Om soms verlief te wees…

Ek en my vrou het mekaar maar min in Maart gesien. Eers was daar die hartseer dat sy skoolhou, en nie saam met my Argus toe kon gaan nie. Ek moes ook in Maart van al my opgehoopte verlof ontslae raak om dit nie te verloor nie.  Om by die huis te sit met verlof werk net nie in ons huis nie, mense daag steeds op vir hulp, of die kinders antwoord die telefoon in die hoop dat daar ‘n opwindende partytjie êrens vir hulle is. Daarom het my vrou my Kaap toe gejaag, om met haar seën ekstra dae in die Kaap te bly en my Kaapse vriende te gaan geniet.

Verlede week was daar die een keer per dekade geleentheid om ‘n bok te gaan skiet, en kon ek en my oudste seun ‘n wonderlike tyd in die Bos gaan beleef.

Die vrou van my drome moes Sondagaand na Potties toe vertrek om ‘n CAPS kursus te gaan bywoon- iets te doen met Loopbaanbeplanning, Assessering en ander derglike sondige dinge in die Onderwysdepartement se beplanning. Dié kursus maak eers vanmiddag om 14h00 klaar.

Dit het my nou aan die dink gesit… ek ken my vrou van my eerstejaar op Universiteit af. Ons het aan die einde van my tweedejaar begin uitgaan. Die verhouding het ‘n moeilike tyd beleef in my vierde jaar, toe ek nog in Bloemfontein gesit en probeer slim word het (onsuksesvol…) en sy gaan skoolhou het in Oos Londen. Daardie reis van 560 km het ek in een jaar iets soos 21 keer aangepak.  Ek het een keer op my motorfiets afgery om net te gaan sê ek is jammer ek was ongeduldig op die telefoon! Sy het in ‘n meisieskoshuis gebly in die dae voor die selfone, die dae van die lang tiekie, en om verby honderde estrogeenfabriekies by die telefoon in haar koshuis uit te kom- kommunikasie was ‘n groot probleem! Hoe het ons sonder selfone en facebook en eposse reggekom? Ek het maar enige geleentheid aangegryp, en al die Oos-Londen studente by Kovsies geken- as een of twee wil huis toe gaan, is ek dadelik beskikbaar. Net om by HAAR te gaan kuier. Dit het net ‘n jaar aangehou, toe besluit ons die huwelik sal goed wees vir twee nat agter die ore jong mense. En teen sommiges se bedenkinge in is ons in my vyfde jaar getroud. Hierdie Saterdag 22 jaar gelede…

So besluit ek gister: as ek Oos Londen toe kan gaan om te gaan jammer sê, gaan ek nie 95 km toelaat om my langer van my vrou af weg te hou nie. Ek was eers gister tussen 17h30 en 18h30 by my gemeente se nuwe biduur (bywoning 3- ek, my kollega en die orrelis!)  Daarna twee huisbesoeke gedoen, en by albei iets gemompel van die seuns wat alleen by die huis is, ons gaan dit kort hou vanaand… teen 20hoo was ek klaar gewerk, en 35 minute later stop ek voor die Oasis hotel in Potties…

My vrou was baie verbaas om my daar te sien. Ons het heerlik gaan kuier by o’Hagans, sy net op ‘n Milo, ek het dit Iers gehou met ‘n Guinness Draught en bordjie tjips.  Daarna het ons teruggegaan hotel toe om verder te gaan gesels…

Ek moes so 22h30 weer in die pad val, maar die keer het vroulief my mooi gevra om nie weer anderkant 180 kmu te ry nie. Ek het geluister en so teen 23h20 tuis gekom.

Party ouens ry so ver om ‘n skelmpie te gaan sien.  Dit was sommer weer lekker om so ver te ry net om by my vrou te gaan kuier.

As ek so op besoeke uit is in die gemeente, en baie mense in my studeerkamer sien met huweliksprobleme, dan is ek diep dankbaar vir die lewensmaat wat die Here vir my gegee het.  Ek hoop die kiddies gaan eendag vir ons ‘n baie mooi 50e huweliksherdenking paartie gee… ek hoop so ons albei word gespaar vir daardie dag!

Vanmiddag kom sy huis toe. Ek is opgewonde daaroor!  Ek bly verlang na haar. Ek moet nou gaan dink wat ek vir haar gaan maak vir aandete.

Ek het darem mooi na die seuns probeer kyk terwyl sy weg was.

Maandagaand het ons maar Spur ribburgers gaan eet, twee vir die prys van een.

Dinsdag het ons die Wok wat ek vir haar by Builders Warehouse daar langs oom Samie se winkel gekoop het, ingewy. Goulash blokkies, Stirfry groente, nuwe Castle marinade en rys…

Gister was dit Pick ‘n Pay gebraaide hoender, sulke wonderlike buns, my eerste koolslaai (wat die seuns haat!) en pitmielies vir ete- hulle kan mos nie net gemorskos eet nie!

Vanmiddag eet hulle vetkoeke wat ‘n baie vriendelike gemeentetannie vir hulle gemaak het- dis so lekker dat daar mense is wat vir my gesin lief is en omgee!

Maar ‘n mens kom in so week agter hoeveel doen die Ma van die huis vir ons!   Dit gaan so lekker wees om haar weer terug te hê.

5 thoughts on “Om soms verlief te wees…

  1. Moet darem vir jou jongelinge inlig..hul Pa se kos lyk heerlik….daar is huishoudings waar Pa’s vra wat wil jy op jou broodjie hê..allle Pa’s nou nie vir kospotte gebou nie.

  2. Ek lees dit ook met ‘n glimlag. Ek hoop ek kan nog hou tot dan om die bloginskrywing van julle 50e paartie te lees!
    Dat jy Potties toe gery het… laat my sommer opgewonde voel! DIS hoe ‘n man moet maak as sy vrou weg is!!

  3. Dis juis die ding wat liefde aan die brand hou – dat jy onthou het hoe ver jy bereid was om te ry om na haar te vry en dit nou weer gedoen het om haar te gaan verras. Dis nie die groot dinge wat liefde laat hou nie – dis daardie klein verrassinkies🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s