Vrees…

Dit help om jou vrese te verwoord, en dis die doel van hierdie skrywe. Spanning, angs, stress… vrees vir die dood, vrees vir die onbekende, skeidingsangs, vrees vir pyn en lyding…

Gisteraand op Discovery kyk ek laataand na ‘n makabere program. Masjiene wat Doodmaak. Die stukkie wat ek gesien het, het begin met die oorspronklike Longdrop- die Galg. Daarna ‘n insetsel  oor die stoel waarop mense per vuurpeloton gefusileeer word. Die elektriese stoel word mooi verduidelik- alles deur ‘n aanvallige neuro-bioloog, wat tot in die fynste detail beskrywe hoe ‘n mens deur die Jordaan beweeg wanneer hierdie apparate op jou toegepas word- nog 25 minute om te gaan, hartklop versnel effens… Dit word nou mooi verduidelik vir die gevalle waar die individu wel skuldig was aan een of ander misdryf teen die res van die mensdom, en dat dit wenslik vir die massa is dat die individu nie meer langer deel van die geselskap sal wees nie.

En so het my beurt ook uiteindelik aangebreek. Ek het ook ‘n afspraak met die gewraakte Stoel. Die pupille vergroot effens, want die adrenalien begin afgeskei word deur die gepaste kliere- vlug is nie meer moontlik nie, daar lê ‘n geveg voor tot die einde. Nog twintig minute oor. Gaan die wegraping nie betyds plaasvind nie? Is daar nie ‘n komeet wat in die aarde gaan vasvlieg in die volgende 18 minute, voor die pyn onhoudbaar word nie?

OOr sewentien minute moet ek die dissipel van Josef Mengele in die folterkamer ontmoet. Die loon van die sonde is die dood, sê Romeine 6:23. Ek gaan in die verblindende lig instaar. Sewe duisend demone gaan lostrek, en skree dat dit in my kopbeen vibreer…  Sataniese Jackhammers gaan tromspeel op my moeë liggaam. Maar daar is net nie meer omdraai nie. Die pyn is nou te erg, oor 15 minute moet dit finaal weg…

Ek wonder altyd: hoe gaan ek myself in daardie finale uur hanteer? Gaan ek my vrees soos ‘n man in die gesig staar? Gaan ek oop- oë, doodsveragtend spoeg in die duiwel se oog?  Of gaan my broek bewe, en ek soos ‘n klein seuntjie my moeder se naam prewel? Die toets lê voor, oor 12 minute gaan ek sien… is ek ‘n man, of ‘n muis? Het ek murg in my pype? Of is ek toe maar net ‘n lafaard?

‘n Mens moet ‘n naam gee vir jou vrees. Jy moet dit in jou geestesoog minimaliseer. Dit voorstel in ‘n pienk balletrokkie op ‘n kinderpartytjie.  Maar ek is net mens, van vlees en bloed. Die vrees eet ook aan my, al wys ek niks daarvan na buite nie. Dis tyd om die sleutels vir oulaas te neem, die kinders te groet, en te vertrek.

Dis tyd vir daardie tandartsafspraak wat ek nie meer kan mis nie… Maak nou mooi oop…

 

Vaarwel, liewe vriende…

http://www.extremefunnyhumor.com/picture.php?id=1237

 

8 thoughts on “Vrees…

  1. Ek het ook altyd ‘n heilige vrees vir ‘n tandarts gehad. My pa het vir my kleintyd van SY ondervinding vertel, so, as ek daar MOES gaan sit, het ek die stoel behoorlik vasgeklou. Snaaks, dit het beter geraak noudat ek ouer is. Die stoele het ook nie meer ‘n vasklouplek nie…

  2. Ek leef nog, dankie liewe vriende en vriendinne, maar ek is baie dikbek oor die aangeleentheid! Toorts, dit voel regtig of daardie inspuiting al erger word soos ek ouer word. Of word ek al meer kleinserig?

  3. Ek deel jou vrees vir die tannedr.

    Vroeg in die jaar het ‘n wortelkanaal (wat Desember 2011 behandel was) ‘n probleem begin gee. Daardie onuithoudbare pyn was so erg gewees. Die tannedr wou nog met ‘n ander oplossing vorendag kom. Ek het net geprewel: Trek die tand.

    Hy het musiek aangeskakel om my te kalmeer. Asemhalingtegniek probeer. Ek was sooooo bang gewees. Die heel ergste vir my was dat ek die oggend op YouTube gekyk het hoe ‘n tand getrek word.
    Dankie tog, ek het dit oorleef!

    Jip, dié uber banggat, dit is ek!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s