Dankie vir vriende, likkewane en volstruise…

Ek het vanoggend ‘n stuk dankbaarheid wat in my jong onskuldige gemoed opwel. En daar is verskeie redes vir hierdie toestand. Toorts het my alweer geïnspireer!

Gister na kerk het ‘n goeie vriend en kollega van ‘n buurdorp, saam met sy gesin, by ons ingetrek vir die nag. Ek was al so lankal lus vir ‘n lekker kuier saam met goeie vriende!

Ons het gistermiddag lekker gebraai- skaaptjoppies, die laaste pak wat oor was van die kerkbasaar. En my vrou is heel geïnspireerd met haar slaaie na so ‘n paar episodes van Australian Masterchef.

Ons het ‘n middagslapie van epiese proporsies geneem (ek vermoed Klippies het iets daarmee te doen, ons het die wa toe deur die Drift getrek…)

Gisteraand het ons… weer gebraai! Dié keer het ek die Weber aan die gang gesit, met ‘n paar hoenderstukkies, en nog slaai.

Ons kon so lekker kuier tot laat gisteraand, en dit het ons almal baie goed gedoen…

Vanoggend nadat hulle terug huis toe is, het ek my fiets opgesaal. Die Argus kom nou vinnig nader, en die kilos vir Desember staan nog net op 31 km- verlede Maandag se rit.

Vanoggend kon ek weer ‘n fantastiese 31 km rit ry! Dit het oor die naweek gereën, wat die erge hitte vir ‘n ruk gebreek het. Die Bosveld reageer altyd baie dankbaar op die reën, en die veld is sommer weer ‘n pragtige skakering groen. Alles lyk en ruik skoon en vars…

Ons het soveel om voor dankbaar te wees hier in die Bosveld. Hier is honderde verskillende boomsoorte. En soos wat ‘n mens nader aan die Nylrivier (ons s’n, nie die grote nie!) kom, is daar ‘n fantastiese versameling voëls. Rooi en geel wewervinke, kortstert flappe, blou sysies, vuurvinkies, troupante, en ‘n hele klomp ander veelkleurige geveerde vriende. Die visvangers roep weer, daar kom nog reën…

Terwyl ek so ry vanoggend, het daar ‘n pragtige groot likkewaan oor die pad gehardloop. ‘n Mens sien hulle redelik selde. Gelukkig was die mambas en die spoegkobras nie op die teer soos ek al ‘n paar keer beleef het langs die pad nie!

Terwyl ek op pad terug huis toe ry, is daar een plaas waar vier volstruise dit baie geniet om langs die draad langs my te hardloop, terwyl hulle my dophou. Daar is springbokke in dieselfde kampie, en ‘n entjie verder ‘n klompie Nyala’s.

Die lug is vars so na die reën, daar was ‘n heerlike koel briesie, net genoeg om ‘n mens lekker af te koel, sonder om jou terug te hou. Dis so ‘n voorreg om hier te kan bly, en so vinnig in die veld te kan wees met die fiets, so anders as die stad se mense wat deur die verkeer en die taxis moet veg om bo te bly, en al daardie lorriedampe in te asem!

Vanoggend was ‘n baie lekker oggend in my lewe!  Daar is nog soveel mooi dinge oor wat ‘n mens soms van vergeet!

16 thoughts on “Dankie vir vriende, likkewane en volstruise…

  1. Ai man, lekker. Is dit nie ironies dat hierdie gevoel van behaaglik dikwels in hierdie deel van die jaar voorkom nie. Dis al asof jou psige vir jou sê “Kom, sit aan. Geniet die fees!”
    PS. Daai kombinasie van klippies en fietsry het ‘n geneigdheid om ‘n andersins hanteerbare drift sommer HEL moeilik te maak!

  2. Soos ek nou hierdie stukkie lees is die huis donker en stil, soos Koos Dup sing, “almal slaap reeds, niemand waak nie…” Daar speel ‘n stukkie klassieke klaviermusiek rustig in die agtergrond en buite hoor ek elke nou en dan ‘n uiltjie roep. Soos jy sê, daar is soveel om voor dankbaar te wees. Baie mooi geskryf!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s