Elia het in 1 Konings 18 ‘n groot geestelike hoogtepunt beleef. Hy het gebid en die Here het vuur uit die hemel gestuur om sy altaar aan die brand te steek, nadat die Baälprofete heel dag gekla en gekerm het, en hulle altaar morsdood gebly het. Elia het daarna gebid, en ‘n 3 1/2 jaar lange droogte is gebreek deur reën. Soms beleef mens lekker hoogtepunte in ‘n mens se lewe.
So hoekom is dit dat daar anderkant die kruin altyd ‘n afgrond lê? In 1 Konings 19 besluit die koningin sy hou nie van Elia nie, en wil hom doodmaak. Hy vlug drie dae in die woestyn in, gaan lê onder ‘n besembos, en wens om dood te gaan. Van een baie groot hoogtepunt na een baie diep laagtepunt in 4 dae…
Verlede week was so ‘n besige week in my lewe. Ek self het vier keer gepreek, en agt dienste bygewoon. Gister was daar drie eredienste in ons gemeente- die Pinksterdiens, wat ek gepreek het. Daar was die Global Day of Prayer, gelei deur die AGS Pastoor in ons dorp, in ons kerkgebou. En daar was ‘n heerlike lofprysingsdiens gelei deur Franna Benadé. Dit was besig, maar baie goed. En Vrydagaand was ‘n droom gewees!
Vanoggend voel ek amper net soos Elia. Ek het my dood gesukkel om uit die bed uit te klim. Ek het net glad nie lus vir werk vandag nie, al is daar ‘n paar hartseer en siek mense by wie ek moet uitkom.
Ek sit nou maar eers en kyk ‘n heruitending van Bachelor, terwyl Vroulief nou ‘n “timer” daarvoor gestel het. Ek is so bly ek hoef nie op daardie manier my lewensmaat te gevind het nie- vry met almal en los ‘n lang string hartseer meisies agter, terwyl die wêreld saam asem ophou anderkant die kamera oor die diep lewenswyshede wat ek oor verhoudings besig…
Elfuur gaan ek myself bymekaar skraap, en probeer werk. Vandag is een van daai tipiese Maandae…
So: waar is die engel?

Champaigne,Philippe de
Le sommeil d’Elie – Elijah asleep. Oil on canvas
Musee de Tesse, Le Mans, France
Darem bly daar is nie ‘n besembos daar by jou staanplek nie!!
Ek voel ook maar voos vandag, maar ek ken die rede. Dis van ‘n 2-jarige klein seuntjie Saerdag rondstoot in sy nuwe speelgoed kruiwa en esse gooi en maak asof ons op Kyalami is! Nee o hel, ek word oud 😯
Wens ek kon dit sien 🙂
Wel, ek het darem ‘n kompliment gekry. Toe hy straat toe hardloop, het ek hom vinniger ingehaal as sy pa (my broer) wat 16 jaar jonger as ek is 😆
Terug pieng: Na groot sukses… die Besembos… | Bileam se Donkie