Fietsry is soveel lekkerder in die platteland!

Die Bosveld word op die oomblik geteister deur baie hoë temperature. ‘n Mens voel die hele dag pap en gedreineerd.

Saam met dit is die Argus nou net so oor die twee weke weg.  Dit is nou tyd om die oefenprogram te begin afrond. As ‘n mens nou een gehad het! In my geval probeer ek maar so veel as moontlik kere op die fiets klim, net om bietjie fiksheid bymekaar te skraap om Suikerbossie te oorleef…

Eergister het ek tussen half elf en twaalf op die fiets moes klim, so na die Bybelstudie. Kon nie later nie, want ek was van 16h00 tot 21h00 uit op die gewone huisbesoek, nie die Huisbesoek nie…

Toe ek op die fiets klim, was dit so 37 grade gewees.  As ‘n mens dan ry, is dit regtig erg op die lyf. Die lug voel sommer verskriklik dun en warm in die longe in. Sweet verdamp dadelik en los so ‘n soutneerslag op die vel.  Soms hoor ‘n mens harpmusiek, ander kere voel jy die hel se vlamme hier kort agter die fiets se saal uitbreek. Dit raak ernstig as die engeltjies jou naam begin neerskryf in goue letters op die perkamentrol by die Poorte…

Gister middag was net so warm. Ek het weer 35 km gaan ry. Maar daar was darem baie mooi oomblikke ook.

Die wolke ontwikkel deesdae baie indrukwekkend hier oor die Bosveld.  So nou en dan word ons verras deur ‘n stewige wolkbreuk ook, en dan ‘n halfuur later lyk dit weer of niks gebeur het nie…

Terwyl ek gistermiddag so ry, kom ek op hierdie toneel af. En wens ek ek het eerder my Canon met die telefotolens by my gehad! Die selfoon zoom ook net so ver!

Twee lekker spekvet vlakvarke het so ewe rustig in die pad afgedraf, salig onbewus van my teenwoordigheid. Hulle het geloop en skinder oor al die ander dames in hulle troppie, oor die kiddies wat so windgat raak, en waar ‘n mens die sappigste wortels kan gaan uitgrawe.  Die een was nog besig om wortelkoek resepte met die ander een uit te ruil, toe kom een van die boere van die gemeenskap met ‘n Land Cruiser bakkie met ‘n gejuig aangejaag. Hulle kon my nie hoor nie, maar daardie Land Cruiser kan ‘n mens op ‘n afstand hoor brul.  Bravo 1 spring net daar regs om, en hol in die veld in. Maar Bravo 2 is so bietjie van die blonde soort vlakvarke. Sy dog sy hardloop sommer so reguit in die pad af weg vir die Land Cruiser. Reg in die middel van die pad. Sy spin daardie pootjies dat die hoefies sulke vonke uit die teerpad uit laat spat. Sy kom mooi op spoed, en word vir ‘n paar oomblik die Florence Griffiths Joyner van die varkerige soort. Soos die mense hier rond sê, sy maak gat skoon…

Maar die Land Cruiser kom onverbiddelik aangejaag. En die jong man klim op die toeter. Die varkie versnel nog so ‘n bietjie, maar die Cruiser is op haar… Ernstige vermydingsaksies word uitgevoer, want ‘n  vlakvark is ‘n baie harde ding. Hy maak selfs Land Cruisers baie seer. Uiteindelik dring dit deur Bravo 2 se kop, draai links af. EN met ‘n snork van verontwaardiging gooi sy haar boudjies uit, en maak ‘n 90 grade na links, in die bosse in.

Die Land Cruiser het haar gemis, en ek het gelukkig ook nie oor een van hulle geval nie. Nie weer gesien nie, maar ek is seker hulle het nogal baie gehad om oor te gesels rondom hulle wortelkoek gistermiddag!

Op pad terug huis toe, 5 km van die huis af, het een van my nagmerries weer gebeur. Die wolke het toegetrek, en die weerlig het begin. Ek is skytbang vir weerlig op ‘n fiets! Toe maak ek maar soos die varkies en maak gat skoon huis toe!

Maar dit is die voordeel van plattelandse fietsry- ek sien vlakvarke, nie padvarke nie…  Ek sien doringbome en voëls, slange en olienhoutbome en ‘n ribbok wat daar teen die randjie draai… (apologie aan ?)

Soms is die lewe op die platteland net soveel beter as die stad!

4 thoughts on “Fietsry is soveel lekkerder in die platteland!

    • Dis oor die verlatenheid dat ons hierdie pad ry, die ander is almal dodelik met swaar lorries vol steenkool en ander vorme van padvark… dis hoekom ‘n mens hier kan vlakvarke en voëls en slange raaksien… 🙂

  1. Vir my is die platteland ALTYD beter as die stad.
    Sjoe! Ek het nou hierdie storie van die vlakvarke so geniet! Hulle het ‘n spesiale bekoring aan hulle. Ons (ek, my man, 2 broers en skoonsuster) ry een keer Botswana toe. Sou die aand by Ellisras slaap, toe is vlakvarke in die pad. Ons moes NET DAAR stop, sodat ouboet vir hom ‘n vlakvark kan vang. Mensig! Ons het gelê soos ons lag toe hy hulle agterna sit (hy was amper 50!!). Wel, ons het NIE ‘n vlakvark gebraai die aand nie. 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s