Ouers langs die rugbyveld…

Ons Hoërskool het teen die beroemde Kopstamperskool rugby gespeel gisteraand, en al is hulle bekend as ‘n uitstekende sportskool,, met ‘n sportakademie, het ons eerste span hulle 19-18 in ‘n epiese wedstryd gewen. Dit was eintlik baie mooi rugby aan weerskante. Maar wat ek eintlik gewoonlik geniet, en soms baie geïrriteerd mee raak, is die ouers se optrede langs die veld. Daarom het ek hierdie goue oue uit my ou Blogspot gaan opdiep om met julle te deel…

______________________________________________

Moet hierdie een maar op die anonieme blog sit, anders gaan ek geblissem word in onse dorpie…

Het jy al ooit gesien hoe emosionele saak is skolerugby? Dit begin daar voorskools met die bulletjierugby, waar daar spesiale dae is waar die jong mannetjies rugby kan pleeg. Een rugbyveld word in vier opgedeel- die kantlyn word wenstrepe, en die kwartlyne en middellyn word nuwe kantlyne. Dan draf daar  ‘n klomp seuntjies met dieselfde trui op van die een kant, en ‘n  klomp seuntjies met ander truie van die anderkant. Die fluitjie blaas, en skielik sit jy met ‘n groot losskrum in die middel van die veld. Dit gryp en los, skop en slaan, huil en spoeg. Sulke woorde het jy nooit daar verwag nie! En dis net die mammies langs die veld. Op die veld gaan dit amper net so erg.

En so vorder Boetie in sy rugbyloopbaan, daar vanaf sy roemryke begin in die bulletjiefase (noem hulle dit in die Kaap windjie- fase en in Natal die guppy-fase? Is dit die katjies in die Vrystaat- ek was so lanklaas hier weg ek weet nie, kan iemand help?)  Ek onthou toe my oudste nog in daardie fase  was, het een van die ouens in die  huidige o-19 Bloubulle as standerd 5 seun die skoolhoof gehelp om af te rig. Hy het die seuntjies voor ‘n wedstryd herinner om te “fokus” en “die oog op die bal te hou.” My laaitie het nie geweet wat “fokus” beteken nie. Dit het vir hom soos verskriklike vloek geklink.  Maar toe hy drie was, het ek ook eendag vir hom gesê hy moet sy oog op die bal hou. En dadelik het hy die tennisbal in sy hand teen sy oog geplaas- gehoorsame seun! Ek wens die Bloubulle wil daardie lessie leer!

Deur die Laerskool heen is die mammies die hele tyd langs die veld. En daar tree hulle heeltemal anders op as in die kerk. ‘n Mens gaan hulle nie more herken as dieselfde dames as vandag nie. Nie waar hulle bloedjies bloei nie!

Vandag was Hoërskoolrugby in ons ou dorpie. Die aartsvyande het kom kuier. En hulle is vanjaar weer baie sterker as ons op die rugbyveld. Behalwe nou die onder 16 span, waar ons skool gewen het toe die wedstryd weens geweldadige spel gestop is. Ek vermoed dit was ‘n tegniese uitklophou. Dit gebeur mos maar in ‘n seun se lewe. Op 16 bruis die testosteroon deur ‘n man se are, en dit wat jy nie kan vry nie, wil jy slaan. Laat nou dertig van hulle op dieselfde stukkie aarde los op mekaar, en gooi ‘n ovaalvormige stuk leer tussen hulle in. En plaas so paar honderd baie aantreklike jong dames met sulke kort netbalrompies daar langs die veld. Hoe verwag hulle dat daar nie moeilikheid gaan wees nie?

Maar goed- terug by die ouers. Met hierdie groot industriële dorp se ouers soek ons nie skoor nie. Doodgewoon omdat daar BAIE meer van hulle is as ons. Iemand by ons gaan dalk net seerkry. Gewoonlik sit die verskillende skole se ouers weerskante van die veld, so ‘n mens hoor nie so mooi as iemand anders iets skree van ruk af jou kind se kop, en moenie dat hy ly nie.

Met een van ons ander buurdorpe, baie naby, en net so groot soos ons (dorp en skool) is dit ‘n ander storie, veral by hulle. Daar het verskeie ouers al in die koerante beland. Selfs ‘n gesiende dokter van daardie dorp is al uitgewys vir vuilspel langs die veld. Dominees en dokters slaan nie aan ander ouers nie. Maar soms vergeet ons- seker ook maar mens, né Dok…
Die opmerkings langs die veld bly egter altyd baie interessant. Van Melkbosstrand tot by Messina skree ouers seker maar dieselfde dinge vir hulle toekomstige Springbokke op die veld:
Die bal- die bal”- ja, ons almal vermoed daar was een, voor daai dik stut van die buurdorp hom ingesluk het…
“Clean, clean“- dit gebeur in ‘n losskrum wanneer jou neus per ongeluk teen die opposisie se slot se foefenjols vasgedruk word, en jy vermoed dat hy dalk ‘n ander onderbroek nodig het.
“Pass die bal!“- dit kom gewoonlik Noord van die Jukskeirivier voor, van ouers wat gereeld op Loftus kom, en Mnr Bostick Olivier in aksie sien. Hy, en talle ander, moet gewoonlik deur ‘n pappie herinner word dat die bal nie nou al saam met hom huis toe kan gaan nie. Erens in die verte is ‘n langverlore ou met ‘n nommer 14, en dié se mammie, wat dit so pas geskree het, wil darem een keer ook haar kind in aksie sien voor die Grim Reaper opdaag om haar te kom vat.
Knock! Knock”  Hierdie is gewoonlik om vir die ref ‘n grappie te vertel, gewoonlik omdat hy so ernstig lyk as hy daar met sy dun wit beentjies op die veld ronddraf, so ver weg van sy geliefde Engelse letterkunde klas af.
“Ref”– dis gewoonlik die onnoselste ou in die gemeenskap, wat nog nooit ‘n rugby reëlboek in sy lewe gesien het nie. Hy is gewoonlik erg bysiende, en baie  bevooroordeeld teen die span wat die meeste ouers op die pawiljoen het. Hy is of ‘n jong onderwysertjie wat nog nat agter die ore is, of iemand anders wat niks beter met sy Saterdagoggende kan doen nie .  Hy is gewoonlik skaars fiks genoeg om sewentig minute rond te hardloop, en vang ook ander onnoselhede aan op die veld.
Maak oop jou oë, ref!” ‘n hele paar van hierdie manne is berugte slaapwandelaars. Dit is soms nodig om hulle te help ontwaak, sodat hulle nie dalk seerkry as hulle skielik in die middel van ‘n rugbyveld wakker skrik nie. Dit is gewoonlik ‘n baie bedagsame ding om te sê langs onse rugbyveld.
“Tackle”– dit kan verskeie dinge beteken. Die eerste en sterkste moontlikheid is dat die skreeuer na sy visvangtoerusting verwys. In ons provinsie het al die toeskouers gewoonlik ‘n Hiluxbakkie met blou knaters aan, en visvanggoeters op die dak. Visvang is dalk so bietjie gewilder nog as rugby, want daar is meer tyd vir drink, en gewoonlik gebeur daar minder dinge rondom jou om die drank te laat mors. Jou “Fishing Tackle” is gewoonlik ‘n redelike fris persentasie van jou maandelikse inkomste, en daarom baie belangrik om langs die rugbyveld te noem, net om seker te maak die ander ouens weet jy het ook.
Tackle” kan ook in dieselfde sin gebruik word as “Block & …” en is daardie apparaat waarmee die ou Ford se enjin uitgehys word, om daai drieliterenjin weer reg te maak.  As jy hulp nodig het met die uithys van ‘n enjin, en jy het nie die regte gereedskap nie, dan is dit wat jy skree. Gewoonlik is die kans goed met al die manne daar by die rugby dat iemand se kans sien om jou te help na die game. Dit gaan gewoonlik ‘n sixpack kos.
“Los my kind!” In ons gemeenskap kan dit nogal gereeld gehoor word, en dit is baie belangrik om dit te sê. Die meeste is neefs, maak nie saak van watter dorp af hulle kom nie. Daar is selfs heelwat wat halfbroers kan wees. En daarom, voordat dit te liefdevol op die veld begin lyk, is dit goeie raad om mekaar eerder uit te los.  Dit word soms ook gehoor as een van die slotte met sy toks se skerp studs besig is om trampolien te spring op jou kind se kop. Die rede waarom die staking van aktiwiteite aangevra word, is al is dit waar dat “chicks digs scars”  is die dokter op die dorp se naweektariewe redelik hoog om oop wonde toe te werk. Daardie geld kon eerder ‘n hele paar bottels Klippies gekoop het, wat baie meer sinvolle aanwending van jou staatstoelae behels.
Vlagman jou dief!” Die vlagman is amper soos die ref, hy hol net  langs die veld en nie op die veld nie. Sy misdaadgeskiedenis is gewoonlik erg onder verdenking, maar dit kan ook verwys na ‘n episode toe hy ses jaar oud was in ‘n winkel soos Jan Twak s’n. Op die platteland het die mense lang geheues. Dit word nog steeds teen een familie in ons dorp gehou dat hulle mense “Joiners” in die Boere-oorlog was- al is dit al vyf geslagte terug.
“Jou ma…!” gewoonlik maak dit die mense in ons gemeenskap baie kwaad. Die rede daarvoor is omdat die moeder onder bespreking  ‘n baie gerespekteerde stut in die dorpspan is, en niemand mors met ons rugbyhelde nie!

Julle kan gerus maar help om te sê wat die ouers daar in julle omgewing  langs die veld aanvang. Ek kan nie op die oomblik  nog onthou nie, want gewoonlik as ek so vir die mammas begin giggel, dan dink die manne ek lê by hulle vrouens aan. Dan moet ek gewoonlik eers rou steak op my oë gaan sit om wel my gemeente die volgende oggend te kan raaksien as ek oor die sonde van die mensdom vir hulle moet preek.

2 thoughts on “Ouers langs die rugbyveld…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s