Verlore vreugdes van Vrydae…

Vrydag is my afdag. Of soos die voorsitter van my Diensverhoudingekommissie dit noem- my privaat dag. Wat beteken dit in praktyk? Gewoonlik nie veel nie. Maandag tot Donderdag hardloop ek woes agter die skapies aan, en Vrydag moet ek gewoonlik dan preek maak vir Sondag.Sommige dae, soos nou weer hierdie Dinsdag wat pas afgesterf het, is baie lang dae in my lewe. Dinsdag het ek sewe uur die oggend ingeklok by die Hoërskool se beheerliggaam,  en daarna besoeke en administratiewe take gedoen tot half twee. En van drieuur tot negeuur onophoudelik huisbesoek gedoen- ses ure aaneen…

Die werkstempo maak dat ‘n mens sekere rituele in jou week moet inbou ter wille van oorlewing. Dis presies soos wat ek die Argus ook maar ry. As ‘n mens flenters moeg is, moet jy nie dink hoe ver die eindpunt nog is nie, dan stop jy net daar. Nee, jy kry vir jou ‘n baken in die nabye toekoms. Die Brass Bell in Kalkbaai. Just Nuisance se standbeeld in Simonstad. Die baken by Millerspoint… so ry jy baken vir baken, hou net uit tot by die volgende een, tot die wenstreep uiteindelik die laaste baken is…

In my week, al moet ek preek maak Vrydag, was daar ‘n baie gunsteling baken gewees. Vrydagoggend het ek ingeklok by die Wiesenhof op ons dorp. En daar, om die hoek van die voorste kombuis, was daar ‘n tafel buite sig van selfs die meeste mense in Wiesenhof.  Daar het ek my dan tuisgemaak met my laptop, en sommer net lekker rondgesurf op die internet op hulle gratis Wifi. Ek kon die nuuste koerant lees, en heel onlangse tydskrifte (nie soos my boekhouer wat om een of ander rede 1997 se Landbou Weekblad op sy tafeltjie in die wagkamer het nie…) Die rede hoekom ek so lief was vir my geheime hoekie- as jy vir ‘n rukkie af wil wees en net weer jou asem wil terugkry, is die laaste ding wat jy wil hoor: “Hallo Dominee, o hier kruip jy weg! Ek wou net gou ietsie met jou bespreek wat my pla…” Dan is die dag in sy heppie kanon in.

Die lekker van Wiesenhof was die Three Mug Blend of the Day vir R15.95. Hulle word stadig geniet, en die koppies ten minste ‘n halfuur uitmekaar bestel.  En soms, net soms, daardie lekker Skilpaadjie ontbyt wat die Cholestrol so mooi aanhelp dat selfs die dokter die telling makliker kan sien…

Die Wiesenhof het altyd lekker musiek gespeel, of die Super 15 wedstryde as dit sulke tye is.

Dit was so ‘n wonderlike baken om voor te mik.

En ja. dan het ek en Vroulief die middag weer ietsie daar gaan drink, ons twee se ritueel om die huis en die kinders te oorleef!  Dan was ek al so vol kafeïne dat ek kan gloei in die donker, gewoonlik ietsie koels genuttig.

Vandag is Vrydag. Ek preek nie Sondag nie. My knie is verskriklik seer van vermoedelik gout, ek kan nie eers op Huisbesoek gaan nie… (my motorfiets se naam vir nuwe vriende…)

Ek sit nou maar in my studeerkamer met ‘n koppie Ricoffy, en balk my hartjie uit op my blog… want Wiesenhof het in Januarie deure toegemaak met die ekonomiese insinking. Ek wens daar het van my blogvriende naby gebly dat ek maar eerder julle Ricoffy kon gaan opdrink. Al my ander vriende in die dorp werk vandag in die sweet van hulle aangesig…

Geniet jou naweek en mag daar Jacobs koffie oomblikke vir jou voorlê!

14 thoughts on “Verlore vreugdes van Vrydae…

  1. Ek is so bly jy blog oor hoe dit regtig vir ‘n dominee is. SOveel mense het wanpersepsies daaroor! Maar boeta, as hulle bel, moet jy daar wees! En onthou, ons het plunger koffie, ALTYD. TriBeca as ons kan kry, anders Ciro of Douwe Egberts. En die ketel kook…

  2. En aan hierdie kant van die berg is dit Lourensford se House Blend plunger koffie wat die huis vanoggend al soos ‘n koffieshop laat ruik! Lyk my jy’t ‘ n virtual Wiesenhof sommer hier onder jou neus…🙂 Cheers!

  3. Ricoffy? Dis SONDE. Die lewe is heeltemaal te kort vir slegte koffie. Jy mag maar beter koffie bekostig, jy rook mos nie en speel nie gholf nie. Hier in Kathu speel die dominees gholf, kan jy dink hoeveel kos dit? Gaan nou dadelik en koop ordentlike koffie🙂

  4. Hande so om die beker..snuif die geur in …hmmmmm . Vandag is dit reënerig hier…koffie en pannekoek dag.
    Blog geniet.

  5. As dit jou kan troos….. gewoonlik drink ek ook Ricoffy. Eintlik hou ek daarvan. Ek het wel ‘n fles Nescafé in die kas, maar glad nie Jacobs nie. Solank jy dit net geniet!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s