Deurmekaar tye!

Ek sien Tootsie mis my darem! Dankie Toorts!

Ek is maar stillerig hier in die begin van 2012. Ek kry eintlik net nie kans om by die internet uit te kom nie. Ek is tot more op verlof, maar dit was allesbehalwe vakansie hier in die pastorie gewees.

Ons moes maar ons Morgan Baai seevakansie kanselleer. In hierdie tyd boer ons in Gomorrah (Bose stad nommer 2). Ek moes eers op die matjie voor die Nedbank bankbestuurder se lessenaar op my knieë gaan staan. Dit vir ‘n studielening.

Ons gee ook my vrou se karretjie vir onse dogter vir universiteit, aangesien die enigste bekostigbare akkomodasie vir haar privaat universiteit (lees BAIE duur en geen koshuise nie) 8 km weg is, en die busse en kunswerke gaan ook nie lekker saam uitwerk nie. Dit het my genoodsaak om maar my bakkie vir my vrou te begin gee, want sy ry net 6 km per dag. My bakkie is baie swaar op brandstof, en ek ry maklik 3000 km per maand met my werk.  Die dieselprys maak my kontantvloei baie seer! Daarom moet ek maar my vervoertoelaag gebruik en vir my nuwe wiele koop. Ok- ek het eintlik nog net een nuwe kar in my lewe gehad- ‘n Toyota Tazz. Dié keer is dit ‘n 4 jaar oue Corolla 1.4 Advance, met gelukkig net 28000 km op die klok.  Ek kyk nou al maande tussen ‘n Aygo, Yaris en het vaagweg gehoop vir ‘n nuwe vorm Corolla, en uiteindelik het die regte een op my pad gekom. Ek kry hom seker Dinsdag.

So tussen alles regkry vir ons dogter se studies, en karkoop, is dit baie besige en skrikwekkende tye. Dit wat ‘n mens oor jare opgespaar het vir hierdie dae, vlieg nou teen ‘n spoed uit die rekenings uit!

Maar dit gaan darem ook goed. Ek het vanoggend ‘n heerlike 40 km fietsrysessie gehad, totaal vir die week nou so 120 km. Gister was daar die hele tyd weerlig, en dit het enkele druppels gereën. Al is dit bietjie droog, is die veld pragtig op die oomblik. Die voëltjies is pragtig in ons omgewing. veral die stuk waar ‘n mens oor die Nylrivier ry, daar is vleie met biesies, en die pragtigste rooi en geel vinke, kortstert flappe, vuurvinkies, blou sysies, troupante, en neushoringvoëls.  Die lug was vanoggend baie mooi helder en skoon, en al was dit baie warm, was dit ‘n heerlike rit.

Ons gemeenskap is ook baie dankbaar dat die Modimolle Monster en sy drie sidekicks uiteindelik gevang is. Die Landdroshof is maar 400 m van my huis af, en vir die eerste keer ooit is die hele gemeenskap, swart en wit, verenig.  Dit was nou die heel eerste keer wat ek die behoefte gehad het om saam met die ANC Vroueliga te gaan toy- toy.  Ons kon nie glo dat al die grudade en wegkruipplek binne ‘n 2 km radius van ons huis af plaasgevind het nie, terwyl ons die hele tyd die gerugte gehoor het dat Johan Kotze eers in Kimberley opgemerk is, toe in Witbank, toe in Namibië. En die hele tyd was hy enkele meters van die grondpad waar ek my kinders met ons ou Beetle leer bestuur! Ons is geskok, gewalg, en verenig in ons afkeur van hierdie man se optrede teenoor ‘n baie wonderlike vrou en veral die moord op ‘n uiters talentvolle jong man, Conrad Bonnette.

Twee jaar gelede was ons gemeenskap ook in die nuus met ‘n massamoordenaar in ons swart woonbuurt, wat meer as 10 klein kindertjies vermoor het. Ons is die gemeenskap waar De Wet Kritzinger, die Pretoria busskieter, kom wegkruip het, hy het by ons Supa Quick onder ‘n skuilnaam gewerk.  Ons was ook in die nuus die afgelope ruk met die boer wat gevangenisstraf gekry het omdat hy die Boeremag bomplanters gehuisves het.

Ten spyte van al hierdie negatiewe beriggewing bly ons eintlik in ‘n wonderlike dorp.  ‘n Plek waar die rasseverhoudings eintlik baie beter as in baie ander plekke is, waar ons plaaslike misdaad eintlik besonder laag is. Ons het ‘n pragtige omgewing in die Bosveld, dis hoekom daar binne ‘n 80 km radius van ons af maklik 200 lodges en vakansieoorde is.

Dis net vreemd om etv se lorrie met sy groot skottel op die dak so buite ons landdroshof te sien. Om in die restaurante in te stap en die plek sit vol joernaliste.

So ja, 2012 is maar sover baie rof, en ek het nog nie eers begin werk nie!  Na hierdie verlof het ek amper ‘n vakansie nodig!

4 thoughts on “Deurmekaar tye!

  1. En dit is nou maar eers die 14de Januarie😯 Sorg dominee maar net dat dominee uit die nuus uitbly, en mag julle nou rustiger waters invaar.

  2. Ekskuus dat ek ligsinnig raak tussen al hierdie ernstighede… maar ek sou graag wou sien hoe jy toitoi daar saam met die vroueliga… jou sou mos vroulik moes aantrek ook!! Ai man, hoekom het jy nie? Dan kon jy mos ‘n foto geplaas het ook!!
    Ek glo dis nou die einde van al die onheilighede daar en dat jy die res van die jaar in vrede saam met vredevolle gemeentelede vreedsaam en vreetsaam kan verkeer!🙂
    Bly jy’s terug op die net. Het begin bekommerd raak!

  3. 😆 @ Toortsie! Sy is darem nie al een wat jou gemis het nie. Ek was van plan om vandag te kom vra of jy WordPress nou al weer die weeskind gemaak het:mrgreen:

    Maar ek is bly jy oefen so mooi, ek wil darem nie kom cheer en dan kom jy laaste by die Argus nie LOL!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s