Die vreugde van my seun…

Eendag lank, lank gelede, Dinsdag om presies te wees, het ek my seun uit die Hoërskool gaan teken. Hy is vanoggend eers weer terug, na ‘n deeglike sessie in Lewensorientering wat vir hom baie meer gaan beteken as gister se skoollesse.

Dit het so gebeur: ‘n baie goeie vriend en kollega van my het my en my seun saamgenooi, na ‘n geleentheid wat hy gekry het.

Anderkant Ellisras is daar mos nou die groot ontwikkeling van die Medupi kragstasie. Anderkant dit lê die Grootgeluk steenkoolmyn, en dan ‘n klomp pragtige bosveldplase op die Stockpoortpad tot by die Botswana grens.

Dis ‘n man se wêreld, vol pragtige bome, en bokke, vlakvarke en swart mamba’s. Dis ‘n harde wêreld- daar het op hierdie betrokke plaas waarheen ons gegaan het, van 1 Januarie af 8 mm reën geval. Dit was baie, baie warm, en verskriklik droog. Die veld kan nie meer die hoeveelheid bokke dra nie, die weiding is bykans op, en die diere moet verminder word om ‘n kans op oorlewing te gun.

Maar die mees hartseer van hierdie plaas is die land se onversadigbare drang na elektrisiteit. Wanneer Medupi in 2014 aangeskakel word, moet hy steenkool vreet teen ‘n helse tempo. En dis ‘n reuse plek, ek het al jare daarvan gehoor, maar nou eers gesien- dis GROOT. Nou onder hierdie pragtige Bosveldplase lê ‘n dik laag steenkool. En dis waar die mensdom so vernietigend is- pragtige natuur gaan binnekort ‘n helse groot gat wees, met niks bokke en vlakvarke en swart mambas op nie…

Anders as wat al die anti-jag fanatici so tekere gaan oor, het jag die hoeveelheid wild in die Bosveld baie positief beïnvloed.  Daar is baie meer wild as vorige jare, want daar is nou ‘n kommersieële waarde daaraan. Volhoubare jag is nie die euwel wat sekeres dit uitmaak om te wees nie.  Maar ek is nie lus vir daardie gesprek nie. Ek self het meer as 10 jaar laas op ‘n bok geskiet…

So is ons toe op hierdie pragtige dog uiters droë plaas in die Bosveld.  Die eienaar kuier die eerste aand saam met ons. Hy gee vir my die reg om ‘n rooibok te skiet.  Wat ek toe nie gedoen het nie. Dis vir my baie moeilik om die sneller te trek op so ‘n pragtige dier!

Ek het die geleentheid vir my seun gegee. Op 15 het hy Woensdag sy eerste rooibok geskiet. En hy het dit ordentlik gedoen. Hy was te voet. Hy het die dier saam met ‘n spoorsnyer bekruip, in die veld waar die dier se sintuie in alle opsigte beter is… Hy het bekruip tot op 40 meter afstand. Hy was bewerig, maar het gekonsentreer, en sy skootplasing was perfek- die bok het nie eers geweet hy gaan deur die Jordaan nie…

Dit is die lekker van ‘n pa- daardie trots op ‘n seun se eerstes… Die jong man moes maar deur die rituele van die eerste bok gaan- die bloed van die bok oor die gesig smeer om hom te herinner: lewe is kosbaar. Die dra van die bok om respek te betoon aan sy prooi.  Die eet van sekere liggaamsdele, die glasie brandewyn, die vertel om die kampvuur van die groot jag… dit is alles op so ‘n primitiewe vlak van menswees, maar dit is juis daardie basiese menswees ervarings wat die lewe die moeite werd maak!

Ek was so trots op my seun. Hy het nie daardie ligsinnigheid wat sommiges het oor sy oorwinning nie. In sy hart is daar blydskap, gemeng met ‘n stukkie hartseer oor die dood van ‘n dier.  Blydskap oor die dier nie gely het nie, blydskap oor die vleis wat hy aan sy gesin voorsien. Net die jagter sal dit werklik verstaan…

Soos my vriend en kollega sê: ons val nie eers in die klas van biltongjagters nie. Daar is wel ‘n paar stukke biltong gemaak. Maar daar is ook vleis vir die gesin vir ‘n maand. Sondag gaan ons die eerste boud in die Weber braai, nadat dit oornag in karringmelk geweek het, en gestop is met spek. Koningskos!  Daar is nie soveel vet soos kommersiële diere in nie, dis baie gesonder as die slaghuispakkies.

Ek het hierdie week so lekker kans gekry om saam met my seun, en baie goeie vriende om ‘n kampvuur te sit, terwyl die jakkalse huil anderkant die slagkamer…  Ek het dit so geniet om in die kole te staar, en toe te laat dat my hart op ver paaie gaan rondloop.

 

Die oorwegende emosie was diep dankbaarheid. Dankbaarheid oor ek vir ‘n slag ‘n maand soos hierdie kon beleef, terwyl Februarie een van die slegste maande in my lewe was…

Dankbaarheid oor die vrou wat vir my by die huis wag, my kinders wat gesond is en vir my vreugde gee.

Dankbaarheid oor ek sulke goeie vriende in my lewe het, dankbaarheid vir kameeldoringhout, en Windhoek Lager, en ‘n vleisie wat op die kole sis.

So ja, dit is baie lekker om ‘n dominee te wees. Nou is my batterye sommer weer vol gelaai vir die lang skof wat Maandag begin. Ek hoop om in baie mense se lewe ‘n positiewe verskil te maak, al weet ek dis onmoontlik om vir almal iets te kan beteken. Ek is weer gereed om van myself te gee, om saam met ander deur moeilike stukke van hulle lewenspad te stap.

Ek is dankbaar, en tevrede. Die lewe is mooi…

En oor so 5 dae gaan dit nog mooier wees…

 

8 thoughts on “Die vreugde van my seun…

  1. Jou seun mag dit dalk nog nie eers weet nie, maar hy gaan eendag baie dankbaar wees dat hy die geleentheid gehad het om hierdie ondervinding met sy pa te deel. Geld kan dit nie koop nie.

    Terwyl ons dan nou van dankbaarheid praat, hier is nog een. Ek is dankbaar vir nuwe vriende wat altyd op kort kennisgewing ‘n tydjie sal inruim vir ‘n koppie koffie. Gedeelde ervarings maak die lewe nog mooier. Dankie daarvoor.

    Laastens, hou maar daai vertrekkie mooi toe. Anders is die katte van die buurt ook binnekort dankbaar vir die lekker vleis!

  2. Dis ‘n ondervinding wat hy nog eendag vir sy kinders en kleinkinders gaan oorvertel. Sulke eerste ervarings vergeet mens nooit en ek is bly jy kon saam met hom deel daarin🙂

  3. Is dit nie wonderlik om ‘n lewenservaring met jou kinders te deel nie! Geen skoolklas se lesse sal OOIT hierdie dag is sy lewe kan vervang nie.

    Al woon ek self op ‘n wildsplaas, kan ek ook nie jag nie. Ek het al twee keer amper diere uit ‘n lyding verlos, maar die eenkeer het die kameelperdjie self gegaan en die ander keer het die sebrahings my nie toegelaat om naby die siek baba te kom nie.

    • Dit was een van die mees waardevolle ervarings in my lewe, in die verhouding tussen my en my seun!
      Daar is mense wat dit glad nie kan verstaan nie (litnet trolle se kommentaar op hierdie blog was venynig!)

      Maar ek ruil dit vir niks! Ek sal self seker nooit as ‘n jagter gereken kan word nie, my laaste bok was meer as 10 jaar terug. Maar hier was ‘n geleentheid tot ‘n fantastiese “rite of passage!”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s