Die prys van die liefde…

1+1= 2 het ek in Graad 1 geleer in Monumentpark Laerskool lank, lank gelede. En dit is ‘n universele waarheid. Ek kan egter vir Jeremy Clarkson hoor vra op Top Gear: “Or is it? ”

1+1=?  Die antwoord kan eintlik baie relatief wees. Wat is die 1? Wat is die ander 1?

Neem nou maar 1 man, en 1 vrou, wat saamgeplus word op die huweliksdag.  My ervaring is dat 1+1= 6. Daar is ses van ons in hierdie gesin, wat nou lewe. Gebore uit die liefde tussen 1 man en 1 vrou.  Daar is amper 23 jaar se ervaring in hierdie huwelik. Baie, baie goeie tye. Soms baie hartseer tye. Baie groot hoogtepunte, soms baie diep donker tye wat ons saam deurgemaak het. My ervaring is: ek wat 1 mens is, is meer as 1 omdat my Ander in my lewe is. Ek is ‘n baie meer gebalanseerde mens as wat ek ooit op my eie sou wees, omdat ek en my vrou een is. Sy vul my aan. Ek voel eensaam sonder haar. Alles voel net nie reg as sy nie tuis is nie.  Soms spot ek en my vriende en sê dat om gelukkig getroud te wees, al erg genoeg is.   Maar ek sou my lewenspad nie anders wou hê as die jong, pas 23 geworde jong mannetjie wat voortvarend voor die kansel die res van sy lewe aan sy bruid belowe nie.

Maar vanoggend het iets in my bediening gebeur wat my tot in my diepste wese ruk.

Hoe lyk 1+1 as jy 60 jaar by die som sit?

In my gemeente is die wonderlikste, mees saggeaarde omie, wat nou goed in die tagtigs is. En hy het ‘n vrou vir wie hy baie, baie lief is, hy is al 60 jaar met haar getroud. Dit is altyd so mooi as hulle saam in die kerk inskuifel, die manier wat hulle na al die jare nog na mekaar kyk.

Hulle lewe saam was nie maklik nie.  Al hulle seuns is vroeg dood. Die seuns het elkeen ‘n genetiese hartdefek gehad, wat voor hulle 40 ste verjaardag tot fatale hartaanvalle gelei het. Al was hulle fiks, en al het hulle so mooi na hulle gesondheid probeer kyk.

Maar ten spyte van al hulle seer, was hierdie bejaarde egpaartjie nog steeds altyd diep gelowige mense, wat die mooi in die lewe geniet, en dankbaar is vir alles wat hulle beleef.

Vanoggend is die oom dringend op soek na my. Hy stop hier by my huis, maar toe ek nie vinnig genoeg die deur oopmaak nie, jaag hy na kollega se huis toe. Kollega is weg vir sy afdag. Die oom jaag terug huis toe, en skakel my. Binne twee minute is ek by hom by hulle woonstelletjie by ons ouetehuis.

Die oom se hart is baie seer. Sy geliefde vrou se niere het opgehou werk. Hulle was verlede week by die dokter, maar daar is nie veel wat hy daaraan kan doen nie.  Sy weier nou botweg om weer dokter toe te gaan. Intussen is die vog besig om op te bou in haar liggaam.  Die oom se oë swem in die trane- dis sy maatjie van 60 jaar!  En sy is nou besig om te sterf. Hy is magteloos, hy kan vir haar niks doen nie.

Ek gaan sit en gesels met die tannie. Sy is verbasend helder van verstand, en lyk eintlik maar soos ek haar altyd ken.

Nee, sê sy, hulle het nie ‘n mediese fonds nie.  Hulle was nou die dag by die plaaslike hospitaal vir hulp. Hulle het gesien hoe pasiënte op kaal matrasse op die grond lê, en daarvoor sien sy glad nie kans nie.  Die privaat dokter wat hulle uit die sak betaal het, het mos gesê daar is nie meer behandeling nie.  Sy kies om eerder in haar huis, by haar man te bly tot die einde toe.  Sy is diep dankbaar vir hulle wonderlike lewe saam, maar haar liggaam is duidelik besig om af te skakel. Sy het volle vrede in haar hart, en is gereed om te gaan.  Sy weier volstrek dat ons weer ‘n dokter laat kom, dit gaan net geld mors wees.

Met soveel liefde kyk sy na haar man, wat haar besluit so aanvaar. As sy gereed is om te gaan, gaan hy haar nie terughou nie. Dis net so ongelooflik moeilik om tot siens te sê. Hoe ver is die einde? Ek as leek weet glad nie, dis die dokter se terrein daardie. Die vog is besig om op te bou in haar liggaam, en sover ek weet, neem dit later die longe oor, en dis gewoonlik baie traumaties om te sien.

Dit lyk na die einde van die pad, binne die volgende dag of twee.  Die oom se hart is besig om stukkie vir stukkie te breek. Hy is self nie gesond nie, ek weet nie of hy baie lank na haar dood gaan aanhou leef nie.

Maar dis daardie totsiens sê in hierdie lewe wat my so “rattle” vandag. Die oom se manier van kyk na sy vrou. Daardie jare en jare se liefde, die seer van afskeid na ‘n leeftyd saam.

Ek wou julle almal nie heeltemal depressief maak nie, liewe lesers! Ek dink net vandag daaraan hoe kosbaar is liefde, en hoe kosbaar is elke dag saam, want die ure wat ons het op hierdie aarde, tik stadig maar seker verby.  Ek dink nou skuldig daaraan hoeveel tyd ek self in die huwelik mors deur onnodig kwaad te wees oor nonsens. Hoeveel mooi dae deur slegte buie opgeneuk word.  Hoe ‘n mens so maklik in ‘n dag tot dag oorlewingstryd verval, sonder om elke dag voluit te leef en die klein dingetjies van elke dag te koester.  Maar die ure, dae, maande jare gaan soos skadus stil verby, soos die ou Psalm sê…

Ja, liefde is vir altyd, maar totsiens sê in hierdie lewe is nooit maklik nie.

Ek sal maar weer vanmiddag daar ‘n draai gaan maak, en kyk wat ek kan doen om hulle seer te help dra.

25 thoughts on “Die prys van die liefde…

  1. Ek kan ‘n opstel en nog drie ekstra bladsye skryf oor hoe ek die liefde sien. Die woord liefde alleen kry my dat ek begin woorde vorm en argumente lewer. Nogal nie almal so positief en mooi nie.

    Ek lees vandag hierdie verhaal van mense wat ek nie ken. Wat stilweg deur ‘n ander se skrywe my pad kruis op hierdie Maandag. Dan word dit stil in my.

    Agape. Onbaatsugtige liefde. Twee wat een geword het. DIT is wat liefde is.

    Nie ‘n leë huwelik wat met leuns en stront stories aanmekaar geplak is nie. Die lewe is net eenvoudig te kort en te kosbaar om dit met bulltwang te vul as hierdie tipe stories jou herinner dat liefde meer as net ‘n blinking woord is.

    Dêmmit mense – LEEF sodat as jy soos hierdie oom met stukkende oë moet begin groet na 60jaar jy dit doen met jou karakter en integriteit in plek. Dat jy kan kyk na die beste deel wat jy groet en kan sê – ek het jou my alles gegee. Dat jy jou maat groet en weet tot op die einde was ons een.

    Ek huil vandag vir hierdie oom wat sy maat moet groet. Vir mense wat hulle lewens vol probeer maak met leeg. My koue hart vat hierdie storie en bêre dit in my canfruit-bottel van mooi.

    Somtyds Bileam help dra jy aan ‘n ander seer deur net daar te wees

    • Baie dankie hiervoor, Anoniem! Dis altyd wonderlik as daar iets mooi uit seer gebore kan word. En ja, dis waaroor dit gaan- waardeer elke liewe dag wat jy kry saam met die een wat jy liefhet!

  2. Ek dink nou onwillekeurig terug aan so drie jaar gelede, toe presies dieselfde toneel homself afgespeel het met my ouers! Ek kon probeer troos soveel ek wou, dit was tog maar net nie dieselfde nie, hy het sy maat gesoek.
    Dit was hartseer om te sien hoe Pa homself dood kwyn na Ma se dood, maar tot op die laaste was hy ‘n voorbeeld van liefde vir sy eggenoot. Ek hoop my broers en susters het opgelet!
    Ek glo ook dat daar vir die Oom berusting sal wees, dit klink asof hul liefde vir mekaar wonderlik was.

    Groete uit Kroondal

    Johan

    • Dankie Johan- ook vir daardie mooi getuienis van jou ouers! Ek het soveel keer meer die ander kant gesien, van mense wat nie met mekaar kan uithou nie, en mense wat alleen deur die donker dieptes van die lewe moet gaan. En hierdie, soos jou ouers se voorbeeld, is maar die beste manier om eendag klaar te maak met die lewenswedloop: om te kan sê: ek het enduit liefgehad…

  3. ” Bileam se nuutste post is hartseer . . . ”
    So gesels my wederhelf so flussies op skype met my.

    Is so, maar dit is ook hartseer getemper met genade (grace). Hoe dikwels kry iemand die geleentheid om seker te maak dat sy/haar laaste woorde aan ‘n geliefde woorde van onderskarging en liefde is? Dat sy laaste taak is om sy geliefde tot op die walle van die Styx rivier te begelei.
    Om totsiens te sê kan nie maklik wees nie, maar dit kan makliker wees as jy kan totsiens sê sonder die skuldgevoelens van wou nog, moes nog of daai laaste kwaai gesprek. Die prys van liefde is steil, soos dit maar is met die koste van kwaliteit. Maar die beloning is net so groot. Wat ‘n voorreg om dit so te kan afsluit.

    • Ekskuus man, regtig nie bedoel om mense hartseer te maak nie! Maar ja, dit gaan vir my om net weer te dink hoe kosbaar elke dag is waarin daar liefde is. Mense wat die lewe vier en waardeer- soos jy en jou geliefde ook!

  4. Ai wat n aangrypende storie! In vandag se tyd is dit nogal iets om te aanskou – 2 mense so lank saam en nog die liefde en omgee vir mekaar. Dankie dat jy dit met ons deel en sterkte vir jou. Maar laat ons positief daarna kyk en dit sien as n ‘celebration of a life lived to the full ‘. Inderdaad n rariteit vandag.

  5. Ek het gesien hoe my pa van my ma afskeid neem, maar hy was die een wat kritiek siek was, nie sy nie. Dis ongelooflik om sulke liefde te aanskou, my ouers het nie hulle gevoel vir mekaar voor ons gedeel nie, en daarom was dit in hulle hoe ouderdom ekstra spesiaal.

    Sterkte vir jou ook wat probeer troos en vir die mense om hulle daardie besluit te verduidelik. Dis ‘n grootse besluit om te neem. Tannie, mag tannie gou gaan en nie ly nie. Oom, baie liefde vir oom wat agter bly, wat in liefde die tannie se besluit eerbiedig. Vrede vir julle.

  6. Pingback: Doellose Dobber « Somtyds

  7. Dit is hartseer ja, maar tog ook die wonderlikste getuienis van 6 dekades se liefde. Daar staan nie verniet geskrywe “En die grootste hiervan is die liefde”, nie. My grootste wens is dat mense nie eendag moet vaskyk in die hartseer van my heengaan nie, maar in die vol lewe wat ek gelei het tot op daardie punt, of dit nou 38, 40 of 90 jaar is.

  8. nee man – wil jy nou he ek moet op hierdie reenerige, trietsige dag aan die grens gaan – ‘n ugly cry??

    nee vrek – ek en my man is nou eers amper 3 jaar getroud en ek kry ‘n vreeslike hol kol om te dink ek moet hom ooit verloor.

    het ook nou die aand ‘n scene gesien op die tv waar iemand van ‘n partner afskeid neem, waar hy sy laaste asem uitbly – ek wou mal word.

    ai, maar saam met die hartseer is dit so cute dat die oom en tannie so lank bymekaar was – sjoe!!

  9. Pingback: Op hierdie koue dag… « Bileam se Donkie

  10. Pingback: Die Prys van die Liefde- deel 2 « Bileam se Donkie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s