Poison Rally 2011 en die Rat Bike verskynsel…

Ja, ek het toe my hart gevolg en Poison Rally toe gegaan die naweek. En ja, ek het my mooi soet gedra, soos ‘n dominee betaam…

Huisbesoek het hom ook baie mooi gedra langs die pad- ek wens net ek kon opgradeer na anderkant 1000 cc toe… Hierdie fiets gelaai is maar redelik stadig…

 

 

Die een ding wat my op ‘n Rally fassineer, is die kategorie van die Rat Bikes.  Ander mense probeer hulle bes om die mooiste fiets op die rally te hê, en hulle wen die Concourse pryse daarvoor. Party motorfietse kos later tot drie keer ‘n nuwe een se prys, met alles wat mooi gemaak is op die fiets. Maar sulke fietse word dikwels agter op ‘n sleepwa tot by die rally gery. Hulle word onder doeke toegehou om nie ‘n enkele stofkorreltjie te kry nie. Dis baie mooi om te sien…

 

Maar dis nie heeltemal die gees van motorfietsry wat my inspireer nie.

 

 

Totaal aan die ander kant van die spektrum is die sogenaamde Rat Bike klas. ‘n Fiets wat absoluut glad nie lyk soos wat die fabriek hom beplan het nie. Die ontwerpers het waarskynlik ‘n hartaanval as hulle die eens pragtige skepping so sien lyk. Die Rat Bike maak ook ‘n statement- dit is dikwels van jou meer hard-core motorfietsryers wat met ‘n lae begroting ‘n ou fiets op die pad probeer hou. En dan iets daarmee sê. By die Poison Rally vanjaar het hierdie ou Kawasaki Z1000 die Rat Bike kategorie loshande gewen.

 

 

Die een ding wat hierdie jaar baie goed was, was dat al die Concourse fietse wel  ‘n ent moes kon ry- dit kon nie net ‘n aanmekaar geplakte ding wees wat soos ‘n motorfiets lyk nie.

 

 

‘n Baie sentrale tema in motorfietsry is die spot met die dood. Ja, ons weet ons speelgoed is gevaarlik. En die hartseer is dat daar weer hierdie jaar ‘n sterfte was- 30 km voor Kroonstad het ‘n dronk voetganger voor ‘n motorfiets ingehardloop, en die voetganger en motorfiets bestuurder is op slag dood, met die passasier wat in die hospitaal opgeneem is, toestand onbekend.  ‘n Mens kan doodgaan op ‘n motorfiets, baie vinnig ook. Miskien is dit een van die redes waarom dit die lewe soveel meer intens maak…

 

Natuurlik gaan hierdie humor nie in almal se smaak val nie. Maar dit wil juis ‘n anti- establishment statement maak.

Verder is die humorsin gewoonlik donker, en vreemd…  so anders as die plaaslike kerkbasaar…

 

 

‘n Rally is seker ook die enigste plek waar die Tattoo parlor reg langs die kerk se koffietent is, en daar geen kwade gevoelens heen en weer is nie…

 

Die wonderlike ding van ‘n rally is: hier dra mense nie maskers nie. Hier is jy presies wie jy is. En ander mense aanvaar jou so. En dis hoekom dit so lekker is om net soms weg te breek na ‘n rally toe…

‘n Sonnige dag by die Poison rally…

Gisteraand was toe baie anders as wat ek verwag het. Die pastoor se stalletjie het my rustig aan die slaap gemaak met Onbeskaamd en Wian Vos se musiek. Die slaappil en KWV het ook bygedra. Maar hier neffens my tent het sekere ou Suzuki eienaars van Boksburg of Benoni groot behae geskep daarin om mekaar af te los, en so teen tye soos half vyf die demone uit daardie Japanese enjins uit te dryf.

Dit voel ook asof die pastoor reg deur die nag aanhoudend die mense uitgenooi het na die “lekker stunt vertoning moreoggend tussen halftien en hafelf. Ons gaan rubber brand tot eer van die Koning…”.

Moreoggend hou hy ‘n kerkdiens om 07:00 hier reg voor my tent… Ons is ook al 300 keer vandag daaraan herinner…

Ten spyte daarvan geniet ek myself. Ek moes net ‘n ander opblaasmatras gaan koop vanoggend, die een wat ek saamgebring het is ‘n afblaasmatras.

Hier is mense wat ongelooflik baie gesuip op bikes klim! Ek hoop almal gaan lewendig tuis kom.

Een van die mooiste dinge om hier te sien is ouer motorfietse wat baie mooi opgepas is, enkeles van hulle lyk selfs beter as toe hulle nuut was.

Ek verkyk my ook aan die mense se gemak met hulleself- daar is GROOT dames in bikinis en omies met baie dik bierpense wat net in rugbybroekies en hulle motorfiets onderbaadjies rondloop. Hier is ook baie mooi mense. Mooi bikes. Mooi musiek. Dis regtig lekker om die mensdom so te sit en dophou. Ek wens net ek het vriende hier gehad om dit mee te deel….

‘n Rally is nie soos die kerkbasaar nie…

Na vele gewroeg het my aard as biker die stryd gewen. Ek het vanoggend die camino stapsak met ‘n tent en ‘n opblaasmatras gelaai, ‘n skoon denim en twee T shirts in my saalsakke gegooi, en vertrek op Huisbesoek.

Die pad na Kroonstad is nou nie juis ver van die Bosveld nie. Maar ‘n mens moet deur Sodom en Gomorrah ry om daar te kom. Dan is daar ook omtrent 6 tolhekke, wat meer as die petrol kos!

Daar by Grasmere se Engen het ek eers gestop by die Wimpy, om strategiese beplanning te doen rondom ‘n Burger en bodemlose Coke. Toe ek daar ry, het daar ‘n skotige windjie opgekom, wat my lelik op die fiets rondgepluk het. ‘N Mens lê so amper 45 grade teen die wind. En elke keer as ‘n lorrie van voor af verby kom, voel dit of ‘n mens gaan val. Dis in elk geval nog beter as ‘n dag op kantoor!

By Kroonpark aangekom, het ek dadelik die eerste oop stukkie gras naby die hek beset, en my tent opgeslaan. Ongelukkig is dit baie naby aan ‘n pastoor se stalletjie, en ek het al klaar sewe preke en 720 gospel liedjies gehoor…

Hier is kosstalletjies by dosyne. By die Naai Paleis het ek my sakwapens laat vaswerk op my onderbaadjie, maar ek lyk nog steeds soos ‘n verdwaalde dominee!

Met al die stalletjies en gospel kon julle dalk dink dis net soos die kerkbasaar. Dalk is daar ooreenkomste! Maar by die hoofarena word Rammstein gespeel, en Stairway to Heaven. Hier by die Hoofarena is mense baie gemoedelik, gesus deur oom Charles Glass en kaptein Morgan. Hier is baie motorfietsbande alreeds op die teer gelos, en die mense dans te lekker…

Vanaand is hierdie toe presies waar ek wil wees. Ek gaan nie weer verlede jaar se foutjie maak nie, hierdie keer stap ek op die terrein rond.

Ek sal na die tyd bietjie fotos opsit. Lekker slaap en gedra julle terwyl dominee uit op Huisbesoek is!

Diepe bekommernis oor my Biker hart…

Ek moet vanaand iets verskrikliks bely. Ek is diep bekommerd oor die toestand van my Biker hart.

Die saak staan so: Ek het verlof ingesit tot volgende Woensdag. En more oggend begin die Poison Rally in Kroonstad.

Vir die heel eerste keer hierdie jaar is ek in staat om ‘n motorfiets rally by te woon. Ek is baie lief vir motorfietse. Ek is lus om weg te breek, en die langpad baie te geniet. Maar daar is een ou probleempie. Al die weervoorspellings praat van reën…

Die weer het my nog nooit voorheen afgeskrik van ‘n Road Trip op ‘n motorfiets nie!!!

Daar was tye op skool wat ek met my 50 cc vir vriende in buurdorpe gaan kuier het, en in die gietende reën van Noord-Natal moes huis toe ry sonder reënklere.

Daar was die keer op Universiteit wat ek na ‘n Sendingfietstoer gekies het om met my motorfiets terug van Bloemfontein Natal toe te ry. Dit was in die dae toe daar nog nie selfone was nie, en my ouers het tevergeefs probeer waarsku dat Natal besig was om weg te spoel met ‘n tropiese sikloon. Ek het dit 100 km van die huis agtergekom, toe ek in gietende reën teen 40 km/u op die middelstreep moes ry om enigsens ‘n idee te hê waar ek is.Ek was 3/4 verkluim toe ek uiteindelik by my ouerhuis aankom. Dit was pret!

Later was my verloofde (nou Pastoriemoeder!) in Oos Londen vir ‘n jaar, en ek het elke geleentheid wat ek kon kry, met dieselfde Honda CB 400 N afgery. Daar was die een Sondag wat dit so gereën het dat ek ook op die middelstreep moes terugry, die water het so oor die helm gestroom dat ek net mooi niks kon sien behalwe die wit streep nie… Buite Smithfield was daar so vae liggie in die middel van die pad. Ek het eers ‘n hele debat met myself gevoer of dit wenslik aldan nie is om te probeer stop. Ek het wel op die stopaksie besluit, en millimeters van Smithfield se Spietkop se bruin skoene gestop in gietende reën. Op ‘n snotgladde pad in gietende reën wou hierdie pligsgetroue omie op ‘n Sondagaand agtuur net kyk of my motorfiets se lisensieskyf op datum is…

Twee jaar gelede het ek ook in so ‘n storm net buite Colesberg beland, op pad terug van die Kaap af na die Argus op my Aprilia. Dieselfde storie- daar was ‘n verblindende elektriese storm, met weerlig wat die koppies rondom Colesberg peper- ‘n mens wou net so vinnig as moontlik daar deurkom. En toe trek drie Spietkops my ook af, net om te kyk of my flikkerligte werk en of ek wel ‘n nommerplaat op het. Terwyl die weerlig ‘n tango om ons dans…

Ek het al baie keer in die reën langpad op die motorfiets gery. Soos ek ouer word, begin ek skielik wonder of dit nie gevaarlik is nie?  Met al die potoole wat onder die water verskuil kan lê, voel ‘n mens nie meer veilig nie. Met motoriste wat soos hulle alies ry op ‘n droë pad, en sewe keer slegter in die reën, weet ek net nie meer nie.

Ek sit vanaand met die morele dilemma. Ry, of bly? Tent in die reën, of warm agter vroulief se rug? Drie dae se vryheid, of die potensiële telefoonoproep van ‘n krisisgeval in die gemeente waarvoor ek nie nee kan sê om te gaan help nie?

Daar jaag ‘n Fireblade nou deur die dorp… die klank van vryheid…

Ek is verward…

Bikervriende- gee raad…