Wat leer die Donkie sy gemeente?

Ek het op litnet al in groot gevegte betrokke geraak toe ek ‘n matriekdiens se preek geplaas het- die ateïste was nie so gelukkig daaroor nie.  Hier op WordPress beleef ek dat die ateïste en agnostici meer kieskeurig is in wat hulle lees, en as hulle nie van iets hou nie, dan beweeg hulle net aan. WordPress lys nie soos litnet alle nuwe inskrywings op een plek nie, so jy het moeite gedoen om hier uit te kom.

Van my vriende op ander plekke het gevra oor vanoggend se preek. Hierdie een is op versoek van hulle. Ander het in die week gewonder wat leer ek my gemeente. So hier is vanoggend se preek, net vir dié wat regtig belang stel. Dis so min of meer hoe my preke maar lyk. As jy nie van preke op ‘n blog hou nie, skip dan net na die volgende persoon se blog toe op hierdie oomblik.As jy hom wil lees, onthou hy is geskryf om te praat, nie in ‘n leesvorm nie.

Dawid en Batseba se verhaal in 2 Samuel 11.

Inleiding

Ek het darem lanklaas kans gehad om hier te preek! In hierdie afgelope paar weke het twee dinge my baie diep laat dink.

  1. Ek het gehoor van iemand wat sêdat daar nie meer vir hom ‘n kans is om eendag hemel toe te gaan nie.  Hy het al te veel dinge aangevang, daar kan nie vir hom meer genade wees nie. Dink hy. Maar hy is so verkeerd!
  2.  Ek gesels met van die sielkundiges, maatskaplike werkers, en selfs onderwysers. En my eie belewenis: dit gaan op die oomblik ROF in hierdie dorp!  Daar is so baie stukkende verhoudings, en gesinne waarin dit soms baie geweldadig raak. Daar is so baie kinders wat seerkry in ons dorp.  Dis nie net in die kerklose huisgesinne nie! Die ekonomie maak dit baie rof op mense om te oorleef. Maar party mense laat toe dat dit hulle gesinne ook opfoeter.

 

Dis waaroor ek vanoggend met julle wil gesels.

  • Versoekings is deel van elkeen van ons se lewens!
  • Ons kan verkeerd kies, en  ongehoorsaam wees.
  • Sonde het altyd verskriklike gevolge vir ons.
  • Waar raak genade op vir ons?

Ons sonde verwoes lewens, net God se genade kan ons weer heel maak!

  1. Die sonde lê en loer voor elke hart se deur… (kinderliedjie)
  • Wat is sonde presies? Ons dominees is mos veronderstel om daarteen te wees.
  •  Sonde- ou definisie- om jou teiken te mis.  Om buite God se wil op te tree.
  • Koning Dawid was ‘n man na God se hart, sê die Bybel op so baie plekke. Geskiedenis van geloof- Goliat het hom op die mêp geplaas.  Pragtige Psalms geskryf wat getuig van diep liefde vir die Here.
  • Konings hoort by hulle soldate! Lentetyd- tyd waarin konings saam met hulle weermag optrek om oorlog te maak.  Maar Dawid is nie besig met die oorlog nie. Hy is nie by sy manne nie. Hy is besig met ‘n heerlike middagslapie in die weelde van sy paleis.
  •  Toe loer hy ‘n dame in die bad af. Nie sommer enige dame nie!  Bathseba= “dogter van die eed…”
  • Dogter van Eliam, wat een van Dawid se Dertig was (2 Sam 23: 34) en die kleindogter van Agitofel, een van sy naaste raadgewers (2 Sam 15:12)
  • Erger- sy was die vrou van Uria, een van Dawid se dapperste soldate. En ‘n man van baie groot integriteit.
  •  Dawid het ‘n hele paar vertrouensverhoudings geskaad deur haar af te loer in die bad, en toe plannetjies te maak om haar in die hande te kry.
  • Sulke dinge gebeur wanneer jy nie is waar jy veronderstel is om te wees nie. Dit gebeur so maklik met ons manne vandag. Konferensie in die stad, uitnodigings na klubs waar arm meisies dans vir die wolwe. Telefoonnommers in telefoonhokkies. Interessante webwerwe op die internet.  ‘n Biertjie of drie te veel by die kuierplek.
  • Nie een van ons is gevrywaar van versoeking nie. En die ou duiwel ken ons mos ook maar goed, hy weet waar ons swak plekke is, en wanneer ons so bietjie afgeskeep voel in ons behoeftes.
  • Nie een van ons is te goed om nie in ‘n strik te val nie

 

2. Dis ons eie keuse om ongehoorsaam te wees!

  • Nie net is Dawid op die verkeerde plek nie, hy is nie wakker vir die versoekings op sy pad nie.
  • Wanneer hy Bathseba sien, het hy ‘n keuse gehad. Loop weg! Hy het ‘n paar ander vrouens gehad, sommiges wat hy baie afgeskeep  het. Maar nee, hy kies om te kyk, weer te kyk, en toe plannetjies te begin maak.
  • Hy ontbied haar na sy slaapkamer toe. Ek is nie seker hoeveel  keuse het Bathseba  in hierdie saak gehad nie, vroue het geen sê in daardie samelewing gehad nie, en konings het baie mag.
  • Dis nie die eerste kyk wat ons in die moeilikheid het nie. Dis die tweede kyk.  En die plannetjies. En die stemmetjie wat sê: Niemand sal tog ooit uitvind nie.  Maar daardie stemmetjie LIEG vir ons!
  • Martin Luther het gesê jy kan nie keer dat ‘n voël oor jou kop vlieg nie, maar jy kan keer dat hy in jou hare nes maak.
  • Versoekings kan soms baie slu wees. Maar jy het ALTYD  ‘n keuse wat jy daarmee gaan maak.  Jy kan regtig nie soos Hansie destyds sê: die duiwel het my dit laat doen nie… want die duiwel is ‘n oorwonne vyand. Hy kan net seermaak as jy in sy hok gaan rondspeel.
  • Dawid het toegegee aan die versoeking. Hy het Uria se vrou bed toe gesleep, en gemaak soos hy wil.
  •  Soos Casting Crows se liedjie op die Fireproof CD sê: “Be careful little eyes what you see… “  Wees  versigtig, want die duiwel is soos ‘n brullende leeu, op soek na prooi.

 

3. Sonde se gevolge is altyd baie vernietigend!

 

  • Dawid het net ‘n uurtjie se pret beplan. Maar soos hierdie dinge maar werk, word Bathseba swanger. En haar man was lanklaas by die huis. Hier is nou letterlik ‘n koninklike gemors op hande…
  • “Niemand sal uitvind nie” het toe die geneigdheid om in ons gesig te ontplof.
  • Dawid het aangejaag. En nou maak hy plannetjies om daaruit te kom. Laat Uria huis toe kom, en by sy vrou gaan slaap.  Dan sal hy dalk nie opmerk die kind is 7 ½ maande later daar en lyk so effens soos die koning nie- so  ‘n rooikop outjie…
  • Maar Uria is ‘n man van integriteit. Hy wil op sy pos wees- by sy weermag, waar sy koning hom gestuur het. Hy gaan nie eers huis toe nie. Hy bly in die paleis en slaap saam met die slawe.  Want sy koning het hom nodig.  Selfs wanneer Dawid hom dronk maak, bly hy steeds ‘n  reguit pad stap.
  • Dan beraam Dawid sy mees bose plan ooit- dan moet die  man maar sneuwel. Die boodskap gaan weermag toe- sit hom op die mees gevaarlike plek.  En moenie  hom beskerm nie.
  •  Dawid se wellus kos ‘’n eerbare man se dood.  Hy het daardie man se lewe, sy huwelik en sy nageslag gekos.
  • Dawid het Bathseba getrou hierna, maar die kind is dood.
  •  Die direkte gevolg van hierdie verhouding was die profeet Natan wat Dawid kom vertel het: Die Here weet!  Jy is ‘n moordenaar.
  • Geweld sou in Dawid se huis uitbreek, en hy sou ook vrouens verloor wat deur ander mans verlei word.
  •  Stukkende gesinne begin by manne wat op verkeerde plekke is, en ja sê waar hulle moes weghol. En in vandag se tye is nie net die manne hieraan skuldig nie.  So baie dinge gebeur waar mense op verkeerde plekke is, en dink niemand sal ooit weet nie.
  •  Die Here weet, en dié goed het die neiging om in die Son te beland!

 

4. Waar raak God se genade op vir ons?

 

  •  Die Here het deur Natan vir Dawid op sy sonde, en die gevolge daarvan gewys.
  • Sonde het ‘n verskriklike gevolg gehad in die kind wat dood is- 1 Sam 12:14.
  • Dawid het hom voor die Here gaan verootmoedig. Hy het berou gehad, en dit voor die Here in die heiligdom gaan bely.  1 Sam 12:20- “Toe het Dawid van die grond af opgestaan, hy het hom gaan was, en reukolie aangesmeer, aangetrek en na die heiligdom gegaan om te aanbid…”
  • Wat het hy gebid? Psalm 51.
    • Smeek om God se genade- v 3
    • Vra om skoongewas te word- v 4
    • Vra die Here vir ‘n nuwe hart en gees- v12
    •  Vra dat die Here jou sal lei deur die Heilige Gees v 13
    • Vra die Here om die verhouding te herstel, dat daar weer blydskap kan wees… v 14
    • Vra die Here om jou te lei op ‘n pad van nuwe toewyding v 14
    • Het God se genade opgeraak vir Dawid? Nee! Is daar genade vir egbrekers, moordenaars, en mense wat enige ander sonde gepleeg het? Ja- dis juis waarvoor Jesus na hierdie wêreld toe gekom het.
    • Hoe weet ons die Here het Dawid vergewe?  Iets baie positief het uit hierdie stukkende situasie gekom . Dawid en Bathseba se tweede kind is ‘n direkte voorouer van ons Here Jesus! Bathseba se naam word in die geslagsregister van Jesus genoem in Matt 1- een van die vier vroue wie se name genoem word daar.
    • Dit is God se genade. Sonde vernietig ons lewens. Maar waar daar berou is, is daar vergifnis en nuwe geleenthede.
    • Selfs waar ons dink dis nou die bittere einde, kan God verder aan ons lewensverhaal skryf, en iets mooi  uit die stof laat opstaan.
    • Genade is die mooiste woord in die Bybel. God se genade vir ons, dat Hy ons liefhet ten spyte van wie ons is, en wat ons alles verkeerd gedoen het.
    • By God is daar altyd weer geleentheid om klaar te maak met die sonde, om om te draai op die verkeerde pad, om te bely, om  nuut te word  in ons verhouding met God.
    •  As jy sonde wegsteek, gaan dit jou vernietig.
    • As jy terugkom na die Here toe, is daar vergifnis en ‘n nuwe kans.

Slot:

  •  Ek sou so graag vir daardie persoon wat wonder, dit wou sê op ‘n manier dat hy dit hoor: nee, dis nie te laat nie. God het genade vir jou!  Daar is niks wat jy in jou lewe kon doen, wat groter as die iefde van God op Golgota is nie.
  • Maar sonde bly ‘n vernietigende mag. Dis ons keuses wat gesinne vernietig, wat kinders se lewens verwoes, wat maak dat ons gemeenskap se wiele so afval.  Ons nie gemaak om buite God se wil te lewe nie, buite God se wil is daar net dood in alles wat vir ons kosbaar is.

AMEN

En JAn Massys se skildery kan hier gesien word, maar sommige sensitiewe kykers sal weer sê dis pornografie… http://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/4/4e/Jan_Massys_-_David_and_Bathsheba.JPG

 

Advertisements

6 thoughts on “Wat leer die Donkie sy gemeente?

  1. Dis die heel belangrikste boodskap in die Bybel. Ek sou nie omgegee het om vanoggend in jou kerk te gesit het nie. 🙂 God’s grace is sufficient. Amen

  2. wat ek is, is net genade. om ‘n leun te leef is om elke dag te kies om nie God se genade in jou lewe toe te laat nie. ek kan getuig van positief wat uit stukkende situasies kom danksy God se ongelooflike genade.

  3. ~ ‘n Mooi stukkie oor Genade wat ek gelees het:

    ~Genade is God se vergewende krag en genesende liefde
    ~Genade is ‘n lewensgordel wat God na jou toe uitgooi as die golwe van die hel oor jou wil breek
    ~Genade is die gom wat die stukke van jou lewe neem en weer saamvoeg tot iets nuuts
    ~Genade is die welkom-matjie by die voordeur van die Vaderhuis
    ~Genade is die uitveër wat die druipsyfer van jou hopelose probeerslae uitvee en sè God dink
    nie daaraan nie
    ~Genade is die rubberstempel wat sè: Klaar Betaal! – die rekening is vereffen
    ~Genade is al wat oorbly wanneer dit lyk asof daar geen môre weer gaan wees nie

    GENADE IS ALLES WAT GOD JOU GEE – GRATIS ……

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s