Vrydagoggend by die karwas…

Na ‘n uiters rowwe week het ek so een kyk na die Corolla gegee, en besluit: Ek wil nie in so vuil kar rondry nie. Ek kan dalk nie alles in my lewe verander soos ek dit wil hê nie, maar vanoggend kan ek iets wat my irriteer, regmaak.  En een klein verskilletjie in die positiewe rigting sal daar dalk ‘n paar ander positiewe dominoes laat begin omval wat die Swart Hond bietjie weer sal wegjaag.

Daarom, terwyl dit nou juis my afdag is, het ek maar my Deon Meyer boek geneem, en na die Total Garage se motorwas vertrek.  Dit is nogal ‘n tydsame proses. Eers parkeer jy jou voertuig agter  in die ry van ander vuil motors. Dan gaan betaal jy- R35 vir die goue pakket- was, droogmaak, stofsuig, wiele mooi swart poleer. Maar nie die dash en mags politoer nie, dis die platinum pakket vir R50.00.

http://www.9ori.com/en/images/car-wash.html

Ek koop vir my die Beeld, en gaan sit onder die sambreeltjie op die harde, koue sementbankie, met die koerant en Deon Meyer op die harde koue sementtafeltjie.  Die koerant was nie ‘n goeie idee nie. Behalwe dat ‘n haai ‘n jong man van Kampsbaai doodgebyt het, is daar verder ook net slegte nuus. Dis die hele tyd “ons” teen “julle”. Die ANC is alweer besig met skelmstreke. Die tolpaaie maak almal die moer in, maar as ons hom opblaas, dan verloor die staat se pensioentrekkers baie (en my vrou is een, so moet ek nou die tolpaaie like?)  Selfs die spotprente vanoggend praat almal van omkoop, selfs Hägar se vrou probeer in gebed haar god omkoop om haar man te verander…

Nee, die koerant was nie ‘n opbouende ervaring vandag nie. Ek wend my toe maar na my ander gunsteling stokperdjie- om mense te sit en dophou, en my eie stories oor hulle op te maak. Verbeelding het soms ‘n aandeel in my stories…

Daar is die jong boer wat sy bakkie gebring het vir sy jaarlikse was.  Die boer sit op een van die ander tafeltjies, sy regterarm is baie bruin gebrand, en die linkerarm bleekwit. Hy is geklee in ‘n netjiese Sterling kakie- two tone hemp. Op sy kop is een van Rogue se veldhoede,  reg vir die Bosveldson. Hy het ‘n Rugbytech broek aan, swart kleur. Lang rooi rugbykouse met twee wit strepe deur. Tarzan skoene gekoop by die Koöperasie. Hy blaai verwoed deur die LAndbouweekblad, op soek na ‘n Landras Varkbeer om by sy sog te gaan kuier. Die begin van ‘n florerende baconbesigheid? Die Boerboel bly sommer agterop die bakkie, dan is dit twee wasse vir die prys van een. Hond en  bakkie mooi skoon. Dit moet seker so wees vir die groot Huntex skou wat die naweek aan die gang is by Gallagher Estate. ‘n Man moet darem weet wat die nuutste tendense in ammunisie is vir die Sako 223 waarmee die probleemdiere weggehelp moet word. (Iemand was besig met Deon Meyer se 7 Dae…)

By die volgende tafeltjie sit die “previously disadvantaged”  Staatsdiensdame.  Sy sit rustig en eet aan ‘n KFC Meal in a Box, terwyl sy rustig kuier deur die bladsye van die Cosmopolitan. (Afrikatyd, nie kantoortyd nie…)   Artikels van hoe om jou man gelukkig te hou, word saam met die Corn Flake bedekte hoenderdye ingeneem.  Haar BMW X5 sal netnou weer blink vir daardie vergadering van die ANC Youth League, wat netnou in Pieterskwane gaan baklei oor wat hulle nou met vakante Julius moet doen. ‘n Mens moet darem suksesvol lyk, ‘n mens weet net nooit wie die comrades volgende gaan kies in die leierskap nie! (Of wanneer oom JZ weer wil trou nie?)

Tussen hierdie twee sit ekke, die dominee wat net so bietjie wil wegkom van die gemeente op sy afdag, en graag weer ‘n skoon kar wil hê. En op hierdie oomblik lees ek die gevleuelde woorde van Inspekteur Bones Boshigo wat vertel van sy vorige aand se kyk van die fliek In the Shadow of the moon– van die ruimtevaarder wat sou opmerk van die maan af dat die aarde klein mag lyk van die maan af, maar dat almal wat hy ken, daar woon. Toe die ruimtevaarders die maan bereik, het hulle gesê “We did it!” We- die menslike ras, nie net Nasa of selfs die VSA nie, die spesie Homo Sapiens.. Boshigo vertel vir Bennie Griessel dat sy pa hom een aand as klein seuntjie na buite geneem het, en die maan vir hom gewys het.  “Hy sê Benedict- mense het al daar geloop. Hoekom? Because they dreamed, né. En jy moet agter daardie droom loop, tot jy hom gevang het. Vanoggend, toe ek so hoor van al die shenanigans, toe dink ek: Wat het van ons geword? Madiba het hierdie dream gehad, Bennie, Die groot Ukuphupha for South Africa. Maar nou verloor ons daardie droom. Toe verlang ek na my pa, né, hy is dood in two thousand and five, toe dink ek, hoekom kan ons nie weer “we” wees nie. In this country. In die hele wêreld. Because we are all on this one small planet…”  (Deon Meyer, 7 Dae, bladsy 296)

Die jong blanke boer, die jong swart professionele dame, en ek, die WAMM (Wit Afrikaanse Middeljare Man…) ons drie sit en wag vir onse wiele om gewas te word. Ons praat nie een met die ander nie. Die jong boer het ‘n ou Transvaalse vlag op sy bakkie- en dit beteken mos hy is…  Die jong dame se BMW het ‘n ANC vlag op, en dit beteken mos sy is…

En ek is ‘n DOMINEE- dit beteken verseker ek is ‘n …

Hoe sou dit wees as ons drie saam met nog iemand uitsonderlik anders- sê maar ‘n Indiër motorhandelaar- saam iets kon beleef soos ‘n Come Dine with me ervaring?  As elkeen van ons die beste van ons agtergrond met ander kon deel, en met respek luister na die ander se stories?

In ander lande, en ander gemeenskappe, lyk dit so maklik en vanselfsprekend. Maar in onse Bosvelddorpie is dit nie so maklik om met ander te gesels nie.  Hoekom moet dit so wees?

Ons almal is lief vir skoon karre. Ons almal hou van tradisionele kos tipies van ons agtergrond. En soms is dit net so verfrissend om iemand te ontmoet wat so totaal anders as onsself grootgeword het. Hoeveel het ons in gemeen wat waardes aanbetref? Hoe verskillend is ons werklik?

En toe dink ek net soos Benedict Bones Boshigo- Hoekom kan ons nie ‘n ‘we’ wees in hierdie land nie

Ek wens ek kon amper so goed soos Deon Meyer skryf!

Prentjie: http://www.9ori.com/en/images/car-wash.html