Die tyd is te kosbaar om so te mors!

Volgende week het ek die voorreg om twee begrafnisse te lei.

Ek het nou vir maande dit ontwyk. Maar die een dame in ons gemeente was al 93 as ek nou reg onthou. Die afgelope paar jaar was sy in die bed in die ouetehuis vasgekluister met swak gesondheid. Sy het ook begin deurmekaar raak die afgelope paar weke, en my dikwels met die dokter verwar. Die foto teen haar muur het gewys: Sy was ‘n beeldskone jong vrou. Ek het haar man ook geken, ek het hom ook enkele jare gelede begrawe, Hy en sy het net voor die 2e Wêreldoorlog ontmoet, maar toe het hy gaan veg. Lugafweer kanonne in Egipte en Italië.  Ongeskonde deur die oorlog gekom, en met sy pragtige vrou getrou- die foto wys hulle was so ‘n mooi en gelukkige paartjie, wat darem 60 mooi jare saam gehad het. Nou is daardie hoofstuk van die familiegeskiedenis besig om klaar te maak.

Vanoggend is ek ook uitgeroep na een van ons plase in die gemeente toe. Die bejaarde moeder van daardie huis, 87 jaar oud, was sterwend. Sy kon al vir drie jaar nie meer praat as gevolg van ‘n beroerte nie. Maar sy het mense in haar lewe wat baie lief vir haar is, en haar baie mooi versorg het.  Sy was in ‘n koma toe ek daar kom, en het baie moeilik asem gehaal. Maar sy het die voorreg gehad om in haar eie bed, tussen haar eie mense, haar laaste asem uit te blaas. Weet julle hoe aangrypend mooi is Psalm 23 in sulke tye? Die  Here sal ons Goeie Herder bly, al die dae van ons lewe. In die mooi dae wanneer dit voel soos waters waar daar vrede is. Daardie jong bruide wat so glimlag op hulle troufotos- daar was die Here Herder.  Maar ook wanneer die dae van donker dieptes kom, is die Here daar teenwoordig, Hy lei, en niemand sal sy kinders uit sy hande uitruk nie.  Selfs wanneer die dood opdaag, hoef ons nie bang te wees nie- die Herder se voetspore lê ook daar voor ons.

Dis wat voorlê vir volgende week. Maar ek het ook gister weer in ons ouetehuis gaan kuier by van ons lidmate daar- sewe van hulle. Daar was die oudste lidmaat in ons gemeente- sy is nou 99, en almal bid vir haar, want die ouetehuis het nog nie iemand gehad wat 100 gehaal het nie. Maar die tannie het nou griep opgedoen. Sy sit net in haar stoel, as sy lê trek haar bors toe. Sy sit toegegooi met komberse, dit lyk amper soos daardie toneeltjie van ET op die BMX. En al voel sy sleg, het sy nog steeds ‘n wonderlike humorsin. Maak grappies met haar eie toestand, en spot my sommer ook nog oor ek nog pure kind is.

Ek het die oom besoek wat 94 is, en so ruk terug sy heup gebreek het. Hoe gaan dit met hom? Vol dankbaarheid. Toe hy kon staan, was dit lekker, toe hy kon sit, was dit lekker, noudat hy net kan lê, is dit ook lekker. Hy is lief vir die Here, en so dankbaar as iemand by hom kom kuier. “Sê vir die gemeente Sondag dit gaan baie goed met my!”

So het ek ook by die vrou gekuier wat nog nie 60 is nie, maar met spierdistrofie of iets dergliks sukkel. En ook sy is baie dankbaar en bly, ‘n paar weke terug se bewolkte gemoed het weer weggeskuif…

Van die ander was regtig siek, die ander 90 jarige tannie wat permanent op suurstof is, en na elke tweede woord hyg van die inspanning om te praat. Die ander tannie, 86 jaar oud, wat altyd eers raas oor sy my so lanklaas gesien het… “Dominee- jy het my alweer vergeet…”

Na hierdie besoeke kon ek in my motor klim, en huis toe ry. Ek kon saam met my vrou gaan koffie drink, want dit is skoolvakansie.  Ek kon tyd saam met my kinders deurbring, wat almal vir ‘n slag tuis is.

En hierdie dinge het my baie laat dink- dit saam met die storms wat sommiges in die kerklike wêreld my deesdae toewens- het gemaak dat ek maar redelik min geslaap het.  Ek het diep gedink oor daardie pragtige bruid en bruidegom op ‘n troufoto, wat nou albei die aarde verlaat het.  Ek dink aan my eie fotos- dié wat ek nog geneem het toe ek nog ‘n kamera besit het…
Ek dink aan Lucas Maree wat gesing het van die gapings tussen kiekies wat hom bang maak…
Hierdie is die goeie dae van my lewe, al voel dit nie hierdie week so nie.  Hierdie is die dae van herinneringe bou, vriendskappe waardeer, belê in goeie tye saam met my gesin. Soos ‘n vriend vandag op facebook publiseer: “Life is too short to leave a Bike for 1 day in the garage…”

Ons het net soveel dae op hierdie aarde, ons het geen versekering dat die naaste mense aan ons of onsself Kersfees gaan sien nie.  Elke dag is kosbaar, elke oomblik maak eintlik maar saak.

En daarom wonder ek hoekom ek soveel energie en tyd mors met dinge en mense wat ek nie ken nie, wat geen waarde tot my lewe voeg nie.  Waarom antwoord ek die “Unkown caller” oproepe?  Dis seker maar steeds klassieke midlife crisis vraagstukke, maar ek wil eerder my tyd, my energie, my liefde, my gawes gee waar ek wel ‘n positiewe verskil kan maak. Meer prakties by my gesinslede uitkom. Meer tyd maak vir koffie of rooiwyn saam met my vriende. Meer van myself gee vir my gemeente. En meer kommentaar sommer net delete sonder om daaroor wakker te lê.

Die lewe is net te kort om tyd te mors op nonsens…