Druk net die rooi knoppie!

Vanoggend op CNN was daar ‘n skreeusnaakse insetsel. Ons almal is mos dadelik geïnteresseerd om knoppies te druk. Daar moet mos altyd iets gebeur as ons ‘n knoppie druk,

Die een televisiekanaal in België het met die stadsvaders van een dorpie onderhandel om ‘n advertensie in hulle dorpie te verfilm met versteekte kameras, amper soos die ou dae toe Leon Schuster dit nog goed gedoen het…

In die stadsplein is daar ‘n pilaar opgerig met ‘n groot rooi knoppie op. Daar is ‘n bordjie aangebring waarop daar staan “Press to add some drama…”

Kyk dit hier…

Die knoppiedrukkers was onbewus van die “setup”, dit was net nuuskierige dorpenaars.

Wanneer die knoppie gedruk word, jaag daar binne sekondes ‘n ambulans in die markplein in en stop met skreeuende bande voor ‘n besigheid. Die ambulansmanne hardloop in, en kom dan uit met ‘n man op ‘n draagbaar. Hulle laat hom val, tot groot ontsteltenis van die onwetende toeskouers. In die chaos ry ‘n fietsryer dan verby, en kyk so vir die toneel dat hy in die ambulansdeur vasry. Hy en die een ambulansman begin mekaar te boks. ‘n Pragtige dame in rooi onderklere kom op ‘n superfiets verby. Die polisie daag op, en ‘n skietgeveg ontstaan tussen al die  betrokkenes.

Uiteindelik is dit die “launch” van ‘n nuwe dramakanaal op hulle televisie, en hulle het elf verskillende knoppiedrukkers se ervarings verfilm en toe geredigeer tot een advertensie.  Soos ek die Belge onthou, weet ek nie of hulle soveel opwinding op een oggend kan hanteer nie!

Deel van die CNN insetsel het juis gegaan oor ons mense se behoefte om die rooi knoppie te druk.

Daar was ‘n insetsel waar Hillary Clinton saam met die Russiese president staan, en hulle dan saam ‘n rooi knoppie druk om die internasionale betrekkinge tussen die VSA en Rusland te “reset”.

Ek het maar net daarna gesit en wonder vir so drie en 1/2 sekondes oor al die dinge in my lewe waarvoor ek graag ‘n rooi knoppie sou wou hê.

Ek is so bietjie siekerig op die oomblik, met effense koors en seer keel, my oë is baie seer en my keel brand tog te lekker. Maar in die siekerige toestand het ek gister so in die bed  weer ‘n oomblik belewe- een van daardie “What if this is as good as it gets?” Jack Nicholson tipe oomblikke.  En ek onthou so deur die newels dat ek redelik tevrede was- daar is nie te baie dinge op hierdie oomblik wat ek graag sou wou “reset” in my lewe nie- die goeie en die slegte… is seker maar die koors…

Enkele los gedagtes waaroor ek dalk die rooi knoppie sou wou druk:

  •  Werk harder op skool aan die wiskunde en probeer my bes om ‘n vlieënier te word?
  • In die baie, baie jare wat ons op universiteit was- moes ek nie ‘n vakkie of twee bygevat het om iets anders ook te kan doen in die lewe nie, dat ek nie so skuldig voel oor my salaris die kerk so baie geld kos nie?
  • Ek sou graag die rooi knoppie druk op my selfbeeld op skool. Ek sou so graag vir die 16 jarige ek wou sê dat almal maar onseker is, dat skool eintlik ‘n reuse “show” is waarin niemand weet wie hulle is of wat hulle doen nie…
  • Dalk moet ek die rooi knoppie druk op my fiksheid- dis alweer gister ‘n maand terug Argus gewees, en ek het nog nie my fiets weer aanmekaar gesit nadat ek hom op die Waterfront uitmekaar gehaal het om in my kar te sit nie…
  • Daar is sekere keuses in my lewe waarop ek graag die rooi knoppie sou wou druk… moenie weer ‘n Mercedes Vito Paneelwa koop omdat hy so lekker enjin het nie- as jou vrou nie daarvan hou nie…!

Soms het ‘n mens geleentheid om ‘n rooi knoppie te druk, en sekere dinge in jou lewe te “reset”.

Maar baie kere is die knoppie buite ons bereik. Soms, lyk dit vir my, moet jy aanvaar dat sekere keuses gemaak is met die inligting wat jy toe gehad het. En as dit nie uitgewerk het nie, is dit maar skoolgeld op die reis van die lewe.

 

Knoppie gekry by: http://12in12in2012.blogspot.com/2012/04/reset-button.html

11 thoughts on “Druk net die rooi knoppie!

  1. Oom Doom, ons het ongelukkig net die vermoeë om die rooi knoppies te druk as die uitkoms toekomsgerig is. Rooi knoppies vir retrospeksie is ons ongelukkig nie beskore nie, maar bloed, dit sou darem lekker gewees het om dit wel te kon doen – amper soos “overs” wat ons altyd op skool gesê het as ons iets gedoen het met ‘n sekere verwagting en die resultaat nie nie regtig met ons verwagting versoenbaar was nie.
    Jou versugting oor dinge wat jy op jou “retrospektiewe bucket list” wil wegwens, klink maar net soos myne en die volgende ou s’n. Dalk moet jy ‘n steekproef doen oor alles wat diegene wat jou “blog” volg sou wou ontdaan met die druk van so rooi knoppie…
    Terloops, het jou vrou nou al “vrede gemaak” oor, of met, die Vito?

    • Die Vito na ‘n jaar gelyk op geruil vir ‘n 2 jaar ouer Mazda Drifter dubbelkajuit bakkie- die Merc het my doodgemaak met klein foutjies se pryse- soos bv CV joints R9500, net by die agente beskikbaar, voorste skokbrekers dieselfde prys…
      Huil nou nog oor die enjin, die Mazda is nie in dieselfde liga met krag nie.
      Maar: die Mercedes se aircon knoppie het gebreek- kwotasie was R7000 gewees vir die skakelaar. Die Mazda s’n het gebreek- R87 vir die skakelaar… Dis hoekom…

  2. Wie het nie al gewens vir ‘n reset knoppie nie?

    Hier is my JN oomblik. Wat as die reset knoppie net die roete verander en nie die eindbestemming nie? Sal jy dit steeds gebruik, of sal jy deurdruk op jou huidige roete?

  3. Of: gedane sake het geen keer nie. My man het nou aangesteek as entoesiastiese fotograaf en wil al die paaie weer gaan ry waar hy met ‘n ongeduld stilgehou het sodat ek vinnig kon uitklim vir ‘n foto. Maar daar is soveel nuwe plekke wat ontdek kan word. ‘n Mens moet maar vrede maak met die verlede.

  4. sjoe , so ‘n reset knoppie sou darem lekker gewees het! Maar hoeveel keer kon mens dan reset? ek het ‘n vermoede die tweede keer maak mens dalk weer ‘n ander fout!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s