‘n Rally is nie soos die kerkbasaar nie…

Na vele gewroeg het my aard as biker die stryd gewen. Ek het vanoggend die camino stapsak met ‘n tent en ‘n opblaasmatras gelaai, ‘n skoon denim en twee T shirts in my saalsakke gegooi, en vertrek op Huisbesoek.

Die pad na Kroonstad is nou nie juis ver van die Bosveld nie. Maar ‘n mens moet deur Sodom en Gomorrah ry om daar te kom. Dan is daar ook omtrent 6 tolhekke, wat meer as die petrol kos!

Daar by Grasmere se Engen het ek eers gestop by die Wimpy, om strategiese beplanning te doen rondom ‘n Burger en bodemlose Coke. Toe ek daar ry, het daar ‘n skotige windjie opgekom, wat my lelik op die fiets rondgepluk het. ‘N Mens lê so amper 45 grade teen die wind. En elke keer as ‘n lorrie van voor af verby kom, voel dit of ‘n mens gaan val. Dis in elk geval nog beter as ‘n dag op kantoor!

By Kroonpark aangekom, het ek dadelik die eerste oop stukkie gras naby die hek beset, en my tent opgeslaan. Ongelukkig is dit baie naby aan ‘n pastoor se stalletjie, en ek het al klaar sewe preke en 720 gospel liedjies gehoor…

Hier is kosstalletjies by dosyne. By die Naai Paleis het ek my sakwapens laat vaswerk op my onderbaadjie, maar ek lyk nog steeds soos ‘n verdwaalde dominee!

Met al die stalletjies en gospel kon julle dalk dink dis net soos die kerkbasaar. Dalk is daar ooreenkomste! Maar by die hoofarena word Rammstein gespeel, en Stairway to Heaven. Hier by die Hoofarena is mense baie gemoedelik, gesus deur oom Charles Glass en kaptein Morgan. Hier is baie motorfietsbande alreeds op die teer gelos, en die mense dans te lekker…

Vanaand is hierdie toe presies waar ek wil wees. Ek gaan nie weer verlede jaar se foutjie maak nie, hierdie keer stap ek op die terrein rond.

Ek sal na die tyd bietjie fotos opsit. Lekker slaap en gedra julle terwyl dominee uit op Huisbesoek is!