Dag 2 in die Kaap

Gister was weereens ‘n fantastiese dag in my lewe.

Ek het laat opgestaan, want ek vermoed die verskil in lugdruk maak ‘n mens so pap.

Ek het weer na die Woordfees in Skelmbos toe gegaan, en net lekker rustig langs die Boeketent gesit en koffiedrink saam met vriende. Terwyl die beroemdes so rondom ons sit en soos gewone mense lyk. RSG se buitelug ateljee was so 20 meter van ons af, en Suzanne Paxton het intelligente vrae vir ministers, skrywers en ander mense gevra.

Gister was een van daardie uitsonderlike mooi dae wat die weer aanbetref. Ek het die middag bietjie deurgery Gordon’s Baai toe, en net die Burger so deurgeblaai op die bankie by Bikini Beach. Gister se luukse ete was een KFC Zinger burger.   Die see was gister so ongelooflik rustig en kalm, die sonnetjie het gebrand soos hy maar moet, en enkele mense het vrolik in die vlak watertjies rondgeplas. Daar was ‘n oom in my gemeente wat nooit verder as Warmbad in sy hele lewe gereis het nie, hy het nie eers Pretoria gehaal in sy 80 jaar van swaarkry en ellende nie, en hier sit ek op die bankie in Gordons Baai en voel of die lewe darem soms so bietjie lekker ook is… Reis is darem so belangrik in my lewe, om soms net te kan sien wat anderkant die horison aan die gebeur is.

In die kar raak dit ook lekker- ek het toe van Bokradio gehoor, en dit was nogal baie lekker om soveel goeie Afrikaanse musiek te hoor.

Die tyd gaan so gou verby, die tyd gaan so bitter gou verby. (Dankie Lucas, ek mis jou!)

Ek wou voor die spitsverkeer weer in Brakkevel wees. Het so rukkie by my vriende gekuier.

My niggie in Kuilsrivier het my genooi vir aandete. Ek het haar laas gesien toe sy nog op skool was, en nou is sy ook al 40. Intussen het sy vir haar ‘n pragtige gesin bymekaar gemaak, en sy lyk self superfiks…  Ons het baie lekker gekuier, en teen middernag moes ons maar vanweë die moegheid en hulle volgende dag se werk ophou kuier. Ek is so bly ons familie het deur facebook weer bymekaar uitgekom.

Sover gaan hierdie reis oor familie en vriende. Die feit dat dit in die Kaap is, is ‘n groot bonus.

Uiteindelik gaan die lewe nie oor geld en luukshede nie. Ek sou net so gelukkig wees om saam met hierdie vriende en familie van my ‘n halfloaf brood en kraanwater te geniet, saam met hulle te lag en stories van ons lewe met mekaar te deel. Die beste dinge in die lewe kos nie geld nie en is selfs vir motorwagte beskikbaar. Maar dan moet ‘n mens dankbaar kan wees, en die mooi in elke dag soek.  Soms, net soms, so 1 keer ‘n jaar, kan ek R109 se sushi bekostig in my bonusmaand. En dan is ek ongelooflik dankbaar daarvoor. Meestal is uiteet in ons huisgesin, wanneer dit wel plaasvind, Maandag se  burgers vir die prys van 1 by die Spur.

Die mense in my lewe is belangrik. Die Kaap is vir my ongelooflik mooi, soos gister weer.  Die berge, die wingerde, die witgekalkte huisies (nie meer op Blouberg se strand nie, Laurika, nou het hulle net groot glaspaleise…)

Ek het besluit ek is lief vir alles hier (dankie André).

Soms is die lewe ‘n lied. En dit hoef nie alewig ‘n klaaglied te wees nie.

Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood, wat liefde is…  (Is dit nou dankie aan Jannie?)

 

4 thoughts on “Dag 2 in die Kaap

  1. Oom Doom, sommige sfere “demand” dat jy altoos “niederig en dankbaar moet wies”, soos jou beroep waar jy brandversekering bemark. Die popo neuk egter al tussen die fan se lemme in as die balans tussen die nederige en dankbare beeld wat jy ten toon moet stel en diè as kwasi armgat nie altyd sin maak of haalbaar is nie. As jy nie weet van die witbrood wat jy onder jou arm vasknyp nie, gaan jy nie verstaan waarom die “hartelose” mense nie ag slaan op jou pleitdooi tot helfte van hulle bord kos nie.
    Dit lyk darem asof jy die aanloop tot Sondag se Argus geniet. Die slim oomies van weleer het mos hoeka gese ‘n goeie begin is half gewin. Geniet dit skaamteloos!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s