Sjampanje en fyn onderklere op ‘n Saterdagoggend…

Nee, dis nie ek wat so ‘n lekker Saterdag gehad het nie.  Ek en my geliefde het gaan ontbyt eet by ons een gunsteling koffieshop in die dorp. En soos wat ons ingekom het, daar langs die koidam, sit ‘n groepie van ses jong dames, wat ek byna almal ken van hulle laerskooldae af. Dié groepie is nou in die ouderdomsgroep net so rondom 21 jaar oud.  Op die tafel is twee sjampanje bottels in ‘n ver gevorderde stadium van genieting. Die versiersels is dié van ‘n kinderpartytjie. Die vriendinne gee met ‘n stoute glimlag ‘n groot boks met ‘n persentjie vir die een aan die koppenent van die tafel.   Sy maak dit met groot opgewondenheid oop, en daar kom die mooiste, fynste swart onderkleertjies uit- ‘n baie sexy nommertjie. Ideaal vir ‘n wittebrood…

Duidelik is die jonge dame redelik haastig op pad kansel toe. Op ouderdom 21. En soos my geaardheid maar is, synde ‘n geestelike  nakomeling van die Koheleth (Prediker) het dit my diep laat nadink oor die sin van die lewe, soos gemeet in hierdie spesifieke situasie.

Op ouderdom 21 dink ek nie die meeste mense het al hulleself ontdek nie. Die meeste het nog nie hulle loopbaan klaar beplan, en die opleiding daarvoor klaargemaak nie. Die meeste wat ek ken, het nog nie ge-waiter en geld bymekaar geskraap vir ‘n rugsaktoer deur Europa of ander mooi plekke nie. Hulle het nog nie onder die Eiffeltoring gestaan in die nag nie. Hulle het nog nie langs die Seine rivier afgeloop teen middernag nie. Hulle het nog nie op die Britse Parlement neergekyk vanuit die London Eye nie. Hulle het nog nie die son sien sak agter die piramides van Giza nie. Hulle het nog nie in die gondels in Venesië gery, of die ferry by Istanboel geneem na die ander kontinent toe nie.

Hier in ons dorp het baie van die 21 jariges nog nie eers verby Bloemfontein gevorder nie… hulle ken nie die bergskilpaaie van die Karoo Nasionale park nie.  Hulle het nog nie by Blue Peter gesit en kyk hoe die son agter Robben Eiland nie, of hoe die maan opkom van Duiwelspiek af nie.  Baie van hulle het nog nooit met ‘n fiets verder as 10 km gery nie, wat nog te sê getoer daarmee oor 1000 km nie. Sommiges het nog nie eers bestuurslisensies vir enige klas voertuig nie. Die meeste wat ek ken, is nog stewig in pa se beursie.

En tog wil die jonge dame op hierdie ouderdom trou. Sy gaan binnekort voor die kansel staan, en beloof om die res van haar lewe saam met haar ridder op die wit Raleigh fiets die lewenspad te stap. Binne ‘n jaar of drie gaan die babatjies begin afgelewer word deur die ooievaar (of is dit oor sewe maande?)

En op ‘n dag gaan sy dalk voel soos die ballade van Lucy Jordan, wat toe nooit deur Parys kon ry in ‘n afslaandak sportmotor, met die wind wat deur haar hare waai nie…

Ek hoop regtig vir die jonge dame dat die liefde genoeg gaan wees…

Ek is so bang ook hier gaan dit tot niks kom, net ‘n gejaag na wind wees…

 

En nou, geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan…

Advertisements

11 thoughts on “Sjampanje en fyn onderklere op ‘n Saterdagoggend…

  1. Ek stem in beginsel saam met jou.

    Die redenasie is vir my besonders interessant. 😉 Helaas is ek nie meer 21 nie, maar ek het self nog nie al my besittings in ‘n rugsak gegooi en eksotiese bestemmings gaan besoek nie. Beteken dit dan dat ek nog nie reg is vir trou nie? (Ek weet dit was nie eintlik jou bedoeling nie, maar ek hou baie daarvan om dit so te verdraai.)

    Ek vind jou definisie van lewe interessant. Dit behels basies gaan ontdek terwyl jy nog vry is om te ontdek. Op die einde van die dag is dit tog net JOU definisie. Ander mense se definisie van wat hulle met hulle jongmens lewe moet maak, is dalk anders. Daarmee is daar seker ook nie fout nie?

    That said: Dit is jammer dat mense wat nog nie op hulle eie foute gestaan het nie, trou. Mens kan nie trou voordat jy nie weet wie jy is en wat jou gelukkig maak nie. Party mense weet dalk op 21 en ander weet dit nog nie op 48 nie.

    • Ek skryf mos nie die handboek vir die lewe nie, my blog meet mos maar hoe ek dinge sien. Natuurlik is daar baie ander maniere om die lewe te meet- hierdie is maar net die dinge wat my getref het toe ek daaroor gedink het. Daar is wel baie wonderlike voorbeelde van mense wat wel die regte ,lewensmaat ontmoet, jonk trou en al die lekker dinge saam doen. Ek gun dit heeltemal vir hierdie meisie! Ek is net bekommerd omdat die oorgrote meerderheid van jongmense in ons gemeente wat so gou trou, op ‘n dag in my studeerkamer sit en huil oor die geleenthede wat hulle nie gebruik het nie…

  2. Ek stem saam met Xena. Maar aan die ander kant, is wat jy se baie waar. Ek weet van vrouens wat op 21 getroud is en dan in hulle 40’s skei, juis omdat hulle voel hulle het nooit enigiets op hulle eie gedoen of ervaar nie.

  3. Aan die ander kant, ek is op 18 getroud vir die eerste keer, en geniet nou my lewe, noudat dit finansieel makliker is, ons hoef niks meer te bewys nie, die kinders in lankal onafhanklik, en ons is jonk en gesond genoeg op allles te doen wat juy nou noem, en meer. Daar is iets te sê vir die ander kant ook, jou kop moet net regom skroef.

  4. ‘n Huwelik is ‘n baie groot verantwoordelikheid om op jou skouers te neem op ‘n ouderdom waar jou ouers nog vir alle praktiese doeleindes vir jou sorg. Sonder die nodige lewenservaring is die kanse bes moontlik groter dat jy sal swig onder daardie tipe druk.

    MAAR…daar is ook ‘n ander kant.
    Deur die spreekwoordelike sewe sak sout op te eet van ‘n vroeë ouderdom af kan so ‘n verhouding ook ongelooflik sterk maak, veral as die paartjie hulle alfabet in orde het. Ken die verskil tussen liefde en lus, asook die verskil tussen huwelik en honeymoon. En moet nooit happiness ever after as ‘n gegewe aanvaar nie.

    Of jy 21, 31 of 61 is. Trou is nie perdekoop nie.

    • Trou en kinders kry – die twee belangrikste goed in die lewe – want jy werk met ander mense se hart / toekoms – en NIEMAND gee jou ordentlike opleiding daarin nie. Mens behoort eers ‘n graad te verwerf daarin VOORDAT jy toegelaat word om dit te mag doen. Of jy moet ‘n jaar lank rolspeel in ‘n kollege of so iets. Want wragtig – het ek maar toe geweet wat ek nou weet 😉

      • Sê ek ook mos! Dit is waarom ek ‘n groot voorstander is van eers ‘n jaar of wat saambly. Want om Woensdae en naweke te kuier/date is nie ‘n ware refleksie van hoe dit gaan wees om permanent in mekaar se geselskap te wees nie.

  5. My bors trek toe elke keer as ek ‘n paartjie voor die kansel sien. Besef hulle wat beteken “in sickness and in health…. until death….” My eie dogter het so ‘n paar dae gelede by my kom sit en vertel ons was reg, sy is te vroeg getroud. Sy betreur haar verlore kanse en die vryheid om haar eie ding te doen. ‘n Man en twee dogtertjies later is te laat vir trane…. byt vas, druk deur en eet daardie sak sout waarvan almal praat. Miskien sal sy later terugkyk en bly wees haar ma het NIE vir haar gese “skei maar dan nie, my kind.”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s