Mag ‘n Goth ‘n Dominee wees?

So in my depressiewe staat kry ek vanoggend eers ‘n oproep, en toe ‘n stroom eposse vanaf verskeie mense wat dit baie goed bedoel, mense wat werklik lief vir die Here is en omgee vir die kerk. Mense wat ek baie waardeer in my eie lewe.

Die eposse se titel is: “Skrikwekkend!” En dit gaan oor die berig van Neels Jackson in die Beeld oor Proponent Annari du Plessis, wat ‘n Gotiese leefstyl volg. Die strekking van die eposse is: Hoe kan die kerk positief wees oor Annari du Plessis as leraar?  Hoe kan Nelus Niemandt, ons moderator, positiewe dinge oor haar roeping te sê hê? En waar is die NG Kerk nou weer op pad heen met ons almal?

Soos ek hierdie skryf, het ek ook ‘n stuk seer in my hart oor my kerk. Maar nie om dieselfde redes as wat my vriende sê nie.

Ek is hartseer oor die volgende redes:

1. Nie een van hulle het Annari du Plessis al ooit ontmoet nie (ek ook nie…). Nie een van hulle ken haar getuienis nie. Wie is Jesus Christus vir haar? Nie een van hulle het met haar gepraat oor die roeping wat sy van die Here ervaar, wat gemaak het dat sy vir 6 BAIE lang jare met teologiese studies volhard het nie.Ek ken van haar klasmaats, wat my verseker dat haar leer suiwer is (so getoets deur die kuratorium van die kerk ook…)

2.  Die “Goths” lewenswyse is baie ver verwyderd van ons plattelandse opset, en ons verstaan daarvan is outomaties dat dit satanisties moet wees, want die mense hou van swart klere en heavy metal musiek.  Hulle pas nie in ons boksie van hoe ‘n Christen nou eintlik lyk nie. Ons dink: Christene lyk nie so nie? Maar wie sê so? Het Jesus nie gedefinieer dat elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God nie? Is navolging van Jesus nie ‘n verhouding: om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, en jou naaste soos jouself nie? Dis wat ek verstaan onder Jesus se definisie van Christenskap- dit het niks te make met watter musiek jy luister of hoe jy aantrek nie?

3. Ek sal toegee: die Gotiese lewenswyse lyk ook vir my, volgens my verwysingsraamwerk, donker en onheilspellend. Maar my vraag is: het God Goths lief of nie? En wie moet hulle gaan bedien met die liefde van die Here?  Gaan ‘n dominee met ‘n safaripak of two-tone Sterling kakiehemp gehoor word in daardie kringe?

4. Wat is die moderne toepassing in hierdie situasie van 1 Korintiërs 9: 16-23?

1 Korintiërs 9: 16-23

16 As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

17 As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ‘n taak wat aan my toevertrou is.

18 Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19 Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.

21 Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.

22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.

23 Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

In my omswerwinge in die wêreld het ek al baie mense gekry wat vir Jesus baie lief is, wat deur die kerk uitgestoot is omdat hulle nie ingepas het in die koekie”cutter” patroon waarmee die tradisionele kerk meet nie. Weet julle watse rowwe mense is Bikers? Weet julle wat gaan alles aan by ‘n Motorfietsrally? Weet julle van die drankmisbruik, en die openbare onsedelikheid? Weet julle dat ek daarvan hou om tussen Bikers te wees, met my leathers? Maak dit ook nou dat ek nie meer welkom is tussen die heiliges nie?

Ons sê maklik dinge soos “ons moenie kompromië aangaan nie”- maar dan vergeet ons die ruimte wat Romeine 14 gee vir gelowiges om verskillend te mag dink, solank die liefdesgebod gerespekteer word. Die onderlinge liefde tussen gelowiges is baie belangriker as die verskille in musieksmaak, kleredrag, en selfs nie-belangrike leerstellings!  Ons vergeet die waarskuwing van Romeine 14:4!

Ek is jammer, ek gaan nie deelneem aan die letterlike heksejagte van mense wat vir Jesus lief is nie. Ek hou nie van die verdagmakery op soveel terreine van die kerklike wêreld nie. Jesus het nie gesê ons gaan die wêreld verander deur ons oordeel nie. Inteendeel- deur liefde teenoor alle mense, juis dié wat anders as ons is ook! het ons ‘n getuienis van God se liefde.

Hierdie een speel ekke nie saam nie, sorry!

Advertisements

Elia en die Besembos…

Elia het in 1 Konings 18 ‘n groot geestelike hoogtepunt beleef. Hy het gebid en die Here het vuur uit die hemel gestuur om sy altaar aan die brand te steek, nadat die Baälprofete heel dag gekla en gekerm het, en hulle altaar morsdood gebly het. Elia het daarna gebid, en ‘n 3 1/2 jaar lange droogte is gebreek deur reën.  Soms beleef mens lekker hoogtepunte in ‘n mens se lewe.

So hoekom is dit dat daar anderkant die kruin altyd ‘n afgrond lê? In 1 Konings 19 besluit die koningin sy hou nie van Elia nie, en wil hom doodmaak. Hy vlug drie dae in die woestyn in, gaan lê onder ‘n besembos, en wens om dood te gaan.  Van een baie groot hoogtepunt na een baie diep laagtepunt in 4 dae…

Verlede week was so ‘n besige week in my lewe.  Ek self het vier keer gepreek, en agt dienste bygewoon.  Gister was daar drie eredienste in ons gemeente- die Pinksterdiens, wat ek gepreek het. Daar was die Global Day of Prayer, gelei deur die AGS Pastoor in ons dorp, in ons kerkgebou. En daar was ‘n heerlike lofprysingsdiens gelei deur Franna Benadé. Dit was besig, maar baie goed. En Vrydagaand was ‘n droom gewees!

Vanoggend voel ek amper net soos Elia. Ek het my dood gesukkel om uit die bed uit te klim. Ek het net glad nie lus vir werk vandag nie, al is daar ‘n paar hartseer en siek mense by wie ek moet uitkom.

Ek sit nou maar eers en kyk ‘n heruitending van Bachelor, terwyl Vroulief nou ‘n “timer” daarvoor gestel het. Ek is so bly ek hoef nie op daardie manier my lewensmaat te gevind het nie- vry met almal en los ‘n lang string hartseer meisies agter, terwyl die wêreld saam asem ophou anderkant die kamera oor die diep lewenswyshede wat ek oor verhoudings besig…

Elfuur gaan ek myself bymekaar skraap, en probeer werk. Vandag is een van daai tipiese Maandae…

So: waar is die engel?

Champaigne,Philippe de
Le sommeil d’Elie – Elijah asleep. Oil on canvas
Musee de Tesse, Le Mans, France

‘n Droom van ‘n aand by Bella Sophia!!

Ek en Vroulief is groot Masterchef fêns. Al moet ek Dinsdagaande uitgaan op die ander huisbesoek, (nie Huisbesoek- my motorfiets nie…)  is dit nie iets om te mis nie- dankie Sony vir die pragtige DVD recorder!  Ons mis nie ‘n episode nie…

Vandat Masterchef SA begin het, was ons ook groot Berdina fêns… Ons was sommer BAIE omgekrap toe sy so vroeg huis toe is- ‘n mens kon mos sien die dame verstaan ‘n kombuis die heel beste van hulle almal! (Onses insiens…)

Ons het op Kwela gesien sy het nou haar eie restaurant oopgemaak.  Dit inspireer my- as iemand ‘n droom vat, en dit gaan waar maak. Tydens die Kreatiewe verouderingskursus twee weke gelede het ek een van Riviera gemeente se dominees gevra: Waar is Berdina se restaurant… Dit blyk toe dis die naaste ordentlike koffieplek aan sy huis, en hy verduidelik mooi vir ons…

So word dit Pinkstertyd, en alles raak baie hectic in die gemeente. Ek sien al ‘n rukkie gelede: hier kom ‘n moeilike tyd. As ‘n mens dit weet, dan moet jy beplan.  So beplan ek toe vir my en Vroulief ‘n heerlike aandjie uit. Weg van gemeente, kinders, katte, spietkops en ander derglike kwellings in die lewe. Eers bespreek ek vir ons ‘n plekkie in een van ons gunsteling gastehuise- Marija Manor daar in Montana. ‘n Mens wil mos nie laataand op ‘n Vrydag die aand terug Noorde toe vat nie.

Berdina se eetplek is die Bella Sophia Culinary Café in Riviera.Op hulle facebook bladsy het hulle geadverteer dat gisteraand ‘n Jazz- kitaar aand saam met Keira Witherkey sal wees. Ek weet niks van jazz kitaar musiek nie, maar ek het net geweet: hierdie is die plek om Vroulief na toe te vat- dit gaan soveel beter as ‘n aandjie in die SPur wees.

Ons het met aankoms elkeen ‘n Cosmopolitan cocktail geniet. Ja, Louis Gossett Jnr, ek weet “real men dont drink pink drinks…” maar manne wat “in touch with their feminine side” is, se kanse is soveel beter… 🙂 Jong, ‘n Cosmopolitan is potent! Pienk, maar hy slaan hard!

Ons vriendelike kelnerin het vir ons die spesiale aanbiedinge van die aand mooi verduidelik. Die aanbevole dis was gekrummelde hoender, met “black-eyed peas”- sou dit nou kekerertjies wees? Daarmee saam kom ‘n mieliebroodjie en baie lekker spinasie. Vroulief het dadelik daarvoor ja gesê, maar hulle het my by die ertjie-woord verloor (sorry Berdina, dis nie jy nie, ek is maar so van kleins af…)

Maar ekke: ek het die Asian Sticky Spiced beef, spring onions, chili pickle, bamboo shoots & sesame seeds tagliatelle pasta probeer.  Ek wil net sê: dit was een van die heel lekkerste pasta-ervarings in my ganse lewe! Kyk gerus deur die hele menu- dis baie lekker kos!   Daardie pasta was baie geurig, met so lekker nasmaak wat dit in die mond los! Soos ek en vroulief maar maak, het ons ook bietjie aan mekaar se kossies geproe- en daardie gekrummelde hoender was so sappig en mooi gaargemaak, dat ek die geheim self sou wou weet: hoe doen julle dit? Ek wens my hoender kon so lekker proe!

Ons het vir nagereg ‘n Mississippi Mudpie gedeel. Dis nou ‘n stukkie lekker- so ‘n harde sjokeladekoek buitekant, met so loperige sjokelade binnekant en room- hemels!

Ons het ons ete afgesluit met cappuchino. Baie netjies gemaak, met verskillende patroontjies op.

Ons was aangenaam verras met die somtotaal van die rekening, die vriendelike diens, en ons het baie van die musiek gehou.

Ons het toe nie vir Berdina ontmoet nie, ons het gesien sy lyk baie besig en wou nie pla nie. Sal eendag as ons weer in die bose stad is, gaan koffie drink en hallo sê. So nee, ons is niks betaal om te adverteer nie!

Maar vir ons twee vlugtelinge uit die Pastorie was dit ‘n baie lekker aandjie uit. Ons het goeie waarde vir geld gekry, en beveel dit graag vir al ons vriende aan.

Bybelse waarhede in die Pinkstertyd…

Liewe vriende, hierdie week kry ek net nie kans om behoorlik hier op my eie blog te kom kuier nie. Dit is Pinkstertyd, en soos sommiges weet, is dit nogal ‘n baie rowwe tyd vir Dominees. ‘n Baie geseënde tyd, ‘n tyd van stilwees in die studeerkamer, ‘n tyd van geestelike groei met so baie dienste in een week. Vir my ‘n baie mooi tyd. Maar besig. Baie, baie besig.

Wat dit verder rof maak, is die dood van my kollega se moeder. Sy was in ons gemeente, en ek en hy het haar saam besoek in Unitas hospitaal nadat ons kreatief verouder het twee weke gelede, kort voor sy ‘n rugoperassie moes ondergaan. Sy was so ‘n blymoedige mens, wat met volle vertroue die operasie aangepak het. Sy het baie mooi herstel na die operasie, en toe skielik verlede week longontsteking in die hospitaal ontwikkel, stadig agteruitgegaan tot sy Vrydagaand so 22h00 saggies heengegaan het. Sy was ‘n baie mooi mens, wat ook vir my baie beteken het hier in ons gemeente, met haar geloof en haar menswees. Moreoggend gaan kollega vir haar ‘n troosdiens lei in ons gemeente, en Vrydag word sy begrawe langs haar eerste man in Randfontein.  Daar was ook ander vreemde sterfgevalle binne ‘n week- die kantoorbestuurder by Toyota, wat my so mooi gehelp het vroeër hierdie jaar met my Corolla kopery, is skielik in ‘n motorongeluk dood- band het gebars, en sy is in ‘n boom in. Nog ‘n jong ma, net 37, is skielik aan ‘n hartaanval oorlede. En nog ‘n jong vrou, onderwyseres by die laerskool, het gelukkig ‘n hartaanval oorleef. Dis vreemde tye hier in ons dorp, en elke dag kry ons net weer die boodskap dat die lewe kort en onvoorspelbaar is, ons moet elke dag voluit lewe en die meeste daarvan maak.  Moenie ‘n kans laat verbygaan om iemand anders se lewe beter te maak nie!

Met al hierdie dinge in gedagte is my eie emosionele toestand maar redelik op en af. En ek moet vanaand om 18h00 voor die gemeente staan en sê: So spreek die Here!  Vanaand se tema in ons Pinksterreeks gaan daaroor om God se genade persoonlik te ken, soos in Efesiërs 2:1-10 en 1 Johannes 4: 7-10 vir ons opgeteken staan. En daar moet nou nog baie ingesit word om vanaand sinvol te kan praat.

So- ek het baie aan die gang, maar min op die hart. Daarom gaan ek maar vir julle leesgenot (soos die dame wat die Sinode se weeklikse nuusbrief skryf, dit noem) vir julle so ‘n paar Bybelse waarhede deel, soos opgeteken in die Rooms Katolieke kerk deur ‘n non, en aangestuur deur my vriend die Landdros…

A Nun Grading Papers:


CAN YOU IMAGINE THE NUN SITTING AT HER DESK GRADING THESE PAPERS, ALL THE WHILE TRYING TO KEEP A STRAIGHT FACE AND MAINTAIN HER COMPOSURE!

PAY SPECIAL ATTENTION TO THE WORDING AND SPELLING. IF YOU KNOW THE BIBLE EVEN A LITTLE, YOU’LL FIND THIS HILARIOUS! IT COMES FROM A CATHOLIC ELEMENTARY SCHOOL TEST.

KIDS WERE ASKED QUESTIONS ABOUT THE OLD AND NEW TESTAMENTS. THE FOLLOWING 25 STATEMENTS ABOUT THE BIBLE WRITTEN BY THE CHILDREN.

THEYHAVENOT BEEN RETOUCHEDOR CORRECTED.INCORRECT SPELLINGS HAVE BEEN LEFT IN

 

1. IN THE FIRST BOOK OF THE BIBLE, GUINESSIS. GOD GOT TIRED OF CREATING THE WORLD SO HE TOOK THE SABBATH OFF.

 

2. ADAM AND EVE WERE CREATED FROM AN APPLE TREE. NOAH’S WIFE WAS JOAN OF ARK. NOAH BUILT AND ARK AND THE ANIMALS CAME ON IN PEARS.

 

3. LOTS WIFE WAS A PILLAR OF SALT DURING THE DAY, BUT A BALL OF FIRE DURING THE NIGHT.

 

4. THE JEWS WERE A PROUD PEOPLE AND THROUGHOUT HISTORY THEY HAD TROUBLE WITH UNSYMPATHETIC GENITALS.

 

5. SAMPSON WAS A STRONGMAN WHO LET HIMSELF BE LED ASTRAY BY A JEZEBEL LIKE DELILAH.

 

6. SAMSON SLAYED THE PHILISTINES WITH THE AXE OF THE APOSTLES.

 

7. MOSES LED THE JEWS TO THE RED SEA WHERE THEY MADE UNLEAVENED BREAD,

WHICH IS BREAD WITHOUT ANY INGREDIENTS.

 

8. THE EGYPTIANS WERE ALL DROWNED IN THE DESSERT. AFTERWARDS, MOSES WENT UP TO MOUNTCYANIDE TO GET THE TEN COMMANDMENTS

 

9. THE FIRST COMMANDMENTS WAS WHEN EVE TOLD ADAM TO EAT THE APPLE.

 

10. THE SEVENTH COMMANDMENT IS THOU SHALT NOT ADMIT ADULTERY.

 

11. MOSES DIED BEFORE HE EVER REACHED CANADA THEN JOSHUA LED THE HEBREWS IN THE BATTLE OF GERITOL.

 

12. THE GREATEST MIRICLE IN THE BIBLE IS WHEN JOSHUA TOLD HIS SON TO STAND STILL AND HE OBEYED HIM.

 

13. DAVID WAS A HEBREW KING WHO WAS SKILLED AT PLAYING THE LIAR. HE FOUGHT THE FINKELSTEINS, A RACE OF PEOPLE WHO LIVED IN BIBLICAL TIMES.

 

14. SOLOMON, ONE OF DAVIDS SONS, HAD 300 WIVES AND 700 PORCUPINES.

 

15. WHEN MARY HEARD SHE WAS THE MOTHER OF JESUS, SHE SANG THE MAGNA CARTA.

 

16. WHEN THE THREE WISE GUYS FROM THE EAST SIDE ARRIVED THEY FOUND JESUS IN THE MANAGER.

 

17. JESUS WAS BORN BECAUSE MARY HAD AN IMMACULATE CONTRAPTION.

 

18. ST. JOHN THE BLACKSMITH DUMPED WATER ON HIS HEAD.

 

19. JESUS ENUNCIATED THE GOLDEN RULE, WHICH SAYS TO DO UNTO OTHERS BEFORE THEY DO ONE TO YOU. HE ALSO EXPLAINED A MAN DOTH NOT LIVE BY SWEAT ALONE.

 

20. IT WAS A MIRICLE WHEN JESUS ROSE FROM THE DEAD AND MANAGED TO GET THE TOMBSTONE OFF THE ENTRANCE.

 

21. THE PEOPLE WHO FOLLOWED THE LORD WERE CALLED THE 12 DECIBELS.

 

22. THE EPISTELS WERE THE WIVES OF THE APOSTLES.

 

23. ONE OF THE OPPOSSUMS WAS ST. MATTHEW WHO WAS ALSO A TAXIMAN.

 

24. ST. PAUL CAVORTED TO CHRISTIANITY, HE PREACHED HOLY ACRIMONY, WHICH IS ANOTHER NAME FOR MARRAIGE.

Ouers langs die rugbyveld…

Ons Hoërskool het teen die beroemde Kopstamperskool rugby gespeel gisteraand, en al is hulle bekend as ‘n uitstekende sportskool,, met ‘n sportakademie, het ons eerste span hulle 19-18 in ‘n epiese wedstryd gewen. Dit was eintlik baie mooi rugby aan weerskante. Maar wat ek eintlik gewoonlik geniet, en soms baie geïrriteerd mee raak, is die ouers se optrede langs die veld. Daarom het ek hierdie goue oue uit my ou Blogspot gaan opdiep om met julle te deel…

______________________________________________

Moet hierdie een maar op die anonieme blog sit, anders gaan ek geblissem word in onse dorpie…

Het jy al ooit gesien hoe emosionele saak is skolerugby? Dit begin daar voorskools met die bulletjierugby, waar daar spesiale dae is waar die jong mannetjies rugby kan pleeg. Een rugbyveld word in vier opgedeel- die kantlyn word wenstrepe, en die kwartlyne en middellyn word nuwe kantlyne. Dan draf daar  ‘n klomp seuntjies met dieselfde trui op van die een kant, en ‘n  klomp seuntjies met ander truie van die anderkant. Die fluitjie blaas, en skielik sit jy met ‘n groot losskrum in die middel van die veld. Dit gryp en los, skop en slaan, huil en spoeg. Sulke woorde het jy nooit daar verwag nie! En dis net die mammies langs die veld. Op die veld gaan dit amper net so erg.

En so vorder Boetie in sy rugbyloopbaan, daar vanaf sy roemryke begin in die bulletjiefase (noem hulle dit in die Kaap windjie- fase en in Natal die guppy-fase? Is dit die katjies in die Vrystaat- ek was so lanklaas hier weg ek weet nie, kan iemand help?)  Ek onthou toe my oudste nog in daardie fase  was, het een van die ouens in die  huidige o-19 Bloubulle as standerd 5 seun die skoolhoof gehelp om af te rig. Hy het die seuntjies voor ‘n wedstryd herinner om te “fokus” en “die oog op die bal te hou.” My laaitie het nie geweet wat “fokus” beteken nie. Dit het vir hom soos verskriklike vloek geklink.  Maar toe hy drie was, het ek ook eendag vir hom gesê hy moet sy oog op die bal hou. En dadelik het hy die tennisbal in sy hand teen sy oog geplaas- gehoorsame seun! Ek wens die Bloubulle wil daardie lessie leer!

Deur die Laerskool heen is die mammies die hele tyd langs die veld. En daar tree hulle heeltemal anders op as in die kerk. ‘n Mens gaan hulle nie more herken as dieselfde dames as vandag nie. Nie waar hulle bloedjies bloei nie!

Vandag was Hoërskoolrugby in ons ou dorpie. Die aartsvyande het kom kuier. En hulle is vanjaar weer baie sterker as ons op die rugbyveld. Behalwe nou die onder 16 span, waar ons skool gewen het toe die wedstryd weens geweldadige spel gestop is. Ek vermoed dit was ‘n tegniese uitklophou. Dit gebeur mos maar in ‘n seun se lewe. Op 16 bruis die testosteroon deur ‘n man se are, en dit wat jy nie kan vry nie, wil jy slaan. Laat nou dertig van hulle op dieselfde stukkie aarde los op mekaar, en gooi ‘n ovaalvormige stuk leer tussen hulle in. En plaas so paar honderd baie aantreklike jong dames met sulke kort netbalrompies daar langs die veld. Hoe verwag hulle dat daar nie moeilikheid gaan wees nie?

Maar goed- terug by die ouers. Met hierdie groot industriële dorp se ouers soek ons nie skoor nie. Doodgewoon omdat daar BAIE meer van hulle is as ons. Iemand by ons gaan dalk net seerkry. Gewoonlik sit die verskillende skole se ouers weerskante van die veld, so ‘n mens hoor nie so mooi as iemand anders iets skree van ruk af jou kind se kop, en moenie dat hy ly nie.

Met een van ons ander buurdorpe, baie naby, en net so groot soos ons (dorp en skool) is dit ‘n ander storie, veral by hulle. Daar het verskeie ouers al in die koerante beland. Selfs ‘n gesiende dokter van daardie dorp is al uitgewys vir vuilspel langs die veld. Dominees en dokters slaan nie aan ander ouers nie. Maar soms vergeet ons- seker ook maar mens, né Dok…
Die opmerkings langs die veld bly egter altyd baie interessant. Van Melkbosstrand tot by Messina skree ouers seker maar dieselfde dinge vir hulle toekomstige Springbokke op die veld:
Die bal- die bal”- ja, ons almal vermoed daar was een, voor daai dik stut van die buurdorp hom ingesluk het…
“Clean, clean“- dit gebeur in ‘n losskrum wanneer jou neus per ongeluk teen die opposisie se slot se foefenjols vasgedruk word, en jy vermoed dat hy dalk ‘n ander onderbroek nodig het.
“Pass die bal!“- dit kom gewoonlik Noord van die Jukskeirivier voor, van ouers wat gereeld op Loftus kom, en Mnr Bostick Olivier in aksie sien. Hy, en talle ander, moet gewoonlik deur ‘n pappie herinner word dat die bal nie nou al saam met hom huis toe kan gaan nie. Erens in die verte is ‘n langverlore ou met ‘n nommer 14, en dié se mammie, wat dit so pas geskree het, wil darem een keer ook haar kind in aksie sien voor die Grim Reaper opdaag om haar te kom vat.
Knock! Knock”  Hierdie is gewoonlik om vir die ref ‘n grappie te vertel, gewoonlik omdat hy so ernstig lyk as hy daar met sy dun wit beentjies op die veld ronddraf, so ver weg van sy geliefde Engelse letterkunde klas af.
“Ref”– dis gewoonlik die onnoselste ou in die gemeenskap, wat nog nooit ‘n rugby reëlboek in sy lewe gesien het nie. Hy is gewoonlik erg bysiende, en baie  bevooroordeeld teen die span wat die meeste ouers op die pawiljoen het. Hy is of ‘n jong onderwysertjie wat nog nat agter die ore is, of iemand anders wat niks beter met sy Saterdagoggende kan doen nie .  Hy is gewoonlik skaars fiks genoeg om sewentig minute rond te hardloop, en vang ook ander onnoselhede aan op die veld.
Maak oop jou oë, ref!” ‘n hele paar van hierdie manne is berugte slaapwandelaars. Dit is soms nodig om hulle te help ontwaak, sodat hulle nie dalk seerkry as hulle skielik in die middel van ‘n rugbyveld wakker skrik nie. Dit is gewoonlik ‘n baie bedagsame ding om te sê langs onse rugbyveld.
“Tackle”– dit kan verskeie dinge beteken. Die eerste en sterkste moontlikheid is dat die skreeuer na sy visvangtoerusting verwys. In ons provinsie het al die toeskouers gewoonlik ‘n Hiluxbakkie met blou knaters aan, en visvanggoeters op die dak. Visvang is dalk so bietjie gewilder nog as rugby, want daar is meer tyd vir drink, en gewoonlik gebeur daar minder dinge rondom jou om die drank te laat mors. Jou “Fishing Tackle” is gewoonlik ‘n redelike fris persentasie van jou maandelikse inkomste, en daarom baie belangrik om langs die rugbyveld te noem, net om seker te maak die ander ouens weet jy het ook.
Tackle” kan ook in dieselfde sin gebruik word as “Block & …” en is daardie apparaat waarmee die ou Ford se enjin uitgehys word, om daai drieliterenjin weer reg te maak.  As jy hulp nodig het met die uithys van ‘n enjin, en jy het nie die regte gereedskap nie, dan is dit wat jy skree. Gewoonlik is die kans goed met al die manne daar by die rugby dat iemand se kans sien om jou te help na die game. Dit gaan gewoonlik ‘n sixpack kos.
“Los my kind!” In ons gemeenskap kan dit nogal gereeld gehoor word, en dit is baie belangrik om dit te sê. Die meeste is neefs, maak nie saak van watter dorp af hulle kom nie. Daar is selfs heelwat wat halfbroers kan wees. En daarom, voordat dit te liefdevol op die veld begin lyk, is dit goeie raad om mekaar eerder uit te los.  Dit word soms ook gehoor as een van die slotte met sy toks se skerp studs besig is om trampolien te spring op jou kind se kop. Die rede waarom die staking van aktiwiteite aangevra word, is al is dit waar dat “chicks digs scars”  is die dokter op die dorp se naweektariewe redelik hoog om oop wonde toe te werk. Daardie geld kon eerder ‘n hele paar bottels Klippies gekoop het, wat baie meer sinvolle aanwending van jou staatstoelae behels.
Vlagman jou dief!” Die vlagman is amper soos die ref, hy hol net  langs die veld en nie op die veld nie. Sy misdaadgeskiedenis is gewoonlik erg onder verdenking, maar dit kan ook verwys na ‘n episode toe hy ses jaar oud was in ‘n winkel soos Jan Twak s’n. Op die platteland het die mense lang geheues. Dit word nog steeds teen een familie in ons dorp gehou dat hulle mense “Joiners” in die Boere-oorlog was- al is dit al vyf geslagte terug.
“Jou ma…!” gewoonlik maak dit die mense in ons gemeenskap baie kwaad. Die rede daarvoor is omdat die moeder onder bespreking  ‘n baie gerespekteerde stut in die dorpspan is, en niemand mors met ons rugbyhelde nie!

Julle kan gerus maar help om te sê wat die ouers daar in julle omgewing  langs die veld aanvang. Ek kan nie op die oomblik  nog onthou nie, want gewoonlik as ek so vir die mammas begin giggel, dan dink die manne ek lê by hulle vrouens aan. Dan moet ek gewoonlik eers rou steak op my oë gaan sit om wel my gemeente die volgende oggend te kan raaksien as ek oor die sonde van die mensdom vir hulle moet preek.

Die jagtog…

Ek weet, ek weet, dis ‘n baie sensitiewe saak in ons samelewing. Ek verstaan dit eintlik glad nie, want ons is volgens alle misdaadstatistieke in elk geval die mees geweldadige nasie op die derde planeet rondom Sol. Volgens die Hitchhikers Guide to the Universe kan die Vogons dalk so bietjie erger wees as Suid- Afrikaners, synde dat hulle eendag ons planeet gaan sloop om ‘n intersterlike hoofweg te bou, maar dit lê nog in die toekoms. Ek gaan dit in elk geval waag en weer skryf oor my laaste jagtog.

Nou kyk, jag is ‘n ding waarvoor jy deeglik moet beplan.

In die natuur het die prooi meestal al die sensoriese voordele bo die Regoplopende Aap met Probleme (Ramp). Hulle sien meestal beter. Sommiges hoor beter, omtrent almal ruik beter, ek weet nou nie of hulle beter kan proe nie, ons het immers Masterchef uitgevind… En die meeste teel ook beter as ons… maar dis ‘n ander storie, nie vir sensitiewe kykers nie, netnou rate hulle my blog as “adult content”- o nee wag, dis blogger…

Om te gaan jag moet jy baie goed voorberei. Dis verkieslik om vir ‘n paar dae nie meer te bad, te skeer of tande te borsel nie. Die prooi kan jou mos ruik, sien. Kleredrag is uiters belangrik. Camo’s werk eintlik glad nie, om een of ander rede kan hulle die kleur blou nie sien nie. So kry vir jou ‘n Johnson’s overall by die Koöperasie, die soort wat mekeniks geniet, die een met die broek en die baadjie wat jou bierpens so mooi laat uithang. Skoene is baie belangrik, anders hoor hulle jou ver aankom. Ek vind dat die wit gumboots wat in melkerye en slaghuise gebruik word, se sole die minste geraas maak, dis juis rubbersole om nie te gly in die bloed nie…  Omdat jag gewoonlik in gevaarlike terrein plaasvind, is dit ook wenslik om ‘n hardehoed te dra, die soort wat op die boupersele gebruik word, is perfek. Onthou net om ‘n blou ene te koop, dan kan jy hom ook dra by die Bulle en die Titans se wedstryde.  En die prooi kan jou nie sien nie, sien?

Wanneer jy op die jagtog vertrek, is daar ‘n paar goeters wat die jag aansienlik vergemaklik.  ‘n Man kan dors word langs die pad. Dis hoekom jy by jou plaaslike sportwinkel twee fietsrywaterbottels moet koop, kompleet met die brackets waarin dit kom.  Die fiets is opsioneel ekstra, maar watter aap gaan jag nou met ‘n fiets? En as jy met ‘n fiets wil gaan jag, het jy ‘n fietsrybroek nodig wat keer dat jy nie deurskuur “chafe” nie.  Kan jy dink wat gaan ander jagters sê as jy met ‘n fietsrybroek opdaag by die jagveld? Los die fiets, in hemelsnaam! MAar die waterbottels en die brackets is baie belangrik. Hierdie twee brackets pop rivet jy bo-op die blou hardehoed vas. Luister nou mooi, want hierdie moet ek fluister. Gaan vanaand na jou buurman se tuin toe. Sny so 2 stukke van ongeveer 1 meter elk uit sy tuinslang uit. Maar sny dit in die middel uit, want die kante het dalk net in hondebolle gelê. Die middel is gewoonlik veilig en higiënies.  Ek hoef dit seker nie hardop te sê nie: moenie dat hy jou sien nie!  Anders gaan hy dalk net biltong verwag. Moenie dat hy jou sien nie, dis veiliger…

Jy neem nou die twee waterbottels, en die boor wat jy twee jaar gelede by die ander buurman geleen het vir die middag, en dan boor jy ‘n 12 mm gaatjie in elke fietsrywaterbottel. Dis nou nadat jy die oorspronklike tepel uit hom uitgetrek het, jy vergroot basies net die gat. Hoekom soveel moeite? As jy jag moet jou hande los wees, domkop! Wapenbeheer! Jy druk nou die een kant van die tuinslang in tot onder. Dan vul jy die linkerkantste een met Klipdrift. Die regterkantste een met Coke. EN dan neem jy silikon seëlaar en seël die tuinslang mooi vas in die gat in die waterbottel.  As jy nou fensie wil wees, dan kry jy by die tuinwinkel een van daardie fittings wat een tuinslang in twee laat verdeel. Dit werk nou net andersom- twee tuinslange word een- sit nog so klein stukkie tuinslang aan die een kant- as jy daar suig, gaan jy dan brêndie en Coke kry, jy hoef dit nie eers te gaan skink nie. Plaas dit alles op jou hardehoed.

Melkstewels, Johnsons oorpak, hardehoed met brêndie en Coke- nou is jy geklee vir die jag. Amper vergeet ek- los maar die onderbroek uit- hy kan jou dalk ook net deurskuur, en as ‘n man jag, moet daar so min as moontlik irritasies wees wat jou verhinder om by jou einddoel seëvierend te arriveer. Maar dis net kleredrag. Nou het jy bykomstighede nodig: jy moet ‘n skerp mes saamneem. Elke jagter weet hoekom, ter wille van sensitiewe lesers sal ek nie uitbrei nie. Maak hom met sy skede vas aan jou belt. Dan ‘n flits- ‘n mynwerkerslamp op jou hardehoed hou ook jou hande los as dit ‘n nagjag is, soos hierdie een wat ek probeer uitkom by om die storie van te vertel. ‘n Lamp is baie belangrik, want hulle sien baie beter as jy in die donker. In jou gatsak moet jy ‘n halwe rol toiletpapier sit, Haal net die rolletjie uit, dan druk hy plat. Hoekom? Ag kom nou! Wil jy eerder ‘n doringtak gebruik?  Ek beveel ook daardie pienk pilletjies van my vrou aan om saam te neem- daardie wat sy drink as ek haar so opstress. Hulle werk soos betablokkers, en maak dat jy nie so bewe as jy aanlê nie. Dit help baie om ‘n “steady hand” te hê as jy jag. En as jy van nature senuweeagtig raak as jy jag, is pienk pilletjies noodsaaklik. Gaan sien jou apteker of die kinders by die skool se vriendelike drugdealer.

Wat is daar nog? Wapens! O hemel tog, jy moenie wapens vergeet nie. Behalwe as jy nou regtig die prooi kaalhande wil aanpak, maar sedert die eerste mens die eerste boomtak afgebreek het, doen ons dit nie meer so nie. Jou keuse van wapems  hang natuurlik baie af van die prooi wat jy moet gaan aanpak. Gaan na die winkels toe wat hierdie goeters verkoop, hulle sal jou baie beter as ek kan inlig oor wat die beste stopkrag gaan hê vir jou prooi.

Nou uiteindelik: die JAgtog. Skies ek het so gedraai om by die punt uit te kom, ek was net bang iemand gaan probeer dit tuis herhaal sonder om deeglik voorbereid te wees. Ek sal so sleg voel as jy seerkry omdat jy nie reg voorbereid was nie.

Dit was gisteraand 11 uur. Ek het eers Hemelvaart meditatiewe nagmaal gehou van 18h00- 21h00. Dit was pragtig- die rustige musiek, die mooi aanbieding op Powerpoint, en al die mense wat… ekskuus- die Jagtog.  Sorry! Ek het seker nog steeds ADHD. My graad 2 juffrou het altyd gesê…

Die jagtog. Gisteraand was ek uiteindelik aangetrek vir die jag. Ek het presies geweet watter prooi vir my wag. Ek het die nodige wapentuig gaan aankoop, en die toepaslike klere aangetrek, Ek het vir dae lank nie geskeer of tande geborsel nie- is dit hoekom almal by die nagmaal my so skeef aangekyk het?  Maar ek wou nie hê hulle moet my ruik nie. Ek het die jagveld saggies bekruip, in pikdonkerte- ek wou nie hê hulle moet my sien nie. Die wit gumboots se rooi rubbersole was geruisloos, hulle het my nie gehoor nie. Hulle het my verseker ook nie geproe nie.  Dit was mens teen dier, die oudste stryd , sintuig teen sintuig, instink teen instink. Saggies, o so saggies het ek nader gekruip, wapen gereed, tot ek in trefafstand was.

O ja, op hierdie punt moet ek net ietsie sê oor snellerbeheer. Jy moet nooit ‘n sneller trek nie, dan is jy dadelik van teiken af. Jy moet stadig, egalig druk toepas met die voorvinger.  Wanneer die wapen afgaan, moet dit jou eintlik verbaas. Asemhaling op hierdie punt is krities belangrik. Ek vind dit help om diep asem in te trek, ‘n oomblik vas te hou, en dan stadig uit te blaas. Halfpad deur die uitblaas behoort jou vinger instinktief die sneller te aktiveer om sy werk te doen.

Daar was ek toe, na ‘n baie sagte, netjiese benadering tot die jagterrein. Ek het windaf bekruip, dat hulle my nie hoor nie, tot ek in trefafstand was. Toe het ek die mynlampie vinnig aangeskakel, aangelê, en sewe van hulle uitgehaal!

En dit, liewe vriende, is die storie van die sewe kakkerlakke wat ek gisteraand in die kombuis uitgehaal het met die blikkie Doom. ..

Resep vir kakkerlakbiltong, vir as die buurman jou gevang het: Ekskuus dis in Engels…

Ingredients needed:

  • Cockroaches- as much as needed
  • Rock Salt
  • Coarse Ground Black Pepper
  • Coarse Ground Coriander
  • Vinegar (preferably Apple-Cider vinegar)

First, be sure to sterilize all your hooks, knives, and working surfaces by washing well in hot water and soap.

Get some half-inch thick strips of Cockroach. Make sure it’s cut with the grain. The pieces should be about 6 inches long. Liberally sprinkle rock-salt on each side of the pieces of meat and let them stand for an hour. The longer you let it stand the saltier it will become.

After the hour, scrape off all the excess salt with a knife (don’t soak it in water!). Then get some vinegar – preferably apple-cider vinegar, but any vinegar will do. Put some vinegar in a bowl and brush (do not dip) the strips of meat with the vinegar – just so that the meat is covered in the vinegar. Hold the biltong up so that the excess vinegar drips off.

Then sprinkle ground pepper and ground coriander over the meat on all sides.

If you want that special tasting biltong which you remember from back home, then you may like to try the special spice mixtures used by South African butchers which is available from our online store (UK only) at http://www.biltongbox.com/shop/. These spice mixtures give excellent and consistant results with no salting necessary – just sprinkle the spice on, and hang.

Once you have done this, the meat is ready to dry. There are several methods of drying. One is to hang it up on a line in a cool place and have a fan blow on it. This method is a bit difficult because if the air is humid the meat can spoil. The method I use is a home-made ‘Biltong Box’. This is basically a sealed wooden box (you can use cardboard if you like) with holes in it and a 60w lightbulb inside. Just hang the meat at the top of the box, and leave the lightbulb on at the bottom. The heat from the lightbulb helps dry the meat (even in humid weather) in about 3-4 days. Remember, the box must be closed on all 6 sides except for a few holes (as per the diagram below). The whole theory behind this method is that hot dry air rises thus drying the biltong. The holes are quite important as they promote good air circulation in the box.

Ter wille van deursigtigheid moet ek net noem dat daar ongemerk produkplasing plaasgevind het in hierdie blog. Dit is geborg deur onder andere Klipdrift, die Coca Cola Botteling Company, Johnsons Workwear, Doom, daardie ouens wat wit gumboots met rooi rubbersole maak (hulle borgskap wys nog nie op my bankrekening nie, daarom word hulle naam weerhou)  en Biltongbox.

Ek gee graag ook erkenning aan die Biltongbox vir hierdie uitstekende resep, gaan probeer dit gerus tuis. Indien kakkerlak nie genoeg is nie, kan in ekstreme gevalle bees of wildsbok probeer word as alternatief.

Na die Kerkraadsvergadering…

My koppie voel maar dik vanoggend. Gisteraand het ons Kerkraadsvergadering gehad. En Kerkraadsvergadering is deesdae glad nie ‘n slegte ervaring by ons gemeente nie. Ons het ‘n baie lekker toegewyde span manne en vroue wat saam leiding neem, en die onderlinge verhoudinge maak dit ‘n baie spesiale ervaring. Maar dit was nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe dit bolangs baie goed gelyk het, maar onder die oppervlakte soms baie seer gemaak het. Daar was al kerkraadsvergaderings wat ek onder deur die agterdeur die huis in gekruip het, en gewonder het hoekom die Here se liewe kindertjies so kan optree…

Gelukkig is daardie dae verby!  Die letsels is nog nie heeltemal gesond nie, ek het nog steeds daardie vrees vir die onbekende faktore wat ‘n kerkraadsvergadering skielik kan omswaai- die menslike natuur wat skielik die Gees se werking kan belemmer.  En ek is die Voorsitter van die Kerkraad. Dit het sy eie stuk spanning in my gemoed, al dink ek ek het al gegroei in hierdie rol. Dit kom steeds nie maklik vir my om ‘n voorsitter te wees nie.  Maar ek is bly vir elke kerkraadsvergadering wat suksesvol afgesluit is. Daar is nog net 78 van hulle oor voor ek kan aftree!

Die kerkraadsvergadering het ook nie buitengewoon lank aangehou nie. Eintlik was ons al half nege klaar, dit het ‘n besoek van ons ouditeur ingesluit, en ons open ‘n Kerkraadsvergadering met omtrent ‘n driekwartuur se “Wandel in die Woord”… Na die vergadering het ons saam koffie en toebroodjies geniet, en ek was al nege uur tuis gewees. Ek weet van kerkrade wat eers middernag huis toe gaan na ‘n helse faait, gelukkig gebeur dit nie by ons nie.

Maar wanneer ek na ‘n Kerkraadsvergadering tuis kom, is ek gewoonlik hier binne maar soos ‘n styf opgewende veer. Pastoriemoeder het vir my ‘n glasie wyn geskink, en toe kom ek nog iets agter: Liewe hemel, hierdie desertwyntjie mag baie lekker wees, maar dit word sommer dadelik “Gout”, en veral my linkerknie gee deesdae groot moeilikheid na ‘n glasie rooi… ouderdom is verseker ‘n blixem, soos verlede week berig. Pastoriemoeder was baie moeg na ‘n harde dag by haar skool, en het sommer vinnig in die bed gaan klim, En daar sit ek- effens opgewen, die wieletjie draai en die hamstertjie hardloop voluit, asof hy op Red Bull is…

Ek vat toe maar die James Patterson boek wat ons nou die dag op ‘n tweedehandse tafel raakgeloop het vir ‘n bargain: I, Alex Cross…

Ek kan baie vinnig lees. Ek het tussen nege en twaalf die boek klaargemaak- meer as 370 bladsye.  Maar toe voel ek eers wakker!

Ek het maar magnesiumpilletjies gaan sluk vir die rustelose bene, en in die bed gaan lê en rondrol. So van half een tot vier geslaap, toe lê ek alweer wakker. Ek gaan lê toe maar voor die televisie, en kyk op History Channel na die slag tussen die Aussies en die Japanners by Papa Nieu Gieunië in 1942… tot ek uiteindelik weer daar aan die slaap geraak het, tot sesuur, as Vroulief en die seuns begin regmaak vir almal se skole… Dit was ‘n LANG nag!  Nou is ek vaak en moeg!

Ek vat dit maar rustig op hierdie Hemelvaartsdag, ons kerkkantoor is uit beginsel uit toe, en ek voel ook nie te lus vir werk nie. Ek en kollega gaan netnou op ons motorfietse rondry, dalk die buurdorp se dominees gaan opkommandeeer vir koffie. JA koffie, nie moutsappies nie, want van 18h00 tot 21h00 vanaand staan ons twee in die gemeente en bedien nagmaal met ‘n meditatiewe, eie-tyd-eie-teiken nagmaal. Kom wanneer jy wil, kom sit en geniet die musiek, lees die teksgedeelte self deur, word stil saam met jou gesin of jou omgeegroep,  en word dan met nagmaal bedien.

Ek hoop jou dag daar waar jy jou daaglikse brood in die sweet van jou aangesig verdien, is ook nie te sleg nie- maak iets mooi daarvan…

 

Die voertuig uit die hel uit om hemelse werk te doen…

Die opdrag van die Admin kommissie was eenvoudig: ons soek ‘n goedkoop bakkie.  Daar moet kos aangery word vir ons hulpverlenings aksie. Sondag moet sendelinge rondgery word op die plase. En soms wil ons tafels vervoer vir die gemeente se funksies, daar waar ons heerlik vreetsaam is.

Dadelik het ek in my geestesoog gesien hoe ons nou ‘n pragtige tweedehandse Hilux bakkie gaan koop. ‘n 3 liter Diesel, wat sal hou tot by die Oordeelsdag, en wat tonne en tonne kos gaan aanry vir honger mense, en ‘n miljoen kilometer gaan doen om vir mense Goeie Nuus te vertel. Maar nee, ek het alweer verkeerd verstaan.

Die begroting is toe nie in Hilux klas nie. Ook nie Amarok, of Isuzu nie. Nee, selfs nie eers Mahindra of Tata nie.

En so word ek toe die gelukkige wenner om ons gemeente se nuwe voertuig in Pretoria te gaan haal, terwyl ek en Kollega mos nou juis daar is om kreatief oud te word…

Die wenner van die Soek ‘n Bakkie kompetisie is… (drumroll…)

‘n 2007 Chana bakkie!

Nogal by die agente in Voortrekkersweg gekoop!

Kyk, ‘n Chana bakkie is veronderstel om baie goed te wees. Toe die goed op die mark gekom het, was daar ‘n konvooi van Beijing af Kaapstad toe deur Afrika se bose sandpaaie heen. Nie een het uitgebrand langs die pad nie. Nie een is gehijack langs Soweto nie. Niemand het een gesteel, en die kajuit met ‘n grinder afgesny, ‘n jong boompie met gesteelde doringdraad vasgemaak en twee donkies ingespan nie.  Almal het hier uitgekom! (Na gisteraand het ek GROOT RESPEK vir die bestuurders op daardie ekspidisie!)

Maar in elk geval.

ONs spesifieke Chana bakkie het 77000 km op. Sy enjin het al een keer geseize by die vorige eienaar. Maar dis mos nie ‘n probleem nie, hy is oorgedoen, en ons kry ‘n 10 000 km meganiese waarborg.

Die Chana lyk amper groot met sy hoë kajuit. Tot jy in daardie kajuit inklim. Jy sit bo-op die stuurwiel. En as jy die sitplek wil terugskuif, kan jy nie regtig nie, die agterruit is reg agter jou kop. Die omies met die groter biermagies in die gemeente gaan verseker nie hierdie wa kan bestuur nie, al wil hulle en ons dit dalk hê.

Onse Chana het ‘n nuwe radio in, op aandrang van kollega. Maar die “aerial” is steeds afgebreek. In Voortrekkersweg vang hy Jacaranda mooi op. Tot by die steengroewe daar by Montana, dan maak hy net gssjhghsshhsshhsshhhshkksshhsskksggshssshhsshshshshshshshssh.

Die voertuig is ook gisteroggend deur die Toets. Maar sy linker voorste flikkerlig het intussen gedros. En die voorste skokbrekers (indien enige) is nie baie lekker nie.

Ek het vir Kollega opdrag gegee om vir my Geliefde mooi te vertel hoekom ek so vroeg deur die Jordaan is, indien dit nou my lot sou wees. Met ‘n vinnige gebed het ek die kajuit bestyg, en met ‘n swaar gemoed die deur vir die laaste keer (soos ek  gevrees het op daardie oomblik) agter my toegemaak.

Ons het net na skemer in die pad Noorde toe geval.  Nog voordat ons by die eerste tolhek gekom het, het ek agtergekom hoekom Chana nie te veel moeite doen met die radio nie.  Jy sit bo-op die 1300 enjintjie.  Tussen jou en daardie klein enjintjie, wat ek gevrees het enige oomblik soos Chernobyl gaan ontplof en al my vreugde vir die volgende 40 jaar van getroude lewe gaan ontneem, is ‘n baie dun sitplekkie.  Die Chinese wou nie graag hê die bestuurders van hulle voertuie moet terugsak in die sitplek, en die rit geniet nie. O nee, hulle moet regop sit, sodat hulle elke stampie in die pad op die 3e en 4e rugwerkwel kan beleef.  ‘n Rit moet so vinnig as moontlik klaargemaak word, produktiwiteit is immers uiters belangrik vir die Chinese, om die bose Amerika te onttroon as die wêreld se ekonomiese reus…  Die Chana as afleweringsvoertuig het baie met China se produktiwiteit te doen.

Nou: die enjin. Ons spesifieke enjin is pas oorgedoen. ‘n Mens kan dit ruik. Daar is verseker olie teenwoordig in die enjin hier kort duskant my suidpool.  En daardie enjin: ‘n mens kan liedere daaroor skryf wat tot in ewigheid om die kampvure gesing sal word. ‘n Mens gaan verskriklik vinnig deur die ratte. Reeds op 40 sit ‘n mens oor in die hoogste rat. En dan moet jy hom trap, soos jy mos die buurman se kat se stert vastrap as jy hom vang waar hy jou steak onder die tafel by die braaivleisvuur sit en eet as jy ‘n biertjie gaan haal het. Die klank is dieselfde. Die oomblik as jy in 5e rat kom, moet jy hom trap. Pappie, jy moet hom TRAP! Stadig, soos die ekonomiese groei van Suid-Afrika, klim daardie naaldjie op na 50 toe.  Dan, soos die omgekeerde van gewigsverlies na Kersfees, stadig, o so stadig na 60 toe. Uiteindelik bereik ‘n mens die fenominale spoed van 80. Jy moet daardie enjin hoor. Dit klink soos die geskreeu van drie duisend demone wat uit die vark by Gadara uitgedryf is. Dit is ‘n onaardse geluid, en dit resoneer deur die hele kajuit. ‘n Mens se oordromme sukkel om dit te hou! En op hierdie oomblik val die Chinese radio se gesiggie af, maarjy kom dit nie agter nie.  Nog 100 km huis toe!

By die tolhekke soek ‘n mens verwoed na die remme. Ok, mens kan seker nie F1 Ferrari remstelsels verwag nie, met Carbon remskoene en hitte dissipasie eienskappe nie. Maar dit sou help as daar darem IETS was om mee te rem! Ons sal seker nog die rekening van Sanral kry vir die “boom” daar by die Carousel.

Toe ek, dit voel asof die rit ‘n volle dagreis was, uiteindelik in onse tuisdorp inry, maak daardie Chana die vreemdste geluide. Die spoedmeter werk wel, maar hy hop so rond dat ‘n mens enige iets tussen 15 en 55 in die hoofstraat afgery het. En iets rumoer daar agter die spoedmeter, hy maak die vreemdste geluid, asof daar sewe rotte besig is om die spoedkabel en mekaar se sterte af te vreet.

Ek het met ‘n groot verligting uiteindelik by my huis aangekom met die Chana. Nadat die enjin uiteindelik opgedraai het, het daar ‘n hemelse stilte in die kajuit neergedaal. Ek het ‘n lang dankgebed gesê, dankbaar dat ek darem ‘n kans sal hê om eendag my kleinkinders te groet voor ek die laaste reis deur die Jordaan meemaak. Toe ek uitklim, het my bene gebewe. Ek het soos Pous Johannes Paulus II eers op my knieë gegaan en die grond gesoen, so dankbaar dat dit nie met my bloed deurdrenk is nie.

En nou is die bakkie in ons dorp, waar hy maar so 50 km per week gaan ry agter kos en sending aan. Hopelik kry ons so drie jaar se diens uit hom uit. Hopelik hoef ek nie te gereeld agter die stuurwiel in te klim nie.

Nadat ek genoemde voertuig 120 km bestuur het, wil ek net op aandag staan en die bestuurders van die Chana Beijing Ekspidisie salueer- julle ouens kan!  Ek sou dit nie maak tot by Beitbrug nie!

Die Psigiater sê…

Vanoggend by die Kreatiewe Verouderingkursus het ons aan die voete van ‘n Psigiater gesit. Ons het geleer oor die Psigiatriese wêreld waarin die ouer wordende persoon hom of haarself bevind.

Ek kan vir julle sê: ek is ‘n diep bekommerde man. Bekommerd, oor die pad na oudword met soveel rotse besaai is. En nou wil ek julle ook opsaal met die bekommernis oor JOU oudag.

1. Daar is net 350 Psigiaters in ons land. Daar kort 10 000. En die gemiddelde afspraak kos R1400. Die meeste van ons is dadelik in ons moer as ons ‘n Psigiater nodig het.

2. As ‘n mens meer as drie keer per week alkohol gebruik, is jy ‘n alkoholis. As dit meer as drie doppe per sessie is, is dit nogal ernstig. Die twee aande van die kursus het my en kollega klaar op die rand van GROOT moeilikheid!

3. Die simptome van depressie is:
* moeilikheid om te slaap
* geïrriteerdheid
* tranerigheid
* gevoelens van skuld en hopeloosheid
* onvermoë om te konsentreer
*moegheid en energieloos
* herhalende gedagtes van dood of selfmoord
(O liewe hemel…) En dan die enigste teken dat ek nie depressie het nie:
* verminderde aptyt en gewigsverlies…

4. Die een ding wat Alzheimers teenwerk is om hardop te lees (geen Ds het dus Alzheimers nie…)

5. Ouderdom onder natuurlike omstandighede gaan nie met geheueverlies gepaard nie. ek wou nog iets hieroor gesê het… Wat was dit nou weer?

Die Psigiater het nog ‘n hele paar dinge gesê, maar toe pass ek uit as gevolg van traumatiese breinoorlading. Die vlakke van breinoordragstowwe te wete serotonien, dopamien en noradrenalien is glo normaal, maar ek het nie genoeg reseptore nie.

Die faktore en reseptore en professore maak die ouer word proses al hoe moeiliker vir my jong onskuldige gemoed. En ek het omtrent al die simptome in die DSM- IV, maar met die koste van 1 uur se Psigiatriese hulp kan ek en ou Huisbesoek die Kaap haal- baie goeie terapie om die lewe van die motorfiets se begrypende rug af te beleef- soveel deernis en empatie wat my Aprilia altyd na my toe uitstraal!

Daarom onderneem ek vanoggend om hierdie groot waarheid aan te gryp en uit te leef: ” It is never too late to have a happy childhood…”