Sjampanje en fyn onderklere op ‘n Saterdagoggend…

Nee, dis nie ek wat so ‘n lekker Saterdag gehad het nie.  Ek en my geliefde het gaan ontbyt eet by ons een gunsteling koffieshop in die dorp. En soos wat ons ingekom het, daar langs die koidam, sit ‘n groepie van ses jong dames, wat ek byna almal ken van hulle laerskooldae af. Dié groepie is nou in die ouderdomsgroep net so rondom 21 jaar oud.  Op die tafel is twee sjampanje bottels in ‘n ver gevorderde stadium van genieting. Die versiersels is dié van ‘n kinderpartytjie. Die vriendinne gee met ‘n stoute glimlag ‘n groot boks met ‘n persentjie vir die een aan die koppenent van die tafel.   Sy maak dit met groot opgewondenheid oop, en daar kom die mooiste, fynste swart onderkleertjies uit- ‘n baie sexy nommertjie. Ideaal vir ‘n wittebrood…

Duidelik is die jonge dame redelik haastig op pad kansel toe. Op ouderdom 21. En soos my geaardheid maar is, synde ‘n geestelike  nakomeling van die Koheleth (Prediker) het dit my diep laat nadink oor die sin van die lewe, soos gemeet in hierdie spesifieke situasie.

Op ouderdom 21 dink ek nie die meeste mense het al hulleself ontdek nie. Die meeste het nog nie hulle loopbaan klaar beplan, en die opleiding daarvoor klaargemaak nie. Die meeste wat ek ken, het nog nie ge-waiter en geld bymekaar geskraap vir ‘n rugsaktoer deur Europa of ander mooi plekke nie. Hulle het nog nie onder die Eiffeltoring gestaan in die nag nie. Hulle het nog nie langs die Seine rivier afgeloop teen middernag nie. Hulle het nog nie op die Britse Parlement neergekyk vanuit die London Eye nie. Hulle het nog nie die son sien sak agter die piramides van Giza nie. Hulle het nog nie in die gondels in Venesië gery, of die ferry by Istanboel geneem na die ander kontinent toe nie.

Hier in ons dorp het baie van die 21 jariges nog nie eers verby Bloemfontein gevorder nie… hulle ken nie die bergskilpaaie van die Karoo Nasionale park nie.  Hulle het nog nie by Blue Peter gesit en kyk hoe die son agter Robben Eiland nie, of hoe die maan opkom van Duiwelspiek af nie.  Baie van hulle het nog nooit met ‘n fiets verder as 10 km gery nie, wat nog te sê getoer daarmee oor 1000 km nie. Sommiges het nog nie eers bestuurslisensies vir enige klas voertuig nie. Die meeste wat ek ken, is nog stewig in pa se beursie.

En tog wil die jonge dame op hierdie ouderdom trou. Sy gaan binnekort voor die kansel staan, en beloof om die res van haar lewe saam met haar ridder op die wit Raleigh fiets die lewenspad te stap. Binne ‘n jaar of drie gaan die babatjies begin afgelewer word deur die ooievaar (of is dit oor sewe maande?)

En op ‘n dag gaan sy dalk voel soos die ballade van Lucy Jordan, wat toe nooit deur Parys kon ry in ‘n afslaandak sportmotor, met die wind wat deur haar hare waai nie…

Ek hoop regtig vir die jonge dame dat die liefde genoeg gaan wees…

Ek is so bang ook hier gaan dit tot niks kom, net ‘n gejaag na wind wees…

 

En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan…