Die Sirkusleeu se oë…

Dit bly vir my een van die beelde wat my diep aanspreek- daar is niks vir my so hartseer soos ‘n sirkusleeu nie. Simba is veronderstel om die koning van die Diereryk te wees. Hy moet statig en majestieus rondstap in die bos, en die ander diere moet versigtig pad maak vir hom. Of hy moet lekker dikgevreet lê en slaap onder die maroelaboom, met sy wyfies en welpies rondom hom, terwyl die kwêvoël kywie hou van die boonste tak af. Dis hoe dit moet wees. Vry.

Nou kom iemand en koop Christian by Harrods… of die sirkus kry ‘n leeumannetjie êrens in die hande. Sy lewe word hompe donkievleis (waaroor ek natuurlik baie beswaard is!) . Sy woning is die tralies van ‘n hoktrok, met ou strooi onder hom. Die stad se geraas het die jakkals se blaf en die uil se hoe-hoe vervang. Die maan en sterreglans is vir neonlig verruil. Vanaand gaan ‘n ou met ‘n simpel rooi manelpak en pluiskuil hom met ‘n sweep en ‘n stoel rondjaag, en die skare gaan hande klap, bly dat die leeu anderkant die tralies is, en dat dit nie hulle koppe is wat tussen die stomp slagtande gaan lê nie. Na die vertoning vanaand gaan daardie leeu daar in sy hok lê, en met dowwe oë die “thousand yard stare” vervolmaak, en dink aan wat kon gewees het…

Ek begin alweer voel soos daardie sirkusleeu. Ek sit hier in ons ou dorpie, besig met routine werk- baie belangrike Koninkrykswerk inderdaad, maar tog…

Iewers in Pole ry Lodie de Jager op sy Kawa KLR rond, sien nuwe paaie, ontmoet nuwe mense, reën nat en kry koud…Hy maak sy droom waar om van Duitsland tot in Rusland te ry, nadat hy al van Naboomspruit af tot in Duitsland gery het, manalleen, sonder Ewan en Charlie se moerse begroting en fabrieksborge en bachup span in Nissans…

My skoolvriend Roché Vermaak het in die week by die katedraal in Santiago aangekom, na sy Camino ervaring…

My nuwe vriendin Emilene is êrens op die beginpunt van die Franse Roete van die Camino vanoggend, besig om te stap oor die Spaanse Meseta…

Vandag is daar mense besig om oor o’ Cebreiro te klim op die Camino… verlede jaar hierdie tyd was ek op pad tussen Ponferada en Villafranca del Bierzo…

Anderkant die horison sit mense in ‘n straatkafee in Parys. Iemand is vroegoggend op ‘n Harley op Roete 66, iemand is besig om iets nuuts te proe vir aandete by ‘n drywende restaurant in Thailand.  Iemand duik nou in die Rooi see, en iemand is op wittebrood in Maritius, dalk duik hulle ook nou… Iemand trap ‘n fiets teen die Franschhoekpas uit, iemand “corner” die kronkelpaaie van Graskop op sy motorfiets…

Daar is weer ‘n roepstem besig om op te bou hier binne…  die vrye leeus brul onder die maroelaboom…

Dis tyd vir ‘n nuwe droom, anders gaan ek dood…

15 thoughts on “Die Sirkusleeu se oë…

  1. Hoe gouer hulle sekere diere kapperjolle in sirkusse verban hoe gelukkiger sal ek wees. Terwyk olifante, leeus ens vir toertjies gebruik word weier ek om my voete binne ‘n sirkus te sit.

  2. goed geskryf!! laat mens dink aan die leeus en ook aan die metafore …🙂

    van die leeus gepraat, ek is nie ‘n major diere-mens nie, maar hou ook glad nie van dieretuine en sirkusse nie, maak my hartseer. die “dieretuin” hier by ons in die kaap maak nou toe, maar ek lees die diere word maar net eenvoudig na ander plekke toe gestuur. “sad” …

    het juis ‘n national geographic program gisteraand gekyk oor leeus – sjoe, fascinating verby!!

  3. Onthou, tussen hulle (dalk occasional) reise, doen hulle heelwaarskynlik ook die “banale middelklas bestaan” soos die res van ons.

    Maar as jy die roepstem nie meer kan ignoreer nie, moet jy gaan . . .

  4. Jy moet die fliek “Water for Elephants” kyk. Op ‘n ander noot – dis hoekom ek dink ek was in een van my vorige lewens ‘n sigeunerin – daar is altyd die verlange na vreemde paaie hier diep binne. Ek het nou nog iets op my lysie, die Inca Trail🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s