Dankie!

Ek voel regtig baie beter na gister se twee drups. Daar is selfs ander rede om oor dankbaar te wees, maar ek kry dit nie oor my hart om dit te noem nie. ‘n Mens het soms vreemde goed waaroor jy diep dankbaar raak…

Ek is diep dankbaar vanmiddag:

  •  Ek voel regtig beter, en kon selfs vanaand se preek klaarmaak. Nee, sal hom nie hier publiseer nie, my ore fluit nou nog na die vorige een met die matriek afskeidsdiens…
  • Ek het al ‘n goeie idee wat ek more gaan preek…
  •  Ek het lekker sekelboshout en ‘n gaspyp gereed in my braaiplek.
  •  Ek het op ‘n pakkie skaaptjops afgekom, die laaste van die kerkbasaar af. Dit gaan my eerste vleis in ‘n lang tyd wees!
  • Ek gaan pap en sous maak, hopelik met pitmielies by…
  •  Ek het ‘n bottel rooiwyn in die yskas, om op Europese kamertemperatuur te kom…
  •  Ek het ‘n vrou wat baie lief is vir my, wat mooi na my gekyk het in die verdrukking, vir wie ek vanaand gaan kosmaak, die vrou van my drome vandat ek 21 jaar oud was en sy is dit steeds…
  •  My moeilike matriekmerrie is saam met vriende op ‘n plaas, en ek sien haar eers volgende jaar weer, maar dan gaan sy my KOS! Maar ek is baie lief vir haar en het haar toe nooit by die Egiptiese Ambassade daar oorkant die Zuid Afrikaanse Hospitaal gaan inruil op drie ou kamele, wat ek met ‘n skoon gewete kan doodskiet nie…
  •  My seuns is soos olyfboompies om my tafel, al vreet hulle my uit die huis uit is al vier kiddies gesond en gelukkig…
  •  Ek het fantastiese vriende, al bly baie van hulle nou in die Kaap, die gelukkige bliks***!
  •  Ek is diep dankbaar vir mense wat my lewe verryk met hulle blogs, soms mense wat so verfrissend heeltemal anders as ek dink en glo…
  •  Ek is diep dankbaar vir bloggers wat ek al persoonlik ontmoet het, wat in die werklike lewe net so uniek as in hulle blogs is.
  •  Ek is dankbaar dat ou Huisbesoek (my motorfiets) nog loop na 11 jaar se getroue diens.
  •  Ek is dankbaar dat my laptop nie saam met die desktop, 2 drukkers en DSTV skottel deur die weerlig uitgeslaan is nie…
  •  dat ek ‘n werk het, al beteken dit dat ek vanaand werk as almal dans…
  •  dat die meeste mense wat ek ken eintlik baie interessante mense is, by wie ek iets kan leer, of wie se menswees ek net kan geniet.
  •  vir Jacobs koffie (ek het ‘n GROOT bottel vol gekry vir Kersfees by my liewe vrou, en nou leef ek weer lekker luuks!)
  • dat my swembad uiteindelik blou geword het na maande se sukkel…
  • vir die wonderlike inhoud van die boek Hooglied…
  •  vir die boer in die gemeente wat twee wenner waatlemoene by my afgelaai het vanmiddag- as jy ooit ‘n waatlemoen met die van Roos op sien, koop hom maar gerus!
  • dat die aartappelmoere so mooi groei in my groentetuin, ek hoop hulle volhard so tot by oesdag!
  • vir my twee grys katte…
  •  en vir jou wat so ver gelees het aan my dankbaarheid, dankie daarvoor!

Mag 2012 vir jou en almal wat jy voor omgee, ‘n baie beter jaar as 2011 wees!

En mag daar vrede vir Jerusalem wees…

Meneer Boepens en Juffrou Coopers Droop by die vakansie-oord

Ek het hierdie Desember gewerk, maar van Donderdag af ‘n redelike lae profiel gehandhaaf. Die rede was nie Kersfees nie, ek kon dit net nie verder as 20 treë van die naaste poepketel af waag nie. Kersdag het ek gaan preek met drie Immodiums in en ‘n totaal leë maag. Diaree op die kansel bly my ergste vrees, amper so erg soos verbale diaree op ‘n kansel….

Na 5 dae van baie gereelde Ringsittings op Witbank het ek maar die dokter gespreek, en die medisyne help al klaar.

In ons dorp is ‘n baie lekker vakansie-oord met warm en koue swembaddens, en ‘n stewige vakansieprogram. En so het ek en Pastoriemoeder hierheen gevlug vir ‘n Brekfis, ek wou net kyk of daar nog buite die toiletdeur oor is…

Ons het nou op die stoep vasgehaak. Want vandag is dit mej Vakansie-oord en mnr Spiere se kompetisie. Op die oomblik gaan dit oor die mooiste oumas. En maggies, ‘n paar sexy oumas bevind hulle tans in die Bosveld!

Die afkondiger is ‘n Polisiekapelaan wat jare gelede saam met my basies in die Weermag in Heidelberg gedoen het. Hy probeer sy bes om nog inskrywings te kry vir mnr Bierpens, maar die manne is skaam. Nee, ek gaan nie in my tuisdorp inskryf vir (daardie) kategorie nie, eerder mnr Spiere!

Netnou gaan die jonge dames hier tussen die twee swembaddens te paradeer. Daar is pragtige bikini’s en die hare is gekrul of reguit gemaak. Netnou gaan die koue swembad vol wees soos die manne probeer afkoel. Die skare gaan besluit wie is die mooiste, met handeklap gaan daar beslis word. Mense se waarde gaan bepaal word deur hoe hulle lyk, soos beeste op die vendusie…

Uiteindelik, nadat ek al hierdie dinge so sit en kyk, dink ek ook skoonheid is ‘n gejaag na wind. Die vrou wat my gelukkig maak sal nooit inskryf vir so ‘n kompetisie nie. En haar waarde is veel, veel meer werd as die skare se applous!

Ons het ‘n  maandkaartjie by die oord, en so gedurende Desember  het ek diep langs die waters gesit en dink: – uiteindelik wil elkeen van ons graag mooi wees in iemand se oë… Ons wil ook net gelukkig wees in ons eie lyf, al leopard crawl ons swembad toe dat nie te veel mense se retinas onherstelbaar beskadig word deur die gesig van ons in ‘n swembroek nie…

Die geheim is seker net om jouself te aanvaar soos wat jy lyk, goed gebou maar sleg gepleister. En om met selfvertroue in die swembad te gaan spring, want vir dié wat saakmaak is jy pragtig!

Sonder opskrif blog…

Dis nou drie daggies voor Kersfees. Ek het ses dae laas geblog. Hoekom? Want my kop draai. Vir baie mense is dit die stilword tyd van die jaar. Tyd om af te skakel, en saam met jou eie mense deur te bring.

Dis in hierdie tyd van die jaar wat baie mense agterkom wat alles in hulle lewe skeefloop. Daar is sekere mense met wie jy nie graag Kersdag saam mee wil deurbring nie. Sommige van dié wat jy noodgedwonge moet sien, laat jou nie goed voel oor jouself nie. Party familielede gaan by jou kom kuier wat jy eintlik net een keer ‘n jaar wou sien, op ‘n Kerskaartjie deur die posman afgelewer. Party familielede gaan gister se raad op die BBC volg, en vir jou vertel presies hoe dik het jy geword vandat hulle jou laas gesien het. Sommiges gaan jou herinner aan alles wat jy nie bereik het in jou lewe nie, hoe jy nou nie eintlik soos jou hoofseun boetie of sussie na jou talente presteer het nie, jy is meer die onder die maatemmer tipe…

Mense is veronderstel om ‘n bate in ons lewens te wees. Maar mense is ook die dinge wat die seerste maak in ons lewe. Hoe kan ek so wrede ding hier kort voor die Vredesfees sê? Want ek beleef dit in my werk. Terwyl mense afskakel, skakel die nonsens in hulle koppe aan. Daardie nonsens wat net ‘n dominee of dalk ‘n goeie toordokter kan oplos… Die afgelope paar dae hardloop ek baie agter seer mense aan. Dit is hartseer hoe die krisisgevalle nou toeneem in hierdie dae… selfmoordpogings, egskeidings, drankmisbruik, gesinsgeweld, dis die tipe dinge wat my nou weghou van my gesin en my blog af. Hartseer mense, eensame mense, mense wat net iemand soek om te luister, want in hulle huise is daar nie so iemand nie. En nee, voor ek dieselfde beskuldiging kry van smalend wees- dis nie dit nie. Ek gee regtig verskriklik baie om vir seer en stukkende mense.  Ek het nie die vermoë om met iemand te praat, en die probleem dan by hulle te los nie. Hulle seer klim vanaand saam met my in die bed. Ek probeer oplossings uitdink vir al hulle probleme. Ek meet my eie optrede teen die manne wat soos buffels optree in hulle huwelikke- ek voel soms skuldig oor ek met ander praat oor hulle optrede, terwyl ek self nie alles regkry soos ek weet dit veronderstel is om te wees nie.

In hierdie dae oefen ek hard- ek en my kollega het nou 3 oggende in ‘n ry 31 km fiets gery- 93 km totaal vir die afgelope 50 uur…  Ek het woes aandag gegee aan my groentetuin, nadat ek Rissiepit se wonderlike projek gesien het in haar agterplaas. Ek wens net iets wil vir ‘n slag opkom…

In ons huis sal daar darem ook lekker dinge oor die naweek wees. My suster van Engeland vlieg vandag Suid Afrika toe, sy en my ma sal more of Saterdagoggend by ons kom kuier vir die res van die langnaweek. Dan is almal wat oor is van my oorspronklike huisgesin bymekaar. Kollega ry vanmiddag see toe, dan is die hele gemeente in my sorg. Ek vermoed dit gaan baie besige tye bly. So die bloggery is maar bietjie ver agter op die tydsindeling se prioriteitslys op die oomblik.

Vir almal vir wie dit iets beteken: mag jy en jou geliefdes ‘n baie mooi Kersfeestyd hê.

Mag daar vir julle elkeen vrede in oorvloed wees!

Geloftedag….

Die plaas se hekke is vrolik versier met vlae.  Aan die linkerkant is die ou Transvaalse vierkleur. Aan die regterkant is die ou Suid- Afrikaanse vlag.  Net binne die hek staan die Laer- ouerige Hiluxbakkies in ‘n groot sirkel getrek, Isuzu is dalk nog ook welkom, maar verseker nie daai Chinese gemors nie…

By die hek is daar ‘n groot teken op: Baie welkom by ons Geloftefees!

BEHALWE:

  • As jy swart is.
  • As jy bruin is.
  • As jy van Asiatiese oorsprong is, Israeli’s uitgesluit…
  • As een van jou voorouers terug tot by 1651 van enige bogenoemde subspesies is…
  • As jy ‘n Engelse van het…
  • As jou voorouers op ons register van hanskakies is uit die Boereoorlog- blerrie Joiners!
  • As jy ‘n ateïs is
  • As jy ‘n agnostikus is
  • Of nog erger- as jy ‘n Apostolie is…
  • As jy ‘n Moslem is, hou verby, hier gaan jy seerkry.
  • As jy ‘n Hindoe is
  • As jy ‘n Boeddis is
  • As jy in die Vlieënde Spagettimonster glo.
  • As jou voorouers in die Kaap agtergebly het, en nie Kaapse rebelle in die boereoorlog was nie…
  • As jou kinders nie in die CVO skool is nie.
  • As jou seun krieket speel
  • as jy homoseksuele neigings het.
  • as jy buite die huwelik stout is/was
  • as jy weier om op ‘n Vrydag in Desember ‘n drie stuk pak aan te trek, en dames sonder sykouse of ‘n hoed ouer as 1961 dra.
  • As jy glo dat die aarde ouers as 6000 jaar oud is
  •  As jy daardie lawwe storie glo dat die aarde rond is.
  • As jy al ooit Nasionaal gestem het.
  • As jy nie Sanlam polisse het nie.
  •  As jy nie aan Solidariteit behoort nie.
  • as jy al ooit ‘n psigiater gesien het en medikasie vir gemoedsversteurings gebruik.
  • As jy iets anders as die suiwer weergawe van die Stem sing…
  • As jy of jou voorouers Vrymesselaars is of was…
  • As jy al ooit jou voete in ‘n Rooms katolieke katedraal gesit het…

Bomplanters en Busskieters is besonder welkom!

Die preek gaan gelei word deur DOMINEE XXX, en die tema gaan wees die Hand van die Here wat die heidene slaan.

Daarna gaan PROF YYY die fees toespreek vir 90 minute met die onderwerp: “Hoe ons kinders by Weenen en Bloukrantz vermoor is, en die hemelse wraak by Bloedrivier…”

Ek persoonlik is seker verantwoordelik vir die toestand van onse pragtige land. Ek het gister gekies om te gaan fietsry, kerkpakke het vir my so bietjie warm en onvanpas gelyk vir Versoeningsdag…  Die kyke wat ek gekry het van dié met die pakke en die hoede was nogal “blistering”…

Ekskuus mense, ek is nie so sterk op Geloftedag nie. Ek glo nogal meer aan Versoeningsdag- dis vir my baie meer Bybels.  Wat ek in die Bybel lees, praat van vergewe en vergeet.  Die probleem met Afrika is dat ons so besig is om agtertoe te kyk na al die gemors van die geskiedenis, en wie het wat aan wie gedoen,  dat ons heeltemal vergeet om vandag te leef, en met die oog op die toekoms te begin beplan aan ‘n beter toekoms, saam in hierdie pragtige land…

Ander dae… as ‘n miskruier vir jou wegvlieg…

Gister was toe end-uit ‘n wonderlike dag, dit kon net beter eindig as ons wel saam uit Hooglied ook gelees het…

Vanoggend…

Toe ek op die fiets klim, voel ek nie so goed soos gister nie. Sommer dadelik voel dit of die handrem opgetrek is. Die bene is lam, die suidpool is seer op die saal. My asem jaag, en selfs die brug oor die treinspoor voel vanoggend soos Suikerbossie op ‘n slegte dag…

Toe ek so 4 km uit die dorp uit is, het ek die interessantste ondekking gemaak (ok, mees interessante- Juffrou Botha!) Ek was besig om so teen 26 km/u voort te jaag. En waaragtag, die volgende oomblik kom ‘n reuse miskruier verby my gevlieg. Hy haal my van agter af in, en steek my verby. En ek getuig met vrymoedigheid, so in die verbygaan kyk daardie miskruier my so in die oog, en skud sy kop meewarig…

Dit het my nou redelik bekommerd! As die miskruiers ‘n mens begin wegvlieg, en dan jou nog jammer kry, dan is daar seker maar bollie in jou lewe…

My vier volstruismaatjies het my ook geignoreer langs die pad vanoggend, hulle was aan die agterkant van die kamp, en het nie eers opgekyk toe ek daar verbysukkel nie.

Die een ding wat wel mooi was, is vanoggend het daar weer ‘n groot verkleurmannetjie oor die pad geloop. Daar is baie verkleurmannetjies langs die pad, en ongelukkig sien ‘n mens gereeld dat een van hulle doodgery is. Ek is nog altyd mal oor verkleurmannetjies, en as dit nou net op pad terug was, sou ek hom gevang het en in my tuin kom loslaat het. Gewoonlik gooi ek dan my waterbottel se inhoud uit, en plaas hulle daarin. Om hulle lewe te red, en my tuin se lewe op te helder…

Daar begin die weerlig al weer slaan en donder dreun, ek wil nie nog ‘n router hierdie maand koop nie. Gaan nou van lyn af, mooi dag vir julle!

Dankie vir vriende, likkewane en volstruise…

Ek het vanoggend ‘n stuk dankbaarheid wat in my jong onskuldige gemoed opwel. En daar is verskeie redes vir hierdie toestand. Toorts het my alweer geïnspireer!

Gister na kerk het ‘n goeie vriend en kollega van ‘n buurdorp, saam met sy gesin, by ons ingetrek vir die nag. Ek was al so lankal lus vir ‘n lekker kuier saam met goeie vriende!

Ons het gistermiddag lekker gebraai- skaaptjoppies, die laaste pak wat oor was van die kerkbasaar. En my vrou is heel geïnspireerd met haar slaaie na so ‘n paar episodes van Australian Masterchef.

Ons het ‘n middagslapie van epiese proporsies geneem (ek vermoed Klippies het iets daarmee te doen, ons het die wa toe deur die Drift getrek…)

Gisteraand het ons… weer gebraai! Dié keer het ek die Weber aan die gang gesit, met ‘n paar hoenderstukkies, en nog slaai.

Ons kon so lekker kuier tot laat gisteraand, en dit het ons almal baie goed gedoen…

Vanoggend nadat hulle terug huis toe is, het ek my fiets opgesaal. Die Argus kom nou vinnig nader, en die kilos vir Desember staan nog net op 31 km- verlede Maandag se rit.

Vanoggend kon ek weer ‘n fantastiese 31 km rit ry! Dit het oor die naweek gereën, wat die erge hitte vir ‘n ruk gebreek het. Die Bosveld reageer altyd baie dankbaar op die reën, en die veld is sommer weer ‘n pragtige skakering groen. Alles lyk en ruik skoon en vars…

Ons het soveel om voor dankbaar te wees hier in die Bosveld. Hier is honderde verskillende boomsoorte. En soos wat ‘n mens nader aan die Nylrivier (ons s’n, nie die grote nie!) kom, is daar ‘n fantastiese versameling voëls. Rooi en geel wewervinke, kortstert flappe, blou sysies, vuurvinkies, troupante, en ‘n hele klomp ander veelkleurige geveerde vriende. Die visvangers roep weer, daar kom nog reën…

Terwyl ek so ry vanoggend, het daar ‘n pragtige groot likkewaan oor die pad gehardloop. ‘n Mens sien hulle redelik selde. Gelukkig was die mambas en die spoegkobras nie op die teer soos ek al ‘n paar keer beleef het langs die pad nie!

Terwyl ek op pad terug huis toe ry, is daar een plaas waar vier volstruise dit baie geniet om langs die draad langs my te hardloop, terwyl hulle my dophou. Daar is springbokke in dieselfde kampie, en ‘n entjie verder ‘n klompie Nyala’s.

Die lug is vars so na die reën, daar was ‘n heerlike koel briesie, net genoeg om ‘n mens lekker af te koel, sonder om jou terug te hou. Dis so ‘n voorreg om hier te kan bly, en so vinnig in die veld te kan wees met die fiets, so anders as die stad se mense wat deur die verkeer en die taxis moet veg om bo te bly, en al daardie lorriedampe in te asem!

Vanoggend was ‘n baie lekker oggend in my lewe!  Daar is nog soveel mooi dinge oor wat ‘n mens soms van vergeet!

Die Bestuurslisensie…

Die een ding waarmee ek my lewe lank al mee sukkel, is ongeduld. En die een ding wat ek al lankal sien kom, is hierdie storie van kinders wat moet leer bestuur.

My skoonpa het nie te baie oor hierdie dinge omgegee nie. Ons was al getroud, toe weet my vrou nog steeds niks van bestuur af nie.  En sy het maar by ‘n bestuurskool gaan leer om haar lisensie te kry, toe sy in haar destydse werk as streeksbibliotekaris moes begin rondry…

Sy het nog altyd gesê ek moet net nooit die kinders self probeer leer nie.

En toe Matriekmerrie (wat gaan haar naam volgende jaar wees?) uiteindelik ‘n leerlinglisensie gekry het, raai wat het gebeur…

Matriekmerrie het haar pa se persoonlikheid…  Skielik raak Ma die ongeduldige een wat nie saam met haar kan ry nie. Raai wie is toe die toonbeeld van geduld? Dis nou behalwe as sy in reverse probeer sit terwyl die kar nog vorentoe loop, en die ratkas daardie heerlike demoniese skreegeluid maak, dan verloor ek dit vir so ‘n oomblik…

Ons het regtig nodig dat die jonge dame ‘n lisensie moet hê, sy gaan volgende jaar 7 km van haar studeerplek af woon in Gomorrah, en die busse is glo nie altyd so betroubaar nie. Ons oorweeg maar om haar ma se kar vir haar te leen, en dit laat my met ‘n reuse leemte in die een finansiële deel van ons lewe… waarmee gaan Ma rondry?

Die groot dag het vinnig nader gekom. Die spanning loop hoog. Ons het maar ‘n bestuurskool gekry om te help met die afronding van die werftoets. Jongedames en parallel parkering is nie altyd sinonieme nie…

En so breek gister toe aan. My oudste kind gaan vir haar bestuurslisensie toets. Nou is daar ook maar interne politiek. Die gerugte wil dit hê dat die swart verkeersman die blanke kinders maklik laat dop. Die gerugte wil dit hê dat die groter blanke een maar redelik bedonnerd kan wees, en kinders senuweeagtig maak. En die ander blanke een het na bewering al vir sy eie vrou ‘n kaartjie geskryf toe sy oor ‘n stopstraat gery het.

Nou kyk, hier in onse dorpie is daar maar min afleiding. Daar is heelwat mense wat dit regtig mis dat daar nie ‘n Ster Kinekor naby is nie, en ook nie groot malls is nie. Hier is nie ‘n Mugg & Beane binne 100 seemyl nie.  ‘n Mens kan ook net so lank sit en kyk hoe die lorries na Medupi kragstasie toe deur die dorp verby kom. Daarom gaan party mense en pak ‘n piekniekmandjie, en gaan sit onder die bome by die verkeersmense se toetsterrein, en kyk hoe die kinders hierdie tyd van die jaar lisensies probeer kry.  Die ouer tannies sit en hekel doilies, die jonger manne sit daar met die koelboks, en gasbraaiers, so langs hulle ou Datsuns…  En as iemand op die werf iets regkry, dan gooi hulle ‘n Mexikaanse golf. Punte uit tien word opgehou. En in die plaaslike koerant word dan deeglik gerapporteer oor elkeen wat die werf betree het, se prestasie. Die verkeersmanne word gereeld op die voornaam in die plaaslike koerant aangespreek, gewoonlik gekoppel aan donker Afrikaanse woorde.

Met al hierdie dinge in gedagte is dit baie spannend vir onse kinders om ‘n lisensie te gaan doen.

Met al daardie senuwees het ons maar weer die bestuurskool se Chevvy Spark gehuur vir gister, ma se Corolla het ‘n langer alie, en het nie kragstuur nie. Dit maak die parallel parkering mos soveel moeiliker.

Ons arriveer op die toetsterrein, en hou met angstige oë die verkeersmanne se kuierplekkie dop. “Who will it be…” Dit is toe gelukkig die Regverdige Een…

Matriekmerrie moet nou eers rondom die Chevvy Spark stap, en alles sê wat elke bestuurder elke keer outomaties kyk voor ons in die bestuursitplek klim om kafee toe te ry vir brood. Al 25 stappe. Sy het so bietjie gesukkel met al die souse wat in ‘n enjin gegooi word om die ding te laat werk, en die tou wat die fên laat draai wat die bestuurder koel moet hou. Maar verder darem die eersterit inspeksie mooi deurgekom. Pa gaan sit in die bakkie onder die boom tussen al die ander toeskouers. Ek koop ‘n hotdog by die stalletjie, en kry ‘n Draught bier by die biertent vir die senuwees…

 

Matriekmerrie ry tot teen die bult waar sy sonder om terug te rol, moet wegtrek. Sy trek daardie Spark se handrem tot teen die dak vas.  Effense ou probleempie, die Chevvy se kontroles sit presies andersom as die Corolla s’n. Die venser word ‘n paar keer gevee deur die ruitveërs waarvan die rubber steeds in aanvaarbare toestand is… Die petrolpedaal word vasberade vasgetrap, die koppelaar gelos soos wanneer ‘n mens agterkom die stok waarop jy in die jagveld gestaan het, was toe al die tyd ‘n pofadder… Die handrem word gelos, en met skreeuende bande verlaat die Chevy die aarde oor die bult, sonder om ‘n enkele millimeter agtertoe te rol. Ek is so trots op my merrievul- sy “ramp” daardie bultjie soos ek destyds op my eerste scrambler gehoop het om te kan ramp. Gelukkig land sy binne die werf sonder om die randsteen te tref- darem nog nie ‘n diskwalifikasiepunt nie.

Volgende aan die beurt is die agteruit stoot. Dit word gedoen volgens die hele K53 metode. Spieël spieël blindekol sein trurat handrem los, die hele rympie. Uiteindelik is die Chevvy van albei kante veilig tussen die wit paaltjies in, sonder om een fataal te stamp…

Driepuntdraai volgende. Gelukkig onthou sy om nie soos haar pa ‘n handbriekdraai te doen en in een beweging die 180 grade tussen twee nou randstene om te draai nie. Sy onthou die voorskrifte, al mis sy die randsteen met enkele nanomikromillimeters… ‘n mis is ‘n mis.

Dan die parralelparkering, wat sy, haar ma, haar ouma aan vaderskant, haar ouma aan moederskant, haar vader, haar broer aan vaderskant, die grys mannetjieskat, die grys wyfiekat… die hele familie met ander woorde, gevrees het…

En hier het dit gegaan soos ‘n All Black voorspeler se wittebrood- hy is lelik maar hy is in…

Van albei kante af het die Spark dit tussen die paaltjies ingemaak.

Teen hierdie tyd was ek al in ernstige nood vir mediese behandeling daar onder die bome. Dit is regtig senutergend as jou bloedjie so daar op die werf in die hande van die wrede Spietkop is, en die randstene so self rondspring.

Die spietkop staan en skryf op sy klipbord. Uit vorige ervaring weet ek daar op die kantlyn- hierdie is ‘n kritieke oomblik. Of hy stap met die klipbord vasberade terug na waar spietkops graag tee drink, en dan gaan ek sukkel om ma en dogter te troos. Of hy klim in die kar, en laat my kind los op die onskuldige gemeenskap van Bosveld Suid, om te kyk of die plaaslike bevolking nog dieselfde hoeveelheid mense gaan wees as sy terugkom.

GElukkig klim hy in langs haar. Ek sms vir Ma- sy is deur fase 1!

Daar is sekere oomblikke in ‘n man se lewe wat verskriklik lank voel. Daardie oomblikke wat jou vrou in die ginekoloog se ondersoek kamer in verdwyn. Daardie oomblikke wanneer hulle jou nog nie in die kraamsaal toelaat nie.  Daardie oomblikke wanneer jy voor die skoolhoof se kantoor wag…

Daardie halfuur wat Matriekmerrie en die Verkeersman in die verkeer gaan rondspeel het, was verskriklik lank…

Hier gooi my jongste nou net die badkamer venster uit… pret in die pastorie…

 

Uiteindelik, na baie, baie sweetdruppels en washers geknyp, kom die Spark terug op die werf. Die Spietkop lyk moerig. Matriekmerrie lyk ook moerig. O fotosintese… In hulle kantoor begin hy haar vertel hoe baie foute daar was op die pad. En my moed is in my skoene. Wanneer de ongeluk kan ons weer ‘n afspraak kry?

Maar na ‘n goeie uitka… boutersessie besluit hy tog om die lisensie toe te ken. Nou kos dit nog R217 ekstra om ‘n lisensie uit te reik. R1000 vir die dag daarmee heen met karhuur en derglike sundries…

Maar die vreugde is groot!  Sy kan uiteindelik op haar eie motor bestuur!

Sy en haar boeties het die middag op hulle eie KFC toe gery vir draairoomyse.

Praat van gemengde gevoelens… Skielik kom ek en Pastoriemoeder agter dat ons kinders vir die heel eerste keer ooit ons nie nodig het om dorp toe te gaan nie. Skielik het ons in ‘n nuwe fase van ons lewens inbeweeg. En skielik is daar nog ‘n klip op my hart, saam met die een van die matriekafskeid, en die laaste matriekvraestel…

Dit bly ‘n groot aanpassing om te besef ‘n mens se oudste is nou 99.89 % klaar met die ouerhuis…

Laaste enetjie oor die Poison Rally- vreemde irritasies…

Soos die afgelope twee dae gesien kon julle aflei dat ek die Poison Rally baie geniet het. Dit is waar, en hierdie week voel die lewe sommer weer baie beter- dit lyk my tog asof motorfietsry se adrenalien die dopamien in my brein stimuleer, en dan voel ‘n mens sommer weer soos altyd.

Ek het ‘n vreemde irritasie opgetel op die Poison Rally, wat ek self nie so mooi verstaan nie.  Hier op WordPress het julle dit dalk op my BB skrywes oor die naweek reeds opgetel…

Toe ek by Kroonpark inry, het ek dadelik onthou hoe ek verlede jaar in Rustenburg gesukkel het om ‘n plekkie vir my tent te kry. Dis nogal rof as jy alleen opdaag, en die klubs het klaar al die staanplekke gevat. Daarom, toe ek by die hek inry, het ek ‘n groot stuk oop gras gesien op die eiland tussen die pad en die parkeerterrrein. En sommer dadelik daar gestop en tent opgeslaan.

Nadat ek gaan kos en drinkgoed soek het, het ek agtergekom dat daar ‘n stalletjie van die Crossroads Ministries so 70 meter oorkant die parkeerterrein van my af is, met ‘n fris klankstelsel en dataprojektor.  En hierdie ouens het baie mooi gospelmusiek gespeel, soos Onbeskaamd, Wian Vos, Jason Upton ens.  En die pastoor het mildelik van sy klankstelsel gebruik gemaak, en baie gepraat, en dieselfde afkondigings oor en oor en oor en oor en oor herhaal.

Saam met die kerk het die aksiegroepie Stunters for Christ saamgekom. En hulle het vertonings op die parkeerterrein gedoen- waarvan ek die hoofshow gemis het om vir vriende wat Kaap toe trek, by die Ultra Shitty te gaan groet. Dié ouens het ook in die vlak swembad ingetrek, en die agterwiele gespin dat die skare so nat word.

Dis waar ek nou met ‘n paar onbeantwoorde vrae in my jong gemoed sit.

Dit is die Stunters for Christ se motorfietse na hulle in die swembad gespeel het. Ek persoonlik hou nie daarvan dat motorfietse so behandel word nie.  Ek glo die ouens se bedoelings is goed, en dat hulle waarskynlik ‘n deel van die motorfiets skare bereik op maniere wat ek nooit sal kan nie.  Hierdie het net op my senuwees gewerk. Hoekom sou dit wees?

Toegegee, baie bikers doen daardie swembad ding. Hier is nog ‘n voorbeeld van dit in aksie:

Dis seker omdat ek so lank sonder ‘n motorfiets was, en so sukkel om myne behoorlik op die pad te hou, dat ek redelik omgekrap raak as motorfietse deur die alie getrek word.

 

So die vrae in my gemoed:

1. Hoekom het die kerkmense my geïrriteer?

2. Die Stunters for Christ is obviously goeie motorfietsryers. Hoekom het hulle my so geïrriteer?

3. Wat is die sin van burnouts?

4. Hoekom is dit so snaaks as iemand die swembad so opdonder?

5. Watter vreugde is daar om ‘n motorfiets in die nag laat vir ure aanmekaar te staan en ref in die rooi?

 

Die Pastoor en die Stunters- ek sê nie julle moet ophou met wat julle doen nie. Julle doen waarskynlik wonderlike werk. Ek sê net vir my het dit gevang hierdie naweek, waar ek net so bietjie wou wegbreek van my normale kerklike lewe. Ek wou hierdie naweek eerder Rammstein as Onbeskaamd hoor…

Sewe Skandes, Sondes of Sommernet soos Son gevra het…

Son het my uitgedaag… Die uitdaging is om eers 15 bloggers te identifiseer en uit te daag. Maar tussen haar en Toortsie het hulle almal omtrent klaar gevat wat ek op WordPress ken. Dan moet jy sewe dinge vertel wat mense nie van jou weet nie…

Dit is baie moeilik!  Oh Lord, it is hard to be humble… My geliefde vrou sê ook ek het al klaar al my geheime uitgelap op my blog.

Kom ons probeer maar in elk geval die sewe skandes/sondes/ sommernet beantwoord…

1. Ek het my alie afgeval op my 50 cc toe ek vir ‘n Suzuki ryer van die buurskool ‘n middelvinger gegooi het in ‘n draai op ‘n nat pad in Standerd 9.  Ek was ‘n groot Honda fan, en ons het nie baie van die buurskole in ons dorp gehou nie…

2. My vrou en dogter sê ek vloek…

3.  Die krapmerke op my motorfiets is van een brandewyntjie te veel op verlede jaar se Poison Rally, en ‘n kol sand… eerste val van 1986 af…

4. Ek het een hele oggend spandeer om tannie Koekie te soek, wat ‘n boodskap gelos het dat ek haar dringend moet help. Dit blyk toe my eie dogter te wees, wat haar broers ‘n poets probeer bak het. Ek  sukkel om stemme te herken op ‘n telefoon…

5. Ek sukkel regtig na al die jare nog steeds om voor mense te praat…

6. Ek kan glad nie pak vir ‘n reis nie, en my vrou weier om dit vir my te doen. Ek het altyd te veel bagasie…

7.  Ek is verskriklik bang vir naalde en hospitale. Na my geboorte was ek net een nag in die hospitaal toe ek 6 was met ‘n gebreekte arm, en toe my verstandtande 4 jaar gelede uitgehaal moes word. Verder vermy ek dokters en naalde so ver ek kan, behalwe dat ek wel bloedskenk…

Ek dink nie ek het naastenby genoeg aangejaag in my lewe om interessant te wees nie!

Mooi motorfietse op die Poison Rally 2011

‘n Hele paar vriende het gister gesê hulle hou nie baie van die Rally gedagte nie. Daar op die Wild Dogs website (vir dueler motorfiets entoesiaste…) is hulle ook heel negatief oor die idee.

Ek kan dit heeltemal verstaan. Daar is baie negatiewe dinge op ‘n motorfietsrally. Ek verstaan ook eerlikwaar nie sekere verstandelik gestremdes se behoefte om deur die nag ‘n motorfiets te ref dat sy kleppe later uitspring nie. Ek hou nie van die reuk van brandende rubber met burnouts nie, en gesuipte mense wat onsuksesvol probeer wheelie doen dit ook nie vir my nie.

 

Maar… aan die ander kant- ek is daar vir motorfietse…

Kom ek wys vir julle die mooiste fiets op die Rally in my oë:

‘n BMW R1100 S. Ek is nie seker van die jaartal nie, maar BMW is nou op 1200 cc enjins, en was voor dit op 1150’s en nog voor dit (rondom 2002?) op 1100 cc. Hierdie motorfiets is in ‘n beter toestand as toe hy nuut was- kyk hoe mooi is die enjin se “cover” dieselfde kleur as die res van die fiets geverf. Daar is nie ‘n krappie op hom nie, en hy is silwerskoon. Dit is die tipe motorfiets wat ek graag sou wou koop- een waarvoor die eienaar duidelik baie omgee en mooi oppas. Hierdie ou (ek ken hom glad nie) sal nie burnouts hou, doughnuts spin en die enjin uitmekaar uit rev nie…

 

Dan is daar vinnige fietse. Die prys vir die vinnigste een op die Dyno masjien is gewen deur ‘n Suzuki Hayabusa, wat 338 km/u gehaal het en iets soos 218 bhp uitstoot… een soos hierdie (as dit nie dalk hy was nie…)

 

En dan kom daar seker ‘n dag in ‘n man se lewe wat jy nie meer self in staat is om teen 300 km/u te ry nie, jou reaksietyd is meer gepas vir 60 km/u.  Dan, wanneer ‘n man ‘n 1/4 Viagra moet drink om nie jou skoene nat te piepie nie, dan is jy gereed vir hierdie klas van Honda Goldwing…

Dis wat ek graag op ‘n rally gaan kyk: Mooi motorfietse. En waar anders gaan ‘n plattelandse dominee ooit Rammstein op daardie klankstelsel hoor, soos dit gespeel moet word?  Vir die Road Trip na die Rally toe, en die mooi musiek, en die mooi motorfietse- daarvoor druk mens maar oorpluisies in om te kan slaap, en maak of ‘n mens nie die rubber ruik nie…