Die prys van die liefde…

1+1= 2 het ek in Graad 1 geleer in Monumentpark Laerskool lank, lank gelede. En dit is ‘n universele waarheid. Ek kan egter vir Jeremy Clarkson hoor vra op Top Gear: “Or is it? ”

1+1=?  Die antwoord kan eintlik baie relatief wees. Wat is die 1? Wat is die ander 1?

Neem nou maar 1 man, en 1 vrou, wat saamgeplus word op die huweliksdag.  My ervaring is dat 1+1= 6. Daar is ses van ons in hierdie gesin, wat nou lewe. Gebore uit die liefde tussen 1 man en 1 vrou.  Daar is amper 23 jaar se ervaring in hierdie huwelik. Baie, baie goeie tye. Soms baie hartseer tye. Baie groot hoogtepunte, soms baie diep donker tye wat ons saam deurgemaak het. My ervaring is: ek wat 1 mens is, is meer as 1 omdat my Ander in my lewe is. Ek is ‘n baie meer gebalanseerde mens as wat ek ooit op my eie sou wees, omdat ek en my vrou een is. Sy vul my aan. Ek voel eensaam sonder haar. Alles voel net nie reg as sy nie tuis is nie.  Soms spot ek en my vriende en sê dat om gelukkig getroud te wees, al erg genoeg is.   Maar ek sou my lewenspad nie anders wou hê as die jong, pas 23 geworde jong mannetjie wat voortvarend voor die kansel die res van sy lewe aan sy bruid belowe nie.

Maar vanoggend het iets in my bediening gebeur wat my tot in my diepste wese ruk.

Hoe lyk 1+1 as jy 60 jaar by die som sit?

In my gemeente is die wonderlikste, mees saggeaarde omie, wat nou goed in die tagtigs is. En hy het ‘n vrou vir wie hy baie, baie lief is, hy is al 60 jaar met haar getroud. Dit is altyd so mooi as hulle saam in die kerk inskuifel, die manier wat hulle na al die jare nog na mekaar kyk.

Hulle lewe saam was nie maklik nie.  Al hulle seuns is vroeg dood. Die seuns het elkeen ‘n genetiese hartdefek gehad, wat voor hulle 40 ste verjaardag tot fatale hartaanvalle gelei het. Al was hulle fiks, en al het hulle so mooi na hulle gesondheid probeer kyk.

Maar ten spyte van al hulle seer, was hierdie bejaarde egpaartjie nog steeds altyd diep gelowige mense, wat die mooi in die lewe geniet, en dankbaar is vir alles wat hulle beleef.

Vanoggend is die oom dringend op soek na my. Hy stop hier by my huis, maar toe ek nie vinnig genoeg die deur oopmaak nie, jaag hy na kollega se huis toe. Kollega is weg vir sy afdag. Die oom jaag terug huis toe, en skakel my. Binne twee minute is ek by hom by hulle woonstelletjie by ons ouetehuis.

Die oom se hart is baie seer. Sy geliefde vrou se niere het opgehou werk. Hulle was verlede week by die dokter, maar daar is nie veel wat hy daaraan kan doen nie.  Sy weier nou botweg om weer dokter toe te gaan. Intussen is die vog besig om op te bou in haar liggaam.  Die oom se oë swem in die trane- dis sy maatjie van 60 jaar!  En sy is nou besig om te sterf. Hy is magteloos, hy kan vir haar niks doen nie.

Ek gaan sit en gesels met die tannie. Sy is verbasend helder van verstand, en lyk eintlik maar soos ek haar altyd ken.

Nee, sê sy, hulle het nie ‘n mediese fonds nie.  Hulle was nou die dag by die plaaslike hospitaal vir hulp. Hulle het gesien hoe pasiënte op kaal matrasse op die grond lê, en daarvoor sien sy glad nie kans nie.  Die privaat dokter wat hulle uit die sak betaal het, het mos gesê daar is nie meer behandeling nie.  Sy kies om eerder in haar huis, by haar man te bly tot die einde toe.  Sy is diep dankbaar vir hulle wonderlike lewe saam, maar haar liggaam is duidelik besig om af te skakel. Sy het volle vrede in haar hart, en is gereed om te gaan.  Sy weier volstrek dat ons weer ‘n dokter laat kom, dit gaan net geld mors wees.

Met soveel liefde kyk sy na haar man, wat haar besluit so aanvaar. As sy gereed is om te gaan, gaan hy haar nie terughou nie. Dis net so ongelooflik moeilik om tot siens te sê. Hoe ver is die einde? Ek as leek weet glad nie, dis die dokter se terrein daardie. Die vog is besig om op te bou in haar liggaam, en sover ek weet, neem dit later die longe oor, en dis gewoonlik baie traumaties om te sien.

Dit lyk na die einde van die pad, binne die volgende dag of twee.  Die oom se hart is besig om stukkie vir stukkie te breek. Hy is self nie gesond nie, ek weet nie of hy baie lank na haar dood gaan aanhou leef nie.

Maar dis daardie totsiens sê in hierdie lewe wat my so “rattle” vandag. Die oom se manier van kyk na sy vrou. Daardie jare en jare se liefde, die seer van afskeid na ‘n leeftyd saam.

Ek wou julle almal nie heeltemal depressief maak nie, liewe lesers! Ek dink net vandag daaraan hoe kosbaar is liefde, en hoe kosbaar is elke dag saam, want die ure wat ons het op hierdie aarde, tik stadig maar seker verby.  Ek dink nou skuldig daaraan hoeveel tyd ek self in die huwelik mors deur onnodig kwaad te wees oor nonsens. Hoeveel mooi dae deur slegte buie opgeneuk word.  Hoe ‘n mens so maklik in ‘n dag tot dag oorlewingstryd verval, sonder om elke dag voluit te leef en die klein dingetjies van elke dag te koester.  Maar die ure, dae, maande jare gaan soos skadus stil verby, soos die ou Psalm sê…

Ja, liefde is vir altyd, maar totsiens sê in hierdie lewe is nooit maklik nie.

Ek sal maar weer vanmiddag daar ‘n draai gaan maak, en kyk wat ek kan doen om hulle seer te help dra.