Pretoria gesluit tot verdere kennisgewing

Ek het gister besluit: tot hier toe en nie verder nie! Ek gaan vanoggend die balju opdrag gee om al die stadspoorte van Pretoria, anders bekend as Gomorra, met dik slotte en grendels dig te sluit. Almal wat daar woon, moet dringend alternatiewe akkomodasie gaan soek.

So ‘n radikale oproep moet seker so bietjie gemotiveer word. Jy kan nie in Gomorrah bly en ‘n goeie mens bly nie. Ter wille van jou siel- trek! “Arise, go forth, and conquer the world”

Dit is maar my persoonlike opinie. Gebasseer op my persoonlike ervaring van die afgelope twee dae.
Ek moes my swaarverdiende spaargeld vat om vir Varsity Vixen ‘n laptop te koop. Een met ‘n Grafiese kaart, 4 gig Ram en 1 Tb hardeskyf. Die ding kos meer as dubbeld myne s’n. Haar troudag is met tien jaar uitgestel!

So jaag ons deur Kollonade toe maandag, 3 tolhekke soontoe en 3 terug. Koop die betrokke laptop, jaag terug want ek is weer aan diens. Kom tuis- die Ding is morsdood! Skakel Samsung se nommer, want die Ding het ‘n 3 jaar “onsite” waarborg. Vusi neem 16 minute om te verduidelik hoe ek die Ding met sy nood-cd moet herstel. Ure later begin sommige funksies werk, ander steeds nie.

Gistermiddag, gedagtig aan die 7 dae omruil waarvan Vusi so mooi onsamehangend verduidelik het, jaag ek weer terug Tswanetoriamorra toe. 3 Tolhekke soontoe, 3 tolhekke terug.

Ek kom by die Ongelooflike Verbinding. Ek word na die tegniese afdeling toe gestuur. Daar staan ‘n ry mense en wag. Toe dit uiteindelik my beurt is, verduidelik ek mooi geduldig wat my probleem is. Die jong nuwe suid-afrikaner trap my sommer dadelik uit- hoe durf ek self iets aan die rekenaar doen? Vusi het so gesê. Wiedehel is Vusi om so te sê? Die ou by wie ek die waarborg moes registreer- op die nommer wat julle gister so vriendelik vir my gegee het om dit self te doen (die dokumentasie sê dit was julle werk!). O. Dan moet ek more terugkom- sy het nog baie werk wat eers gedoen moet word. My moermeter is dadelik verby die rooi in die witwarm in… Dan het ek al 1000 km heen en weer gery, deur 18 tolhekke heen. Ek verduidelik weer mooi presies waar ek bly. Sy sê ek moet later terugkom.

Ek moet my herstelde Toorts by Menlyn gaan haal. Reg buite die Kollonade ry ‘n taxi reg voor my in, en ry 20 km/u in die vinnige baan. Met die bestuurder wat halflyf uithang met ‘n arm wat omtrent op die teer sleep. Aan die ander kant jaag voertuie verby, ek ry maar saam 20 kmu.

By Menlyn- eers die vraag: het ek enige versekering op my foon gehad? Ek weet nie. My kontrak is so duur ek dink my hele huis is ook daarop verseker. Maar die goeie nuus is: my ou foon is deur die Jordaan- ek kry ‘n refurbished ene wat splinternuut voel. O happy days!

Nou wil ek en Varsity Vixen gou by ouma gaan koffie drink. Ry in Attenbury weg af. In die vinnige baan haak ek vas agter ‘n ten volle toegeruste Land Rover Defender, die een met die gasbottels en jerrykanne en weber braai en dstv skottel en jacuzzi en pooltafel op die dak. Die ou ry 21 kmu in die vinnige baan, asof hy leeus kyk in die Serengeti. Aan die linkerkant jaag die mense verby, haastige ekke ry teen 21 agter die Camel Man aan…

Drink vinnige koffie by my moedertjie, en kry weer pak slae oor ek so vloek op my blog en oor die kind se denims so gehawend is…

Jaag weer terug Kollonade toe om voor 18h00 daar te wees. Vusisesussie verseker my die rekenaar is nou reg. Nou is dit spitsverkeer in Solomon makabeziweg. Ek kry nie meer my pad gevind in Gomorra met al die nuwe straatname nie. Dis nie soos ons dorp waar al die noord-suid strate nou Nelson Mandela weg is, en die oos-wes strate Thabo Mbeki straat is (1e 2e ens…).

Uiteindelik kon ons verby die eerste tolhek kom, met baie groot moeite. Die lewe voel eers weer beter anderkant Hammanskraal!

So- geliefde inwoners van Tswanetoriamorra- vlug vir julle lewens. Trek weg- red julle siele!

Sela

Naskrif- toe ek tuis kom was die rekenaar steeds nie in staat om op wifi te konnekteer nie. 600 km en 12 Tolhekke later…  Alles was weer ‘n gejaag na wind, soos die Wyse oom gesê het…

11 thoughts on “Pretoria gesluit tot verdere kennisgewing

  1. Ek mag seker nie lag nie ~ Maar Werklik! ek kon die anders nie!!! ~ Want dat dit ‘n Wedervaring van Waaghalsige, Wilde – Woeste Wendinge, met beslis baie Wildskrag en ingehoue, Witwarm Wroeging om ‘Iemand’ (want daar is ‘n paar) nie te Wurg nie, en Ds ons Tswanetoriamorra-linge Wyslik Wysmaak om Weg te Wals uit Wilde-Weste-Jacaranda-Gemorra se poorte ~ Wil ek graag vra of ons dan maar daar by Ds se mooie Warmbad-Wêreld kan kom ‘plak’ inni agterplaas, Want Wiedehel, gaan ons jammer kry (behalwe Ds) of Waardehel gaan ons andersins – behalwe om Maakgatskoon (ons maklike ‘onthou’ van Sefato Makgatho – Zambesi weg)….al Vlugtende vir ons lewens want Ja, ons Wil ons siele red ~ voordat ons dalk Weerloos toegesluit gaan word in hierdie stadspoorte van Pretoria…… ….🙂 ……🙂

    Hièrdie Reisverhaal het nou regtig my dag gemaak, Dankie!!….goed beskryf en baie bly Iemand kry ons jammer, en verstaan die wroeginge wat ons daagliks mee te doen kry ….
    Pretoria…o…Pretoria..
    Mag ek dit maar deel op facebook?
    Mooi dag, en kan nie wag vir die volgende Storie nie!

    • Ina, dit is nou pragtige gebruik van die W in alliterasie! Ek is bly as ek jou dag so bietjie kon ophelder, dit is mos maar die doel van hierdie blog… Jy is baie welkom om dit met enige iemand in Pretoria te deel op facebook, want die mense het regtig bemoediging nodig…
      Uiteindelik is die lewenskwaliteit in die Bosveld soveel meer- ons het 3 ure per dag meer as die ou wat in spitsverkeer vassit elke dag! In ons dorp is Spitsverkeer vir drie minute rondom vieruur, as die staatsamptenare huis toe gaan. Enige plek in my dorp is binne 5 minute bereikbaar. So, behalwe nou vir die lelike verwysing na God, het die titel van die polisiekarre se liedjie tog iets reg: Dis hemel op die platteland…

  2. Weet dan nou dominee, wanneer ons Tswanese twak praat, is dit omdat ons besig is om kop te verloor in hierdie plek wat jy so goed beskryf.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s