Dag 1 se kerjakker in die Kaap

 

Na die traumatiese afry Kaap toe het gister ook met ‘n BANG begin. Ek woon hier saam met goeie vriende op Proteahoogte, bo-op die hoogte, en die Suid-Ooster het my vriendelik kom verwelkom, hoop hy waai klaar voor Sondag!

In elk geval, ek bly in die gastekamer wat voorheen ‘n bediendekamer was.  Toe ek gisteroggend so uit die kamer uitstap, toe pluk die windjie daardie deur uit my hand uit en breek hom netjies in twee…  Gelukkig is my vriend baie geduldig en tegnies aangelê, en het my nog nie op straat uitgesit oor ek sy huis so afbreek nie. Lyk my in die Kaap is dit ‘n alledaagse ding om die suidoos se nonsens weer reg te maak…

Ek het gister my biologiese ouma se graf gaan opsoek in Skelmbos. Nee,  ek het haar nooit geken nie, sy is in 1947 oorlede tydens die geboorte van haar tweede kind, my pa synde die eerste een. Die Onderpapegaaiberg se begrafplaaspersoneel is heel verward, en kon my glad nie sê waar is blok GG nou eintlik nie. En dit is ‘n groot begraafplaas. En die gawe meneer by die kantoor verduidelik dat mense in kerkverband in die ou dae begrawe is, en die NG mense is daar langs die Moslems. Hy beduie my na ‘n robot toe wat ek nou nog nie kon vind nie. Die plek waarheen hy my stuur is amper 2 km weg. En uiteindelik vind ek Ouma 100 m van sy kantoor af…  Ek het deesdae hierdie vreemde drang om meer te weet van waar ek kom, dalk maar die ouderdom se detritus.

Hierdie somber gebeurtenis het ek afgesluit deur een van my gunsteling bloggers by Zonnebloem te ontmoet. Party mense voel mos net al lankal soos ou vriende.  Hulle koffie milkshake is uit die boonste gestoeltes, en die geselskap was baie inspirerend.

Ek het die middag by die Woordfees uitgekom, deur ‘n baie interessante gesprek met ‘n paar bloedige skrywers te gaan bywoon. Karen Brynard het met Malene Bredenkamp, Ilse Salzwedel en Douwleen Bredenhann gesels oor hulle boeke van verlede jaar, wat elkeen die woord “Bloed” êrens in die titel het. Ek sal maar dit in die hande moet kry en begin lees. Maar dit was vir my baie interessant om so ietsie van elkeen van hulle se hart en storie te hoor.

Gisteraand het ek en my goeie vriende na Table View se kant toe gery, en ‘n heerlike aandjie deurgebring by die Golden Fish, waar jy soveel sushi kan eet as wat jy wil vir ‘n baie billike prys. Dit was nou pret!

So, liewe vriende, dag 1 in die Kaap was ‘n dawerende sukses in my oë…

Advertisements

4 thoughts on “Dag 1 se kerjakker in die Kaap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s