Drome kan ook Nagmerries word…

En so het die Donkie ALWEER sy kop teen dieselfde klip gestamp. Wiele vang my elke keer…

Dit het so gebeur: Lees verder en treur saam met my…

Gereelde lesers weet van die tweede groot liefde in my lewe, die skelmpie van my, die Italiaanse meisie met die verleidelike kurwes. Ou Huisbesoek, my geliefde Aprilia Pegaso 650. Ek is baie, baie lief vir haar. Daar is eintlik net een nadeeltjie met haar- sy is net te klein. Sy kan nie my en my Geliefde saam dra Kaap toe nie. Sy kan, maar dit sou baie ongemaklik wees.

Daarom is die droom om eendag ‘n groter motorfiets te koop, verkieslik ‘n BMW anderkant 1100 cc.

En so is net ek en my geliefde mos nou saam na skoonma toe vir verlede naweek. En soos gewoonlik gaan maak ek laas Saterdag by Speedbike in Klerksdorp ‘n draai, vir my normale begeersessie. Daar staan sy toe- die Duitse Mãdchen wat my wil afvry van die Italiaanse senorita…

Kyk maar op Bike SA se Mei uitgawe agterblad- tweede ry, vyfde motorfiets. ‘N Pragtige rooi BMW R 1100 R. 2003 model wat eers in 2008 geregistreer is. Net 5700 km op die klok. Met ‘n topboks. Lyk sommer baie mooi- vir R39995 op die vloer. Dadelik begin die somme- ek kan waarskynlik R 25000 vir Huisbesoek kry, ‘n soortgelyke model het onlans vir R 28000 op Gumtree verkoop. Dus kort ek net R15000 uit my huislening vir ‘n amper splinternuwe motorfiets.

Ek jaag dadelik na Skoonma se huis toe en gaan laai Geliefde op. Sy kyk na die fiets, na my, en sé dadelik ja. Maar ek kan nie die fiets vir ‘n toetsrit vat nie, die Grootbaas is nie daar nie. Maar daar is ook ‘n ander potensiële koper uit Orkney wat belangstel. Slim ekke betaal net daar ‘n R 20 000 deposito, Sondag weer ‘n R20 000 en Maandag die laaste R 1850 vir registrasie. Woensdag wys die bedrag op hulle rekening, die fiets is myne! Ek is opgewonde, laat diens vir Huisbesoek en adverteer haar op die Wild Dogs forum.

Vanoggend ry ek opgewonde saam met gemeentelede wat op pad is Kimberley toe om te gaan jag. Hulle sal my in Klerksdorp afgooi. Ek gaan sommer gou terugry huis toe op die Mädchen se rug. Ons kom so half vier in Klerksdorp aan. Ek teken die laaste vorms, en stap nader aan die fiets. Toe ek my rugsakkie in die Topbox wil sit- eerste verrassing- dis sommer ‘n Vuka scooter se topboks- not cool! Ek staart haar vir die eerste keer, en vertrek rigting huiswaarts. Maar voor Stilfontein sien ek dit: die odometer bly staan op 5699 km. Die tripmeter loop mooi. Maar die afstand? Niks. Ek besluit daar en dan om om te draai. Draai die oor, en daardie Duitse Dame hardloop alte mooi! Maar dit tref my- ek het nie ‘n idee hoeveel kilometer hierdie fiets al gedoen het nie! Die odometer moet reg wees, anders gaan ek nie weet wanneer en watter dienste die fiets nodig het nie…

Ek kom terug by Speedbike, en vertel vir Grootbaas my hartseer verhaal. Ons gaan kyk, en Grootbaas vat haar vir ‘n toetsrit om my storie te toets. Maar ek is reg… Ons stap saam Parte toe, soek op die rekenaar, – daar is nie op die oomblik enige speedos nuut in die land beskikbaar nie. Ek het twee opsies. Hulle bestel “n nuwe speedo en sal dit gratis insit- maar dit kos my ‘n 700 km trip Klerksdorp toe en terug. Of ons kan die koop kanselleer- dan maak hulle dit reg- daar is steeds ander belangstellende kopers.

So in die verbygaan het ek gesien die hooflig se lens is gekraak. Onbekende km op die fiets. Vuka topboks…

Wat moes ek besluit? Gisteraand het ek vir my vrou gesé die tydsberekening op hierdie fiets is nie reg nie. Al kos ‘n byna splinternuwe fiets my net R15000, ‘n fiets wat ek BEGEER met my hele hart- ek voel nie reg nie en ek weet nie hoekom nie.

Ek het nogal gebid oor die saak en regtig wysheid gevra. Toe Grootbaas van Speedbike aanbied om die koop te kanselleer, het ek my antwoord gehad.

Ek het skielik soos ‘n boemelaar gevoel- op straat sonder wiele. Gelukkig het Skoonma my kom oplaai, en ek slaap in haar huis oor vanaand. More haal ek ‘n bussie wat via OR Tambo Pretoria toe gaan. Dan sal my Geliefde my daar kom oplaai.

Ek het ALWEER ‘n paar lesse geleer in die proses:
1. Daar sal altyd weer ‘n bargain wees.
2. Moenie oorhaastig duur besluite neem nie!
3. Vat ‘n voertuig altyd vir ‘n toetsrit voor jy koop!
4. Luister vir die stemmetjie in jou kop!
5. Waardeer weer vir ‘n slag wat jy wel het…

Daar is seker nog. Maar ek is nou vakenmoeg…

Sal by die huis ‘n foto van die Mädchen opsit dat julle kan sien hoekom ek so lelik in die strik getrap het.

NS- Speedbike in Klerksdorp het my deurentyd goed behandel, ek het glad nie beleef dat hulle iets aan my probeer afsmeer nie. Ek waardeer die terugkoop van die motorfiets.

Uiteindelik kan ek net sé: ek het vandag vir 50 km ‘n BMW 1100 Roadster besit- en hulle ry baie lekker! Miskien…. Eendag….

9 thoughts on “Drome kan ook Nagmerries word…

  1. Ai tog. So het ons almal maar ons swakhede… Jammer Donkie, die een was nie vir jou nie. Soms is daar Iemand anders wat vir ons besluit wanneer ons swak is.

  2. Ek hoop jy het seker gemaak jou geld is ook terug in jou rekening 😉
    Ek is regtig jammer dit het so afgeloop, maar jy is BAIE gelukkig dat als goed geëindig het. Ek hoop jy het vir Huisbesoek mooi om verskoning gaan vra!

    • Sit nou ver van die huis af in ‘n vreemde land en wens ek kan van die varke se peule kry… Oeps, verkeerde verhaal…. Moet more eers tuis kom, dan sal ek ou Huisbesoek mooi vra om my te vergewe… En sy sal! Sy het ‘n rein hartjie…

  3. Ek hoor BMW motorfietse van 2003 is bitter gevaarlik. Gelukkig vir jou het jy net 50 km gery en nie 2 keer op ‘n 2 uur lange trip nie. 😉

    Ek het ook al geleer om eers oor ‘n koop te slaap. Anders maak ‘n mens droog. In die daglig sien jy die strikke wat deur begeerte verblind was. Bly jy het redelik skadeloos daar deur gekom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s