So in my depressiewe staat kry ek vanoggend eers ‘n oproep, en toe ‘n stroom eposse vanaf verskeie mense wat dit baie goed bedoel, mense wat werklik lief vir die Here is en omgee vir die kerk. Mense wat ek baie waardeer in my eie lewe.
Die eposse se titel is: “Skrikwekkend!” En dit gaan oor die berig van Neels Jackson in die Beeld oor Proponent Annari du Plessis, wat ‘n Gotiese leefstyl volg. Die strekking van die eposse is: Hoe kan die kerk positief wees oor Annari du Plessis as leraar? Hoe kan Nelus Niemandt, ons moderator, positiewe dinge oor haar roeping te sê hê? En waar is die NG Kerk nou weer op pad heen met ons almal?
Soos ek hierdie skryf, het ek ook ‘n stuk seer in my hart oor my kerk. Maar nie om dieselfde redes as wat my vriende sê nie.
Ek is hartseer oor die volgende redes:
1. Nie een van hulle het Annari du Plessis al ooit ontmoet nie (ek ook nie…). Nie een van hulle ken haar getuienis nie. Wie is Jesus Christus vir haar? Nie een van hulle het met haar gepraat oor die roeping wat sy van die Here ervaar, wat gemaak het dat sy vir 6 BAIE lang jare met teologiese studies volhard het nie.Ek ken van haar klasmaats, wat my verseker dat haar leer suiwer is (so getoets deur die kuratorium van die kerk ook…)
2. Die “Goths” lewenswyse is baie ver verwyderd van ons plattelandse opset, en ons verstaan daarvan is outomaties dat dit satanisties moet wees, want die mense hou van swart klere en heavy metal musiek. Hulle pas nie in ons boksie van hoe ‘n Christen nou eintlik lyk nie. Ons dink: Christene lyk nie so nie? Maar wie sê so? Het Jesus nie gedefinieer dat elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God nie? Is navolging van Jesus nie ‘n verhouding: om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, en jou naaste soos jouself nie? Dis wat ek verstaan onder Jesus se definisie van Christenskap- dit het niks te make met watter musiek jy luister of hoe jy aantrek nie?
3. Ek sal toegee: die Gotiese lewenswyse lyk ook vir my, volgens my verwysingsraamwerk, donker en onheilspellend. Maar my vraag is: het God Goths lief of nie? En wie moet hulle gaan bedien met die liefde van die Here? Gaan ‘n dominee met ‘n safaripak of two-tone Sterling kakiehemp gehoor word in daardie kringe?
4. Wat is die moderne toepassing in hierdie situasie van 1 Korintiërs 9: 16-23?
1 Korintiërs 9: 16-23
16 As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!
17 As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ‘n taak wat aan my toevertrou is.
18 Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.
19 Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.
20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.
21 Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.
22 Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.
23 Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.
In my omswerwinge in die wêreld het ek al baie mense gekry wat vir Jesus baie lief is, wat deur die kerk uitgestoot is omdat hulle nie ingepas het in die koekie”cutter” patroon waarmee die tradisionele kerk meet nie. Weet julle watse rowwe mense is Bikers? Weet julle wat gaan alles aan by ‘n Motorfietsrally? Weet julle van die drankmisbruik, en die openbare onsedelikheid? Weet julle dat ek daarvan hou om tussen Bikers te wees, met my leathers? Maak dit ook nou dat ek nie meer welkom is tussen die heiliges nie?
Ons sê maklik dinge soos “ons moenie kompromië aangaan nie”- maar dan vergeet ons die ruimte wat Romeine 14 gee vir gelowiges om verskillend te mag dink, solank die liefdesgebod gerespekteer word. Die onderlinge liefde tussen gelowiges is baie belangriker as die verskille in musieksmaak, kleredrag, en selfs nie-belangrike leerstellings! Ons vergeet die waarskuwing van Romeine 14:4!
Ek is jammer, ek gaan nie deelneem aan die letterlike heksejagte van mense wat vir Jesus lief is nie. Ek hou nie van die verdagmakery op soveel terreine van die kerklike wêreld nie. Jesus het nie gesê ons gaan die wêreld verander deur ons oordeel nie. Inteendeel- deur liefde teenoor alle mense, juis dié wat anders as ons is ook! het ons ‘n getuienis van God se liefde.
Hierdie een speel ekke nie saam nie, sorry!