Die Bestuurslisensie…

Die een ding waarmee ek my lewe lank al mee sukkel, is ongeduld. En die een ding wat ek al lankal sien kom, is hierdie storie van kinders wat moet leer bestuur.

My skoonpa het nie te baie oor hierdie dinge omgegee nie. Ons was al getroud, toe weet my vrou nog steeds niks van bestuur af nie.  En sy het maar by ‘n bestuurskool gaan leer om haar lisensie te kry, toe sy in haar destydse werk as streeksbibliotekaris moes begin rondry…

Sy het nog altyd gesê ek moet net nooit die kinders self probeer leer nie.

En toe Matriekmerrie (wat gaan haar naam volgende jaar wees?) uiteindelik ‘n leerlinglisensie gekry het, raai wat het gebeur…

Matriekmerrie het haar pa se persoonlikheid…  Skielik raak Ma die ongeduldige een wat nie saam met haar kan ry nie. Raai wie is toe die toonbeeld van geduld? Dis nou behalwe as sy in reverse probeer sit terwyl die kar nog vorentoe loop, en die ratkas daardie heerlike demoniese skreegeluid maak, dan verloor ek dit vir so ‘n oomblik…

Ons het regtig nodig dat die jonge dame ‘n lisensie moet hê, sy gaan volgende jaar 7 km van haar studeerplek af woon in Gomorrah, en die busse is glo nie altyd so betroubaar nie. Ons oorweeg maar om haar ma se kar vir haar te leen, en dit laat my met ‘n reuse leemte in die een finansiële deel van ons lewe… waarmee gaan Ma rondry?

Die groot dag het vinnig nader gekom. Die spanning loop hoog. Ons het maar ‘n bestuurskool gekry om te help met die afronding van die werftoets. Jongedames en parallel parkering is nie altyd sinonieme nie…

En so breek gister toe aan. My oudste kind gaan vir haar bestuurslisensie toets. Nou is daar ook maar interne politiek. Die gerugte wil dit hê dat die swart verkeersman die blanke kinders maklik laat dop. Die gerugte wil dit hê dat die groter blanke een maar redelik bedonnerd kan wees, en kinders senuweeagtig maak. En die ander blanke een het na bewering al vir sy eie vrou ‘n kaartjie geskryf toe sy oor ‘n stopstraat gery het.

Nou kyk, hier in onse dorpie is daar maar min afleiding. Daar is heelwat mense wat dit regtig mis dat daar nie ‘n Ster Kinekor naby is nie, en ook nie groot malls is nie. Hier is nie ‘n Mugg & Beane binne 100 seemyl nie.  ‘n Mens kan ook net so lank sit en kyk hoe die lorries na Medupi kragstasie toe deur die dorp verby kom. Daarom gaan party mense en pak ‘n piekniekmandjie, en gaan sit onder die bome by die verkeersmense se toetsterrein, en kyk hoe die kinders hierdie tyd van die jaar lisensies probeer kry.  Die ouer tannies sit en hekel doilies, die jonger manne sit daar met die koelboks, en gasbraaiers, so langs hulle ou Datsuns…  En as iemand op die werf iets regkry, dan gooi hulle ‘n Mexikaanse golf. Punte uit tien word opgehou. En in die plaaslike koerant word dan deeglik gerapporteer oor elkeen wat die werf betree het, se prestasie. Die verkeersmanne word gereeld op die voornaam in die plaaslike koerant aangespreek, gewoonlik gekoppel aan donker Afrikaanse woorde.

Met al hierdie dinge in gedagte is dit baie spannend vir onse kinders om ‘n lisensie te gaan doen.

Met al daardie senuwees het ons maar weer die bestuurskool se Chevvy Spark gehuur vir gister, ma se Corolla het ‘n langer alie, en het nie kragstuur nie. Dit maak die parallel parkering mos soveel moeiliker.

Ons arriveer op die toetsterrein, en hou met angstige oë die verkeersmanne se kuierplekkie dop. “Who will it be…” Dit is toe gelukkig die Regverdige Een…

Matriekmerrie moet nou eers rondom die Chevvy Spark stap, en alles sê wat elke bestuurder elke keer outomaties kyk voor ons in die bestuursitplek klim om kafee toe te ry vir brood. Al 25 stappe. Sy het so bietjie gesukkel met al die souse wat in ‘n enjin gegooi word om die ding te laat werk, en die tou wat die fên laat draai wat die bestuurder koel moet hou. Maar verder darem die eersterit inspeksie mooi deurgekom. Pa gaan sit in die bakkie onder die boom tussen al die ander toeskouers. Ek koop ‘n hotdog by die stalletjie, en kry ‘n Draught bier by die biertent vir die senuwees…

 

Matriekmerrie ry tot teen die bult waar sy sonder om terug te rol, moet wegtrek. Sy trek daardie Spark se handrem tot teen die dak vas.  Effense ou probleempie, die Chevvy se kontroles sit presies andersom as die Corolla s’n. Die venser word ‘n paar keer gevee deur die ruitveërs waarvan die rubber steeds in aanvaarbare toestand is… Die petrolpedaal word vasberade vasgetrap, die koppelaar gelos soos wanneer ‘n mens agterkom die stok waarop jy in die jagveld gestaan het, was toe al die tyd ‘n pofadder… Die handrem word gelos, en met skreeuende bande verlaat die Chevy die aarde oor die bult, sonder om ‘n enkele millimeter agtertoe te rol. Ek is so trots op my merrievul- sy “ramp” daardie bultjie soos ek destyds op my eerste scrambler gehoop het om te kan ramp. Gelukkig land sy binne die werf sonder om die randsteen te tref- darem nog nie ‘n diskwalifikasiepunt nie.

Volgende aan die beurt is die agteruit stoot. Dit word gedoen volgens die hele K53 metode. Spieël spieël blindekol sein trurat handrem los, die hele rympie. Uiteindelik is die Chevvy van albei kante veilig tussen die wit paaltjies in, sonder om een fataal te stamp…

Driepuntdraai volgende. Gelukkig onthou sy om nie soos haar pa ‘n handbriekdraai te doen en in een beweging die 180 grade tussen twee nou randstene om te draai nie. Sy onthou die voorskrifte, al mis sy die randsteen met enkele nanomikromillimeters… ‘n mis is ‘n mis.

Dan die parralelparkering, wat sy, haar ma, haar ouma aan vaderskant, haar ouma aan moederskant, haar vader, haar broer aan vaderskant, die grys mannetjieskat, die grys wyfiekat… die hele familie met ander woorde, gevrees het…

En hier het dit gegaan soos ‘n All Black voorspeler se wittebrood- hy is lelik maar hy is in…

Van albei kante af het die Spark dit tussen die paaltjies ingemaak.

Teen hierdie tyd was ek al in ernstige nood vir mediese behandeling daar onder die bome. Dit is regtig senutergend as jou bloedjie so daar op die werf in die hande van die wrede Spietkop is, en die randstene so self rondspring.

Die spietkop staan en skryf op sy klipbord. Uit vorige ervaring weet ek daar op die kantlyn- hierdie is ‘n kritieke oomblik. Of hy stap met die klipbord vasberade terug na waar spietkops graag tee drink, en dan gaan ek sukkel om ma en dogter te troos. Of hy klim in die kar, en laat my kind los op die onskuldige gemeenskap van Bosveld Suid, om te kyk of die plaaslike bevolking nog dieselfde hoeveelheid mense gaan wees as sy terugkom.

GElukkig klim hy in langs haar. Ek sms vir Ma- sy is deur fase 1!

Daar is sekere oomblikke in ‘n man se lewe wat verskriklik lank voel. Daardie oomblikke wat jou vrou in die ginekoloog se ondersoek kamer in verdwyn. Daardie oomblikke wanneer hulle jou nog nie in die kraamsaal toelaat nie.  Daardie oomblikke wanneer jy voor die skoolhoof se kantoor wag…

Daardie halfuur wat Matriekmerrie en die Verkeersman in die verkeer gaan rondspeel het, was verskriklik lank…

Hier gooi my jongste nou net die badkamer venster uit… pret in die pastorie…

 

Uiteindelik, na baie, baie sweetdruppels en washers geknyp, kom die Spark terug op die werf. Die Spietkop lyk moerig. Matriekmerrie lyk ook moerig. O fotosintese… In hulle kantoor begin hy haar vertel hoe baie foute daar was op die pad. En my moed is in my skoene. Wanneer de ongeluk kan ons weer ‘n afspraak kry?

Maar na ‘n goeie uitka… boutersessie besluit hy tog om die lisensie toe te ken. Nou kos dit nog R217 ekstra om ‘n lisensie uit te reik. R1000 vir die dag daarmee heen met karhuur en derglike sundries…

Maar die vreugde is groot!  Sy kan uiteindelik op haar eie motor bestuur!

Sy en haar boeties het die middag op hulle eie KFC toe gery vir draairoomyse.

Praat van gemengde gevoelens… Skielik kom ek en Pastoriemoeder agter dat ons kinders vir die heel eerste keer ooit ons nie nodig het om dorp toe te gaan nie. Skielik het ons in ‘n nuwe fase van ons lewens inbeweeg. En skielik is daar nog ‘n klip op my hart, saam met die een van die matriekafskeid, en die laaste matriekvraestel…

Dit bly ‘n groot aanpassing om te besef ‘n mens se oudste is nou 99.89 % klaar met die ouerhuis…

9 thoughts on “Die Bestuurslisensie…

  1. Ek weet nou nie eintlik mooi of gelukwense of simpatie in orde is nie, so laat ek dan maar sê ons simpatieke gelukwense, net om al die opsies te dek.

    As ek reg tussen die lyne lees word ‘n sekere jong dame die trotse bestuurder van ‘n splinternuwe tweedehandse mouterkar, ‘n versekeringsmaatskappy kry ‘n vet toevoeging tot hulle premie, ‘n moeder gradeer op na iets wat op sypaadjies kan klim en ‘n dominee word gereligeer (of is dit nou promoveer?) na permanente biker toe. Kabinetskommelinge in die pastorie is nie vir sissies nie

  2. … en skielik is sy nie meer afhanklik van julle nie, behoudens die volgende;
    finansiële ondersteuning,
    emosionele ondersteuning,
    raadvra,
    lewensleiding… ens, ens, ens
    Ouerskap hou nooit op nie, kinders se waagmoed neem net toe.
    Sterkte met die onafhanklke afhanklike, amper soos gewapende vrede.

  3. Ek sit nou hier en wonder seriously of jy ernstig is oor di epiekniekmadjies en doilies hekel onder die boom en die leerlinge dophou en of dit weer net jou vrugbare verbeelding is😆

    Ek is SO bly vir haar, maar soos Senings sê, sy is nog lank nie onafhanklik nie. Wag maar, jy sal nog sien😉

  4. Uitstekend! Ek het nou so lekker gelag in die bed (so ampertjies vir vroulief wakker gemaak, dan sou ek vinnig opgehou het met die lag!) Die prentjie wat jy hier beskryf lê binnekort vir my ook voor, ek sal maar vir ‘n maar wenke kom aanklop by die kenner op die gebied…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s