Fietsry is soveel lekkerder in die platteland!

Die Bosveld word op die oomblik geteister deur baie hoë temperature. ‘n Mens voel die hele dag pap en gedreineerd.

Saam met dit is die Argus nou net so oor die twee weke weg.  Dit is nou tyd om die oefenprogram te begin afrond. As ‘n mens nou een gehad het! In my geval probeer ek maar so veel as moontlik kere op die fiets klim, net om bietjie fiksheid bymekaar te skraap om Suikerbossie te oorleef…

Eergister het ek tussen half elf en twaalf op die fiets moes klim, so na die Bybelstudie. Kon nie later nie, want ek was van 16h00 tot 21h00 uit op die gewone huisbesoek, nie die Huisbesoek nie…

Toe ek op die fiets klim, was dit so 37 grade gewees.  As ‘n mens dan ry, is dit regtig erg op die lyf. Die lug voel sommer verskriklik dun en warm in die longe in. Sweet verdamp dadelik en los so ‘n soutneerslag op die vel.  Soms hoor ‘n mens harpmusiek, ander kere voel jy die hel se vlamme hier kort agter die fiets se saal uitbreek. Dit raak ernstig as die engeltjies jou naam begin neerskryf in goue letters op die perkamentrol by die Poorte…

Gister middag was net so warm. Ek het weer 35 km gaan ry. Maar daar was darem baie mooi oomblikke ook.

Die wolke ontwikkel deesdae baie indrukwekkend hier oor die Bosveld.  So nou en dan word ons verras deur ‘n stewige wolkbreuk ook, en dan ‘n halfuur later lyk dit weer of niks gebeur het nie…

Terwyl ek gistermiddag so ry, kom ek op hierdie toneel af. En wens ek ek het eerder my Canon met die telefotolens by my gehad! Die selfoon zoom ook net so ver!

Twee lekker spekvet vlakvarke het so ewe rustig in die pad afgedraf, salig onbewus van my teenwoordigheid. Hulle het geloop en skinder oor al die ander dames in hulle troppie, oor die kiddies wat so windgat raak, en waar ‘n mens die sappigste wortels kan gaan uitgrawe.  Die een was nog besig om wortelkoek resepte met die ander een uit te ruil, toe kom een van die boere van die gemeenskap met ‘n Land Cruiser bakkie met ‘n gejuig aangejaag. Hulle kon my nie hoor nie, maar daardie Land Cruiser kan ‘n mens op ‘n afstand hoor brul.  Bravo 1 spring net daar regs om, en hol in die veld in. Maar Bravo 2 is so bietjie van die blonde soort vlakvarke. Sy dog sy hardloop sommer so reguit in die pad af weg vir die Land Cruiser. Reg in die middel van die pad. Sy spin daardie pootjies dat die hoefies sulke vonke uit die teerpad uit laat spat. Sy kom mooi op spoed, en word vir ‘n paar oomblik die Florence Griffiths Joyner van die varkerige soort. Soos die mense hier rond sê, sy maak gat skoon…

Maar die Land Cruiser kom onverbiddelik aangejaag. En die jong man klim op die toeter. Die varkie versnel nog so ‘n bietjie, maar die Cruiser is op haar… Ernstige vermydingsaksies word uitgevoer, want ‘n  vlakvark is ‘n baie harde ding. Hy maak selfs Land Cruisers baie seer. Uiteindelik dring dit deur Bravo 2 se kop, draai links af. EN met ‘n snork van verontwaardiging gooi sy haar boudjies uit, en maak ‘n 90 grade na links, in die bosse in.

Die Land Cruiser het haar gemis, en ek het gelukkig ook nie oor een van hulle geval nie. Nie weer gesien nie, maar ek is seker hulle het nogal baie gehad om oor te gesels rondom hulle wortelkoek gistermiddag!

Op pad terug huis toe, 5 km van die huis af, het een van my nagmerries weer gebeur. Die wolke het toegetrek, en die weerlig het begin. Ek is skytbang vir weerlig op ‘n fiets! Toe maak ek maar soos die varkies en maak gat skoon huis toe!

Maar dit is die voordeel van plattelandse fietsry- ek sien vlakvarke, nie padvarke nie…  Ek sien doringbome en voëls, slange en olienhoutbome en ‘n ribbok wat daar teen die randjie draai… (apologie aan ?)

Soms is die lewe op die platteland net soveel beter as die stad!

Advertisements

Vandag se Gumtree advertensie wat ek nog moet stuur…

Nee, hierdie is nou nie bedoel om jou dag te spam nie, ontspan!

Vir die meer ernstige lesers se oorweging net die volgende:

1997 Toyota Corolla 130 te koop, net 135000 km op, volledige diensrekord, R55 000. Die voertuig is soos nuut, is net bestuur deur drie geslagte van dieselfde familie se dames. Daar is wel enkele krappies op, maar wat verwag jy van ‘n 15 jaar oue voertuig? Ek glo ‘n lagie politoer ywerig opgevryf behoort die krapmerkies te kan hanteer…

Ons wys graag daarop dat hierdie die A100 vorm is. Sekere aerodinamiese vermoëns onderskei dit van vorige modelle, bv die gesofistikeerde lugversorgingseenheid, soos opgemerk in die vorm van die linker voordeur se ontwerp.  Dit voorsien vars lug vir die bestuurder as deel van die Arrive Alive veldtog soos deur die Minister van Padveiligheid geïnisieer.

Op minder ernstige noot, ek het darem die wrak na groot gesukkel uitgekoop gekry vir 30% van versekerde waarde. En na groot gesukkel het ons die nodige deure en deurpilaar gekry in goeie toestand by Wannenburgs in Pretoria… ek weet nou hoe lyk die hele Pretoria Wes ook.  Die koste van twee deure, deurpilaar, en die voorste “fender” sover is R4500, BAIE minder as die eerste paneelklopper se kwotasie vir tweedehandse parte! Nog so R1000 vir verf, skuurpapier en derglike, en dan het ek al die materiaal nodig om die voertuig te herstel.

 

So- die voertuig is nou veilig by ons huis, vir verdere beplanning…

So lyk my dag…

Toorts het so mooi gevra- maar my antwoord is baie soos hare- geen twee dae lyk dieselfde in my lewe nie!

Daar is die ou storietjie van die jong proponentjie wat een Sondag in sy eerste gemeente bevestig is. Die Maandag oggend vroeg het hy so agter sy lessenaar gaan sit, en gewonder wat hy vandag alles moet doen. Net toe het sy telefoon gelui, en hy het nooit weer gewonder nie… In my lewe, persoonlik en professioneel, vrees ek maar die telefoon (soos Woensdag oggend!) Een oproep kan ‘n dag, week, maand se beplanning heeltemal omver gooi.

Maar die vraag sou wees: hoe lyk die gemiddelde dag.  Kom ek vat maar die gemiddelde Dinsdag- hulle is amper die meeste voorspelbaar in my lewe:

05h30- Opstaan vir 40 km fietsry (as ek dit regkry om op te staan!)

07h00 Kom tuis, eet en stort

07h30- 08h30 Laaste oorgaan van my Bybelstudie, epos kyk, dalk vinnig ‘n paar blogs scan

08h30 Kerkkantoor toe, korrespondensie en navrae help hanteer

09h00- 10h00 Gemeente Bybelstudie

10h15- 13h00 Siekebesoeke, Ouetehuisbesoeke, Pastorale sessies

13h00- 14h15 Middagete

14h15-16h00 Opleeswerk, voorbereiding vir preek Sondag, of pastorale sessies

16h00- 21h00 Huisbesoek

21h00 Aandete, gesels met my vrou, televisie, gewone boeke lees (nie teologies nie…)

23h00 Gaan slaap

 

Maar een oproep kan so ‘n dag totaal verander. Ek kan vir ure by ‘n sterfbed gaan sit. Of iemand gaan bystaan wat so pas ‘n groot verhoudingskrisis opgetel het… daar is so baie veranderlikes.

Dit is niks vreemds dat ‘n Dinsdag oor die 14 ure aan diens het nie…  Dis hoekom daardie grappies van dominees wat net twee ure per week werk, die helfte van die tyd met hulle oë toe, nie altyd vir ons so snaaks is nie.

Maar ek het hierdie lewe gekies omdat ek die Here liefhet, en omdat ek graag vir mense iets wil beteken, en hulle lewens beter wil help maak.

Ek hoop dit help om so effense insig te kry!