Die Onderdanige vrou… ?!

Hierdie blog kan vir sensitiewe ateïste aanstootlik wees- hou eerder verby…

Herriemerrie het ‘n ding begin, en Toortsie het daarmee voortgegaan… en nou wil ek ook net ‘n eiertjie daaroor lê…

Dit gaan oor die “Bybelse” siening van die Onderdanige vrou, soos aangehaal in Efesiërs 5:22 en verder…

Volgens die tradisionele verstaan daarvan moet die vrou onderdanig aan haar man wees- en onse voorouers het in baie huishoudings verstaan dit beteken pappie is die baas, en mammie is klaas… Pappa sit op die stoep met sy pyp en sy sweep, en die ma en kinders dra die koffie aan en doen al die ander werkies. Ja, ek weet ek oordryf dalk so bietjie, en ja, daar was verseker skitterende uitsonderings op hierdie reël. En tog sien ek die verskynsel steeds so dikwels hier in die Bosveld in ons eie gemeente- omies wat stoere patriarge is, ‘n man wat ‘n kyk kan kyk en sy staan kan staan… en vroue wat soos ‘n ingehokte sirkusleeu na baie jare lyk- die lig is uit hulle oë uit…  (raai wie kyk nou Water for Elephants saam met sy kinders terwyl hy hierdie op die laptop skryf…)

Toorts het so mooi verduideliking gegee in haar skrywe oor die bedoeling van Efesiërs 5.

Die onderdanige vrou was deel van die vloek van die sondeval- ‘n vrou sou na haar man hunker, en hy sou oor haar heers… (Genesis 3:16)

Maar Jesus het die sosiale orde van sy dag op sy kop kom keer. Eers doen Hy die ondenkbare in Johannes 4-  Hy is ‘n Jood, wat met ‘n Samaritaan praat, Hy is ‘n man, wat met ‘n vrou praat, Hy is ‘n Rabbi, wat met ‘n “gevalle” vrou praat…  (Johannes 4:9) Al hierdie dinge was taboe in daardie samelewing.  Daar was sulke duidelike grense tussen manne en vroue, tussen Jode en nie- Jode, en tussen vry mense en slawe.

Toe Jesus die dood oorwin het, het daar ‘n nuwe wêreld begin- een waarvan Hy die mensgemaakte grense afgebreek het. Die eerste ooggetuies van sy opstanding was vroue! Vandag lyk dit nie na veel nie, maar onthou- vroue het destyds geen regstatus gehad nie- hulle kon nie in enige hof ‘n ooggetuie wees van enige iets nie. Maar Jesus kies hulle om die eerste vertellers te wees dat Hy lewe! (As die Bybel net mensewerk sou wees- wie sou so onnosel wees om die storie so te skryf- die magteloses getuig dat Hy die Here is?!)

In hierdie nuwe wêreld het die grense verval. Paulus sê dit so mooi in Galasiërs 3:28- “Hier maak dit nie saak of iemand man of vrou is, Griek of Jood is, slaaf of vry is nie, hier (in die kerk!) is almal één in Jesus!

As jy hierdie beginsel mooi verstaan, kom ons gaan dan na Efesiërs 5 toe.

Die fondament van die hele gedeelte begin nie in vers 22 soos al die ou dominees dit preek nie. In vers 21 staan ‘n verskriklike belangrike vers, wat die fondament is van drie gedeeltes wat daarop volg.

Efesiërs 5: 21- “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig…” ‘n Versie wat ons so gou kan mislees, word skielik een van die heel belangrikste verse vir die verstaan van die koninkryk van God.  Die fondament vir Christene- in my vertaling daarvan: “Omdat julle Jesus liefhet, DIEN MEKAAR!

Dit word op drie baie belangrike lewensterreine toegepas- en ons sien dit gewoonlik net raak as toepassing van die huwelik.

  1. Dien mekaar in die huwelik– (Efes 5:22- 33) Man en vrou dien mekaar- stel die ander een eerste, dra die ander een se belange op die hart, maak ruimte vir die ander een om sy/haar volle potensiaal uit te leef in die lewe.  ‘n Man moet sy vrou liefhê soos Jesus, wat sy lewe opgeoffer het vir sy kerk.  En ‘n vrou gee haar man eerbied- dis mos waarop ons manne floreer- ‘n vrou wat ons potensiaal raaksien.  Dien mekaar- en albei is gelukkig. Heers oor haar, en alles is uit balans uit!
  2.  Ouers en kinders dien mekaar! (Efs 6:1- 4) Nie net soos die ou model wat sê kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Nie kinders wat met swepe uitmekaar ge… slaan word nie… Ouers wat raaksien dat hulle kinders ‘n geskenk van die Here is, en dis ons taak om hulle te begelei tot volwassenheid…  Kinders wat respek vir ouers het, omdat hulle die Here se liefde deur hulle ouers ervaar… dien mekaar in ouer- kind verhouding tot eer van die Here.
  3.  Werkgewer en werknemer wat mekaar dien! (Efes 6: 5-9)  Ja, die kontroversie is dat daar van slawe en base gepraat word. En die slim een by litnet maak baie daarvan. Die eenvoudige feit is dat die Christene in Efese (aan wie die brief in die eerste plek geskryf is!) maar van die armstes van die armes was- tot in die 3e eeu na Christus was dit die algemene tendens oor die hele wêreld van destyds heen- die armes het meestal eerste tot geloof gekom, dikwels was daar niks anders wat hulle hoop gegee het nie. Die gedeelte wil nie slawerny regverdig nie. Die hartseer situasie wat baie Christene hulle in bevind het, is dat hulle deel van ‘n baie klein minderheid was, in ‘n Romeinse Ryk wat Christene maklik gekruisig het omdat hulle nie die keiser as ‘n god wou aanbid nie. Hoe gee jy hoop vir iemand wat geen hoop het nie?  Doen dit wat jy kan doen in jou lewe voluit, asof jy dit vir die Here doen. As die slawe in opstand gekom het, sal die geskiedkundiges vir jou vertel wat met hulle gebeur het- openbare kruisiging of vir die leeus gegooi word.  Maar as jy dan vry was, en ‘n Christen geword het, is jy teenoor die Here verantwoordelik hoe jy die magteloses behandel, selfs die slawe in jou diens.  Jy mag nie mense uitbuit nie.  Dit was radikale teologie vir die Bybelse tye. Dit was radikale teologie in die ou Suid-Afrika, en ons wil dit steeds nie altyd hoor nie- die Bybel sê alle mense het dieselfde waarde in die Here se oë, Hy trek niemand voor nie. Die basiese reël bly: omdat jy Jesus liefhet, dien jou naaste.  As jy meer oor Christenbase en slawe wil lees, lees Paulus se brief aan Filemon oor Onesimus, die wegloopslaaf, wat gekruisig kon word, maar baie meer werd sou wees as ‘n geliefde broer.

Ek preek nou lekker, né!  ‘n Mens kan sien ek was af die naweek, en nou haal ek dit op julle uit!

My bedoeling is nie om te preek nie, maar om die Bybelse beginsel van onderdanigheid net so bietjie meer te verhelder, veral met al die nonsens wat ek op ander forums die afgelope ruk gelees het.

Die Nuwe Testament se beginsel wat Jesus ‘n paar keer gegee het is: Behandel ander soos jy graag self behandel wil word. Gee respek, en jy kan respek terug verwag. Gee liefde, en jy behoort dit terug te kry.  (dis nou te sê in die ruimte van God se koninkryk! As jy dink daar is nie ‘n Here nie, dan is ek die verkeerde raadgewer vir jou- dan is jy seker maar op jou eie… )

Vir die manne wat baie wonder oor die onderdanige vrou- lees gerus Kameel se wonderlike inskrywing oor hoe ‘n vrou graag behandel wil word… dit kan baie help!

Prentjie gekry by: http://4.bp.blogspot.com/_6OJluRodrNA/TUOut9hHqlI/AAAAAAAABUI/kIcIR9dfDUo/s1600/good_wife.jpg

Advertisements

Ekonomies onherstelbaar se Gamma Alpha Tango!!!

Soos in Februarie berig, het my merrievul  haar Corolla om ‘n splinternuwe Jetta se neus gevou agter Menlyn. Dit het gebeur op my verjaarsdag- en sy skuld my nou nog ‘n MOERSE verjaardagpaartie eendag…

Hierdie was mos nou die voor foto van genoemde karretjie…

Die insleepkoste van Menlyn af na Silverton toe, 8.5 km verder, met stoorkoste vir twee weke, was R 5000.

Die onafhanklike assessor het kom kyk, sy kop geskud en gesê: Nee, heeltemal ekonomies onherstelbaar…

Die plek wat hom ingesleep het, se kwotasie, met tweedehandse parte, het R38 000 beloop, met die boekwaarde net R23000 op hierdie 1997 130 Corolla.

Soos berig, was dit ‘n helse stryd om die wrak uit te koop- ja, ek moes toe R7500 betaal om dit terug te kry.

Die bybetaling op die eis was R4500, aangesien dit nie ek was wat die voertuig bestuur het nie, en omrede my dogter 18 is, en haar lisensie met die Big Bang net 2 maande oud was…

Ek en ‘n vriend het die wrak in Pretoria gaan haal, en dieselfde dag onse alies afgesoek in die hele Pretoria Wes, maar uiteindelik reggekom met tweedehandse deure en ‘n “centrepost” by Wannenburg Scrapyard in Paul Krugerstraat. Koste van die Parte- R5500.

Een van die Spesiale skool se onderwysers, ‘n gekwalifiseerde paneelklopper, het vir my R 6000 gekwoteer om die werk te doen- insluitend materiale, en om die hele voertuig oor te verf.

Die aanvanklike tydsberekening was 2 weke, maar die skade was groter as wat hy aanvanklik voor beplan het. Dit het toe uiteindelik 10 weke geneem. En ek het uit my eie vir hom R1000 ekstra gegee vir die groter werk wat hy moes doen.

So lyk die kosteberekening:

Versekerde bedrag: R23 000

Bybetaling: R4500

Wrak uitkoop: R7500

Bedrag om mee te werk= R11000

Parte: R5 500

Arbeid en verf: R7000

Wielbalansering: R350

Totaal van herstelwerk= R12850

Ek het dus R1850 inbetaal om hierdie voertuig terug te kry. Dit is natuurlik nou sonder die verhoogde versekeringspremies en sulke koste, asook petrol en tolgeld vir ‘n hele paar trippies stad toe om alles te reël.

Maar die feit is- ek sou R 18500 uitgekry het as die kar afgeskryf was. En die gemiddelde 1997 130 Corolla verkoop nie vir R23 000 nie- kyk maar op Gumtree en Autotrader se webwerwe- ek skat die gemiddelde verkoopprys is R45 ooo.

Hoekom ek so vir hierdie karretjie geveg het- hy het maar 135000 km op die klok, met ‘n baie goeie diensgeskiedenis.

En dis hoe hy op die oomblik lyk, voor ek hom netnou aan sy eienaar gaan terugbesorg…

(En daar skuins agter hom staan die volgende projekkie…)

Ek wil net vir die privaat assessor en die stad se paneelkloppers sê: Julle gatte man!

Writers block is ‘n lelike ding…

Ek  beleef maar ‘n stil week in my jong onskuldige gemoed wat my blog aanbetref. Niks kom net op om oor te skryf nie, en nou gebruik ek alweer te veel woorde om niks te sê nie!

Daarom- net so kort verslaggie van die vorige blog af tot nou toe…

Vandat ek my kar verlede Vrydag gewas het, en breinbeserings opgedoen het deur diep te probeer dink, het die volgende dinge in my lewe gebeur:

  • Ek en Vroulief het ‘n UITSTEKENDE aand gehad verlede Vrydagaand saam met ‘n besondere litnetblogger en haar man.  Hulle het by die groot vakansie-oord buite ons dorp kom naweek hou, en ons vir ‘n braai genooi. Dit was vir my so ‘n lekker aand- uitstekende geselskap, uitstekende kos, uitstekende wyn… ‘n aand om te onthou…
  •  Ek moes my dogter terugneem Gomorrah toe,  daar waar sy by die ander ontvanger van my inkomste besig is om slimmer te word as haar pa…
  •  Ek het ‘n preek uitgewerk wat vir myself baie beteken het- om Sondagaand met die gemeente te deel.
  • Dogter se stukkende Corolla is weer heel- ek moes wielbalansering doen en toe die voertuig weer laat deurgaan by die Glasfit op die dorp om dit terug op versekering te kry.
  •  Ek is gisteraand baie aangenaam verras deur my vriend wat Kaap toe getrek het, met ‘n blitsbesoek deur ons dorp- werkverwant vir hom. Ons het in die Spur gekuier rondom oom Charles se bestes in die lang glase, tot die hele plek rondom ons klaar opgeruim was…  Ek besef net weer hoe geseënd ek is met die kaliber vriende wat ek het…
  • Ek was op ‘n hospitaalbesoek in die buurdorp aan ‘n gemeentedame wat 91 jaar oud is. Sy was baie geseënd met goeie gesondheid- tot nou toe. Dit lyk of die einde van die reis vinnig nader kom. Maar sy is dankbaar en tevrede- sulke mense inspireer my!
  • My Bybelstudie uit Johannes 3:1-15 het vanoggend baie lekker verloop saam met so 40 van my gemeentelede, wat my baie inspireer- baie van my preke word hier gebore…
  •  Ek was vanmiddag saam met my liewe vrou by ‘n ander gemeentedame se verjaardagparty. Hulle woon in een van 8 meenthuiskomplekse wat bemark is as aftree-oorde- voltitel, maar met ‘n klousule dat niemand onder 55 daar mag woon nie. En nou is daar glo ‘n jong paartjie met ‘n baba in Fase 1. Die gemeentedame se vriende is in van die meer konserwatiewe susterskerke in ons dorp- en dit was asemrowend hoe baie dinge daar is om oor te kla op daardie ouderdom- veral jong ouers met babas in HULLE kompleks… Ek is skoon bang om eendag ouer as 60 te word! (Maar gelukkig ken ek ‘n paar 90’er jariges wat voluit lewe en nie tyd het om te kla oor almal rondom hulle nie…)
  • My seun het die Scooter se “kickstarter” alweer afgeskop… nou moet pappie alweer sorg dat dit reg kom…
  •  Dieselfde seun is darem nou deur die 2e rondte van keuring vir die Limpopo onder 16 rugbyspan, en kom vir die eerste keer in sy lewe agter hoe regstelende (sic!) aksie werk…
  • ‘n Gemeentedame het op facebook gesien ek hou van James Patterson boeke en het vir my ‘n hele sak vol geleen om die langnaweek te lees… – ek het vanoggend “Bloody Valentine” se 122 bladsye gou in ‘n uur deurgedraf…

Soos julle kan sien- vriende het my lewe opgehelder, my kinders het my lewe beide opgehel en opgehelder, business as usual, en daarom nie veel aan die gang op die oomblik nie…

More ry ek en Vroulief na skoonma toe met ons twee Corollas, die een bly agter by dogtertjie, hoop nie sy buig hom weer om ‘n Jetta agter Menlyn nie…

Geniet julle langnaweek en gaan groot!

Vrydagoggend by die karwas…

Na ‘n uiters rowwe week het ek so een kyk na die Corolla gegee, en besluit: Ek wil nie in so vuil kar rondry nie. Ek kan dalk nie alles in my lewe verander soos ek dit wil hê nie, maar vanoggend kan ek iets wat my irriteer, regmaak.  En een klein verskilletjie in die positiewe rigting sal daar dalk ‘n paar ander positiewe dominoes laat begin omval wat die Swart Hond bietjie weer sal wegjaag.

Daarom, terwyl dit nou juis my afdag is, het ek maar my Deon Meyer boek geneem, en na die Total Garage se motorwas vertrek.  Dit is nogal ‘n tydsame proses. Eers parkeer jy jou voertuig agter  in die ry van ander vuil motors. Dan gaan betaal jy- R35 vir die goue pakket- was, droogmaak, stofsuig, wiele mooi swart poleer. Maar nie die dash en mags politoer nie, dis die platinum pakket vir R50.00.

http://www.9ori.com/en/images/car-wash.html

Ek koop vir my die Beeld, en gaan sit onder die sambreeltjie op die harde, koue sementbankie, met die koerant en Deon Meyer op die harde koue sementtafeltjie.  Die koerant was nie ‘n goeie idee nie. Behalwe dat ‘n haai ‘n jong man van Kampsbaai doodgebyt het, is daar verder ook net slegte nuus. Dis die hele tyd “ons” teen “julle”. Die ANC is alweer besig met skelmstreke. Die tolpaaie maak almal die moer in, maar as ons hom opblaas, dan verloor die staat se pensioentrekkers baie (en my vrou is een, so moet ek nou die tolpaaie like?)  Selfs die spotprente vanoggend praat almal van omkoop, selfs Hägar se vrou probeer in gebed haar god omkoop om haar man te verander…

Nee, die koerant was nie ‘n opbouende ervaring vandag nie. Ek wend my toe maar na my ander gunsteling stokperdjie- om mense te sit en dophou, en my eie stories oor hulle op te maak. Verbeelding het soms ‘n aandeel in my stories…

Daar is die jong boer wat sy bakkie gebring het vir sy jaarlikse was.  Die boer sit op een van die ander tafeltjies, sy regterarm is baie bruin gebrand, en die linkerarm bleekwit. Hy is geklee in ‘n netjiese Sterling kakie- two tone hemp. Op sy kop is een van Rogue se veldhoede,  reg vir die Bosveldson. Hy het ‘n Rugbytech broek aan, swart kleur. Lang rooi rugbykouse met twee wit strepe deur. Tarzan skoene gekoop by die Koöperasie. Hy blaai verwoed deur die LAndbouweekblad, op soek na ‘n Landras Varkbeer om by sy sog te gaan kuier. Die begin van ‘n florerende baconbesigheid? Die Boerboel bly sommer agterop die bakkie, dan is dit twee wasse vir die prys van een. Hond en  bakkie mooi skoon. Dit moet seker so wees vir die groot Huntex skou wat die naweek aan die gang is by Gallagher Estate. ‘n Man moet darem weet wat die nuutste tendense in ammunisie is vir die Sako 223 waarmee die probleemdiere weggehelp moet word. (Iemand was besig met Deon Meyer se 7 Dae…)

By die volgende tafeltjie sit die “previously disadvantaged”  Staatsdiensdame.  Sy sit rustig en eet aan ‘n KFC Meal in a Box, terwyl sy rustig kuier deur die bladsye van die Cosmopolitan. (Afrikatyd, nie kantoortyd nie…)   Artikels van hoe om jou man gelukkig te hou, word saam met die Corn Flake bedekte hoenderdye ingeneem.  Haar BMW X5 sal netnou weer blink vir daardie vergadering van die ANC Youth League, wat netnou in Pieterskwane gaan baklei oor wat hulle nou met vakante Julius moet doen. ‘n Mens moet darem suksesvol lyk, ‘n mens weet net nooit wie die comrades volgende gaan kies in die leierskap nie! (Of wanneer oom JZ weer wil trou nie?)

Tussen hierdie twee sit ekke, die dominee wat net so bietjie wil wegkom van die gemeente op sy afdag, en graag weer ‘n skoon kar wil hê. En op hierdie oomblik lees ek die gevleuelde woorde van Inspekteur Bones Boshigo wat vertel van sy vorige aand se kyk van die fliek In the Shadow of the moon– van die ruimtevaarder wat sou opmerk van die maan af dat die aarde klein mag lyk van die maan af, maar dat almal wat hy ken, daar woon. Toe die ruimtevaarders die maan bereik, het hulle gesê “We did it!” We- die menslike ras, nie net Nasa of selfs die VSA nie, die spesie Homo Sapiens.. Boshigo vertel vir Bennie Griessel dat sy pa hom een aand as klein seuntjie na buite geneem het, en die maan vir hom gewys het.  “Hy sê Benedict- mense het al daar geloop. Hoekom? Because they dreamed, né. En jy moet agter daardie droom loop, tot jy hom gevang het. Vanoggend, toe ek so hoor van al die shenanigans, toe dink ek: Wat het van ons geword? Madiba het hierdie dream gehad, Bennie, Die groot Ukuphupha for South Africa. Maar nou verloor ons daardie droom. Toe verlang ek na my pa, né, hy is dood in two thousand and five, toe dink ek, hoekom kan ons nie weer “we” wees nie. In this country. In die hele wêreld. Because we are all on this one small planet…”  (Deon Meyer, 7 Dae, bladsy 296)

Die jong blanke boer, die jong swart professionele dame, en ek, die WAMM (Wit Afrikaanse Middeljare Man…) ons drie sit en wag vir onse wiele om gewas te word. Ons praat nie een met die ander nie. Die jong boer het ‘n ou Transvaalse vlag op sy bakkie- en dit beteken mos hy is…  Die jong dame se BMW het ‘n ANC vlag op, en dit beteken mos sy is…

En ek is ‘n DOMINEE- dit beteken verseker ek is ‘n …

Hoe sou dit wees as ons drie saam met nog iemand uitsonderlik anders- sê maar ‘n Indiër motorhandelaar- saam iets kon beleef soos ‘n Come Dine with me ervaring?  As elkeen van ons die beste van ons agtergrond met ander kon deel, en met respek luister na die ander se stories?

In ander lande, en ander gemeenskappe, lyk dit so maklik en vanselfsprekend. Maar in onse Bosvelddorpie is dit nie so maklik om met ander te gesels nie.  Hoekom moet dit so wees?

Ons almal is lief vir skoon karre. Ons almal hou van tradisionele kos tipies van ons agtergrond. En soms is dit net so verfrissend om iemand te ontmoet wat so totaal anders as onsself grootgeword het. Hoeveel het ons in gemeen wat waardes aanbetref? Hoe verskillend is ons werklik?

En toe dink ek net soos Benedict Bones Boshigo- Hoekom kan ons nie ‘n ‘we’ wees in hierdie land nie

Ek wens ek kon amper so goed soos Deon Meyer skryf!

Prentjie: http://www.9ori.com/en/images/car-wash.html

Titanic 14 April 1912

Op 10 April 1912 het die Titanic uit Southampton vertrek op haar nooiensvaart na New York toe. Dit was die mees luukse skip wat die wêreld nog gesien het, die nuutste tegnologie wat die mensdom nog ontwerp het om op die see te vaar.  Die trots van die White Star line…  2224 mense het vertrek op die avontuur van ‘n leeftyd. Die White Star redery het ook gehoop  om ‘n rekordpoging aan te wend om New York vir die heel eerste keer binne 5 dae te bereik en die gesogte, Blue Riband prys te wen. In 1912 was die beroemde Lusitania (getorpedo deur Duitsland in 1e Wêreldoorlog) se susterskip, die Mauritania, die houer van die prys.

Titanic het vertrek met 2224 dromers aan boord na New York…

http://www.theblueriband.com/titanic1big.html

Sy het nooit daar uitgekom nie…

http://www.ibiblio.org/jimmy/folkden-wp/?p=7408

So…

http://www.titanicuniverse.com/

Niks mensgemaaks hou vir altyd nie, en niks op die see is onsinkbaar nie..

As ‘n mens droom oor die reis van ‘n leeftyd,  kan die reis dalk net anders verloop as wat jy beplan het.

En tog, as jy die onbekende vrees, sal jy nooit by jou voordeur uitstap nie!

Moet ‘n mens ophou droom, of moet jy so lewe dat as die einde onverwags opdaag, jy oor niks langs die pad spyt was nie?

Is die risiko op see nie baie meer opwindend as die veiligheid van jou eie bed nie?

Sou jy op die Titanic geklim het as jy geweet het… ?

Ns- Ja, ek weet hy het op 15 April 1912 eers gesink. Die ysberg is op die 14e al getref…


Vrydagaand bly maar bobaas…

Na ‘n lang week is Vrydagaand in ‘n pastorie ‘n baie lekker aand…  as daar nou nie woeste gemeente-aksies is nie.

Op die oomblik, hier langs my, staan my geliefde Weber. En in sy magie is 5 stroke vark “spare-ribs”. ‘n Geskenk, glo van dieselfde plek waar die Spur hulle s’n kry…

Saam met die Spareribs is daar Pap en Sous, en slaai. Die wyn is ‘n nederige Santa Clair Rosé.

Die geselskap is my hele gesinnetjie, saam met onse teologiese student…

En more oggend vroeg is dit TUT toe vir rugby… besige naweek lê voor.

Geniet julle naweek!

 

… en dit was toe hemels…

 

Druk net die rooi knoppie!

Vanoggend op CNN was daar ‘n skreeusnaakse insetsel. Ons almal is mos dadelik geïnteresseerd om knoppies te druk. Daar moet mos altyd iets gebeur as ons ‘n knoppie druk,

Die een televisiekanaal in België het met die stadsvaders van een dorpie onderhandel om ‘n advertensie in hulle dorpie te verfilm met versteekte kameras, amper soos die ou dae toe Leon Schuster dit nog goed gedoen het…

In die stadsplein is daar ‘n pilaar opgerig met ‘n groot rooi knoppie op. Daar is ‘n bordjie aangebring waarop daar staan “Press to add some drama…”

Kyk dit hier…

Die knoppiedrukkers was onbewus van die “setup”, dit was net nuuskierige dorpenaars.

Wanneer die knoppie gedruk word, jaag daar binne sekondes ‘n ambulans in die markplein in en stop met skreeuende bande voor ‘n besigheid. Die ambulansmanne hardloop in, en kom dan uit met ‘n man op ‘n draagbaar. Hulle laat hom val, tot groot ontsteltenis van die onwetende toeskouers. In die chaos ry ‘n fietsryer dan verby, en kyk so vir die toneel dat hy in die ambulansdeur vasry. Hy en die een ambulansman begin mekaar te boks. ‘n Pragtige dame in rooi onderklere kom op ‘n superfiets verby. Die polisie daag op, en ‘n skietgeveg ontstaan tussen al die  betrokkenes.

Uiteindelik is dit die “launch” van ‘n nuwe dramakanaal op hulle televisie, en hulle het elf verskillende knoppiedrukkers se ervarings verfilm en toe geredigeer tot een advertensie.  Soos ek die Belge onthou, weet ek nie of hulle soveel opwinding op een oggend kan hanteer nie!

Deel van die CNN insetsel het juis gegaan oor ons mense se behoefte om die rooi knoppie te druk.

Daar was ‘n insetsel waar Hillary Clinton saam met die Russiese president staan, en hulle dan saam ‘n rooi knoppie druk om die internasionale betrekkinge tussen die VSA en Rusland te “reset”.

Ek het maar net daarna gesit en wonder vir so drie en 1/2 sekondes oor al die dinge in my lewe waarvoor ek graag ‘n rooi knoppie sou wou hê.

Ek is so bietjie siekerig op die oomblik, met effense koors en seer keel, my oë is baie seer en my keel brand tog te lekker. Maar in die siekerige toestand het ek gister so in die bed  weer ‘n oomblik belewe- een van daardie “What if this is as good as it gets?” Jack Nicholson tipe oomblikke.  En ek onthou so deur die newels dat ek redelik tevrede was- daar is nie te baie dinge op hierdie oomblik wat ek graag sou wou “reset” in my lewe nie- die goeie en die slegte… is seker maar die koors…

Enkele los gedagtes waaroor ek dalk die rooi knoppie sou wou druk:

  •  Werk harder op skool aan die wiskunde en probeer my bes om ‘n vlieënier te word?
  • In die baie, baie jare wat ons op universiteit was- moes ek nie ‘n vakkie of twee bygevat het om iets anders ook te kan doen in die lewe nie, dat ek nie so skuldig voel oor my salaris die kerk so baie geld kos nie?
  • Ek sou graag die rooi knoppie druk op my selfbeeld op skool. Ek sou so graag vir die 16 jarige ek wou sê dat almal maar onseker is, dat skool eintlik ‘n reuse “show” is waarin niemand weet wie hulle is of wat hulle doen nie…
  • Dalk moet ek die rooi knoppie druk op my fiksheid- dis alweer gister ‘n maand terug Argus gewees, en ek het nog nie my fiets weer aanmekaar gesit nadat ek hom op die Waterfront uitmekaar gehaal het om in my kar te sit nie…
  • Daar is sekere keuses in my lewe waarop ek graag die rooi knoppie sou wou druk… moenie weer ‘n Mercedes Vito Paneelwa koop omdat hy so lekker enjin het nie- as jou vrou nie daarvan hou nie…!

Soms het ‘n mens geleentheid om ‘n rooi knoppie te druk, en sekere dinge in jou lewe te “reset”.

Maar baie kere is die knoppie buite ons bereik. Soms, lyk dit vir my, moet jy aanvaar dat sekere keuses gemaak is met die inligting wat jy toe gehad het. En as dit nie uitgewerk het nie, is dit maar skoolgeld op die reis van die lewe.

 

Knoppie gekry by: http://12in12in2012.blogspot.com/2012/04/reset-button.html

Dis ‘n nuwe wêreld!

Die afgelope ruk het ek nogal baie te doen gekry met die vyandigheid van so baie mense teenoor die boodskap van Jesus. So baie mense is baie aggressief oor die sogenaamde kloof tussen geloof en wetenskap. So dikwels hoor ek dat ek nie ‘n wetenskaplike is nie, maar my uit sulke gesprekke moet uithou waar geloof na hartelus aangeval word as ‘n geestesversteuring.  Ek is al so hartlik moeg vir daardie ewige debat.

Hierdie Paasfees was dit my voorreg om beide die Goeie Vrydag en die Paassondag dienste te kon lei in ons gemeente. En ek wil net iets van my ervaring met julle deel, hoe wetenskaplik, onwetenskaplik, geloofwaardig, absurd, wêreldvreemd dit ook al vir jou mag voorkom.

Ek verstaan Genesis se bedoeling nie dat dit ‘n wetenskaplike geskiedenishandboek moes wees vir alle tye nie. Dit is ‘n heilsgeskiedenis, ‘n verhaal wat vir die wêreld se mense van alle tye iets van God se hart wil vertel. Genesis 1 het begin om te sê: God het die wêreld goed geskape, prosesmatig, Hy het alles in plek geplaas. God het in Genesis 1 en 2 die behoefte uitgespreek om ‘n Vader te wees, om iemand te hê wat soos Hy lyk, en met wie Hy in ‘n verhouding kan lewe.  En waar God koning is, is daar volmaakte harmonie- tussen God en mens, mens en medemens, mens en natuur, mens en self.

Genesis 3 het die hartseer verhaal vertel van wat gebeur as die mens buite God se wil self wil regkom. As die mens dink dat hy God nie nodig het nie.  Die mens se eie Ek het koning geword. Die verhouding met God is stukkend, daar het wantroue tussen  man en vrou gekom. die mens se eie ek het die die natuur begin opfoeter. En stry maar soos jy wil- is dit nie die toestand van elke koerant nie? Die mens wat sê daar is nie ‘n God nie. Die verhouding tussen mense wat opgeneuk is- deur die mens se eie EK! Is dit nie maar die verklaring vir elke oorlog, elke moord, elke verkragting, elke diefstal in hierdie wêreld nie?

En die mens se verhouding met die natuur is net so stukkend. Kyk maar wat maak ons met hierdie planeet. Ons verkrag die aarde om soveel wins as moontlik vir onsself te maak, en gebruik die hulpbronne op wat ons kinders en kleinkinders aan die gang moes hou. Net een voorbeeld: suur mynwater in Johannesburg- waar gaan ons kleinkinders eendag skoon drinkwater kry?

Genesis verklaar hierdie dinge vir my baie mooi.

Die evangelie van Jesus Christus, wat ek die voorreg het om met ‘n gemeente te deel, praat van God se herstel.

Die enigste antwoord vir die mens se selfsug was die een daad van totale onselfsug- altruïsme. Die een Persoon wat Homself opoffer vir almal anders wat dit nie kan of wil doen nie.

Die Een Persoon wat sterf, sodat almal kan lewe.  Die Een wat deur sy lyding vir ons lewe in oorvloed kom gee het.

En Jesus het dinge so kom verander. Ek het gister die opstandingsverhaal in Matteus 28: 1-10 gepreek.

Een van die vloeke in die Ou Testament was juis die onderdanige plek wat die vrou onder die man gekry hjet. Sy sal na haar man hunker, en hy sal oor haar heers.  In die Ou Testament het ‘n vrou net geen regte gehad nie, ek vermoed in baie huisgesinne was die hond beter af as sy.  ‘n Vrou kon nie in die tempel ingaan nie, net in die voorhof bly staan.

En tog, wanneer Jesus uit die dood opstaan, kies Hy om eerste aan die vroue te verskyn. Dit is aangrypend!  Hy kom herstel die vrou se posisie- sy boodskap aan hulle: Gaan vertel my broers… Die vroue word die eerste boodskappers dat Jesus lewe! (So waarom is dit so moeilik om dan te dink aan die vrou in die amp?) Jesus het die grense wat mense gemaak het, kom oorbrug- dis hoekom Paulus kan sê in die kerk maak dit nie meer saak of iemand Jood of Griek is, man of vrou is, slaaf of vry is nie, in Jesus is ons almal een!  (GAlasiërs 3:28)

Daar word so baie klippe gegooi na geloof. Dink net ‘n bietjie hieraan: Jesus se boodskap was nooit baie kompleks nie. Liefde vir God met jou hele hart, siel en verstand, en liefde vir jou naaste soos jouself. (Matt 22:34-40)

As almal dit maar uitgeleef het, dink hoe kon hierdie wêreld gewees het.

As elke mens sy bes probeer het om sy naaste so lief soos homself te hê.  Jesus het dit baie moeilik gemaak- jy moet jou vyande ook liefhê. Nou as elke mens dit kon regkry- dan waa daar nie meer oorlog en haat en verkragting en diefstal en al daardie ander dinge wat ons lewens so vernietig nie.

Dit is die potensiaal in die koninkryk van God- ‘n wêreldwye huisgesin van God wat mekaar liefhet en mekaar se laste dra en vreugdes deel.

Die evangelie wat ek ken, is nie vreeslik gepla oor geboue en getalle en reëls en regulasies nie. Dit is uit en uit verhoudingsgebasseer. ‘n Verhouding met die Hemelse Vader wat my liefdevol gemaak het, wat sê my lewe is kosbaar (Jes 41:3), ‘n Verlosser wat in my plek gesterf het en opgestaan het uit die dood om vir my lewe in oorvloed te gee, en die Gees van God wat my lei om meer en meer soos Jesus te word, dws meer en meer myself prys te gee en ander lief te hê.

Die evangelie gee vir my ‘n werkbare plan om van die wêreld ‘n beter plek te maak, en ‘n positiewe verskil in ander mense se lewe te maak.

My ateïstiese vriende kon my nog nooit ‘n beter alternatief daarop gee nie.

Hulle sê ek bestaan maar net per ongeluk, die resultaat van millenia se evolusie van daardie eerste goggatjie wat uit die “pondscum” uitgekruip het.  Dis net toevallig dat ons bestaan, daar is nie ‘n rede daarvoor nie, daar is nie regtig ‘n absolute morele kode nie- ek kan maar maak nes ek wil, solank ek gemaklik is daarmee. Daar is geen sin in lyding nie, geen hulp in nood nie, en geen toekoms nie. Die dood is die einde van die prent, en dan word ek weer kompos, stardust wat ek is…

Nee wat, dankie, ek is baie gelukkig in my geloof. Dit gee my hoop, en ek sien watter positiewe verskil dit in mense se lewens maak.

Nou kyk, my doel is nie om jou te oortuig nie. As jy anders as ek dink daaroor, dis jou saak. Ek veroordeel jou glad nie as jy ander insigte en waardes het nie. Al wat ek vra, is gee my ook ruimte om hierdie een lewe wat ek ontvang het, na die beste van my vermoë volgens my waardes uit te leef. Ek gun ander hulle plek in die son, en ek kan in elk geval nie meer doen as om net te getuig van wat Jesus vir my beteken nie.  My ervaring is dat Jesus vir my lig en lewe gebring het.  Ek ervaar dadelik ‘n band van familieskap met ander Christene reg oor die wêreld, al verstaan ek nie eers hulle taal nie. Ek het al in ‘n kerk in Egipte gesit en bid saam met ‘n groep vervolgde Christene, ek in Afrikaans, en hulle in Arabies, en ons het mekaar presies verstaan, al het ons nie ‘n woord verstaan nie…

Ek wou graag hierdie hier deel na my laaste ervaring by litnet.  Geloof is vir my uiters belangrik, en ek is nie bereid om meer stil te bly nie. Ek gaan hierdie verseker nie in my preekblog verander nie, ek wou net vir ‘n slag ‘n baie belangrike deel van my hart met julle deel. En as dit jou pla, hou dan maar verby, daar is baie ander blogs om te lees.

Wat op aarde het toe geword van… die Rooibok?

Ek hou mos baie van historiese verhale…  Dis so lekker as hulle aan die einde van die fliek vertel wat het toe van elkeen van die karakters geword.  So is daar dalk soortgelyke begeertes om te weet- van die rooibokkudde by Bloubul Safari’s. en dalk van enkele lesers: wat het toe van 2 weke terug se Rooibok geword?

Wel, my oudste seun het toe die rooibok vermoor, soos berig.  Ons het 49 stukkies biltong gemaak gekry. Hulle is op tragiese wyse reeds verslind.  Die rooibok het vanuit die bokkehemel laat weet hy is nie meer kwaad vir ons nie, aangesien ons sy nagedagtenis op so gepaste wyse geëer het.

Maar vanaand is die aand om daardie nagedagtenis nog verder te eer.  Die jagter is op die plaas saam met sy pelle. Nou het sy pappie maar die 8e gebod oortree. Ek het een van sy pakkies vleis uit die vrieskas gesteel.

In Carmen Niehaus se boek oor Potjiekos het ek ‘n resep raakgeloop vir wildsvleis wat ‘n mens nou maar moet gaan probeer.

‘n Wild en droëvrugte potjie (ene André s’n).

Die wild word in blokkies gesny, en eers in olie in die ysterpot bruingebraai.

Dan word dit uitgehaal, en uie in fyn stukkies gesny, saam met 4 knoffelhuisies gebraai.

Daar kom ‘n eetlepel mostertpoeier, teelepel heel naeltjies (geskip!), teelepel braaispeserye, sout en swart peper by.

Die wildsblokkies kom by, saam met 500 ml Coke, ‘n blikkie bier (ek het sommer verstaan ‘n Windhoek Draught…) 5 eetlepels Worcestersous. Dit word vir 90 minute stadig geprut in die pot (myne prut nou al 3 ure stadig om die wild sag te maak…)

Daarna kom 250 gram gemengde droë groente en 1 blikkie pynappelstukkies by, en ‘n teelepel pietersielie.

Net voor opdiening kom 70 gram plein jogurt by. Dit word bedien op ‘n bed van rys…

Nou voeg jy vriende en marinade vir die vriende soos ‘n goeie rooiwyn by… dis wat ons vanaand gaan doen…

Hier is die pot tot dusver:

So baie dankie Rooibok vir jou onbaatsugtige bydrae, baie dankie seun vir die mooi skoot, baie dankie André vir die resep, en baie dankie goeie vriende wat vanaand saam met ons gaan aansit…