Word ‘n mens beter soos jy ouer word?

Ek lees netnou vinnig Jeanne se baie mooi inskrywing, en hierdie saak leef ook in my gedagtes hierdie week.

Ek verjaar binnekort. En die verjaarsdag wat ek tref, is een van daardie sielkundige bakens langs die lewenspad. Dit sit nie in die gene van my familie om my huidige verjaardag te verdubbel nie.  Ek is lankal verby halfpad met my lewensreis, as my pa, my ooms, my oupa se lewensverhale ‘n aanduiding sou wees van hoeveel trippies ek om die son gaan saamry op hierdie planeet.

Ek het verlede jaar nogal baie oor die onderwerp van Halftyd gedink aan die hand van Bob Buford se uitstekende boek met daardie titel.  Bob Buford sê in Halftime dat die lewe soos ‘n sportbyeenkoms met twee helftes is. Die eerste helfte van jou lewe draf jy met groot gejuig op die speelveld van jou lewe.  Jy maak en breek, spook en spartel, en in die eerste helfte ontdek jy jouself, jy kry jou opleiding, jy vind jou lewensmaat en bou jou gesin. Jy begin ‘n stewige finansiële platform skep om die res van jou lewe mee te kan hanteer. En in die proses vat jy ook baie stampe en stote.

Erens in jou lewe lui die klokkie in jou gedagtes- dis halftyd. Die eerste helfte is verby. En dan gaan jy na die kleedkamer, en evalueer wat in die eerste helfte gebeur het. Is jy besig om te wen?  Is jy besig om ‘n pak slae te kry? Wat het jy nodig om te verander om van die tweede helfte ‘n sukses te maak?  En dan, sê Buford, verskuif die fokus in ‘n gesonde lewe. Die eerste helfte het oor EK gegaan wat my plek moet vestig, en vir myself moet sorg. Die tweede helfte fokus eerder op SIN. Wat maak die lewe regtig die moeite werd?  En die antwoord lê buite jouself- nie meer wat ek wil ontvang nie, maar wat ek kan gee. Watter verskil kan ek in iemand anders se lewe maak? Charlene het so mooi daaroor geskryf wanneer hierdie fase nie gebeur nie. Dit is so hartseer as ‘n mens jou tweede helfte nog steeds vashaak op die eie ou EK, en almal rondom jou se lewens opneuk in die proses om jouself te dien.

Dit was wat my verlede jaar na die Camino in Spanje toe geneem het. Ek wou so graag bietjie aftrek van die lewenspad, en oor hierdie goeters dink. Tyd maak om voor te berei vir die tweede helfte.

Bygesê- niemand van ons weet hoe lank is die game regtig nie.  Ons dink dalk daar is nog baie tyd oor, en dalk is die einde baie nader as wat ons dink. Ek weet niks van Spekbek se dood nie, maar ek het nooit met hom swaarde gekruis nie. Om die waarheid te sê, hy het my baie mooi ondersteun verlede jaar, al was ons dalk nie meer op presies dieselfde bladsy wat alle geloofsake aanbetref nie.  Die feit is- niemand van ons is verseker om Kersfees te haal in 2012 nie.

Soos wat ek die volgende mylpaal in my lewe gaan oorsteek, wil ek ook graag in my lewe sinvolle dinge beleef.

Ek het seker ‘n keuse of ek beter of slegter gaan word soos ek ouer word.

Ek kies om nie verbitterd en jaloers te wees op ander se seëninge nie. Ek wil graag dankbaar bly vir die deel wat vir my afgemeet is, en dankbaar wees vir al die mooi mense en ervarings wat my lewe verryk.  Ek sal steeds meer en meer van myself wil weggee om ander se lewens aan te raak.

Ek wil graag ‘n positiewe verskil maak in almal rondom my se lewens. Ek sien ek kry dit nie met almal reg nie, maar nou ja, ek probeer.

Soos ek ouer word, wil ek my ook net steur aan mense en dinge wat waarde toevoeg tot my lewe.  Ek het nie meer genoeg tyd oor om tyd met nonsens te mors nie.

Ek wil ook my brein vul met positiewe inligting.  Ek wil musiek luister wat vir my die lewe mooi maak. Ek wil boeke lees wat my opbou. Ek wil ook blogs lees wat iets te sê het, ek wil met vriende kuier saam met  wie ek die rooiwyn en kampvure van die lewe kan herdenk as groot bakens langs die lewenspad.

Kortom gesê- die lewe is veels te kort om my verder te steur aan sommige mense en dinge. Die honde blaf, maar die karavaan trek verby!

Vrydag se fietsrystories

Ek sukkel die afgelope ruk om getrou fiets te ry, en die Argus kom vinnig nader. Sedert verlede Vrydag kon ek nog net gister ry, as gevolg van universiteitstories, reën in die Bosveld, en karmoeilikheid.

Vanoggend het ek weer my fiets aangetree vir 50 km.

As ‘n mens so stadig soos ek fietsry, het ‘n mens baie tyd om te dink.

Langs die pad was dit weer fantasties soos altyd. Op een kol het ek verby ‘n miskruier gery, wat ewe gewillig ‘n bol mis in die teerpad rondstoot wat dubbeld sy grootte is. En dit het my nou aan die dink. Hoeveel van ons het ook so ‘n lewe? Soms voel die hoop mis (of wat jy dit ook al wil noem!) dubbeld ons grootte. Maar as ‘n mens dit eers mooi rond gekry het, kan jy dit uit die pad uit stoot. Solank ‘n lorrie nie oor jou ry nie, dan maak dit ‘n lelike squeesshh geluid en dan gaan die … mis spat…

Ek het ook die mooiste toneel gesien van ‘n arend wat majestieus vlieg en kyk vir muise en slange langs die pad. Dit is darem pragtig om te sien, en ek is so bly daar is sulke diere wat die muise en rotte en slange in toom hou. Ek dink net die rotte hou f-ol van vlieg, soos die ou plaaswerker van die meerkat gesê het.

Ek het tyd gehad om oor dankbare dinge te dink. My vrou se lewe is hierdie week gespaar- waaroor ek verskriklik dankbaar is. Die laerskool is net 600 m van my huis af. Maar die ou hoofpad loop tussenin deur, met ‘n stewige afdraende en ‘n robot tussenin. Vragmotors is veronderstel om 40 km deur ons dorp te ry, en te stop by rooi robotte.  Woensdag het dit verskriklik gereën, en my vrou het die jongste by die skool gaan oplaai. Op pad terug het sy by die rooi robot gestop, voor in die ry. Toe die lig groen slaan, het sy weggetrek. Sy het die klassieke fout gemaak wat ek haar en my dogter gereeld oor inlig, sy het nie eers gekyk nie, selfs al was die lig groen. Die volgende oomblik lê iemand op ‘n toeter, en sy stop dood. Die vragmotor kom teen ‘n helse spoed oor die rooi robot gejaag, millimeters voor die bakkie se neus. Soos sy sê- as sy die radio aangehad het, het sy nie die toeter gehoor nie.  As ek so sleg na ‘n vriendin se dood gevoel het verlede Februarie- hoe op aarde sal ek dit oorleef het as my vrou onder ‘n lorrie beland het saam met my jongste?  Ek wens so ek was hier naby Woensdag, ek sou baie graag daardie bestuurder wou spreek…

En ek het ook gedink ek laaik nie op die oomblik vir Nedbank nie. Ek het op 5 Januarie aansoek gedoen vir ‘n studielening vir my dogter. Hulle het gesê dit gaan 5 werksdae neem om dit te verwerk. Ek wag nou nog. Ek skakel al van Maandag af daagliks, dan is die konsultant besig met iemand, ek los my nommer elke keer, en sy kom nie terug na my toe nie. Dis die neukery as jy by ‘n bank is waarvan die naaste tak 90 km ver weg is.  Om dit net meer ironies te maak, het Nedbank my verlede week geskakel om te hoor of ek nie in ‘n persoonlike lening belang stel van R120 000 nie, die rentekoers is net so 7% hoër as ‘n studielening. Ek voel soos Blikskottel vanoggend op my fiets- ek haat banke!!!

So op my fiets het ek baie dinge vandag beleef- verwondering, dankbaarheid, die blixemingeit.

Ek het vandag vir die eerste keer Explode poeier in my waterbottel gehad, anders sou ek nie die 50 km op twee Weetbixe kon maak nie. En die goed is nogal potent- ek voel eintlik heel goed na 50 km!

Ek moet nou twee preke gaan maak vir Sondag. Soet wees en gedra julle, en as dit sleg is, sit dit op facebook!

Sonde met die wiele…

Die een ding wat ek al lankal sien aankom het, het nou gebeur. Met ons dogter se studies het ons maar ma se Corolla so op semi- permanente basis vir haar geleen.

Pastoriemoeder ry nou die bakkie, want sy ry min, en diesel is duur. Maar ek kan nie oral op die motorfiets uitkom nie, veral nie in hierdie reënmaand nie.

So- ek moes nou maar vir myself ‘n ander voertuig koop om mee te werk. Vir maande lank doen ek al huiswerk. Tweedehandse waarde, brandstofverbruik, betroubaarheid, sexygeit. Ek is maar in my hart ‘n Toyotaman. Nog nooit met een van hulle langs die pad gaan staan nie. Alles loop reg, altyd reg…

Maar watter model? Land Cruiser, (daardie) nuwe Hummerige wa, die FJ Cruiser, Fortuner- alles hartsbegeertes, maar te duur. Hilux dubbelkajuit- die ideaal, steeds te ver bo my vuurmaakplek. Aygo kan ek nuut bekostig. Maar dis nie ‘n kar nie, dis ‘n duikpak! Yaris, sexy, maar ook klein!

Ek besluit om ‘n kar te koop wat ek van hou. Terwyl ek nou in elk geval in my motoriese vaardighede in is, doen dit reg.

Ek kyk op Automark se webwerf vir my 3e Corolla. En ek kry een, wat ek dadelik baie van hou. ‘N 1.4 Advanced, met net 28000 km op. Maar hy staan in Tzaneen, 250 km weg! Ek bel, en hoor hoe werk so afstandkopery… (Sallie werie!) Die kar is Mooi! Ek teken die kontrak, en hy word verlede Woensdag by my afgelewer. Maar dadelik sien ek- HKGK! Die flikkerligte werk nie. Die sentrale sluit werk nie. Die elektriese spieëls werk nie. Die CD speler werk nie… Ek kontak die handelaar- hulle sê ek moet hom plaaslik laat regmaak en vir hulle die rekening stuur.

Die plaaslike auto elektrisiën maak oop, inderdaad GK! Die hele elektriese stelsel is deur rotte opgevreet! Die kar word gehaal, diie verkoopsman los vir my sy Yaris T1 as “courtesy vehicle”. My hart is seer, ek het daardie swaar gevoel op die maag as iets verkeerd loop…

Die middag skakel ek ‘n paar kundige vriende. Mense soos Son wat weet van. Hulle almal sê- raak ontslae. My vriend die vliegtuig mekaniek dominee sê elektriese skade hou aan en aan en aan.

So begin ek maar weer op Automark rondkyk. En sien dieselfde handelaar het ‘n 1.6 Professional vir dieselfde prys. Ek skakel hom. Aangesien ek nog in die 7 dae tydperk is, kan ek hom mos omruil? Die handelaar sê dis reg.

Vanoggend na die 7-8 biduur val ek in die pad, Tzaneen toe. Die Yaris het nie êrkon nie, maar ry verder baie lekker! Kom in pieterskwane, en nou moet ek verby Moria ry, Haenertsburg toe. Maar daar is WOESTE padverleggings! En as ons uiteindelik mag ry, beland ek elke keer agter giggelgeel 2e Wêreldoorlog model ou Fatap lorries wat nie meer as 20 km per uur kan ry nie.

Die 250 km het my amper 4 ure geneem. Maar die 1.6 is aanvaarbaar, en het toe net 74000 km op (in plaas van) die 94000 op die advertensie. Volle diensrekord, waarborg nog in plek. Dit lyk tog na goeie nuus.

Maar- die ding het lelike mags op. Maar sê die DP, ek kan maar die wiele omruil met die een wat ek amper gehad het. Baie mooier Toyota Mags…

Die kar het vanoggend sy 75000 diens gekry. Nou moet hy deur die toets. En ek sit en wag. En wag. En wag… En vanaand lê daardie pad weer voor- sou dit so groot draai wees om Maputo, Nelspruit, Pretoria, Thabazimbi om te ry (in plaas van) die stuk oor Haenertsburg?

Hierdie mense moet gou maak, ek het more oggend ‘n aksie saammet my gemeente se bejaardes om 10h00, en hier sit ek nog steeds…

Om weg te ry…

Gister het ek my dogter in Gomorrah agtergelaat.

Ons het huis toe gery, en dit was maar stillerig in die bakkie.

Reg oorkant ons kamer staan die deur oop- ‘n baie morsige kunstenaarstipe tiener se kamer. Die mure is vol geverf, die helfte van die huis se skottelgoed staan daar onder die bed en op die lessenaar. Verskeie buisies olieverf lê op die vloer rond, tussen ander projekte se verfspatsels. Stephanie Meyer se boeke lê al vier op verskillende plekke… Ek sal dit maar nie waag om weer ‘n foto te neem en op die web te sit nie, ek het dit eenkeer op facebook gedoen en toe kry ek groot pakslae…

Daar is die stemtoon van ‘n tienermeisie wat met haar pre-tiener boeties praat oor wat hulle alweer verkeerd gedoen het. Daar is die gestry oor watter DVD uitgeneem moet word, wie verantwoordelik was vir die skottelgoed se was, wie nou weer voorgetrek word. Dis nie meer in ons huis vandag nie. Skielik is die decibels baie laer in die huis.

Dan is daar die breë stroom geld wat die afgelope ruk in een rigting gevloei het. Registrasiegeld. Akkommodasie deposito, klasgelde vir die jaar,  geskikte rekenaar, versiening van ma se ou kar, begroting vir kos en petrol per week.  Saam met die boeties se registrasiegelde en skoolklere en skryfbehoeftes… alles op een slag…

Met al die spanninge en konflikte, al die groeipyne en dinge wat ons al lankal sien kom het, het dit uiteindelik gisteraand gebeur- my oudste het nou ‘n ander adres. Haar kamer in my huis  is nou verlate, sy sprei haar vlerke en vlieg op ander plekke as wat ek haar kan beskerm.

Gisteraand, om by die huis te kom, en die inwonertal is amtelik een minder- dit was vir my baie, baie sleg.

En vanoggend voel ek skoon babelaas. En ek het nie eers ietsie geneem om dit te verdien nie!

Ek sukkel om al my varkies te vang en op hok te kry. Die hamster neuk al die hele oggend van die wieletjie af. Dit terwyl ek vanaand ‘n belangrike vergadering het wat ek baie slim dinge op moet sê, en groot planne moet voorlê.  Dit terwyl ek more op versoek van my Bybelstudie groepie bietjie moet gesels oor die verskille tussen die klein- en die groot doop (ligte ou tematjie waaroor almal nog altyd saamstem, geen probleme nie…)

Almal oorleef hierdie fase, baie van julle is al lankal daardeur. My bek was ook baie groot oor hierdie onderwerp.

Vandag is vir my baie moeilik!

Dag 1 in die Hoërskool…

Vanoggend het my seun ‘n groot mylpaal in sy lewe bereik. Hy is vir die eerste dag Hoërskool toe. En dit is vir ons ook ‘n interessante gebeurtenis om te aanskou.

Gistermiddag was al die nuwe Graad 8 leerders saam met hulle ouers in die saal. Ons het gehoor van alles wat voorlê. Nee, daar is nie ontgroening nie, daar is wel ‘n induksieproses om hulle welkom te laat voel.

Hulle mag nog nie in hulle skooldrag kom nie, die eer moet eers verdien word. Hulle is vanoggend met grys skoolkortbroeke, en kaalvoet skool toe. Hulle dra blou T-Hempies, waarop sy ousus vir die skool ‘n spotprent geteken het van ‘n verwarde Graad 8 leerling. Hulle sal vir die volgende paar weke as “Ditsems” bekend staan, en ek gaan sukkel om hierdie woord elke keer reg uit te spreek. Moreaand is daar ‘n deurnag kamp, glo om die skoollied en die volkslied en die Ditsemlied te leer. Uit twee vorige ervarings weet ek dat hulle wel slaapsakke saamneem, maar dit nooit gaan gebruik nie.

Tog vir die induksie of orientering onder baie gekontrolleerde omstandighede plaas. Ja, die bloedjies gaan soms bietjie ongemaklik wees, en nie meer so grootmeneer voel soos verlede jaar as die grootkoppe van die Laerskool nie. Hulle gaan maar hulle plekkie in die sisteem vind, en van onder af begin om nuwe netwerke te bou, nuwe ervarings te geniet, nuwe geleenthede te ontgin.

Dit was vir my gister net weer interessant hoe die ontwikkelingsvlak tussen seuns en meisies in Graad 8 verskil. Die meisies begin al volwasse lyk, en lyk of hulle so gereed is vir die nuwe ontwikkelingsvlak in hulle lewens- jonge dames. Die seuns daarteenoor lyk nog soos regte klein seuntjies, nog pure kind.

Daar gebeur darem so baie tussen Graad 8 en 10 in ‘n seun se lewe! Sy Graad 10 boetie is nou ‘n ent langer as ek, en ek gaan baie binnekort die armdruk en stoei begin verloor…

Dit herinner my nou aan ‘n daggie in 1981, 31 jaar gelede hierdie tyd, toe ons as Standerd sessies opgeruk het Hoërskool toe. Ek onthou dat ons gedink het ons is vreeslik grootmeneer.  Ons het gereken die matrieks gaan ons sweeties vat. Ons het die dag voor die skool begin het, ure geneem om gate in toffies te maak, en dit vol Tabasco te spuit, en dan toe te knyp. Ons wou so ooglopend met die lekkers op die speelterrein gaan rondloop, en die matrieks uitlok om ons lekkers te steel. En toe wou die matrieks nie meer toffies eet voor hulle pelle nie…

‘n Mens het darem so verdwaald en verward gevoel in daardie eerste dae in Standerd ses. Ek het die eerste dag in die houtwerk klas ‘n pak slae gekry ook om my te verwelkom in die Hoërskool. Ek het ‘n winkelhaak gevat en gemaak of dit ‘n pistool is, en die meneer wou seker ook maar sy merk maak. Alle aspirasies vir houtwerk is daardie dag uit my uitgedonder… Vandag is ek nogal baie spyt daaroor.

Ek kon ook in die Hoërskool met sportsoorte begin wat nie algemeen bekend is nie. Ek het in Standerd 6 en 7 geskerm vir ‘n sport, en was regtig redelik goed daarmee. In Standerd 8 het ek my gesteur aan groepsdruk, en eerder gaan derde span rugby speel, want net Engelse en moffies skerm… Nog ‘n groot foutjie in my lewe…

Ja, daardie eerste dae in Standerd 6 was verwarrend en skrikwekkend, en tog ook ‘n noodsaaklike deel van my vorming as mens. Nou is dit my seun se beurt, en hy lyk so jonk daarvoor…

Dis waar ‘n ouer ook maar soms moet terugstaan, en jou kind toelaat om sy eie battles te baklei. Met die wete dat hy huis toe kan kom na ‘n moeilike dag, en ‘n pa agter hom het wat omgee en verstaan…

‘n Wonderlike laaste dag van Verlof…

Vandag is my laaste dag van 10 dae se verlof. Ek het dit by die huis deurgebring, en my maar verbeel ek is wel op Morgan Baai.

Die een probleem met ons werk is dat ‘n mens nooit afskakel by die huis as ons op verlof is nie. Die huisfoon lui, en ‘n mens weet nooit of dit vir die kinders is, of dalk ‘n krisis in die gemeente nie. Die kinders gaan nie die geleentheid mis om iets lekkers te doen saam met vriende nie, daarom antwoord hulle altyd die telefoon. En so nou en dan kom dit deur: Is jou pa tuis?

So was ek betrokke by ‘n troosdiens Donderdag, wel vir iemand vir wie ek die wêreld se respek gehad het. Maar daarna voel ‘n mens nie meer op vakansie nie. Ek het ook navraag gehad oor iemand wat graag iemand anders wil aanspreek  oor sy meisie by hom ingetrek het, en ek dringend daar moet optree. Dit neuk ‘n  vakansiegevoel nog baie meer op!

So, al bly ek reg langs die kerk, het ek vanoggend besluit: Aangesien ek nog op verlof is, gaan ek kerk bank. Dit is ‘n pragtige oggend, en ek gaan my motorfiets vir ‘n Breakfast Run neem.  En dit het ek toe gedoen. Terwyl die goeie mense die kerk volgemaak het, het ek in my denim en T Hemp en leathers die pad gevat, na die Maxi’s op ons buurdorp toe, vir ‘n heerlike omelet. Op pad soontoe het ek vir myv ‘n Rapport gekoop, om die nuutste nuus oor die Modimolle Monster te lees. En vir balans, om te fokus op die verhewe dinge in die lewe, het ek vir my ‘n Bike Sa gekoop.

Die rit na die buurdorp toe was heerlik. Die lug was so effens koel na gister se bewolktheid.  Die veld was pragtig, en die kronkelpaaie en my Mitchelin Anakees verstaan mekaar mooi.

Maxi’s het my teleur gestel. Die koffie was vanoggend vrek sleg.  En die omelet se kaas was nie eers gesmelt nie. Ek het maar daar gesit en die Rapport klaar gelees. Dalk, sê Rapport, sal die wêreld nie heeltemal op 21 Desember 2012 tot ‘n einde kom nie. Miskien het die Maja’s net uit klip uit gehardloop!  As hierdie die laaste jaar is in onse lewens, dan wil ek dit graag voluit lewe. Die lewe is in elk geval te kort vir slegte koffie, is die een slagspreuk by Mugg & Beane. Daarom het ek so vinnig as moontlik oorgeskuif na Greenfields op die Waterfront vir beter koffie. Daar het ek die Bike Sa deurgelees.

Ek wil net eers hierdie met my motorfiets vriende deel- net buite Maxi’s het hierdie pragtige ou BMW R 100 GS gestaan, in perfekte toestand. Hierdie fiets was al tot in Tanzanië volgens die inskripsie op sy fairing.  Dit is ‘n pragtige, baie skaars ou fiets, en sy eienaar kyk baie duidelik mooi na hom…

Op pad terug het ek die wet lelik oortree, ek bely, ek is baie jammer. Tussen Warmbad en Nylstroom, of Bela Bela en Modimolle vir die meer polities korrekte name, is een van die lekkerste kronkelpaaie. Maar om een of ander rede het die slim verkeersmense gedink die meeste van die 27 km moet teen 60 km per uur afgelê word. Belaglik! Ek het plek plek 140 km/u in ‘n 60 s0ne gery, en voel glad nie skuldig nie, al is dit ‘n toesluitbare misdaad. Maar dit was soveel pret- die draaie, die pragtige veld, die bokke langs die pad. En om die karavaners verby te steek wat wel 60 km/u ry…

In ons dorp was daar die hele dag ‘n kragonderbreking. My vrou het vir ons die heerlikste hoendergereg op gas voorberei.  Daarna het ons sonder ‘n waaier in ons baie warm huis ‘n middagslapie geneem.

Die krag het netnou aangekom, en nou kan ek weer met julle gesels.

Ek is so effens meer getraumatiseerd as wat ek graag  in die openbaar sal erken. Dis my dogter se laaste naweek in die ouerhuis as ‘n permanente inwoner van ons huisgesin. Volgende Saterdag vat ons haar Gomorrah toe om te gaan studeer, en daarna is sy net ‘n gas in die huis wanneer sy kom kuier. Dis nogal baie skrikwekkend vir my!  Ek hou my braaf, maar hier binne pla die gedagte my baie! Sy word nou groot, en ek word nou oud!  Dié van julle wat lankal hier verby is, sal vir my lag… maar dis nou baie erg vir my. En ek weet nie hoe om dit te sê nie, nou maak ek soms onvanpaste grappies daaroor…

In elk geval, my verlof is nou verby. More begin ek weer amptelik te werk. En ek is nogal skielik bang daarvoor… ek weet nie of ek al geestelik gereed is vir nog ‘n siklus op die mallemeule nie…

Dink maar aan my, dis nogal regtig rowwe tye vir my!

Deurmekaar tye!

Ek sien Tootsie mis my darem! Dankie Toorts!

Ek is maar stillerig hier in die begin van 2012. Ek kry eintlik net nie kans om by die internet uit te kom nie. Ek is tot more op verlof, maar dit was allesbehalwe vakansie hier in die pastorie gewees.

Ons moes maar ons Morgan Baai seevakansie kanselleer. In hierdie tyd boer ons in Gomorrah (Bose stad nommer 2). Ek moes eers op die matjie voor die Nedbank bankbestuurder se lessenaar op my knieë gaan staan. Dit vir ‘n studielening.

Ons gee ook my vrou se karretjie vir onse dogter vir universiteit, aangesien die enigste bekostigbare akkomodasie vir haar privaat universiteit (lees BAIE duur en geen koshuise nie) 8 km weg is, en die busse en kunswerke gaan ook nie lekker saam uitwerk nie. Dit het my genoodsaak om maar my bakkie vir my vrou te begin gee, want sy ry net 6 km per dag. My bakkie is baie swaar op brandstof, en ek ry maklik 3000 km per maand met my werk.  Die dieselprys maak my kontantvloei baie seer! Daarom moet ek maar my vervoertoelaag gebruik en vir my nuwe wiele koop. Ok- ek het eintlik nog net een nuwe kar in my lewe gehad- ‘n Toyota Tazz. Dié keer is dit ‘n 4 jaar oue Corolla 1.4 Advance, met gelukkig net 28000 km op die klok.  Ek kyk nou al maande tussen ‘n Aygo, Yaris en het vaagweg gehoop vir ‘n nuwe vorm Corolla, en uiteindelik het die regte een op my pad gekom. Ek kry hom seker Dinsdag.

So tussen alles regkry vir ons dogter se studies, en karkoop, is dit baie besige en skrikwekkende tye. Dit wat ‘n mens oor jare opgespaar het vir hierdie dae, vlieg nou teen ‘n spoed uit die rekenings uit!

Maar dit gaan darem ook goed. Ek het vanoggend ‘n heerlike 40 km fietsrysessie gehad, totaal vir die week nou so 120 km. Gister was daar die hele tyd weerlig, en dit het enkele druppels gereën. Al is dit bietjie droog, is die veld pragtig op die oomblik. Die voëltjies is pragtig in ons omgewing. veral die stuk waar ‘n mens oor die Nylrivier ry, daar is vleie met biesies, en die pragtigste rooi en geel vinke, kortstert flappe, vuurvinkies, blou sysies, troupante, en neushoringvoëls.  Die lug was vanoggend baie mooi helder en skoon, en al was dit baie warm, was dit ‘n heerlike rit.

Ons gemeenskap is ook baie dankbaar dat die Modimolle Monster en sy drie sidekicks uiteindelik gevang is. Die Landdroshof is maar 400 m van my huis af, en vir die eerste keer ooit is die hele gemeenskap, swart en wit, verenig.  Dit was nou die heel eerste keer wat ek die behoefte gehad het om saam met die ANC Vroueliga te gaan toy- toy.  Ons kon nie glo dat al die grudade en wegkruipplek binne ‘n 2 km radius van ons huis af plaasgevind het nie, terwyl ons die hele tyd die gerugte gehoor het dat Johan Kotze eers in Kimberley opgemerk is, toe in Witbank, toe in Namibië. En die hele tyd was hy enkele meters van die grondpad waar ek my kinders met ons ou Beetle leer bestuur! Ons is geskok, gewalg, en verenig in ons afkeur van hierdie man se optrede teenoor ‘n baie wonderlike vrou en veral die moord op ‘n uiters talentvolle jong man, Conrad Bonnette.

Twee jaar gelede was ons gemeenskap ook in die nuus met ‘n massamoordenaar in ons swart woonbuurt, wat meer as 10 klein kindertjies vermoor het. Ons is die gemeenskap waar De Wet Kritzinger, die Pretoria busskieter, kom wegkruip het, hy het by ons Supa Quick onder ‘n skuilnaam gewerk.  Ons was ook in die nuus die afgelope ruk met die boer wat gevangenisstraf gekry het omdat hy die Boeremag bomplanters gehuisves het.

Ten spyte van al hierdie negatiewe beriggewing bly ons eintlik in ‘n wonderlike dorp.  ‘n Plek waar die rasseverhoudings eintlik baie beter as in baie ander plekke is, waar ons plaaslike misdaad eintlik besonder laag is. Ons het ‘n pragtige omgewing in die Bosveld, dis hoekom daar binne ‘n 80 km radius van ons af maklik 200 lodges en vakansieoorde is.

Dis net vreemd om etv se lorrie met sy groot skottel op die dak so buite ons landdroshof te sien. Om in die restaurante in te stap en die plek sit vol joernaliste.

So ja, 2012 is maar sover baie rof, en ek het nog nie eers begin werk nie!  Na hierdie verlof het ek amper ‘n vakansie nodig!

Drome wat nie uitwerk nie

Dit was nou vanoggend baie hartseer om van die ballon ongeluk in New Zealand te hoor. Vyf egpare het by ‘n Bucket List tipe ervaring uitgekom.  Dis selfs op my Bucket List- ek kan aan min dinge so romanties dink as om saam met my geliefde en ‘n bottel sjampanje so geruisloos in die oggendmis rond te sweef. Verkieslik oor ‘n wildtuin, waar ‘n mens die dieremanewales so uit die lug kan aanskou en jou verwonder oor hierdie hoek van sig.  Nou vyf egpare het opgestyg op so ‘n droom ervaring in ‘n ballon… daar by Wairarapa.  Nou kyk, my vlieëniervriende het ‘n spreekwoord: “You do’nt have to take off, but you need to land- every time… ” Ek kan my net indink- die een oomblik is dit nog die ervaring van ‘n leeftyd. En dan skielik kom die kragdrade nader, en almal eers versigtig, en dan met al groter paniek, na die gevaar kyk. En dan die absolute skok as daar gesien word dat die ongeluk nie kan vermy word nie. In ‘n ballon gebeur alles seker in elk geval in “slow motion…” Ek dink net Bucket List items is nie veronderstel om jou aan te help om die emmer te skop nie.

 

Nog  ‘n droom is besig om tot ‘n einde te kom. Ja, ons heteroseksuele manne hou baie van borste. En ongelukkig het die Playboy Mansion en Baywatch ons idee van wat mooi borste is, redelik beïnvloed. Baie manne se idee van ideaal is nou daardie groot, koeëlronde mensgemaakte aanhansel A en B, in grote DD. Nou kyk, so rukkie terug moes Toyota in Amerika miljoene karre terugroep, daar was ‘n foutjie wat die kar aan die brand kon laat slaan. Dit kan ‘n mens nog hanteer…

Dink jou nou net in: Dr 90210 skakel jou persoonlik. Uhm, Meneer, daardie Kersgeskenkie wat jy vir mevrou gegee het- jy weet, die speelgoed wat jy ook so geniet-  daar is ‘n fabrieksfout op hulle… ons moet hulle terugroep. Dis nou ‘n gatslag vir enige man- as sy vrou se borste teruggeneem word! Die Franse het eerste daarmee begin, en nou volg die Duitsers hulle voorbeeld. Dit lyk vir my iemand het weer lekker geld gespaar. In plaas van mediese graad silikoon is daar sommer gewone industriële silikoon gebruik, glo die soort wat in matrasse gebruik word.  En al lyk die resultaat ewe pragtig, is dit nie goed vir die draer daarvan as dit lek nie…  Kyk bietjie mooi daar in die BBC artikel- hulle lek makliker, en dit gaan nou deur ‘n magistraat ondersoek word. Ek wonder hoe?

Daar is 300 000 ongelukkige manne in 65 lande wat hulle vrouens moet terugneem fabriek toe… Van volronde volmaaktheid af  gaan dit hulle nou skielik weer teen die bors stuit…

 

Die hele aangeleentheid het my ook al laat wonder. Wat maak die mediese mense as die dame wel die implantate ontvang het, maar nie ten volle klaar betaal nie? Stuur hulle die balju om te kom “reposess”? Is dit ook iets wat op ‘n veiling vir bank teruggeneemde bates kan beland?

 

Miskien is daardie kwaai omie van die Windhoek advertensie tog maar reg- Keep it real! And remember- we are watching…

Matriekuitslae se dinge

En so gaan die gang van die geskiedenis, en sleur ‘n mens deur al die stroomversnellings van jou lewe heen. Ek onthou hierdie tyd van my lewe so goed- daardie gewag op die matriekuitslae. In my geval was dit baie spannend, met rede was ek bekommerd of ek die matriekvrystelling vir universiteitstoelating gaan kry. Ek en leer was nie groot vriende nie, ek en my motorfiets en die oop pad was…
Die groot dag het uiteindelik aangebreek, die spanningskol op die maag was baie erg. Toe ek dit in die hande neem, uiteindelik die groot verligting- 4 C simbole, en 2 E’s vir Wetenskap en Rekeningkunde… Dit was amper!

Vanoggend sesuur is Matriekmerrie se punte vrygestel. Sy leer net so min soos haar pa. Maar het darem haar ma se verstand gekry! Na al die jare se deurskuur tot in graad 10 het sy bietjie vasgetrap, en vier onderskeidings huis toe gebring, vyfde met 1 persent gemis en slegste vak 68 persent, sy kon die vraestell nie klaar kry nie.

Verskoon my maar vandag, ek gaan nou eers op die wolke rondloop, en dan verder met Nedbank oor ‘n studielening gesels…

Lekker dag daar by jou!