om ouer te word. Dit vat langer om fiks te word. Slaap is skielik weer ‘n luukse, en glad nie vanselfsprekend nie.   Vandat baie goeie vriende nou besig is om op te pak om Kaapstad toe te verhuis, sien ek skielik met nuwe oë dinge in die dorp waarin ek al 17 jaar bly. Skielik lyk almal vir my ouer- my huisdokter, die skoolhoof, die mense in my Bybelstudiegroep, my vrou, en ekself!

Ek het seker maar daardie Dylan Thomas gevoel van Rage against the Dying of the Light…  Ek stry nog teen oudword. Ek stry teen die grys hare, en my pa se gesig wat ek al meer in die badkamerspieël sien. Ek stry teen die plooie, en die gravitasie wat van my borskas ‘n hangkas begin maak.

Ek vermoed dat die enigste oplossing dalk ‘n nuwe, groter motorfiets sal wees. Maar dis nie nou moontlik nie. Dalk moet ek maar net my leerkleertjies aantrek, en daar in Murphy se dorp gaan kuier met die Poison Rally hierdie naweek.

Ek hou nog altyd van die Harley leuse- Grow Old Disgracefully.  Ja, dis nog steeds ek daardie.  Ek wil eendag nog steeds die wille oom met die motorfiets in die ouetehuis wees, besig om onverantwoordelik op te tree en groot geraas te maak.

Op my motorfiets voel ek nog soos daardie 17 jarige seun, wie se Bobcat saam met die MBX’e in Newcastle rondgehardloop het, soos Jaco Kirsten ons beskryf het in die Weg se artikel- “Die Fifties van Newcastle…” Ja, ek was een van hulle, ek het net om die hoek van Jaco Kirsten gebly. Klein windgat…

Ek wil so graag weer eenkeer teen Panty Valley afjaag, voete ingehaak agter die flikkerligte, regterhand wat die fiets oopketel draai,  en die wêreld wat verby skiet teen onverantwoordelike vaart…

Hoekom word die kindertyd herinneringe soveel meer soos ek ouer word? Hoekom begin ‘n mens dit romantiseer? Hoekom vra ek so baie hoekoms deesdae?

3 thoughts on “Oudword is nie vir sissies nie…

  1. Wanneer die ouderdom aan my deur kom klop, sal ek net sê” “Jammer, ek is nie tuis nie.”
    ‎’n Mens hou nie op met lag omdat jy oud word nie, jy word oud omdat jy ophou lag. ~ Audrey Hepburn
    Oudword is die mees onverwagte ding wat in ‘n mens se lewe gebeur. ~ Leon Trosky 1879
    Oudword is soos ‘n vliegtuigrit in ‘n storm. As jy eenmaal aan boord is, kan jy nie uitklim nie. ~ Golda Meir
    Die sneeu van die winter is op my hoof; maar dis nog lente in my hart. ~ Victor Hugo 1885
    Ons wil almal so graag lank lewe: darem net snaaks dat niemand wil oud word nie. ~ Benjamin Franklin
    Ek bere my rolstoel vir die dag wanneer ek so oud voel soos ek is. ~ Dwight Eisenhower

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s