Die tyd is te kosbaar om so te mors!

Volgende week het ek die voorreg om twee begrafnisse te lei.

Ek het nou vir maande dit ontwyk. Maar die een dame in ons gemeente was al 93 as ek nou reg onthou. Die afgelope paar jaar was sy in die bed in die ouetehuis vasgekluister met swak gesondheid. Sy het ook begin deurmekaar raak die afgelope paar weke, en my dikwels met die dokter verwar. Die foto teen haar muur het gewys: Sy was ‘n beeldskone jong vrou. Ek het haar man ook geken, ek het hom ook enkele jare gelede begrawe, Hy en sy het net voor die 2e Wêreldoorlog ontmoet, maar toe het hy gaan veg. Lugafweer kanonne in Egipte en Italië.  Ongeskonde deur die oorlog gekom, en met sy pragtige vrou getrou- die foto wys hulle was so ‘n mooi en gelukkige paartjie, wat darem 60 mooi jare saam gehad het. Nou is daardie hoofstuk van die familiegeskiedenis besig om klaar te maak.

Vanoggend is ek ook uitgeroep na een van ons plase in die gemeente toe. Die bejaarde moeder van daardie huis, 87 jaar oud, was sterwend. Sy kon al vir drie jaar nie meer praat as gevolg van ‘n beroerte nie. Maar sy het mense in haar lewe wat baie lief vir haar is, en haar baie mooi versorg het.  Sy was in ‘n koma toe ek daar kom, en het baie moeilik asem gehaal. Maar sy het die voorreg gehad om in haar eie bed, tussen haar eie mense, haar laaste asem uit te blaas. Weet julle hoe aangrypend mooi is Psalm 23 in sulke tye? Die  Here sal ons Goeie Herder bly, al die dae van ons lewe. In die mooi dae wanneer dit voel soos waters waar daar vrede is. Daardie jong bruide wat so glimlag op hulle troufotos- daar was die Here Herder.  Maar ook wanneer die dae van donker dieptes kom, is die Here daar teenwoordig, Hy lei, en niemand sal sy kinders uit sy hande uitruk nie.  Selfs wanneer die dood opdaag, hoef ons nie bang te wees nie- die Herder se voetspore lê ook daar voor ons.

Dis wat voorlê vir volgende week. Maar ek het ook gister weer in ons ouetehuis gaan kuier by van ons lidmate daar- sewe van hulle. Daar was die oudste lidmaat in ons gemeente- sy is nou 99, en almal bid vir haar, want die ouetehuis het nog nie iemand gehad wat 100 gehaal het nie. Maar die tannie het nou griep opgedoen. Sy sit net in haar stoel, as sy lê trek haar bors toe. Sy sit toegegooi met komberse, dit lyk amper soos daardie toneeltjie van ET op die BMX. En al voel sy sleg, het sy nog steeds ‘n wonderlike humorsin. Maak grappies met haar eie toestand, en spot my sommer ook nog oor ek nog pure kind is.

Ek het die oom besoek wat 94 is, en so ruk terug sy heup gebreek het. Hoe gaan dit met hom? Vol dankbaarheid. Toe hy kon staan, was dit lekker, toe hy kon sit, was dit lekker, noudat hy net kan lê, is dit ook lekker. Hy is lief vir die Here, en so dankbaar as iemand by hom kom kuier. “Sê vir die gemeente Sondag dit gaan baie goed met my!”

So het ek ook by die vrou gekuier wat nog nie 60 is nie, maar met spierdistrofie of iets dergliks sukkel. En ook sy is baie dankbaar en bly, ‘n paar weke terug se bewolkte gemoed het weer weggeskuif…

Van die ander was regtig siek, die ander 90 jarige tannie wat permanent op suurstof is, en na elke tweede woord hyg van die inspanning om te praat. Die ander tannie, 86 jaar oud, wat altyd eers raas oor sy my so lanklaas gesien het… “Dominee- jy het my alweer vergeet…”

Na hierdie besoeke kon ek in my motor klim, en huis toe ry. Ek kon saam met my vrou gaan koffie drink, want dit is skoolvakansie.  Ek kon tyd saam met my kinders deurbring, wat almal vir ‘n slag tuis is.

En hierdie dinge het my baie laat dink- dit saam met die storms wat sommiges in die kerklike wêreld my deesdae toewens- het gemaak dat ek maar redelik min geslaap het.  Ek het diep gedink oor daardie pragtige bruid en bruidegom op ‘n troufoto, wat nou albei die aarde verlaat het.  Ek dink aan my eie fotos- dié wat ek nog geneem het toe ek nog ‘n kamera besit het…
Ek dink aan Lucas Maree wat gesing het van die gapings tussen kiekies wat hom bang maak…
Hierdie is die goeie dae van my lewe, al voel dit nie hierdie week so nie.  Hierdie is die dae van herinneringe bou, vriendskappe waardeer, belê in goeie tye saam met my gesin. Soos ‘n vriend vandag op facebook publiseer: “Life is too short to leave a Bike for 1 day in the garage…”

Ons het net soveel dae op hierdie aarde, ons het geen versekering dat die naaste mense aan ons of onsself Kersfees gaan sien nie.  Elke dag is kosbaar, elke oomblik maak eintlik maar saak.

En daarom wonder ek hoekom ek soveel energie en tyd mors met dinge en mense wat ek nie ken nie, wat geen waarde tot my lewe voeg nie.  Waarom antwoord ek die “Unkown caller” oproepe?  Dis seker maar steeds klassieke midlife crisis vraagstukke, maar ek wil eerder my tyd, my energie, my liefde, my gawes gee waar ek wel ‘n positiewe verskil kan maak. Meer prakties by my gesinslede uitkom. Meer tyd maak vir koffie of rooiwyn saam met my vriende. Meer van myself gee vir my gemeente. En meer kommentaar sommer net delete sonder om daaroor wakker te lê.

Die lewe is net te kort om tyd te mors op nonsens…

24 thoughts on “Die tyd is te kosbaar om so te mors!

  1. Oom Donkie. Daar is ‘n storie wat my altyd bybly. Ek dink nie dis ‘n maklike een nie, maar kom ek vertel jou. (dalk het ek al!!)
    Lady Di was op ‘n stadium die wêreld vol beskinder. Seker in die tyd wat sy oor die muur geloer het of wanneer ook al. Haar reaksie op al die kritiek? Sy het begin om net meer dierbaar te wees, meer goeie werk te doen, meer hospitale of vigsklinieke of wat ook al te besoek. Soveel so dat diê wie vir haar lief was en haar ondersteun het, dit net meer en meer gedoen het. Later het mens amper nie meer die negatiewe dinge gedoen nie.
    As dit waaroor die mense kla, waarde het en iets is wat daaraan gedoen moet word, kyk daarna. As dit sommer net ontevrede mense met dik monde is…. ignoreer hulle. Hulle sal gou-gou agterkom dit help nie, en sal ander plek soek om moeilikheid te maak.
    Tot dan…. baie sterkte.!!
    (Jy moet tog vir my daai dwaalleër preke van jou stuur. Ek het die gawe van onderskeiding – sal kyk of dit so is of nie!!:mrgreen:

  2. Met verwysing na jou laaste paragraaf.
    Om bemoeienis te maak met mense wat jy sos nie eers ken nie is deel van dit wat jou so uniek maak. Dit is dan juis daardie eienskap van jou wat so ‘n blywende indruk by my gelos het. Ongelukkig gaan jy ook meer as die gewone ou ondervind dat jou opheid teenoor mense vertrap word as gevolg van watter duistere redes ookal, en dit laat jou wakkerlê in die nag juis omdat dit so die teenoorgesteld is van wie en wat jy regtig is.

    Ek stem saam, werk daaraan om mense en dinge uit te filter wat nie waarde toevoeg nie, maar moet nooit ophou om om te gee vir mense nie, al is hulle vreemdelinge. En weet ook dat jy meer vriende as vyande het.

    • Dankie Plasie_jy het ‘n skitterende manier om dinge reg te sê- ek bedoel regtig nie dat ek toe wil wees vir onbekende mense nie. Net, soos in verlede week se geval van twee mannetjies wat my ‘n wolf in skaapklere noem sonder om my te ken- sulke dinge wil ek leer behandel met die gepaste minagting wat dit verdien. Hierdie aanvalle van gelowiges se kant af is vir my net 100 maal erger as die ateÏste by litnet s’n. Dit gaan oor wat ek van die kerk verstaan. Die kerk is die huisgesin van God, het Paulus gesè. Gesinsmense maak altyd baie seerder as vreemdelinge.

      Die inskrywing wat mense so omkrap, se bedoeling was juis hierdie agteraf bakleiery in die kerklike wèreld, om dit as verkeerd uit te wys. Jesus het gesè deur gelowiges se liefde ssl ons die wéreld in ‘n beter plek kan verander. Maar vir sommiges is hulle eie presiese weergawe van die waarheid belangriker as om lief te hé. Om sommer net so ligtelik mense te verdoem dat hulle hel toe gaan omdat hulle so bietjie anders dink- sulke optrede laat my wakker lé. Mense wat so die volle waarheid beet het dat hulle vergeet het om in die eerste plek lief te hè. Mense wat so graag in die kerk gehoor wil word, maar vergeet het om voete te was soos Jesus in Johannes 13 gesé het. Hierdie openbare bakleiery maak dat niemand meer die kerk se oorspronklike boodskap hoor nie. En dis wat my so omkrap!

  3. Ek mis nie een van jou skryfstukke nie. Elkeen voeg op sy besondere manier waarde tot my lewe toe, en ek is seker ook tot baie ander mense se lewens. Baie dankie vir wie en wat jy is. Ons waardeer jou! (O ja, en my pa – oud dominee wat hierdie jaar al 84 word – is altyd vol komplimente vir jou en jou preke as hulle die slaggie bietjie hier by ons kuier – dit sê baie!)

  4. Onlangs het ek hierdie raakgelees : “unless you can walk on water – don’t judge me”

    Dit is soveel makliker om iemand aan te val oor sy kernwaardes – wat hy bereid is om openlik en eerlik uit te leef – as wat dit is om te erken dat jy dit nie reg kry nie en heimlik verlore is.

    Om buite die boks te dink is in te veel mense se oë ‘n ‘sonde’. Luister na jou inner most being Bileam en bodder die res.

  5. Goed geskryf. It’s more important to be kind than to be right.
    Ek dink daar is ‘n tekort aan GRACE in die kerk (gelowiges, nie instelling). Ongelukkig. En al wat ons kan doen is ‘to bestow grace on others.’ As mense nie ons lewe moeilik maak nie, sal ons nie leer om Sy grace te gee nie.
    Wat die ouderdom betref, dink ek mens moet oefen as jy jonk is, want wat mens binne-in gebere het, is wat gaan uitkom wanneer mens oud is.

  6. Eish, dit is diep! Baie dankie!

    Ek dink nou aan my oudste wat tans in Namibie is, besig met sy internskap in Windhoek by een van die staatshospitale. Ek vra hoekom in Namibie en die antwoord “Pappa ek weet nog nie wat die rede is nie maar ek glo daar is een” Dalk is dit hoekom u die “Unknown caller” oproepe antwoord, u glo en dien!

    Groete uit Kroondal

    • Baie dankie, Johan, en baie welkom hier!
      Jou seun is baie gelukkig om in Windhoek te wees, ek dink dis ‘n baie besondere plek. Mag die Here mooi wys wat die rede was, en hy regtig gelukkig wees in sy manier van mense dien. Net een ou dingetjie- ek is regtig nie ‘n “u” nie, sommer net ‘n “jy en jou…” wat saam met jou die Here dien!

  7. En ek sit nou hier in Finland in ‘n hotelletjie in `n kroegie (want hier is wifi) en lees Bileam se Donkieblog en glimlag dat my kake pyn. Rondom my praat die mense in die pragtige Finse taal wat ek glad nie verstaan nie. Dankie vir hierdie pragtige blog en mooi gedagtes.

    Ek ken Johan wat die vorige opmerking geskryf het en sy gesin goed. Pragtige pragtige mense. Ons almal moet `n bietjie eendag op Naboom om my vuurtjie kom sit en kuier.

    Groete!

  8. Ek glo daaraan om alles te probeer doen wat ek graag wil doen. Ervarings in mens se lewe kan mens nooit wegvat nie. Maar kry vir jou ‘n kamera. Neem jou kinders af.
    En mens moenie jou steur aan ander mense nie (ek doen dit ongelukkig ook) maar jou lewe lei (preek vir myself); want ons is elkeen vir ons self verantwoordelik. Jy en God weet wat jou hart bevat en wie jy is; en dis al wat saak maak

    • sjoe – maar julle is ‘n klomp wyse mense hier bymekaar. 😉 dit het nou sommer vir my iets beteken – alles wat julle se. ek weet dit en so, maar dis goed om dit weer te hoor. ek sukkel ook maar waarmee jy sukkel bileam se donkie … ai ai, die grace tog darem ne?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s