‘n Les vir alle jong dominees wat ek al 20 jaar terug moes leer…

Ek het ‘n nuwe vreugde in my lewe. Een wat die meeste van julle al lankal ken. Twitter.  Op my Twitter rekening wat nou 48 uur oud is, het  ek alreeds begin om verskeie prominente kerkleiers in die wêreld te volg. Mense soos Leonard Sweet, Stephan Joubert, Lee Strobel, Mike Licona om net ‘n paar te noem.  Alhoewel sulke name my dadelik in die “Emergent Church” hoek gaan klassifiseer deur die Inkwisisie, gee ek eintlik nie om nie- ek kan lees en volg wie ek wil.

Rick Warren het enkele minute gelede die volgende getwiet:

Rick Warren@RickWarren

Fact#1 You’ll never get the approval of unpleasable people. #2 You dont need it to be happy! #3 Live for an Audience of One

Ek wens ek het hierdie woorde gehoor in 1991 as jong Proponentjie, vars uit die Teologiese Fakulteit van Bloemfontein (toe nou nie Potch soos die een my van beskuldig het nie- in my dae het ons nog Pukke vir brekfis geëet)

Dit is van die grootste waarhede wat ek nog gehoor het:

1. Jy sal nooit almal tevrede stel nie.  Daar is ook sekere mense wat in elk geval nooit met enige iets tevrede sal wees nie.  ‘n Mens sien dit so baie op die blogs- sekere mense (dis nou meer by litnet) floreer om ander mense te probeer uithaal. Almal wat nie presies soos hulle is en dink nie, moet net van die aardbol af verdwyn.  Daar is ateïste wat dink alle Christene moes lankal vir die leeus gevoer gewees het. En dis hartseer om te sien dat daar “Christene” is wat dink dat alle ateïste dadelik hel toe moet gaan om nie hulle persoonlike ruimtes te besoedel nie.  Met ateïste kom ek normaalweg reg, behalwe as hulle verkleinerend en afbrekend raak. Ek verstaan waar hulle vandaan kom. In die kerklike wêreld verstaan ek dit heelwat minder.  Ek het dit self aan die lyf ervaar die afgelope paar weke: vir die ateïste is ek te gelowig, en vir sommige “Christene” is ek ‘n dwaalleraar.   Hoeveel moet ek omgee? Kyk weer na punt 2 en 3 wat Rick Warren maak!

In die kerk sal die leraar ook nooit almal tevrede kan hou nie. Ek het dit probeer. Dit werk nie. Toe ek as jong dominee bevestig is, was ek dadelik in die moeilikheid. Die ouer mense op die platteland het ‘n dominee verwag wat soos ons ou leermeester, Prof Mias de Klerk, selfs in ‘n kerkpak sy gras sny (genuine!)  Vir die huisbesoek wat almal uit die hel uit sou hou vir ‘n jaar, is verwag dat die Dominee met baadjie en das sal opdaag. Maar by die jonger lidmate het dit weer afstand geskep- hoekom praat jy so uit die hoogte uit met ons?  En ek was baie meer gemaklik met dieselfde kakieklere as wat my boederygemeenskap dra. Ek wou juis die idee oordra dat ons hele lewe heilig is, nie net Sondag nie. En ek in my Stirling hemp is dieselfde mens as die een met die pak klere op Sondag.  Mense moes juis ook nie opdress as ek kom kuier nie.  Kerkmusiek was nog altyd ‘n verdere punt van groot oorlog. Die ouer geslag het geglo dat die Here net graag na Europese klassieke musiek luister, Bach en Beethoven en Mozart. Kerkmusiek mag nie jonger as 1800 wees nie.  Die jonger geslag hou van Michael W Smith, en Onbeskaamd, en Luidkeels, en Casting Crowns… musiek wat iets verwoord van vandag se stryd om kind van die Here in die hier en nou, met vandag se probleme te verwoord. Hulle weet nie wat beteken “blye galme” en “ryke stof” nie…   Ek het van my eerste dag in my gemeente af moeilikheid gehad: soms met die ouer geslag, vir wie ek te vernuwend dink, en soms met die jonger geslag, vir wie ek uit die oude doos is…

Wie is nou eintlik reg? Uiteindelik dink ek die waarheid lê daarin om die Here Jesus lief te hê, en jou lewenspad saam met Hom te stap, soos wat Hy jou gemaak het om te wees. Ek kan soms luister na Beethoven en Bach, maar soms sê Casting Crowns baie meer my hart se emosie. En daar is net mooi niks in die Liedboek wat naby die aanbidding van Michael W Smith kom nie…

Ek kuier steeds graag by mense. Ek trek my Chinos en my blokkieshemp aan- want dis wie ek is.  Ek praat nie met ‘n ander stemtoon as ek preek of bid of huisbesoek doen nie. Ek probeer eg EK wees, want dit is vir my wat die Here geroep het in sy diens.

2. Ek het nie die goedkeuring van ander nodig om gelukkig te wees nie!

Ek wens ek het dit al in die laerskool geleer. Ek moet bieg, ek sukkel nog steeds met hierdie een. Dis nie lekker as ek weet mense is omgekrap met my nie.  Sekere goed laat my in die aand wakker lê.  Ek kan konflik nie baie goed hanteer nie.

Een ding wat ‘n ouer mentor my al geleer het, was om te gaan kyk- as ek ongelukkigheid bespeur in die gemeente- gaan kyk hoeveel mense voel so, en hoeveel mense verhef hulle stemme daaroor. Soms het die gemeente deur stormagtige tye gegaan. Dit voel sommer of ‘n mens se hele bediening ‘n reuse gemors is. Of ek beter sou doen deur eerder professioneel te gaan bus bestuur in Europa.  Of vis pak in Alaska, of stropers gaan bestuur in Montana…  Maar so dikwels was dit ‘n handjievol korrelkoppe, wat ook ‘n geskiedenis het met ander leraars,  wat weer hulle eie stempel op die kerk probeer afdruk: Geen swartes in ONS kerk nie, niks anders as die Psalms nie…  So dikwels het ek mense se opinies geneem as maatstaf van wie ek is, en wat my bediening bereik. So dikwels het my gesin daaronder gely, want hierdie tipe spanning kom maar saam huis toe- baie van die gevegte vind dan juis plaas in die studeerkamer, waar beswaardes jou wil kom sien oor die nonsens wat jy oor vergifnis of naasteliefde gepreek het…  Gelukkig is die mens wat nie sy eie waarde meet aan die opinies van ander nie. Miskien kom ek ook nog eendag daar uit…

3. Leef vir ‘n gehoor van Een!

Daar is ‘n Here wat my in die moederskoot aanmekaar geweef het, en ‘n droom vir my lewe gehad het selfs voor my geboorte (Psalm 139) Dié Here het my duur gekoop met kosbare bloed aan ‘n kruis op Golgota. Hy stap met my ‘n pad van daardie dag wat sy roepstem in my lewe gekom het: Volg MY!  En uiteindelik is dit die enigste opinie wat saakmaak!  Dié Here wat gesê het ek is ‘n nuwe mens, die ou dinge is verby (2 Korintiers  5:17)  Die God wat gesê het daar is nou vrede tussen Hom en my omdat ek in Jesus glo (Romeine 5:1)  Dié Here lei my deur sy Gees, en wys vir my wanneer daar dinge is wat pla. Die Here gebruik ook medegelowiges met wie ek in ‘n verhouding staan, om my te leer en te mentor.   Die Here, en geestelike vaders en moeders se opinies maak saak. Sommer net enige Jan Rap en sy maat se opinie? Nee wat.

 

So baie dankie, Rick Warren, vir hierdie juweeltjie, ek het weer baie om oor te gaan loop en dink.

Saam met dit, baie dankie aan Louis L’Amour, wat in verskeie van sy boeke die ou Arabiese spreekwoord aangehaal het: Die honde blaf, maar die karavaan trek verby…

Sommige mense is êrens heen op pad- lewe met ‘n doel. Ander staan net langs die pad en maak geraas (kritiseer).

29 thoughts on “‘n Les vir alle jong dominees wat ek al 20 jaar terug moes leer…

  1. Ware woorde Ek gaan dit gebruik in my lewe. Carina se sy wil jou eendag nog eendag ontmoet sy hou baie van jou blog Groete

    • Dankie Nic! Jy het toe inderdaad ‘n wonderlike vrou gekry in die lewe, met soveel wysheid! Ek sal haar ook graag wil ontmoet, en jou kiddies lyk ook baie interessante skepseltjies! Dan kan ek hulle van hulle pa vertel in die Hoërskool… dalk nou nie alles nie…🙂

  2. Jy kan nie almal tevrede stel nie, jy is reg! Ek is baie ontevrede met jou blog… Jy moet iewers die opsie soek in jou widgets, dat mens kan Subscribe per e-Pos. Willie RSS nie, en die Following dingetjie bo help niks.

  3. Ek is mal oor Rob Bell se Nooma reeks praatjies, baie pitkos. Mens moet mos maar die kaf van die koring skei. As ek op Twitter was sou ek ek John Bevere s’n wou volg, maar ek het BAIE respek vir Rick. Live for an audience of ONE. Lank geneem om dit te leer..

  4. Ek is mal oor Rob Bell se Nooma reeks praatjies, baie pitkos. Van die Emerging church. Mens moet mos maar die kaf van die koring skei. As ek op Twitter was sou ek ek John Bevere s’n wou volg, maar ek het BAIE respek vir Rick. Live for an audience of ONE. Lank geneem om dit te leer. Ekke

  5. Baie dankie vir die lekker lees- en leefstof wat jy gee. Ek kon sien dat jy maar ‘n sinkplaatpad moes ry die afgelope paar weke met van die kritiek wat jy moes verduur. Ek is ingeskakel by my eie gemeente maar ek belowe jou as ek eendag in jou kontrei is op ‘n Sondag sal ek graag saam met jou wil aanbid. Ek kan aan die groter prentjie sien dat die Here se hart sigbaar gemaak word in die manier waarop jy lewe. My geestelike broer kom daar uit jou omgewing en tenspyte van woorde soos “boereworsgordyn” en “stoere boere” is ek in my gemoed bly omdat jy die venster is waardeur ek die omgewing sien. Ek sien dit in die manier waarop jy leef en die manier waarop jy reageer op nydige kritiek.

    Moet asseblief nie minder eerlik en “real” wees as wat jy tans is nie. Ons leef in ‘n wêreld waar baie dinge “fake” is en daarom het ons nie ‘n fake of second hand godsdiens nodig nie. Job het eers wakker geword toe hy gesê het: “ek het U nou self gesien”. My eie regte pad saam met God het eers begin toe ek Hom ook self beleef het. Ek sien dat jy mense nie net op daardie pad begelei nie maar dat jou lewe in die bediening groot diwidende vir hierdie stukkende wèreld bring.

    Hou so aan.

    P.S. Wat is jou twitter adres?

  6. Te graag maak ons onsself skuldig aan ‘ter wille van’ en in die proses tree ‘ten koste van’ in en niemand is hulself nie. Nugter weet wanneer ons ‘n samelewing geword het wat eerder ander sal tevrede stel as opreg onsself wees.

    In Engels sê Ps139 dit vir my so mooi : I am fearfully and wonderfully made!

    Dankie Bileam vir hierdie juweeltjie. Ek het nou ook baie om oor te gaan dink🙂

  7. Those who matter don’t mind, and those that mind, don’t matter . . . of so iets. Solank jy jou binne-mense en jou binne-self happy maak, is die saak reg.

    Leef is nie vir sissies nie.

  8. jinne, maar jy praat my taal jong!! dankie vir die deel. yip, ek hou ook van philip en inderdaad van rob bell … al is hy so kontroversieel – ten minste laat dit ‘n mens dink. ook donald miller se boeke is in hierdie genre …

    • Dankie vriendin, dis altyd lekker as jy kom inloer. Philip Yancey het al vir my so baie beteken in my eie worstelinge oor lyding se verstaan. Rob Bell se Noomas laat ‘n mens dink oor die lewe. Uiteindelik kan Christene uit ander tradisies as my eie soms so baie vir ‘n mens leer. Maar daaroor kom ‘n mens mos in die moeilikheid hier rond, lykit my!🙂 Hierdie pos is seker maar in die eerste plek vir myself geskryf- om te onthou Wie en wie saakmaak!

      • Netso!! Dis hoekom ek en my man nie meer na die kerk met die bakstene toe gaan nie. Ons hou anders “kerk”. Te lank in boksies gedruk en Liewe Jesus het ons mos verskillende persoonlikhede gegee – Hy is ook lief vir die rebelle en non-conformists.🙂 Probeer gerus Donald Miller se boeke – begin met “Blue like jazz” …😉

  9. nou kans gekry om so bietjie deur jou blog te blaai.
    Ja WP is baie gewis meer Christen-vriendelik
    Ons skakel hier in by ‘n internasionaal evangeliese gemeente wat so van tyd tot tyd ouens van die ETF kry om te kom preek.
    Veral die een ou, ene Patrick Nullens, het nou al vir my soveel beteken met sy boodskappe dis net nie waar nie.
    Hier en daar is daar ook preke waartydens hulle na bubbles hap, maar dan gaan dit vir my oor die gemeensaamheid van mede christene.
    Indien jy sou belangstel
    http://www.icel.be/cms/index.php/past-sunday-messages

    • Baie dankie Rosa! Dis eers so in die buiteland wat ‘n mens begin waardering het vir ander kinders van die Here, al verskil hulle soms so bietjie van ons tradisie. Ons het baie goeie bande met ‘n gemeente in Aalst, ek was self al daar toe hulle ‘n nuwe gebou in gebruik geneem het vir samekomste. Maar die Belge sukkel oor die algemeen maar met die evangelie!

  10. Reblogged this on jongds and commented:
    Baie dankie hiervoor. Dink dit is goeie advies vir enige mens nie net vir jong dominees nie. Oor punt 2 sê my ma altyd (ja ek weet): Wat sê die mense? Hoekom sê hulle dit? Laat hulle sê. Weet nie of die sêding haar eie is nie, maar dit werk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s