Dag 1 in die Hoërskool…

Vanoggend het my seun ‘n groot mylpaal in sy lewe bereik. Hy is vir die eerste dag Hoërskool toe. En dit is vir ons ook ‘n interessante gebeurtenis om te aanskou.

Gistermiddag was al die nuwe Graad 8 leerders saam met hulle ouers in die saal. Ons het gehoor van alles wat voorlê. Nee, daar is nie ontgroening nie, daar is wel ‘n induksieproses om hulle welkom te laat voel.

Hulle mag nog nie in hulle skooldrag kom nie, die eer moet eers verdien word. Hulle is vanoggend met grys skoolkortbroeke, en kaalvoet skool toe. Hulle dra blou T-Hempies, waarop sy ousus vir die skool ‘n spotprent geteken het van ‘n verwarde Graad 8 leerling. Hulle sal vir die volgende paar weke as “Ditsems” bekend staan, en ek gaan sukkel om hierdie woord elke keer reg uit te spreek. Moreaand is daar ‘n deurnag kamp, glo om die skoollied en die volkslied en die Ditsemlied te leer. Uit twee vorige ervarings weet ek dat hulle wel slaapsakke saamneem, maar dit nooit gaan gebruik nie.

Tog vir die induksie of orientering onder baie gekontrolleerde omstandighede plaas. Ja, die bloedjies gaan soms bietjie ongemaklik wees, en nie meer so grootmeneer voel soos verlede jaar as die grootkoppe van die Laerskool nie. Hulle gaan maar hulle plekkie in die sisteem vind, en van onder af begin om nuwe netwerke te bou, nuwe ervarings te geniet, nuwe geleenthede te ontgin.

Dit was vir my gister net weer interessant hoe die ontwikkelingsvlak tussen seuns en meisies in Graad 8 verskil. Die meisies begin al volwasse lyk, en lyk of hulle so gereed is vir die nuwe ontwikkelingsvlak in hulle lewens- jonge dames. Die seuns daarteenoor lyk nog soos regte klein seuntjies, nog pure kind.

Daar gebeur darem so baie tussen Graad 8 en 10 in ‘n seun se lewe! Sy Graad 10 boetie is nou ‘n ent langer as ek, en ek gaan baie binnekort die armdruk en stoei begin verloor…

Dit herinner my nou aan ‘n daggie in 1981, 31 jaar gelede hierdie tyd, toe ons as Standerd sessies opgeruk het Hoërskool toe. Ek onthou dat ons gedink het ons is vreeslik grootmeneer.  Ons het gereken die matrieks gaan ons sweeties vat. Ons het die dag voor die skool begin het, ure geneem om gate in toffies te maak, en dit vol Tabasco te spuit, en dan toe te knyp. Ons wou so ooglopend met die lekkers op die speelterrein gaan rondloop, en die matrieks uitlok om ons lekkers te steel. En toe wou die matrieks nie meer toffies eet voor hulle pelle nie…

‘n Mens het darem so verdwaald en verward gevoel in daardie eerste dae in Standerd ses. Ek het die eerste dag in die houtwerk klas ‘n pak slae gekry ook om my te verwelkom in die Hoërskool. Ek het ‘n winkelhaak gevat en gemaak of dit ‘n pistool is, en die meneer wou seker ook maar sy merk maak. Alle aspirasies vir houtwerk is daardie dag uit my uitgedonder… Vandag is ek nogal baie spyt daaroor.

Ek kon ook in die Hoërskool met sportsoorte begin wat nie algemeen bekend is nie. Ek het in Standerd 6 en 7 geskerm vir ‘n sport, en was regtig redelik goed daarmee. In Standerd 8 het ek my gesteur aan groepsdruk, en eerder gaan derde span rugby speel, want net Engelse en moffies skerm… Nog ‘n groot foutjie in my lewe…

Ja, daardie eerste dae in Standerd 6 was verwarrend en skrikwekkend, en tog ook ‘n noodsaaklike deel van my vorming as mens. Nou is dit my seun se beurt, en hy lyk so jonk daarvoor…

Dis waar ‘n ouer ook maar soms moet terugstaan, en jou kind toelaat om sy eie battles te baklei. Met die wete dat hy huis toe kan kom na ‘n moeilike dag, en ‘n pa agter hom het wat omgee en verstaan…

5 thoughts on “Dag 1 in die Hoërskool…

  1. Ek wil gaan skerm!! Dit lyk so cool

    In ons skool wou hulle ons dwing om aan sport deel te neem. In die winter het dit beteken die meisies moes kies tussen hokkie en netbal. Ek het rugby gekies. Siende dat ek toe nie rugby kon doen nie, het ek nie sport gedoen nie. 😆

  2. As ek moes enige sport kies waarvan ek van die res van my lewe moet deel neem, sal dit natuurlik RUGBY wees, Omdat rugby in my bloed is.Ek was 7jaar oud toe ek my heeleerste wedstryd uitdraf vir Lingcom Primere skool en nou speel ek in die eeste span van Spandau Sekondere Skool in die flank posisie……lol my Geskiedenis onderwyser het gese dis net nare wat rugby speel. Hy noem dit seker Omdat hy seker nie Kon n bal pass nie..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s