Om weg te ry…

Gister het ek my dogter in Gomorrah agtergelaat.

Ons het huis toe gery, en dit was maar stillerig in die bakkie.

Reg oorkant ons kamer staan die deur oop- ‘n baie morsige kunstenaarstipe tiener se kamer. Die mure is vol geverf, die helfte van die huis se skottelgoed staan daar onder die bed en op die lessenaar. Verskeie buisies olieverf lê op die vloer rond, tussen ander projekte se verfspatsels. Stephanie Meyer se boeke lê al vier op verskillende plekke… Ek sal dit maar nie waag om weer ‘n foto te neem en op die web te sit nie, ek het dit eenkeer op facebook gedoen en toe kry ek groot pakslae…

Daar is die stemtoon van ‘n tienermeisie wat met haar pre-tiener boeties praat oor wat hulle alweer verkeerd gedoen het. Daar is die gestry oor watter DVD uitgeneem moet word, wie verantwoordelik was vir die skottelgoed se was, wie nou weer voorgetrek word. Dis nie meer in ons huis vandag nie. Skielik is die decibels baie laer in die huis.

Dan is daar die breë stroom geld wat die afgelope ruk in een rigting gevloei het. Registrasiegeld. Akkommodasie deposito, klasgelde vir die jaar,  geskikte rekenaar, versiening van ma se ou kar, begroting vir kos en petrol per week.  Saam met die boeties se registrasiegelde en skoolklere en skryfbehoeftes… alles op een slag…

Met al die spanninge en konflikte, al die groeipyne en dinge wat ons al lankal sien kom het, het dit uiteindelik gisteraand gebeur- my oudste het nou ‘n ander adres. Haar kamer in my huis  is nou verlate, sy sprei haar vlerke en vlieg op ander plekke as wat ek haar kan beskerm.

Gisteraand, om by die huis te kom, en die inwonertal is amtelik een minder- dit was vir my baie, baie sleg.

En vanoggend voel ek skoon babelaas. En ek het nie eers ietsie geneem om dit te verdien nie!

Ek sukkel om al my varkies te vang en op hok te kry. Die hamster neuk al die hele oggend van die wieletjie af. Dit terwyl ek vanaand ‘n belangrike vergadering het wat ek baie slim dinge op moet sê, en groot planne moet voorlê.  Dit terwyl ek more op versoek van my Bybelstudie groepie bietjie moet gesels oor die verskille tussen die klein- en die groot doop (ligte ou tematjie waaroor almal nog altyd saamstem, geen probleme nie…)

Almal oorleef hierdie fase, baie van julle is al lankal daardeur. My bek was ook baie groot oor hierdie onderwerp.

Vandag is vir my baie moeilik!

7 thoughts on “Om weg te ry…

  1. Sterkte. Ek onthou nou nog my pa se snikke toe hy my destyds op die stasie gaan afsien het toe ek uit die huis is om in die groot dorp te begin werk. Die enigste troos waarop jy kan reken is dat jy later beter sal voel.

  2. Sterkte man! Ek is baie erg oor my kinders, maar dit was vir my geensins traumaties om hulle te gooi dat hulle vlerke moet sprei nie, want ek het geweet en vertrou hulle kan vlieg. En hulle het.

  3. Ons is al twee keer daardeur, so ek weet presies hoe jy voel. Myne is nou al 26 en 29 en ek sien ons vriendin Toortsie praat van die venter trailertjie wat sy afgehaak het – die ding is, hulle het so ‘n manier om so elke nou en dan hulself weer aan te haak…🙂 So moenie worry nie – jy’s beslis nie alleen nie en solank hulle weet ons is altyd daar vir die weer tydelike aanhaak as dit moet, sal hulle genoeg selfvertroue he om te vlieg!

  4. Sterkte. Ek dink troos sal kom in die feit dat die gebeurtenis, al is dit hartseer, een of ander tyd moes gebeur….en die troos dat sy in ‘n ouerhuis grootgeword het, wat haar toegerus het vir die wye grootmenswêreld.

  5. Dink eerder daaraan as ‘n nuwe fase wat in haar lewe begin as ‘n hartseer een vir jou😉 Ek dink haar kop is mooi opgeskroef en julle gaan nog baie trots wees op haar. En bêre jou trane vir wanneer jy haar eendag aan ‘n man moet afgee voor die preekstoel😈

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s