Sonder opskrif blog…

Dis nou drie daggies voor Kersfees. Ek het ses dae laas geblog. Hoekom? Want my kop draai. Vir baie mense is dit die stilword tyd van die jaar. Tyd om af te skakel, en saam met jou eie mense deur te bring.

Dis in hierdie tyd van die jaar wat baie mense agterkom wat alles in hulle lewe skeefloop. Daar is sekere mense met wie jy nie graag Kersdag saam mee wil deurbring nie. Sommige van dié wat jy noodgedwonge moet sien, laat jou nie goed voel oor jouself nie. Party familielede gaan by jou kom kuier wat jy eintlik net een keer ‘n jaar wou sien, op ‘n Kerskaartjie deur die posman afgelewer. Party familielede gaan gister se raad op die BBC volg, en vir jou vertel presies hoe dik het jy geword vandat hulle jou laas gesien het. Sommiges gaan jou herinner aan alles wat jy nie bereik het in jou lewe nie, hoe jy nou nie eintlik soos jou hoofseun boetie of sussie na jou talente presteer het nie, jy is meer die onder die maatemmer tipe…

Mense is veronderstel om ‘n bate in ons lewens te wees. Maar mense is ook die dinge wat die seerste maak in ons lewe. Hoe kan ek so wrede ding hier kort voor die Vredesfees sê? Want ek beleef dit in my werk. Terwyl mense afskakel, skakel die nonsens in hulle koppe aan. Daardie nonsens wat net ‘n dominee of dalk ‘n goeie toordokter kan oplos… Die afgelope paar dae hardloop ek baie agter seer mense aan. Dit is hartseer hoe die krisisgevalle nou toeneem in hierdie dae… selfmoordpogings, egskeidings, drankmisbruik, gesinsgeweld, dis die tipe dinge wat my nou weghou van my gesin en my blog af. Hartseer mense, eensame mense, mense wat net iemand soek om te luister, want in hulle huise is daar nie so iemand nie. En nee, voor ek dieselfde beskuldiging kry van smalend wees- dis nie dit nie. Ek gee regtig verskriklik baie om vir seer en stukkende mense.  Ek het nie die vermoë om met iemand te praat, en die probleem dan by hulle te los nie. Hulle seer klim vanaand saam met my in die bed. Ek probeer oplossings uitdink vir al hulle probleme. Ek meet my eie optrede teen die manne wat soos buffels optree in hulle huwelikke- ek voel soms skuldig oor ek met ander praat oor hulle optrede, terwyl ek self nie alles regkry soos ek weet dit veronderstel is om te wees nie.

In hierdie dae oefen ek hard- ek en my kollega het nou 3 oggende in ‘n ry 31 km fiets gery- 93 km totaal vir die afgelope 50 uur…  Ek het woes aandag gegee aan my groentetuin, nadat ek Rissiepit se wonderlike projek gesien het in haar agterplaas. Ek wens net iets wil vir ‘n slag opkom…

In ons huis sal daar darem ook lekker dinge oor die naweek wees. My suster van Engeland vlieg vandag Suid Afrika toe, sy en my ma sal more of Saterdagoggend by ons kom kuier vir die res van die langnaweek. Dan is almal wat oor is van my oorspronklike huisgesin bymekaar. Kollega ry vanmiddag see toe, dan is die hele gemeente in my sorg. Ek vermoed dit gaan baie besige tye bly. So die bloggery is maar bietjie ver agter op die tydsindeling se prioriteitslys op die oomblik.

Vir almal vir wie dit iets beteken: mag jy en jou geliefdes ‘n baie mooi Kersfeestyd hê.

Mag daar vir julle elkeen vrede in oorvloed wees!

4 thoughts on “Sonder opskrif blog…

  1. Ons het nou net ‘n lang gesprek gehad, n.a.v. die deel van jou blog oor die seer en eensame mense. En die kontras wat hulle moet voel in spesifiek hierdie seisoen van gee en deel en kuier en saamwees.

  2. Ek weet wat jy sê…my kop draai nou al vir weke.
    En meeste van alles wonder ek hoekom mense nie so liefdevol en vredevol kan wees vir die hele jaar, soos wat hulle om Kersfees is nie. Weird.
    Geseënde naweek, en 2012, vir jou en jou familie.

  3. Kersfees in my geweste is amper verby, nog goed aan die gang daar by julle. Ek wens vir julle ‘n Geseënde Kersfees. Geskenke wat ons aan mekaar gee is tydelik, die werk wat jy en soveel ander doen, het ewige waarde. Ek sien uit na jou volgende blog wanneer dinge weer rustiger is! 🙂

  4. Kersfees is op ‘n manier vir my altyd so ‘n idee van die lam en die leeu wat bymekaar kom lê. Ons kan vir hierdie tyd ons evrskille ondergeskik aan vrede maak – hoekom nie altyd nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s