Vadersdag…

Ek het gister een van die mees interessante Vadersdae in my lewe gehad…

Na ‘n nagmaalsdiens in die gemeente het ek die wonderlike voorreg gehad om twee dogtertjies, die pragtigste niggies, te gaan doop op hulle oupa se plaas. Voor die Inkwisisie op my neerdaal- op die plaas is ‘n kapel, en my kerkraad het dit ‘n amptelike erediens van die gemeente verklaar…  Die setting is baie mooi, die plaas kyk uit op ons dorpsdam, is onder andere ‘n vierster gastehuis, en die kapel is onlangs gebou in ‘n baie outydse styl, met ‘n venster agter die kansel wat oor die dam uitkyk. Die geleentheid was so spesiaal, met familie en vriende uit soveel verskillende kerklike tradisies daar saam verenig deur die liefde vir hierdie twee kosbare klein mensies.  Soms geniet ek my werk baie!

Daarna moes ek huis toe haas. Want ek is nou amptelik besig om oud te word. Die saak staan so: behalwe nou vir jongste wat verlede jaar in Standerd 2 vier meisies gehad het, het die res van die kinders nog nie ernstige verhoudings met die teenoorgestelde geslag aangeknoop nie. Nou ja, jongste is nie so erg soos wat dit dalk klink nie, ek vermoed ‘n verhouding in Standerd 2 is om jou toebroodjies vir iemand tydens pouse te gee, en ‘n tjoklit op Valentynsdag.

Nou ja, die saak staan so: ‘n rukkie gelede wys Ouboet vir my wat gaan op Ousus se BBM Status aan. ‘n Jonge heer soen haar op die neus, en dit lyk asof sy daarvan hou!  Nou ja, vir enige dogter se pa is dit mos erg. ‘n Mens wil dadelik gaan haelgeweerpatrone koop en ‘n stomp mes gaan soek.  Maar dan skop ‘n gedagte in: lank lank gelede, many moons ago, was ek en Mamma ook jonk…  Erens moet die jonge dame seker maar iemand raakloop wat my as die nommer 1 man in haar lewe gaan vervang, dit is die verloop van die lewe…  En so vra Ousus versigtig of ek tuis is Sondag, sy wil vir die dag deurkom.  Aanvanklik was my vermoede: seker maar vir Vadersdag! Ek is sommer aangedaan dat sy vir haar bejaarde vader wil kom kuier…  Nog later skemer dit deur, sy bring ‘n vriend saam. Nou kyk- dis waar ‘n mens een van daardie groot tektoniese plaatverskuiwings in jou lewe beleef. Sy het nog nooit voorheen “‘n Vriend” saamgebring huis toe nie.  Liewe ouers, die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie!  Ek wil nog meer haelpatrone gaan koop, maar Mammie sê sag dog ferm: “Be nice…”

Nou, terwyl ek gister oggend die twee babas so natgooi weet ek- ek moet nou huis toe ry, en “Die Vriend” gaan ontmoet… Wat op aarde sal my dogter nou huis toe sleep?  Ek wil sommer daardie drie bladsye toestemmingsvorm om by my dogter te kuier aansoekvorm by y kollega gaan haal- daardie een wat oa vra “Wat verstaan jy, in jou eie woorde, onder die begrip “kastrasie”?

Maar nee, so mag ek mos nie wees nie. Ek deel met die oupa van die twee doopbabas my groot dilemma, terwyl hy nou al drie dogters aan ander ouens afgestaan het. En hy vermaan my net ernstig- ‘n pa weet nooit wanneer dit “Die Een” is nie. Daarom is die eerste ontmoeting en openingswoorde van groot strategiese belang vir die res van die nageslag se bestaan. Dis maak of breek in die verhouding tussen jou en potensieële skoonseuns…  Dit maak my sommer nog meer onstabiel- maar ek het darem die pad huis toe om myself naais te kry…

Toe ek by die huis aankom, sien ek die meneertjie op die stoep, besig om saam met my seuns vuur te maak om vir my vleis te braai. En my seuns lyk of hulle nog nie saamgestaan het en hom gebl… slaan het nie.  Dis al ‘n goeie teken. My liewe vrou lyk ook nie te moerig nie.  Met ‘n glimlag wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, kom Ousus vir my hallo sê. Sy het vir my ‘n Vadersdag geskenk. ‘n Pragtige foto van my en haar, toe sy nog ‘n klein dogtertjie was, Sy lyk pragtig op die foto, ek lyk Derik…

Daarna kom Die Vriend, en ek kan sien die jong man is baie gespanne om Haar Pa te ontmoet. My hart word sagter- ek onthou toe ek in 1987 vir die eerste keer na Orkney toe gery het om vir Haar te gaan kuier by haar ouerhuis, en daardie vrees en bewing om Haar Pa te ontmoet. Nou is ek Haar Pa!!!  Maar die jong man het ‘n goeie bottel rooiwyn vir Die Oom saamgebring… Ek kan sommer sien hy kom uit ‘n goeie gesin uit, met sulke bedagsaamheid.   Ons gaan sit in die lapa, en hy en die seuns braai vleis, terwyl Ousus iets babbel oor projekte wat sy more moet inhandig. Ek vra maar vir die besoeker my normale vrae: Waarmee vang jy babers? Wie is jou gunsteling in die Moto GP?  Julle weet- daardie vrae om die dieptes van ‘n man se hart te meet…

Hulle kon net tot so drie uur kuier, en daarna terugjaag Gomorrah toe met die projekte en sy laaste vraestel.

Gisteraand bel ek my ma vir die weeklikse gesprek. Sy vra: het jy Ousus se facebook onlangs gesien?  Ek gaan kyk, sien die link na die jong man se facebook toe, en gaan spioeneer soos ‘n waardige pa betaam.  En daar is dit toe. Die jong man het vir MY Dogter met rosette of iets ‘n uitstalling gemaak wat vra: A, sal jy met my uitgaan?  Die jong man se hart jubel as hy aan die wêreld verkondig- Sy het JA gesê…

So daar is dit nou, liewe vriende. Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.  Ek is nie meer die Main Man in my dogter se lewe nie. Maar weet julle: Dis orraait. Dit hoort so. Ek lê gisteraand in die bed en dink: Ek hou van die jong man. Sal hom ook graag beter wil leer ken, maar ek hou van wat ek sien.  Ek hoop nie dié tweetjies breek mekaar se harte nie. Maar ek is tevrede…

 

Op hierdie oomblik moet ek nou gaan inpak. Ons het weer ons jaarlikse Ringsitting. More sit ons saam met Ouderlinge en waardige Dominees agter groot kerkmaskers, praat in vreemde woorde en ander stemtone oor die stand van die Koninkryk in die Bosveld. Maar vandag kom die leraars alleen bymekaar. Ons gaan mos preke uitruil soos elke jaar, sien? En ek gaan weer die swakkes kry…🙂 Ou grappie. Wat doen dominees saam voor ‘n Ringsitting? Ons sit mos daar in ‘n kring in ons swart pakke en wit dasse. Ons lees saam uit Calvyn se Institusie, Volume 3. Dan bid ons lank en aanhoudend saam. En dan drink ons tee, met koeksisters, net twee draaie anders lyk dit uitspattig…

Nee, vanmiddag is ons op ‘n Wildsplaas in die Bosveld. Ons vat kleinkaliber vuurwapens saam. Baie klein, soos in windbukse en .22’s. Dominees kan nie ammo vir iets groter bekostig nie, wat nog te sê bokke!  En ons neem geweerolie saam. BAIE geweerolie, want dit is baie stowwerig in die Bosveld vanjaar. En vanaand gaan ons om die groot kampvuur saam sit, en dit gaan die hoogtepunt van die hele RIngsitting wees, want daar, oor ‘n glasie hoesmedisyne, hoor jy ‘n kollega se seer, of sy vreugde.  Net jammer more kan nie ook so eg wees nie. Of kan dit?

5 thoughts on “Vadersdag…

  1. Sjoe, jy is ‘n storieverteller van formaat! Ek het dit baie geniet. Sterkte met die boyfriend, ek hoop nie hy is ‘n hartebreker soos ons nie.

  2. Ek het lekker gelag oor die eerste besoek van die nuwe liefde op die horison – sterkte , so uit ‘n huis wat die pad moes en nog loop met liefdes in jongste se lewe.
    Daardie advertensie op TV – die Pa met die whiskyglas in die hand en die Kêrel wat aankondig hul wil “merge” …daai doodkyk-kyk van daardie Pa…hmmm laat my nogsteeds lekker lag!

  3. ‘n Stukkend gevalde knie, ‘n gebreekte ledemaat, ‘n blou geknypte vinger – daai is alles einas wat mens kan regsoen. Dis die einas van die hart wat maak dat mens jou hart vashou vir jou kinders. Want breek hulle harte, dan breek joune twee keer meer flenters. Welcome to the club😉

  4. Jong, en as jy weer sien dan het jy ‘n skoonseun. Ons het nog net ene en het vir hom lief geword soos ons eie. En oor 2 maande word ek ouma! Dis wonderlik om my kinders so opgewonde te sien oor hulle babatjie wat gaan kom. Dis wonderlik om my kind se swangerskap saam met haar te beleef. En jy sal sien, ‘n dogter se pa is nie nommer 2 nie. Dalk nie nommer een nie, maar nie 2 nie. Ek dink so een en ‘n half. Ek sien maar my kind en haar pa. Sussie kuier nou vir ‘n week by my. Wanneer ek haar weer gaan sien dan gaan sy ‘n mamma wees en ek ‘n ouma.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s