Verlore vreugdes van Vrydae…

Vrydag is my afdag. Of soos die voorsitter van my Diensverhoudingekommissie dit noem- my privaat dag. Wat beteken dit in praktyk? Gewoonlik nie veel nie. Maandag tot Donderdag hardloop ek woes agter die skapies aan, en Vrydag moet ek gewoonlik dan preek maak vir Sondag.Sommige dae, soos nou weer hierdie Dinsdag wat pas afgesterf het, is baie lang dae in my lewe. Dinsdag het ek sewe uur die oggend ingeklok by die Hoërskool se beheerliggaam,  en daarna besoeke en administratiewe take gedoen tot half twee. En van drieuur tot negeuur onophoudelik huisbesoek gedoen- ses ure aaneen…

Die werkstempo maak dat ‘n mens sekere rituele in jou week moet inbou ter wille van oorlewing. Dis presies soos wat ek die Argus ook maar ry. As ‘n mens flenters moeg is, moet jy nie dink hoe ver die eindpunt nog is nie, dan stop jy net daar. Nee, jy kry vir jou ‘n baken in die nabye toekoms. Die Brass Bell in Kalkbaai. Just Nuisance se standbeeld in Simonstad. Die baken by Millerspoint… so ry jy baken vir baken, hou net uit tot by die volgende een, tot die wenstreep uiteindelik die laaste baken is…

In my week, al moet ek preek maak Vrydag, was daar ‘n baie gunsteling baken gewees. Vrydagoggend het ek ingeklok by die Wiesenhof op ons dorp. En daar, om die hoek van die voorste kombuis, was daar ‘n tafel buite sig van selfs die meeste mense in Wiesenhof.  Daar het ek my dan tuisgemaak met my laptop, en sommer net lekker rondgesurf op die internet op hulle gratis Wifi. Ek kon die nuuste koerant lees, en heel onlangse tydskrifte (nie soos my boekhouer wat om een of ander rede 1997 se Landbou Weekblad op sy tafeltjie in die wagkamer het nie…) Die rede hoekom ek so lief was vir my geheime hoekie- as jy vir ‘n rukkie af wil wees en net weer jou asem wil terugkry, is die laaste ding wat jy wil hoor: “Hallo Dominee, o hier kruip jy weg! Ek wou net gou ietsie met jou bespreek wat my pla…” Dan is die dag in sy heppie kanon in.

Die lekker van Wiesenhof was die Three Mug Blend of the Day vir R15.95. Hulle word stadig geniet, en die koppies ten minste ‘n halfuur uitmekaar bestel.  En soms, net soms, daardie lekker Skilpaadjie ontbyt wat die Cholestrol so mooi aanhelp dat selfs die dokter die telling makliker kan sien…

Die Wiesenhof het altyd lekker musiek gespeel, of die Super 15 wedstryde as dit sulke tye is.

Dit was so ‘n wonderlike baken om voor te mik.

En ja. dan het ek en Vroulief die middag weer ietsie daar gaan drink, ons twee se ritueel om die huis en die kinders te oorleef!  Dan was ek al so vol kafeïne dat ek kan gloei in die donker, gewoonlik ietsie koels genuttig.

Vandag is Vrydag. Ek preek nie Sondag nie. My knie is verskriklik seer van vermoedelik gout, ek kan nie eers op Huisbesoek gaan nie… (my motorfiets se naam vir nuwe vriende…)

Ek sit nou maar in my studeerkamer met ‘n koppie Ricoffy, en balk my hartjie uit op my blog… want Wiesenhof het in Januarie deure toegemaak met die ekonomiese insinking. Ek wens daar het van my blogvriende naby gebly dat ek maar eerder julle Ricoffy kon gaan opdrink. Al my ander vriende in die dorp werk vandag in die sweet van hulle aangesig…

Geniet jou naweek en mag daar Jacobs koffie oomblikke vir jou voorlê!

Om soms verlief te wees…

Ek en my vrou het mekaar maar min in Maart gesien. Eers was daar die hartseer dat sy skoolhou, en nie saam met my Argus toe kon gaan nie. Ek moes ook in Maart van al my opgehoopte verlof ontslae raak om dit nie te verloor nie.  Om by die huis te sit met verlof werk net nie in ons huis nie, mense daag steeds op vir hulp, of die kinders antwoord die telefoon in die hoop dat daar ‘n opwindende partytjie êrens vir hulle is. Daarom het my vrou my Kaap toe gejaag, om met haar seën ekstra dae in die Kaap te bly en my Kaapse vriende te gaan geniet.

Verlede week was daar die een keer per dekade geleentheid om ‘n bok te gaan skiet, en kon ek en my oudste seun ‘n wonderlike tyd in die Bos gaan beleef.

Die vrou van my drome moes Sondagaand na Potties toe vertrek om ‘n CAPS kursus te gaan bywoon- iets te doen met Loopbaanbeplanning, Assessering en ander derglike sondige dinge in die Onderwysdepartement se beplanning. Dié kursus maak eers vanmiddag om 14h00 klaar.

Dit het my nou aan die dink gesit… ek ken my vrou van my eerstejaar op Universiteit af. Ons het aan die einde van my tweedejaar begin uitgaan. Die verhouding het ‘n moeilike tyd beleef in my vierde jaar, toe ek nog in Bloemfontein gesit en probeer slim word het (onsuksesvol…) en sy gaan skoolhou het in Oos Londen. Daardie reis van 560 km het ek in een jaar iets soos 21 keer aangepak.  Ek het een keer op my motorfiets afgery om net te gaan sê ek is jammer ek was ongeduldig op die telefoon! Sy het in ‘n meisieskoshuis gebly in die dae voor die selfone, die dae van die lang tiekie, en om verby honderde estrogeenfabriekies by die telefoon in haar koshuis uit te kom- kommunikasie was ‘n groot probleem! Hoe het ons sonder selfone en facebook en eposse reggekom? Ek het maar enige geleentheid aangegryp, en al die Oos-Londen studente by Kovsies geken- as een of twee wil huis toe gaan, is ek dadelik beskikbaar. Net om by HAAR te gaan kuier. Dit het net ‘n jaar aangehou, toe besluit ons die huwelik sal goed wees vir twee nat agter die ore jong mense. En teen sommiges se bedenkinge in is ons in my vyfde jaar getroud. Hierdie Saterdag 22 jaar gelede…

So besluit ek gister: as ek Oos Londen toe kan gaan om te gaan jammer sê, gaan ek nie 95 km toelaat om my langer van my vrou af weg te hou nie. Ek was eers gister tussen 17h30 en 18h30 by my gemeente se nuwe biduur (bywoning 3- ek, my kollega en die orrelis!)  Daarna twee huisbesoeke gedoen, en by albei iets gemompel van die seuns wat alleen by die huis is, ons gaan dit kort hou vanaand… teen 20hoo was ek klaar gewerk, en 35 minute later stop ek voor die Oasis hotel in Potties…

My vrou was baie verbaas om my daar te sien. Ons het heerlik gaan kuier by o’Hagans, sy net op ‘n Milo, ek het dit Iers gehou met ‘n Guinness Draught en bordjie tjips.  Daarna het ons teruggegaan hotel toe om verder te gaan gesels…

Ek moes so 22h30 weer in die pad val, maar die keer het vroulief my mooi gevra om nie weer anderkant 180 kmu te ry nie. Ek het geluister en so teen 23h20 tuis gekom.

Party ouens ry so ver om ‘n skelmpie te gaan sien.  Dit was sommer weer lekker om so ver te ry net om by my vrou te gaan kuier.

As ek so op besoeke uit is in die gemeente, en baie mense in my studeerkamer sien met huweliksprobleme, dan is ek diep dankbaar vir die lewensmaat wat die Here vir my gegee het.  Ek hoop die kiddies gaan eendag vir ons ‘n baie mooi 50e huweliksherdenking paartie gee… ek hoop so ons albei word gespaar vir daardie dag!

Vanmiddag kom sy huis toe. Ek is opgewonde daaroor!  Ek bly verlang na haar. Ek moet nou gaan dink wat ek vir haar gaan maak vir aandete.

Ek het darem mooi na die seuns probeer kyk terwyl sy weg was.

Maandagaand het ons maar Spur ribburgers gaan eet, twee vir die prys van een.

Dinsdag het ons die Wok wat ek vir haar by Builders Warehouse daar langs oom Samie se winkel gekoop het, ingewy. Goulash blokkies, Stirfry groente, nuwe Castle marinade en rys…

Gister was dit Pick ‘n Pay gebraaide hoender, sulke wonderlike buns, my eerste koolslaai (wat die seuns haat!) en pitmielies vir ete- hulle kan mos nie net gemorskos eet nie!

Vanmiddag eet hulle vetkoeke wat ‘n baie vriendelike gemeentetannie vir hulle gemaak het- dis so lekker dat daar mense is wat vir my gesin lief is en omgee!

Maar ‘n mens kom in so week agter hoeveel doen die Ma van die huis vir ons!   Dit gaan so lekker wees om haar weer terug te hê.

Die vreugde van my seun…

Eendag lank, lank gelede, Dinsdag om presies te wees, het ek my seun uit die Hoërskool gaan teken. Hy is vanoggend eers weer terug, na ‘n deeglike sessie in Lewensorientering wat vir hom baie meer gaan beteken as gister se skoollesse.

Dit het so gebeur: ‘n baie goeie vriend en kollega van my het my en my seun saamgenooi, na ‘n geleentheid wat hy gekry het.

Anderkant Ellisras is daar mos nou die groot ontwikkeling van die Medupi kragstasie. Anderkant dit lê die Grootgeluk steenkoolmyn, en dan ‘n klomp pragtige bosveldplase op die Stockpoortpad tot by die Botswana grens.

Dis ‘n man se wêreld, vol pragtige bome, en bokke, vlakvarke en swart mamba’s. Dis ‘n harde wêreld- daar het op hierdie betrokke plaas waarheen ons gegaan het, van 1 Januarie af 8 mm reën geval. Dit was baie, baie warm, en verskriklik droog. Die veld kan nie meer die hoeveelheid bokke dra nie, die weiding is bykans op, en die diere moet verminder word om ‘n kans op oorlewing te gun.

Maar die mees hartseer van hierdie plaas is die land se onversadigbare drang na elektrisiteit. Wanneer Medupi in 2014 aangeskakel word, moet hy steenkool vreet teen ‘n helse tempo. En dis ‘n reuse plek, ek het al jare daarvan gehoor, maar nou eers gesien- dis GROOT. Nou onder hierdie pragtige Bosveldplase lê ‘n dik laag steenkool. En dis waar die mensdom so vernietigend is- pragtige natuur gaan binnekort ‘n helse groot gat wees, met niks bokke en vlakvarke en swart mambas op nie…

Anders as wat al die anti-jag fanatici so tekere gaan oor, het jag die hoeveelheid wild in die Bosveld baie positief beïnvloed.  Daar is baie meer wild as vorige jare, want daar is nou ‘n kommersieële waarde daaraan. Volhoubare jag is nie die euwel wat sekeres dit uitmaak om te wees nie.  Maar ek is nie lus vir daardie gesprek nie. Ek self het meer as 10 jaar laas op ‘n bok geskiet…

So is ons toe op hierdie pragtige dog uiters droë plaas in die Bosveld.  Die eienaar kuier die eerste aand saam met ons. Hy gee vir my die reg om ‘n rooibok te skiet.  Wat ek toe nie gedoen het nie. Dis vir my baie moeilik om die sneller te trek op so ‘n pragtige dier!

Ek het die geleentheid vir my seun gegee. Op 15 het hy Woensdag sy eerste rooibok geskiet. En hy het dit ordentlik gedoen. Hy was te voet. Hy het die dier saam met ‘n spoorsnyer bekruip, in die veld waar die dier se sintuie in alle opsigte beter is… Hy het bekruip tot op 40 meter afstand. Hy was bewerig, maar het gekonsentreer, en sy skootplasing was perfek- die bok het nie eers geweet hy gaan deur die Jordaan nie…

Dit is die lekker van ‘n pa- daardie trots op ‘n seun se eerstes… Die jong man moes maar deur die rituele van die eerste bok gaan- die bloed van die bok oor die gesig smeer om hom te herinner: lewe is kosbaar. Die dra van die bok om respek te betoon aan sy prooi.  Die eet van sekere liggaamsdele, die glasie brandewyn, die vertel om die kampvuur van die groot jag… dit is alles op so ‘n primitiewe vlak van menswees, maar dit is juis daardie basiese menswees ervarings wat die lewe die moeite werd maak!

Ek was so trots op my seun. Hy het nie daardie ligsinnigheid wat sommiges het oor sy oorwinning nie. In sy hart is daar blydskap, gemeng met ‘n stukkie hartseer oor die dood van ‘n dier.  Blydskap oor die dier nie gely het nie, blydskap oor die vleis wat hy aan sy gesin voorsien. Net die jagter sal dit werklik verstaan…

Soos my vriend en kollega sê: ons val nie eers in die klas van biltongjagters nie. Daar is wel ‘n paar stukke biltong gemaak. Maar daar is ook vleis vir die gesin vir ‘n maand. Sondag gaan ons die eerste boud in die Weber braai, nadat dit oornag in karringmelk geweek het, en gestop is met spek. Koningskos!  Daar is nie soveel vet soos kommersiële diere in nie, dis baie gesonder as die slaghuispakkies.

Ek het hierdie week so lekker kans gekry om saam met my seun, en baie goeie vriende om ‘n kampvuur te sit, terwyl die jakkalse huil anderkant die slagkamer…  Ek het dit so geniet om in die kole te staar, en toe te laat dat my hart op ver paaie gaan rondloop.

 

Die oorwegende emosie was diep dankbaarheid. Dankbaarheid oor ek vir ‘n slag ‘n maand soos hierdie kon beleef, terwyl Februarie een van die slegste maande in my lewe was…

Dankbaarheid oor die vrou wat vir my by die huis wag, my kinders wat gesond is en vir my vreugde gee.

Dankbaarheid oor ek sulke goeie vriende in my lewe het, dankbaarheid vir kameeldoringhout, en Windhoek Lager, en ‘n vleisie wat op die kole sis.

So ja, dit is baie lekker om ‘n dominee te wees. Nou is my batterye sommer weer vol gelaai vir die lang skof wat Maandag begin. Ek hoop om in baie mense se lewe ‘n positiewe verskil te maak, al weet ek dis onmoontlik om vir almal iets te kan beteken. Ek is weer gereed om van myself te gee, om saam met ander deur moeilike stukke van hulle lewenspad te stap.

Ek is dankbaar, en tevrede. Die lewe is mooi…

En oor so 5 dae gaan dit nog mooier wees…

 

Poging tot Moord…

In die Bosveld, êrens rondom Ellisras, loop daar ‘n rooibokram rond in sy laaste paar oomblikke…

 

  • Hy het aaklige goed gesê oor ek wat nie kan raakskiet nie.
  • Hy was ‘n veelwywer.
  • Hy het baklei met sy maatjies.
  • Hy het te lank by die maroelaboom gekuier, en dronk by die huis aangekom. Toe forseer hy homself af op drie onskuldige jong ooie.
  • Hy was nog altyd aaklig met die jong bokkies by die suipgat.
  • Sy Roland Ward horings is wapens van massavernietiging.

Soos hulle so mooi in Chicago sing: He’s got it coming…

Vandag gaan ek hom spreek.  Ek en my boerekettie. Ek gaan hom bekruip, en die visier se kruisdrade so mooi laat lê op daardie plekkie agter sy blad.  Daar trek ‘n koeël met spoed, met spoed…

 

As ek dit hierdie keer gaan regkry om die sneller te druk, en nie weer soos laas keer net in bewondering te lê en kyk nie…

 

Foto met apologie geleen by jagters.co.za

Die einde van nog ‘n reis…

Na die Argus verlede week kon julle dalk dink dat ek van die aardbol af verdwyn het.

Ek het doelbewus gekies om bietjie van die Internet af te bly.

Maandag en Dinsdag was ek nog in die Kaap. Ek het nog van my gunsteling bloggers ontmoet. Maar die tyd gaan so gou verby in die Kaap! Mense word seker baie vinnig oud daar…  Ek kon nie by almal uitkom wat ek graag wou nie.

Ook in my vriendekring rondom Bloubergstrand, Melkbosstrand en Brakkevel het ek baie goeie tye beleef, en dit was twee absoluut uitsonderlike dae in my lewe.

Woensdagoggend moes ek weer die hartseer ding doen… Ek moes maar weer Noordwaarts keer. Daar is ‘n tyd om te kom, en ‘n tyd om te gaan…

Dit is altyd traumaties vir my om die Kaap te verlaat. Ek het so ‘n sinkende gevoel as ek daardie steil bulte anderkant De Doorns aanpak. Dit was ‘n lang, eensame dag in die kar. Travalia se brunch het darem my weer effens getroos, met die skaapworsie, skaapsosatie en skaaptjoppie…

En daar by Drie Susters het ek toe ‘n groot fout gemaak. Ek het gedog die pad oor Kimberley is nou klaar en in ‘n baie goeie toestand. Was ek verkeerd gewees!

Nog voor Victoria Wes het die padverleggings alweer begin. ‘n Vriendelike biker op pad Buffalo Rally toe het my gewaarsku van die verkeersmense se spoedlokval in Wiekwes, en toe ek daar inry, sien ek die meneer dadelik met sy kamera. Ek voel so opgewonde, een raakgesien! Ek ry mooi rustig deur die dorp. En toe- o die onbeskryflike lae mense… vir baie ver anderkant die dorp is daar nie ‘n opheffing van die spoedgrens van 60 kpu nie. En toe ek die 100 bordjie sien, toe trap ek die petrol. Toe ek so mooi op 80 is in die steeds 60 sone, sit die tweede bliks… goeie mens met ‘n blou uniformpie, met nog ‘n kamera, in die gras onder die boom!  Nog ‘n pragtige foto van my kar op pad huis toe…

Nou vir al die don… bliks… vriendelike spietkops van die moordenaarskaroo, die klein karoo, die groot karoo, die tankwa, die knersvlakte, boesmanland, die onderberg, die overberg, die waterberg, die soutpansberg, as julle so graag ‘n foto van my kar wil hê- download sommer hierdie een…

Op hierdie foto het ek nie die spoedgrens oortree nie…

Na baie, baie, baie padverleggings- julle weet- ry 2 km, stop vir 20 minute, ry agter lorries wat klippe deur jou voorruit gooi vir 10 km, ry 2 km, stop vir 20 minute… X 23= moerse frustrasies… padwoede, sondige gedagtes, moordplanne…

Uiteindelik het ek vandat ek 07h00 in Brakkevel weg is, eers na 20h00 in Kimberley aangekom. Ek was doodmoeg, en het by die eerste gastehuis ingetrek en plek bespreek. Toe ek na die kamer toe begelei word, sit die hele Noord Kaap se regeringsamtenare met bier en KFC by die lapa… Die kamer was ‘n skok- hoe kry ‘n mens ‘n dubbelbed, televisie, êrkon, stort en poepketel in die spasie van ‘n besemkas in? Maar ek was te moeg om verder te gaan soek.

Donderdagoggend het ek vroeg gery, en besluit om oor Bloemfontein terug te gaan N1 toe. Met die groot grap- toe is daar nog seker 7 padverleggings tussen Kimberley en Bloemfontein. Die hel, liewe ateistiese vriende, is ‘n pad met ‘n vinnige motor, vol padverleggings en spietkops…

Ek het in Petoorsdorp gestop om vir my vriendelike dogter te gaan dagsê, en saam met haar en my ma by Food Lovers Market in Woodlands Boulevard ietsie te gaan eet. Ek het so half nege die aand tuis gekom, na twee volle, lang dae op die pad. Padverleggings= 33. Km gereis= 1789 km. Liewe spietkops van Kaappunt tot by Messina, my kar sê my gemiddelde kmu oor hierdie afstand was 56 kmu. So gemiddeld kan ek geen kaartjie kry nie, nie eers vir dorpsgebiede nie…

My vrou moes namens die ATKV ‘n redenaarskompetisie gaan beoordeel, en het eers half tien Donderdag tuis gekom. Na byna twee weke weg van die huis af is die res van die aand nie vir hierdie blog se aandag bedoel nie!

Vrydag lekker laat geslaap, vroulief het ‘n dag verlof gehad, en ons het die heerlikste ontbyt saam gaan eet. Vrydagaand het ons haar verjaardag van Woensdag ordentlik gevier met ‘n braai saam met vriende.

Saterdag het ek my kinders se rugbywedstryde gaan kyk by Zonderwater Gevangenis, waar my oupa in die 2e Wêreldoorlog Italiaanse krygsgevangenes opgepas het…

En vanoggend, aangesien ek nog steeds op verlof is, het ek en Huisbesoek bietjie die Waterberg distrik gaan verken.

Ek het vir die gesin ‘n heerlike potjie gemaak vir middagete, en daarna ‘n middagslapie van epiese proporsies aangepak.

So ja, dit is baie lekker om ‘n dominee te wees. Dit is baie lekker om op verlof te wees.

Dit is hemels om my gesin te hê, dat ek altyd verlang om terug te gaan huis toe.

 

Dit is so lekker om my vriende te hê, van Kaappunt tot St John o’ Groats, en van Los Angeles tot in Korea…

Mense maak my lewe die moeite werd, en my motorfiets is die kersie op die koek.

Baie dankie vir al my Kaapse vriende, oues en nuwes, wat dit so ‘n fantastiese reis gemaak het.

En spietkops van die langpad, gaan kry vir julle eerbare beroepe, soos motorwag…

 

Argus < 24 uur…

More oggend om 07h51 spring ek weg in groep EE van die Argus. Die weervoorspelling word angstig dopgehou, want die Suidooster maak of breek my hierdie jaar, ek is nie fiks genoeg vir ‘n storm nie.  Die slim omies met die dik brille sê dit gaan warm wees more, so 32 grade, en die Suidooster gaan redelik laag lê. Wel, vir die hitte is ek nie bang nie, ek het in 37 grade oor middagete gaan oefen tuis, om gekondisioneerd hiervoor te wees.

Die een ding wat my elke jaar vang, is die pre-resies se stress… Ek voel net nooit fiks genoeg nie. Ek wonder altyd hoekom het ek nie meer gedoen nie. Vroeër as November my fiets uit sy winterslapie laat ontwaak nie. Vroeër in die oggend opgestaan nie. Meer kere gaan oefen nie. Verder gery, meer bulte gaan uitklim…  as ek maar…

En al hierdie emosies help net mooi niks. Dit gaan niks aan die weer verander nie. Dit gaan niks aan die padtoestand of die lengte van die resies verander nie. Maar dit is elke jaar so- die dag voor die Argus worry ek. En slaap sleg. En elke jaar, die afgelope 17 jaar al, gaan dit goed genoeg as ‘n mens net eers aan die gang kom op die Argus. Ek het nog altyd klaargemaak, al was dit soms “battered & bruised”, vol oliekolle, soms bloedstrepe.  Ek weet nou al, as die fiets nie breek nie, en die wind hom gedra, behoort ek met vanjaar se oefening so rondom 5h21 te ry more.  So waarom worry ek so?

Die groot geheim van more is ‘n rustige begin. Ry op my tyd oor Hospitaalheuwel, en veral Edinburgh Drive. Gebruik die AAKLIGE Boyles Drive (onthou om die nuwe remblokkies in te sit!!!) om die uitsig te bewonder, hopelik is daar more weer ‘n groot skool dolfyne wat agter die brandertjies baljaar.

Gister was ook ‘n lekker dag in die Kaap, soos elke liewe een. Weer gaan fietsry saam met Kaapse vriende, en opgeeindig in Moyos by Eden on the Bay, waar ons op ‘n koue oggend teen die kus met ons voete in koue water gesit en eet het, en toe om warm te word dubbel rum en coke gedrink het… die terugrit Melkbos toe was vrolik met die wind van agter en die uitnemende vorm van Carbo Loading…

Gisteraand is ek saamgenooi na Laerskool Riebeekstrand se Miljoenersaand, waarmee hulle geld ingesamel het vir ‘n nuwe rekenaarklas vir die skool. Ivan Zimmerman was die seremoniemeester, Corné Krige het die mense uit hulle geld uitgepraat, en daarna het daar verskeie wyn en kunsprodukte met ‘n veiling van hande verwissel. Soveel mooi en ryk mense het ek nog nie voorheen saam gesien nie. Ek het Corné ook persoonlik ontmoet.

Die skool het gisteraand R200 000 ingesamel, en dit is wonderlik om te sien dat daar jong manne is wat sommer net so vinnig vinnig R20 000 kan drop op ‘n kunswerk…

Wel, nou moet ek my fiets gaaan diens en verder panic. Mooi dag daar!

Dag 4- Kaapse Kontemplasies… It’s not about the bike…

Maar “every second counts…”- So sê my en my geliefde se held Lance Armstrong. Nee, die tyd wat ek die Argus in gaan ry, maak nie vreeslik saak vir my nie. Maar elke sekonde in die Kaap is vir my baie kosbaar…

Die vorige paar dae, vandat ek in die Kaap aangekom het, was baie bedrywig. So baie vriende en familie om te besoek, so baie plekke om te sien, dinge wat ek wil doen. En gister het my hart net gesê dis tyd vir ‘n stiller dag.

Ek het lekker laat geslaap. Daarna die klein ysterperdjie opgesaal, want ek het verlede Vrydag laas geoefen. My lyf het gesê dit is tyd.

Op die oomblik bly ek in Melkbosstrand by een van my kosbaarste vriende. En dié wat die Kaap ken, weet watter lekker pad loop van Melkbos na Bloubergstrand toe. ‘n Groot deel daarvan is deur ‘n natuurreservaat, en die hele tyd is daar die mooiste uitsig op Tafelberg. Altyd ‘n heerlike rit te fiets. Nog beter op ‘n motorfiets!  Daar was nou net een ou probleempie. Die Suidooster was gister redelik omgekrap. ‘n Mens sukkel dan om te beweeg. Ek ry gewoonlik tot by Dolphin Beach hotel. Dit is vir die Bosvelder ‘n verskriklike ervaring as jy op ‘n gelyk pad na die kleinste ratjie voor toe moet gaan, en so vierde rat agter haak. Dit beteken die gelyk pad ry so moeilik soos ‘n baie steil bult! En dit hou vir 13 km aan. Ek het soontoe gery in 47 minute! f,Dikwels kon ek net 15 km/u haal, met my bene wat duidelik inspanning ervaar. Maar aai, die uitsig het so opgemaak daarvoor. Die berg bly pragtig! En wanneer gaan hulle nou eendag die wrak wegkry daar voor die News Café? Die ryk omies van Bloubergstrand se jong derde vrouens draf so pragtig langs die see af, om mooi te bly voor hulle perdalkies  vir nommer 4 ingeruil word. Heel sag op die oog.

In elk geval, in die sweet van my aangesig het ek uiteindelik by Dolphin Beach Hotel aangekom (daar waar Marike de Klerk vermoor is…) En so seer soos wat die heengaan was, so hemels was die terugkeer! Daardie Suidooster van agter maak fietsry ‘n reuse plesier. Op dieselfde pad waar 15 km/u skaars gehaal is, was dit nou baie maklik om 45 km/u te haal.

Dit, liewe vriende, is hoekom ek jaar na jaar die Argus ry- oomblikke soos hierdie!

Die res van gister was ek baie rustig. Ek het ‘n eerste koppie koffie by Ons Huisie restaurant gaan drink. En die Burger gelees…

Daarna so bietjie in West Coast Village gaan rondloop, daar is een van my gunsteling boekwinkels…

Gistermiddag het ek een van my blogger vriendinne vir die eerste keer ontmoet, ‘n besondere vrou wat al Kilimanjaro uitgeklim het en ander avontuurlustige dinge doen. Sy skryf ‘n baie wonderlike blog oor haar Camino later vanjaar, en alles wat sy alreeds daaroor ontdek het.  Ons het ook lekker gesit en gesels oor ‘n cappuchino vir ure by Ons Huisie. Sommige mense voel mos net of jy jare lank al ken.

Gisteraand was ek maar rustig tuis by my vriend se huis, en het sy internetkwota so bietjie pak gegee terwyl hy ‘n klomp mense in en uit die moeilikheid uit gaan kry het…

Gister  as geheel was baie rustiger, soos David Livingstone se portiere wat gaan sit het tot hulle siele weer hulle liggame kon in inhaal…

Dag 2 in die Kaap

Gister was weereens ‘n fantastiese dag in my lewe.

Ek het laat opgestaan, want ek vermoed die verskil in lugdruk maak ‘n mens so pap.

Ek het weer na die Woordfees in Skelmbos toe gegaan, en net lekker rustig langs die Boeketent gesit en koffiedrink saam met vriende. Terwyl die beroemdes so rondom ons sit en soos gewone mense lyk. RSG se buitelug ateljee was so 20 meter van ons af, en Suzanne Paxton het intelligente vrae vir ministers, skrywers en ander mense gevra.

Gister was een van daardie uitsonderlike mooi dae wat die weer aanbetref. Ek het die middag bietjie deurgery Gordon’s Baai toe, en net die Burger so deurgeblaai op die bankie by Bikini Beach. Gister se luukse ete was een KFC Zinger burger.   Die see was gister so ongelooflik rustig en kalm, die sonnetjie het gebrand soos hy maar moet, en enkele mense het vrolik in die vlak watertjies rondgeplas. Daar was ‘n oom in my gemeente wat nooit verder as Warmbad in sy hele lewe gereis het nie, hy het nie eers Pretoria gehaal in sy 80 jaar van swaarkry en ellende nie, en hier sit ek op die bankie in Gordons Baai en voel of die lewe darem soms so bietjie lekker ook is… Reis is darem so belangrik in my lewe, om soms net te kan sien wat anderkant die horison aan die gebeur is.

In die kar raak dit ook lekker- ek het toe van Bokradio gehoor, en dit was nogal baie lekker om soveel goeie Afrikaanse musiek te hoor.

Die tyd gaan so gou verby, die tyd gaan so bitter gou verby. (Dankie Lucas, ek mis jou!)

Ek wou voor die spitsverkeer weer in Brakkevel wees. Het so rukkie by my vriende gekuier.

My niggie in Kuilsrivier het my genooi vir aandete. Ek het haar laas gesien toe sy nog op skool was, en nou is sy ook al 40. Intussen het sy vir haar ‘n pragtige gesin bymekaar gemaak, en sy lyk self superfiks…  Ons het baie lekker gekuier, en teen middernag moes ons maar vanweë die moegheid en hulle volgende dag se werk ophou kuier. Ek is so bly ons familie het deur facebook weer bymekaar uitgekom.

Sover gaan hierdie reis oor familie en vriende. Die feit dat dit in die Kaap is, is ‘n groot bonus.

Uiteindelik gaan die lewe nie oor geld en luukshede nie. Ek sou net so gelukkig wees om saam met hierdie vriende en familie van my ‘n halfloaf brood en kraanwater te geniet, saam met hulle te lag en stories van ons lewe met mekaar te deel. Die beste dinge in die lewe kos nie geld nie en is selfs vir motorwagte beskikbaar. Maar dan moet ‘n mens dankbaar kan wees, en die mooi in elke dag soek.  Soms, net soms, so 1 keer ‘n jaar, kan ek R109 se sushi bekostig in my bonusmaand. En dan is ek ongelooflik dankbaar daarvoor. Meestal is uiteet in ons huisgesin, wanneer dit wel plaasvind, Maandag se  burgers vir die prys van 1 by die Spur.

Die mense in my lewe is belangrik. Die Kaap is vir my ongelooflik mooi, soos gister weer.  Die berge, die wingerde, die witgekalkte huisies (nie meer op Blouberg se strand nie, Laurika, nou het hulle net groot glaspaleise…)

Ek het besluit ek is lief vir alles hier (dankie André).

Soms is die lewe ‘n lied. En dit hoef nie alewig ‘n klaaglied te wees nie.

Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood, wat liefde is…  (Is dit nou dankie aan Jannie?)