Goeiemore, weet jy wie praat?

Die enkele sinnetjie wat my die meeste kan omkrap…

Mense wat my skakel op die landlyn, of as ek nie hulle name en nommers op my selfoon gespaar het nie, en dan daardie beroemde vragie mee begin…

DIT MAAK MY DIE HEL IN OP ‘n MAANDAGOGGEND!

Daar is verskeie redes voor:

  •  Ek het 1650 mense in ons gemeente wat my almal op voornaam ken.
  •  Ek was ook in die begin van my loopbaan in die buurgemeente van die dorp, wat 1800 mense het, en omdat ons in ‘n klein dorpie woon, ken byna almal steeds my naam.
  •  My telefoonnommer is in die plaaslike koerantjie onder kerklike inligting- die hele Waterberg streek het toegang tot my nommer…
  • My naam en telefoonnommer is in die kerk se jaarboek- landwye toegang…
  • Ek was saam met ‘n paar duisend mense op skool.
  • Ek was saam met ten minste 250 mense in die universiteitskoshuis
  •  Ek was saam met baie honderde mense in my roemryke weermagloopbaan
  •  Die Noordelike Sinode se mense ken my al na 18 jaar saam met hulle- seker so 100 gemeentes…
  •  Ek het al twee huweliksregisters vol mense getrou, die meerderheid van hulle van buite my gemeente
  • Ek het familie wat ek nog nooit ontmoet het nie, en familie wat ek 30 jaar gelede laas gesien het…
  •  Ek het 1 eksmeisie in my lewe- sy bel nooit…
  •  Daar is verkeerspolisie op die N1 van Pietersburg tot by die Cape Town Convention Centre wat sou belang stel om met my te praat…
  •  Nedbank is die hel in vir my oor my hellopeter praatjie met hulle, wat steeds nie opgelos is nie…
  • Jacobs koffie wil dalk met my praat oor produkplasing op my blog…
  • Daar is verskeie internasionale pryse wat ek gewen het en nog nie opgeëis het nie, van Shell, en Yahoo, en Microsoft, en verskeie Nigeriese prinsesse ens…
  • Ek sou reken dat daar ten minste 5000 mense is wat my op my naam ken, en dalk net sou wou bel…
  •  Ek het verskeie skietsporte in my lewe beoefen, nie altyd met gehoorbeskerming nie…
  •  My pa was op 55 amper heeltemal doof
  • Ek sukkel al van universiteitsdae af om mooi te hoor met elektroniese klanke- soos die koshuis se interkom, en telefone
  •  Ek herken partymaal nie eers my eie vrou se stem op die telefoon nie, veral nie as ek op ‘n raserige plek is nie…
  •  Ek kan nie my seuns se stemme op die telefoon onderskei nie…

Weet jy hoe lank vat dit my om deur die geraas in my kop, en dan al daardie duisende name te scroll in my vinnig verouderende databank tussen my ore???

Die volgende persoon wat dit aan my doen, gaan ek met ‘n vuvuzela beblaas dat sy/haar ore volgende jaar eers weer gaan ophou fluit.

15 thoughts on “Goeiemore, weet jy wie praat?

  1. Jy sit net eenmaal die foon neer, en hulle doen dit nie weer nie. Ek het absoluut geen geduld daarmee nie, ek sê bloot, Nee, ek weet nie, en het nie tyd om te raai nie. Dan sit ek neer.

    Niemand doen dit meer met my nie.

  2. Het dit nou vreeslik geniet…. ek slaan ‘n angs as iemand voor my staan en vra “Onthou jy my nog?” en ek het nie ‘n vae idee wie en waar en hoekom ek die mens moes ken nie !!

  3. Telefone is alreeds vir my ‘n irritasie, as iemand boonop speletjies wil speel gaan hy of sy verseker met ‘n dooie telefoon praat.

  4. WordPress irriteer my grensloos. Ek is ingelog, maar nee, hulle wil dit nie aanvaar nie. O heng, van die pad af. Waar was ons?

    Ek lyk gelukkig nie na ‘n speletjies mens nie.

  5. Ek vra gewoonlik: “Jan van Riebeeck? Hitler? Henry die Vyfde?” En so hou ek aan, tot die persoon sy moer strip en self sê. Dis nou as ek die dag geduld het. Anders maak ek ‘n groot geraas, asof die lyne gekruis is, en sit dan neer.👿

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s