Word ‘n mens beter soos jy ouer word?

Ek lees netnou vinnig Jeanne se baie mooi inskrywing, en hierdie saak leef ook in my gedagtes hierdie week.

Ek verjaar binnekort. En die verjaarsdag wat ek tref, is een van daardie sielkundige bakens langs die lewenspad. Dit sit nie in die gene van my familie om my huidige verjaardag te verdubbel nie.  Ek is lankal verby halfpad met my lewensreis, as my pa, my ooms, my oupa se lewensverhale ‘n aanduiding sou wees van hoeveel trippies ek om die son gaan saamry op hierdie planeet.

Ek het verlede jaar nogal baie oor die onderwerp van Halftyd gedink aan die hand van Bob Buford se uitstekende boek met daardie titel.  Bob Buford sê in Halftime dat die lewe soos ‘n sportbyeenkoms met twee helftes is. Die eerste helfte van jou lewe draf jy met groot gejuig op die speelveld van jou lewe.  Jy maak en breek, spook en spartel, en in die eerste helfte ontdek jy jouself, jy kry jou opleiding, jy vind jou lewensmaat en bou jou gesin. Jy begin ‘n stewige finansiële platform skep om die res van jou lewe mee te kan hanteer. En in die proses vat jy ook baie stampe en stote.

Erens in jou lewe lui die klokkie in jou gedagtes- dis halftyd. Die eerste helfte is verby. En dan gaan jy na die kleedkamer, en evalueer wat in die eerste helfte gebeur het. Is jy besig om te wen?  Is jy besig om ‘n pak slae te kry? Wat het jy nodig om te verander om van die tweede helfte ‘n sukses te maak?  En dan, sê Buford, verskuif die fokus in ‘n gesonde lewe. Die eerste helfte het oor EK gegaan wat my plek moet vestig, en vir myself moet sorg. Die tweede helfte fokus eerder op SIN. Wat maak die lewe regtig die moeite werd?  En die antwoord lê buite jouself- nie meer wat ek wil ontvang nie, maar wat ek kan gee. Watter verskil kan ek in iemand anders se lewe maak? Charlene het so mooi daaroor geskryf wanneer hierdie fase nie gebeur nie. Dit is so hartseer as ‘n mens jou tweede helfte nog steeds vashaak op die eie ou EK, en almal rondom jou se lewens opneuk in die proses om jouself te dien.

Dit was wat my verlede jaar na die Camino in Spanje toe geneem het. Ek wou so graag bietjie aftrek van die lewenspad, en oor hierdie goeters dink. Tyd maak om voor te berei vir die tweede helfte.

Bygesê- niemand van ons weet hoe lank is die game regtig nie.  Ons dink dalk daar is nog baie tyd oor, en dalk is die einde baie nader as wat ons dink. Ek weet niks van Spekbek se dood nie, maar ek het nooit met hom swaarde gekruis nie. Om die waarheid te sê, hy het my baie mooi ondersteun verlede jaar, al was ons dalk nie meer op presies dieselfde bladsy wat alle geloofsake aanbetref nie.  Die feit is- niemand van ons is verseker om Kersfees te haal in 2012 nie.

Soos wat ek die volgende mylpaal in my lewe gaan oorsteek, wil ek ook graag in my lewe sinvolle dinge beleef.

Ek het seker ‘n keuse of ek beter of slegter gaan word soos ek ouer word.

Ek kies om nie verbitterd en jaloers te wees op ander se seëninge nie. Ek wil graag dankbaar bly vir die deel wat vir my afgemeet is, en dankbaar wees vir al die mooi mense en ervarings wat my lewe verryk.  Ek sal steeds meer en meer van myself wil weggee om ander se lewens aan te raak.

Ek wil graag ‘n positiewe verskil maak in almal rondom my se lewens. Ek sien ek kry dit nie met almal reg nie, maar nou ja, ek probeer.

Soos ek ouer word, wil ek my ook net steur aan mense en dinge wat waarde toevoeg tot my lewe.  Ek het nie meer genoeg tyd oor om tyd met nonsens te mors nie.

Ek wil ook my brein vul met positiewe inligting.  Ek wil musiek luister wat vir my die lewe mooi maak. Ek wil boeke lees wat my opbou. Ek wil ook blogs lees wat iets te sê het, ek wil met vriende kuier saam met  wie ek die rooiwyn en kampvure van die lewe kan herdenk as groot bakens langs die lewenspad.

Kortom gesê- die lewe is veels te kort om my verder te steur aan sommige mense en dinge. Die honde blaf, maar die karavaan trek verby!