Kreatiewe veroudering en ekke…

Ons dominees moet mos deesdae ook Voortgesette Opleiding deurmaak om glo ons joppies te behou. Elke kursus tel ‘n sekere aantal punte, en as jy na die tyd ‘n werkstuk van so 15 bladsye inhandig, kan jy die punte verdubbel.

Wel, soms probeer ek regtig hard om ‘n goeie dominee te wees. So skryf ek en kollega in vir “Kreatiewe veroudering”- ‘n 3 dae kursus in Pretoria. Spesiaal vir dominees ontwerp om die gerontologiese proses beter te verstaan. Om beter paliatiewe sorg aan ons geriatriese broeders en susters te kan verskaf, sien…

So ruk ek en Kollega met sy seun se windgat Opeltjie op na Gomorrah vir Die Kursus. Volgens ons brief begin ons om 9h30. Op pad stop ons, getrou aan Kollega se aard, eers by die Pandjieswinkel om bargains te soek. Op pad lees ons waar die kursus is- oeps! Dis nie in die Engeltjiefabriek nie, dit word aangebied by ‘n Ouetehuis! Nou ja, ‘n ouetehuis is seker ‘n goeie plek om oor “kreatiewe veroudering” te praat! Ons vind met groot moeite Oostvallei….
Volgende skok- ons brief was verkeerd, die kursus het alreeds 9 uur begin. Ons sluip in- daar is nog nie kursusleèrs beskikbaar vir ons laatkommers nie.

Ek slaan my oë op na die raadsaal. En vind dat ek met meer as 10 jaar die jongste op hierdie kursus is! En dat daar net 7 dominees op die kursus is, en meer as 34 susters en bestuurders van aftree-oorde!

Toe sê hulle ons dominees het net R 675 vir die kursus betaal, en ons moet R45 per ete inbetaal, en R7 per dag vir ons stoel. Die susters het glo R850 betaal, vir hulle is dit ingesluit. Ons besluit: se gat! Ons betaal nie nog ekstra nie, ons eet maar nie daar nie. Kontroleer vanoggend met my kerkkantoor en vind: ons het R950 betaal elk!

Ek sit sonder wiele in Gomorrah, by ‘n kursus van susters en aftreeoordbestuurders, leer meer van Wet 13 van 2006.
Ek is WOES verveeld, en wonder of 15 legitimasiepunte al hierdie lyding werd is…

My idee van “kreatiewe veroudering” op die oomblik is om ‘n BMW motorfiets op 45 aan te skaf, en ‘n Harley op 70 as ‘n mens nie meer jou been so hooog kan optel nie. Dan het ‘n man waarskynlik 1/4 Viagra nodig om nie jou skoene nat te piepie nie. En ek wil die nursies ‘n harde tyd gee, hulle moet altyd wonder waar is Oudoom en sy Harley alweer op pad heen.

In elk geval, vandag is ‘n motorfietsryer in Attenbury raakgery deur ‘n bejaarde paartjie- ek hoop hy is OK! Dit het maar sleg gelyk in die verbygaan!

Nog 1 dag van “kreatiewe veroudering” lê voor, ek voel al klaar 70 jaar oud na 2 dae daarvan.

So gryp die Oususter wat die kursus gereël het my vanoggend 3 minute voor afskoptyd en druk ‘n Ou Vertaling in my hande. Ek moet open. Ek lees toe maar vir hulle van die lewendige hond wat beter as die dooie leeu is in Prediker 9. Dalk moet ons net dit regkry om ons brood met vreugde te eet, ons wyn te geniet met oorgawe, en die lewensmaat wat ons het, verskriklik waardeer soos die Prediker sê. Dalk draai die ouderdom ook orraait uit as ons dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe is?

Miskien moet ek nou maar my eie teorie van “kreatiewe veroudering” begin ontwerp:
1. Jy kort ‘n BIKE.
2. Jy kort rooiwyn, Baie rooiwyn teen die Cholestrol.
3. Jy kort daaglikse brood.
4. Jy kort iemand om styf teen te lê.
5. ‘N Rammsteinn CD kan nie kwaad doen nie
6. Jy kort ‘n ordentlike attitude!

Dan kan jy maar “grow old disgracefully…”

Engeltjiefabriek, hierdie is my referaat oor “kreatiewe veroudering”- onthou die 30 punte op my rekening by die Tribunaal of die Admissiepolisie of die Kuratorium of die krematorium ( skrap wat nie van toepassing nie).

Hierdie pos is dalk effens deurmekaar. Ouderdom veroorsaak degenerasie van breinfunksie. MAW ouderdom is ‘n blixem!

Vriendelike groete, die OUerwordende Donkie

Long Way Home…

Gister se blog vervolg….

Met apologie aan Ewan en Charlie, wat darem met BMW’s die lang pad kom vat huis toe…

Die klank van daardie BMW Boxer enjin as jy sy starter knoppie druk, draai in my gedagtes. Die twyfel is steeds daar- het ek die regte ding gedoen? Omdraai is daar nie, nog voor ek uit die winkel uit was was Grootbaas al op die foon met die volgende potensiele koper.

Ek is bly die Camino het my voorberei vir lesse soos gister s’n. Die mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy hom loop, so het Salomo ons mos geleer.

Vanoggend ry ek nie vrolik met my nuwe motorfiets huis toe nie. Ek wag tot die Quantum bussie 11 uur vertrek. Ek is ‘n passasier in ‘n blygemaakte taxi, wat my langs Menlyn gaan afgooi. Een van my geliefdes gaan my daar oplaai. En Geliefde kom my dan haal en huis toe vat….

Niks van hierdie trip het uitgewerk soos ek dit beplan het nie. Maar dis OK. Want ek het niks elangriks in die proses verloor nie. En mense is altyd soveel meer kosbaar as goeters. Insluitende pragtge rooi BMW motorfietse! Ek is so dankbaar vir die netwerk van mense wat my dra, sonder hulle sou dit ‘n drie weke stappie terug huis toe gewees het!

Nou ja, laat die dag begin…

Drome kan ook Nagmerries word…

En so het die Donkie ALWEER sy kop teen dieselfde klip gestamp. Wiele vang my elke keer…

Dit het so gebeur: Lees verder en treur saam met my…

Gereelde lesers weet van die tweede groot liefde in my lewe, die skelmpie van my, die Italiaanse meisie met die verleidelike kurwes. Ou Huisbesoek, my geliefde Aprilia Pegaso 650. Ek is baie, baie lief vir haar. Daar is eintlik net een nadeeltjie met haar- sy is net te klein. Sy kan nie my en my Geliefde saam dra Kaap toe nie. Sy kan, maar dit sou baie ongemaklik wees.

Daarom is die droom om eendag ‘n groter motorfiets te koop, verkieslik ‘n BMW anderkant 1100 cc.

En so is net ek en my geliefde mos nou saam na skoonma toe vir verlede naweek. En soos gewoonlik gaan maak ek laas Saterdag by Speedbike in Klerksdorp ‘n draai, vir my normale begeersessie. Daar staan sy toe- die Duitse Mãdchen wat my wil afvry van die Italiaanse senorita…

Kyk maar op Bike SA se Mei uitgawe agterblad- tweede ry, vyfde motorfiets. ‘N Pragtige rooi BMW R 1100 R. 2003 model wat eers in 2008 geregistreer is. Net 5700 km op die klok. Met ‘n topboks. Lyk sommer baie mooi- vir R39995 op die vloer. Dadelik begin die somme- ek kan waarskynlik R 25000 vir Huisbesoek kry, ‘n soortgelyke model het onlans vir R 28000 op Gumtree verkoop. Dus kort ek net R15000 uit my huislening vir ‘n amper splinternuwe motorfiets.

Ek jaag dadelik na Skoonma se huis toe en gaan laai Geliefde op. Sy kyk na die fiets, na my, en sé dadelik ja. Maar ek kan nie die fiets vir ‘n toetsrit vat nie, die Grootbaas is nie daar nie. Maar daar is ook ‘n ander potensiële koper uit Orkney wat belangstel. Slim ekke betaal net daar ‘n R 20 000 deposito, Sondag weer ‘n R20 000 en Maandag die laaste R 1850 vir registrasie. Woensdag wys die bedrag op hulle rekening, die fiets is myne! Ek is opgewonde, laat diens vir Huisbesoek en adverteer haar op die Wild Dogs forum.

Vanoggend ry ek opgewonde saam met gemeentelede wat op pad is Kimberley toe om te gaan jag. Hulle sal my in Klerksdorp afgooi. Ek gaan sommer gou terugry huis toe op die Mädchen se rug. Ons kom so half vier in Klerksdorp aan. Ek teken die laaste vorms, en stap nader aan die fiets. Toe ek my rugsakkie in die Topbox wil sit- eerste verrassing- dis sommer ‘n Vuka scooter se topboks- not cool! Ek staart haar vir die eerste keer, en vertrek rigting huiswaarts. Maar voor Stilfontein sien ek dit: die odometer bly staan op 5699 km. Die tripmeter loop mooi. Maar die afstand? Niks. Ek besluit daar en dan om om te draai. Draai die oor, en daardie Duitse Dame hardloop alte mooi! Maar dit tref my- ek het nie ‘n idee hoeveel kilometer hierdie fiets al gedoen het nie! Die odometer moet reg wees, anders gaan ek nie weet wanneer en watter dienste die fiets nodig het nie…

Ek kom terug by Speedbike, en vertel vir Grootbaas my hartseer verhaal. Ons gaan kyk, en Grootbaas vat haar vir ‘n toetsrit om my storie te toets. Maar ek is reg… Ons stap saam Parte toe, soek op die rekenaar, – daar is nie op die oomblik enige speedos nuut in die land beskikbaar nie. Ek het twee opsies. Hulle bestel “n nuwe speedo en sal dit gratis insit- maar dit kos my ‘n 700 km trip Klerksdorp toe en terug. Of ons kan die koop kanselleer- dan maak hulle dit reg- daar is steeds ander belangstellende kopers.

So in die verbygaan het ek gesien die hooflig se lens is gekraak. Onbekende km op die fiets. Vuka topboks…

Wat moes ek besluit? Gisteraand het ek vir my vrou gesé die tydsberekening op hierdie fiets is nie reg nie. Al kos ‘n byna splinternuwe fiets my net R15000, ‘n fiets wat ek BEGEER met my hele hart- ek voel nie reg nie en ek weet nie hoekom nie.

Ek het nogal gebid oor die saak en regtig wysheid gevra. Toe Grootbaas van Speedbike aanbied om die koop te kanselleer, het ek my antwoord gehad.

Ek het skielik soos ‘n boemelaar gevoel- op straat sonder wiele. Gelukkig het Skoonma my kom oplaai, en ek slaap in haar huis oor vanaand. More haal ek ‘n bussie wat via OR Tambo Pretoria toe gaan. Dan sal my Geliefde my daar kom oplaai.

Ek het ALWEER ‘n paar lesse geleer in die proses:
1. Daar sal altyd weer ‘n bargain wees.
2. Moenie oorhaastig duur besluite neem nie!
3. Vat ‘n voertuig altyd vir ‘n toetsrit voor jy koop!
4. Luister vir die stemmetjie in jou kop!
5. Waardeer weer vir ‘n slag wat jy wel het…

Daar is seker nog. Maar ek is nou vakenmoeg…

Sal by die huis ‘n foto van die Mädchen opsit dat julle kan sien hoekom ek so lelik in die strik getrap het.

NS- Speedbike in Klerksdorp het my deurentyd goed behandel, ek het glad nie beleef dat hulle iets aan my probeer afsmeer nie. Ek waardeer die terugkoop van die motorfiets.

Uiteindelik kan ek net sé: ek het vandag vir 50 km ‘n BMW 1100 Roadster besit- en hulle ry baie lekker! Miskien…. Eendag….