Die Fees is nou op ons…

Nee, nou nie so indrukwekkend soos Aardklop of Oppikoppi nie. Dis sommer pleinweg gestel ons kerkbasaar. Maar kerkbasaar se naam klink nie mooi nie, dit klink of dit net om geld insamel gaan.

Nee, dis ‘n Fees. Ons probeer die hele gemeenskap lok om by ons op die kerkterrein te kom kuier, te sien hoe lekker almal saamwerk, en die atmosfeer te kom geniet saam met ons.

Ek dink ook nogal dat mense waarde vir hulle geld kry. Vanaand is die Feesete om 18h00. Sorry- jy moes al Maandag kaartjies gehad het om te kom!  Die jong opkomende sanger Enrico (vergewe spelling indien nodig- dis nié Enrique Igliasis nie, maar klink glo nes Josh Groban) sing na ete vir ons. Die ete self- ‘n heerlike klein hoenderpastytjie vir voorgereg. ‘n Potjie vir hoofgereg- en ek het daardie vleis hanteer- dis Supergraad rumpsteaks, topside en silverside wat met die grootste sif gemaal is.  Daar is so mouse vir nagereg, ons het dit maandagaand in die laaste Feesvergadering geproe, en dit is baie lekker, maar ek sal die goeie bottel Rooi nie mag vergeet nie…

Vir atmosfeer en die Bosveldson is daar van 80% skadunet ‘n tent gemaak wat die paar 100 viermante meter tussen ons kerk en saal toemaak. Dit verskaf koelte en ‘n baie lekker atmosfeer. Ons het ‘n professionele klankman en -sisteem. Die verhoog is ‘n reuse sleepwa, versier met baie plante…

Vanaand na die groot ete werk ons eers hard- dan gaan al die tafels na al die verskillende stalletjies toe, wat vir more opgemaak word.

En moreoggend om 05h30 gaan haal ek die lorrie met die vrug van my span se 2 weke se harde werk- die 22 varke en 8 beeste wat saam kom feeshou. EK dink net hulle geniet dit nie so baie soos ons nie.  So dankbaar, niemand se vinger is hierdie jaar afgesny nie, niemand behoort ‘n trouring in die wors raak te byt nie.  Die pryse is fantasties- veral ons jong varkboere in die gemeente dring aan dat dit bekostigbaar moet wees- R28 per kilo vark deur die bank- en dis die mooiste kwaliteit wat jy kan kry.  Wel, die eisbeins en spareribs wat gerook en gepekel is, is natuurlik so effens duurder…

Die vleis bly die een groot trekpleister na ons fees toe. En ek is so bitterlik dankbaar as ek die lorrie met al die leë kratte kan gaan aflewer so moremiddag 13h00.  Dit is altyd ‘n gevoel van ‘n reuse taak wat suksesvol afgehandel is. Maar dit kom nie sonder stampe of stote nie.  As jy twyfel aan die sondige natuur van die mens, probeer vleis baie goedkoop aan die Here se kindertjies verkoop… so het ‘n wyse donkie verlede jaar êrens op ‘n blog gesê. Dis steeds waar.  Met die vleiswerk span het dit baie rustig gegaan, tot die laaste dag. Toe het die een broer sy moer gestrip oor almal vir hom bevele gee, en hy kom uit die weermag uit, net een ou is in beheer. Hy gryp sy mes en dril daar uit… my mond hang nou nog oop- ons het dan ons doel bereik- al die vleis is suksesvol in die gegewe tyd baie netjies verwerk. Ek is in beheer, maar ek werk met ‘n span wat baie meer van vleiswerk weet as ek. Daarom lewer elkeen insette oor wat hulle dink die beste manier is om hierdie betrokke stukkie vleis met respek aan te spreek en aan te bied.

Dan gaan daar weer die bakleiery by die verkope wees- daar is net soveel fillets (Supergraad) teen R80 per kilo. Ons rumpsteaks teen R60 is ook net soveel… Ons het die keursnitte nou maar in “hampers” verpak, as jy ‘n fillet wil hê, koop jy ‘n pakket wat wors en maalvleis en varktjops insluit… hoekom? Sodat die enkele miljoeners nie daar instorm en al die fillets in ‘n mandjie gooi voor al die verdwaasde armes nie. Elkeen kry ‘n kans- hoop ons. Ek weet ons het die beste vleispryse in die dorp. Net ons maalvleis word op die oomblik geklop deur een van die groothandelaars.  R40 per kilo baie mooi maalvleis, waarin daar geen kliere, senings of bene, of beesharte en ander duistere dinge in is nie, is die beste wat ek kan aanbied.  Party van die Here se kindertjies gaan weer in die rye indruk, party gaan weer woes probeer pryse afstry, maar ek is nie die Orientale mark nie!  En party gaan weer vergeet om hulle eie koelhouers te bring en pleit om die kratte te leen van die groothandelaars wat ons gehelp het met die fasiliteite om die vleis op te sny. Ek staan verantwoordelik vir elke krat wat die perseel verlaat, teen R75 ‘n krat kan dit vinnig ‘n lelike klomp geld word. Ek sê nee, en tog verdwyn daar steeds elke jaar ‘n krat of twee, en staan ek verleë as ek die vragmotor en kratte gaan terugboek…  Leen is ‘n baie lelike woord, se (wat is daardie ding wat nou weer aan ‘n bout vasskroef?) man!

Die res van die fees lyk soos dit moet. Daar gaan weer lekker basaarpoeding wees teen net R5 ‘n bakkie.  Daar is kerrie en rys, vetkoeke, Plaasontbyt. Gebak- maar ons sukkel steeds met die groot- en kleinkoeke op die basaar.  Die kinders se gesiggies gaan geverf word, hulle gaan spring op die springkastele. In die hoek gaan die manne skyfskiet vir groot pryse. In die Bosveld is dit belangrik om gereken te word as ‘n goeie skut.  Al vermoed ons ‘n paar van die meer duistere karakter broers neem gereeld deel aan die nie-Olimpiese sport Poaching…

Ons gaan BAIE hard werk van vanmiddag af, ons gaan BAIE eet en koeldrank drink. Ons gaan in die sweet van ons aangesig vir die gemeenskap iets lekkers probeer aanbied.  En elkeen wat kom, behoort ‘n “bargain” of twee raak te loop.  Ai maar dit is lekker op die Platteland!

Gelukkig is daar nie hierdie jaar Donkieritte nie, die Donkie is steeds siek…

 

 

 

Advertisements

60 Minute voor opdraftyd…

Ek weet ek is maar baie stil deesdae hier rond. Sorry.  Ek het net baie lanklaas so ‘n tyd in my bediening beleef.  Daar het seker 8 maande verby gegaan wat almal in die gemeente mooi aan die lewe gebly het. En toe kom Augustus!

Elfuur het ek my sesde begrafnis in vier weke.  Donderdag oggend die sewende een.

Augustus is al klaar die moeilikste maand van die jaar, want op die eerste Saterdag van September hou ons Fees, beter bekend as kerkbasaar. Ek is verantwoordelik vir die vleis op die basaar. En ek moet sorg dat daar nie minder as R120 000 van die vleis af inkom nie. Daarom was die vorige twee weke, tussen die begrafnisse deur, gevul met vleis werkery.

Vanoggend se begrafnis ruk my weer baie. Behalwe dat ek nog glad nie die griep afgeskud het nie, sukkel ek met vanoggend se diens. Ek begrawe ‘n jong man van 39. Hier in ons gemeenskap was hy stil en rustig. Maar ses jaar gelede het hy nog bomme onskadelik gestel in Irak.  Met al daardie spanning in sy lyf het hy maar gesukkel met maagsere.  Een het gebars, en na binne die buik moeilikheid veroorsaak. Hy het septisemia opgedoen, wat sy organe lelik aangeval het- die jong man is in 40 dae in die ICU in Polokwane se staatshospitaal deur 7 hartaanvalle.  Hy het verlede week nie die operasie oorleef om die voedingsbuis te skuif nie.

Ek het twee weke gelede sy vrou se pa ook begrawe, na ‘n stryd teen kanker verloor is.  Hulle het die pragtigste 5 jarige dogtertjie.

Party mense loop darem net sulke baie seer paaie in die lewe.  In sulke tye in my lewe lees ek maar Philip Yancey se boeke. “Where is God when it hurts” het al vir my so baie beteken. En soms, as ‘n mens lekker opstandig raak oor die wêreld so reuse gemors kan wees by tye, “Dissapointment with God”…

Dit bly seker maar die grootste worstelstryd in my gemoed- die vraag hoekom lyding in hierdie lewe so erg kan wees.  Ek het baie mooi preke daaroor gemaak- Psalm 23 waar die Here saam met ons in die donker dieptes is.  Die vierde man saam met Daniël se vriende in die vuuroond, wat soos ‘n hemelse wese lyk.  Vanoggend se preek- Romeine 8: 37-39- Meer as oorwinnaars, selfs in lyding…

Ek weet ook Khalil Gibran het so mooi geskryf dat pyn die instrument is wat ons uithol sodat ons meer vreugde kan bevat…

Al hierdie dinge is sekerlik waar. Ek is nie ‘n goeie pastor nie. Mense se seer kom klim in my lyf in.  Ek kan nie net vergeet as ek van hulle af wegstap nie.  Ek lê in die aande en dink aan hierdie dinge, en bid…

Maar net soms wil ek ook maar net langs die waters waar daar vrede is, onder die wilgerboom op die groen gras gaan lê, en kyk hoe die swane stadig verby swem…

Beautiful photo by: dailyphotostream.blogspot.com

Wanneer Dominee soos ‘n groot aap voel…

Ek skryf hierdie stukkie nou maar as ‘n stukkie terapie… dit moet êrens uit…

Ek het vanmiddag ‘n troue op my dagboek gehad. ‘n Jong man wat in ons gemeente grootgeword het, het vanmiddag met sy pragtige bruid getrou by ‘n Lodge buite ons dorp. Aangesien die jong man lank terug teologie begin studeer het vir ‘n rukkie, het hy ‘n paar pelle wat nou al proponente is. Sy een vriend gaan die preek waarneem. Maar dan het hulle iemand met die nodige papierwerk nodig om net die wetlike aspekte te hanteer- die vragies te vra en die huwelik by Binnelandse Sake te registreer na die tyd. Dis nou waar ek in die prentjie kom…

Na die afgelope twee weke se vleiswerkery het ek êrens die griep opgetel. Van gisteroggend af is my keel en hele lyf seer, ek voel half duiselig en digter in die kop as gewoonlik.  So onthou ek van vanmiddag se troue. Maar ek lê maar in die bed tot die laaste moontlike oomblik, om so veel gesondheid as moontlik te probeer bymekaarskraap vir hierdie grootse geleentheid.

Op my Blackberry kalender staan: Trou Stefan 16h00. En dit maak sin. ALMAL trou 16h00. In my dagboek staan: Trou Stefan 15h00. Seker maar ‘n drukfout… Ek hou in elk geval daarvan om  vroeg by ‘n troue te wees, en die korrekte lokaal te kry, myself deeglik geestelik voor te berei, my huweliksregister en -sertifikaatboek mooi met my spesiale silwer Parker neer te sit dat die fotograaf ook sy werk kan doen. Ek is gewoonlik ten minste ‘n driekwartier voor die tyd daar.

Vanmiddag 15h07 lui my selfoon. DIs die bruidegom se moeder. Hulle wag net vir my… ek sê hulle moet begin, ek is nou daar.

Nou spring ek in my kerkpakkie in. Die belt wil eenvoudig nie in die haas deur die lussies gaan nie. Die enigste das wat nou skielik lyk of hy gaan pas, is die Bloedskenkdas…

Gelukkig is die skoene vanoggend al gepoleer, en al die dokumentasie in die aktetas gesit. Ek gryp die tas, spring in die Corolla en jaag na die Lodge toe.  Die troue het al begin… ek kom by die hek van die Lodge aan, en hy is toe, met geen hekwag nie. Net ‘n nommer om te bel om die kode te kry. My Blackberry het juis hierdie nuwe truuk- een oomblik wys die battery nog vol, die volgende oomblik is hy in die rooi en sit af… gelukkig nie vanmiddag nie! Maar die Lodge is in ‘n valleitjie, selfoonopvangs is nie altyd so goed nie. En die netwerk wys eers: “Congested…”  ‘n Corolla kan nie ‘n ysterhek oopry nie. Met my bakkie kon ek dalk probeer het…

Uiteindelik antwoord iemand die foon, en gee my die kode. Ek was twee jaar gelede laas by hierdie betrokke Lodge- ek weet mos waar is die enigste moontlike lokaal vir ‘n troue. Ek jaag in na die hoofgebou toe. Ek probeer my hemp indruk, my das regtrek, nie totaal verdwaald lyk nie. Maar daar is niemand in die hoofgebou nie, veral nie in die lokale nie- net gedek vir die onthaal, maar geen bruid, geen bruidegom nie… niemand nie… daar by die kroeg is ‘n beweging- storm soontoe- nee, die jong dame daar weet nie waar hou hulle troues nie…  Sy dink daar is ‘n kapelletjie êrens op die plaas. Waar? Weet nie.

Ek storm terug na my kar toe, dis vandag 31 grade in die Bosveld, en ek het ‘n langmouhemp en kerkpak aan… ek begin sweet van siekwees, spanning en die hitte… buite jaag ‘n seuntjie op ‘n Quadbike rond- weet hy waar is die kapel waar hulle trou? Ja, daar onder naby die hek…  Ek het reg voor hom verby gejaag op pad na die hoofgebou toe…

Ek jaag terug, stop in die middel van die pad, hardloop na die grasdak kapelletjie toe, waar ek tot my verligting ‘n bruid, ‘n bekende bruidegom en ‘n proponentjie wat amper net so baie soos ek sweet sien. En juis toe sê die jonge kollega AMEN!  Gelukkig het die bruidspaar so seremonie waar hulle ‘n glas Cabernet met ‘n glas Sauvignon Blanc meng- die versnit wat die nuwe eenheid simboliseer. Ek gryp my registers uit my tas uit, slaan haastig my Kerkboek oop by die huweliksformulier… ek hyg soos wanneer ek op ‘n warm dag op die Argus oor Suikerbossie gaan…

Is dit julle albei se opregte voorneme om met die seën van die Here in die huwelik bevestig te word? M.A.W- is jy uit vrye wil uit hier?  Ja.

Stefan, verklaar jy dat sover jy weet daar geen wettige beswaar is teen jou voorgenome huwelik met die bruid, B nie? Aanvaar jy almal hier teenwoordig as die getuies dat jy haar nou tot jou wettige vrou neem? Ja…  Kyk dan nou in haar oë en belowe dit vir haar: Voor God en ons familie beloof ek liefde en trou, vir altyd en in alle omstandighede, aan my bruid, B…

Presies dieselfde vraag aan B, wie se ogies te pragtig blink as sy na Stefan kyk…

Gee mekaar dan nou die regterhand. Hiermee verklaar ek dat S en B nou wettig getroud is. S, jy mag jou vrou soen…

‘n Pragtige stuk musiek speel terwyl hulle diep in mekaar se oë kyk… erens in hierdie tyd daal my hartklop vir die eerste keer onder 180 sedert 15h07…

Dis nou ‘n uur later- dit het my langer gevat om hierdie te tik as die hele heen en weer ry en trouseremonie…

Jammer Stefan en Stefan se ma, gelukkig het die tydsberekening perfek uitgewerk vir die seremonie self. Ek haat dit as ek so voel, en weet ek het aangejaag!  Mag julle twee baie gelukkig vorentoe wees op die lewenspad!

En nou voel ek weer hondsleg, ek gaan nou dadelik weer in die bed klim…

Daar is ‘n tyd….

Met al die dinge die afgelope ruk, was julle waarskuwings seker baie geldig. Op die oomblik kan ek nie baie opbouende dinge dink en sê nie. Daarom is daar ook ‘n tyd om stil te bly. As dié fase verby is sal ek weer blog, dit maak geen sin om ander saam met my in die gat in te trek nie…

Ouderdom kom nader as swaers nou al 50 word…

So het ons maar gıster dıe verskrıklıke pad tussen Nylstroom en Vaalwater aangepak. Steeds 6 stoppe en 2 ure vır dıe 60 km. Anderkant Vaalwater het dıe Corolla uıtbundıg ın dıe draaıe gespeel, soms teen 180 kmu.

Sekere verwıkkelınge ın my eıe persoonlıke gesınslewe maak dat spoed al hoe lekkerder word- lıvıng on the edge begın al hoe meer bekoorlık raak…

So boek ek toe by ‘n goeıe vrıend ın Lepellê gaan nes skrop- so oorkant dıe 6e putjıe van dıe Gholfbaan. Louıs l’Amour sou nou gesê het hy ıs dıe nuwe SKypılot van Ellısras.

Ons het ın dıe week Varksusters gemaak, en ek het ‘n klompıe gekoop om saam te brıng. Dıe goed ıs waaragtıg lekker, ons verkoop dıt op 1 September teen R28 per kılo. Saam met dıt het ons dıe Hugenote Kollege se verslag behandel- as jy nıe verstaan nıe, vra jouself af waar dıe edele ınstıtuut geleë ıs…

Met varksusters en Wellıngton was dıe aand baıe lekker so onder dıe koraalboom ın een van dıe vınnıgste groeıende dorpe ın dıe land.

Vanoggend by dıe Hoërskool se Lapa vıer ons Swaer se 50 e verjaardag. Hy ıs dıe kınd net ouer as Vroulıef, so… Dıe ouderdom kom nader. Vandag vıer ons fees, en vanaand ry ons dıe 3 ure terug ın dıe donker oor DAARDIE pad…

Dıe lewe gaan nou veels te vınnıg, ek wıl nou afklım van dıe mallemeule af!

Ag jammer ek skeep julle so af!

Ons hou kerkbasaar op die 1e September.

Dit beteken dat daar ongeveer 10 beeste en 23 varke op ‘n manier in klein, higiëniese pakkies moet klim wat glad nie lyk soos lewendige troetelrige plaasdiertjies nie…. Die hele dag op my voete in die slaghuis maak dat ek doodmoeg in die aand in die huis instrompel.

Daar is ook baie krisisgevalle en mense met seer, en ek kom nie op die oomblik by almal uit soos wat ek graag wou nie.

Voorts moet ek Maandag my 5e begrafnis in 3 weke  se tyd hanteer.

Daar is net mooi tyd vir niks op die oomblik nie.

Jammer ek is so afwesig!

Dit sal weer beter gaan na 1 September…

Baie Dankie Londen 2012!!!

Ek het die Olimpiese Spele baie geniet. Ons het nuwe helde gevind- Cameron van den Burgh, Chad le Clos, ons roeiers, Burrie Stander, en vele vele meer van ander lande wat ons geïnspireer het.

Sommiges het groot terugslae gehad, maar teruggekom om klaar te maak. Soos Fabian Cancelara.

Ander was sommer windgat omdat hulle so goed is- soos Usain Bolt. Ander het met hulle medemenslikheid my hart aangeraak, soos Kirani James wat in die uitdun al sy nommer met Oscar Pistorius geruil het uit respek.

Oscar Pistorius staan vir my kop en skouers uit as my held vir die Olimpiese Spele 2012- hy het my geïnspireer met sy moed en sportmanskap.

En nou is dit verby…

Dit was vir my so aangrypend- die woorde van Jacques Rogge- “We call on the youth of the World, to gather in four years time in Rio de Janeiro, to compete in the 31 st modern Olympic Games… ”

Ja, ek weet dis tradisie om te nooi. Maar daar lê ook ‘n uitdaging in. Daar lê 4 jaar voor waarin jy die beste kan probeer word in jou sportdissipline, en dan gaan meeding teen die beste van die bestes…

Ek voel so geïnspireerd ek wil sommer ‘n haelgeweer gaan koop en begin kleiduiwe skiet… of ‘n boog of ‘n perd. Die hardloop en fietsry en swem sal nou nie werk nie… ouderdom en liggaamsbou…

Maar baie dankie. Al het die Engelse my weer verdomp tot 01h10 besig gehou vanoggend. Hoekom het al my musiekhelde so oud geword?

Die vlam is nou dood. Maar in my hartjie smeul ‘n vonkie…

Die Prys van die Liefde- deel 2

Ek is so jammer, verlede week se inskrywing van Die Prys van die liefde het party mense ontstel. ‘n Goeie vriend het sommer sy droom van ‘n nuwe fiets prysgegee en sy pragtige vrou meer begin aangryp…

Maar ‘n mens kan ‘n mooi verhaal nie so in die lug laat hang nie. Daar het soveel meer intussen gebeur.

Verlede Dinsdag het die kinders van die tannie deurgekom, op haar bevel. Sy het regtig ervaar die einde is nou naby, en sy wou tot siens sê. Maar hulle kuier het haar geïnspireer om nog so bietjie te wil lewe. So was daar regtig ‘n opflikkering in die lewensvlammetjie. Maar oor die naweek het dinge weer begin agteruit gaan.  Sy het geval, en haar man (nou 83 jaar oud) kon haar nie terugkry in die bed in hulle woonstelletjie in die ouetehuis toe nie. Sy moes toe maar noodgedwonge na die siekeboeg van die Ouetehuis verskuif word.   Maar Tant Tienie was nie baie gelukkig daar nie. Sy en haar man was dan nou al by die 60 jaar getroud, hulle kan nie meer sonder mekaar lewe nie.

En sy het oor die naweek in die siekeboeg gebly.  Maar die oom het gesien- sy vroutjie is nie gelukkig daar nie.Sondagoggend om half vier, toe trek die oom ‘n James Bond van epiese proporsies op die Ouetehuis. Dit was VERSKRIKLIK koud. Maar die oom het ‘n rolstoel  in die hande gekry, en in daardie donker, koue uur die Ouetehuis binnegesluip, en sy vrou gaan ontvoer.  Ek weet wraggies nie hoe op aarde het hy dit reggekry nie, sy moes met die bietjie krag wat in haar oor was, hom gehelp het om haar in die rolstoel te kry, en warm toe te draai.

Sesuur Sondagoggend is die hel los. Die verpleegster daag met die tannie se bord Oatspap op. En weg is sy! Sy skakel toe maar die kinders- Tant Tienie is weg!  Na kerk gaan kyk die kinders. Tant Tienie lê gelukkig in haar eie bed, en haar man glimlag breed met daardie onnutsige glinster in sy oog. So het hulle ‘n wonderlike avontuur beleef!

Maar die tannie was reg- haar gesondheid was vinnig besig om agteruit te gaan. Soos verlede week vertel, het sy altwee haar seuns aan hartaanvalle op ‘n jong ouderdom verloor as gevolg van ‘n aangebore hartdefek. Die een seun se vrou is weer getroud, maar behandel hierdie twee gewese skoonouers nog steeds met die mooiste respek en liefde. Sy het in die week gaan kuier waar tant Tienie weer in die siekeboeg opgeneem moes word. Met die organe wat stadig gaan staan het, was die tannie vir groot tye nie by haar bewussyn nie. Maar hier na die einde toe gistermiddag het sy helder wakker geword. Sy was in ‘n geestesvervoering- sy het beskryf hoe sien sy ‘n helder lig, en aan die ander kant sien sy van haar oorlede broers en susters, asook haar twee seuns, wat haar roep om na hulle te kom. En sy beskryf vir haar skoondogter dit asof sy dit ook moet sien- kyk hoe mooi lyk hulle!   Daar is net een ding wat haar terughou: gaan haar man sonder haar regkom?  Maar haar man het ‘n paar keer hierdie week al vir haar gesê hy wil haar nie terughou nie, as dit haar tyd is, kan sy met vrede gaan.

Gisteraand het die oom weer by haar bed gesit. Sy het al in 1982 ‘n hartaanval oorleef, en moes van toe af ‘n slaappilletjie drink om aan die slaap te raak.  Gisteraand het sy weer haar slaappilletjie gedrink. Haar man het soos gewoonlik oor haar been gevryf tot sy rustig aan die slaap raak. Toe hy dink sy slaap, vat hy sy hand weg. En die tannie vra kwaai: “Waar is jou hand?”  So het hy nog ‘n kwartier by haar gesit, tot sy rustig aan die slaap geraak het.  Hy is terug na hulle woonstelletjie toe.

Teen half twaalf gisteraand het die personeel hom kom roep. Sy is saggies in haar slaap oorlede.

VAnoggend vroeg kry ek die boodskap. Ek gaan kuier vir hom by sy woonstelletjie. Die HELE ouetehuis is in sy sitkamer. Almal gee om, almal is daar om te ondersteun. Maar  daar is nie eers sitplek vir die oom en my in sy eie huis nie. Die oumense sit en praat met mekaar oor hulle ortopede en hartspesialiste, en vertel mekaar wrede oorlogstories van hulle operasies en herstel. EK neem die oom na die klein kombuisie toe, net ons twee. Ek sit my arm om sy skouer, en bid vir hom. Dankie vir die tannie se lewe. Dankie vir hulle wonderlike 60 jaar saam, en die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het van mense wat ware liefde verstaan.  En Here, dra asb vir oom Hans in U arms deur hierdie donker diepte…

Sy skoondogter het hom net daarna kom haal, die woonstel, en sekerlik die baie mense, was vir hom te veel.

Ek het vanmiddag weer daar gaan kuier, ek moet Maandag haar troosdiens lei. Die versoek is dat ek uit Prediker 12 sal preek.

Ek help graag, oom Hans! Maar ek gaan waarskynlik hierdie keer net so hard huil soos julle!

My begeerte is om ook so oud te kan word, dankbaar en tevrede, saam met die vrou van my jeug…

Ek sal ook daarvan hou om eendag so deur die Jordaan te kan gaan…

Ek is so bang vir daardie alleenheid…

Bid maar vir oom Hans asseblief, dis die wonderlikste, mees saggeaarde mens, wat vir my so ‘n voorbeeld van liefde is. Dit gaan vir hom ‘n baie moeilike reis vorentoe wees!

 

Op hierdie koue dag…

  •  is ek wakker gebel deur die Ouetehuis- die dame oor wie ek verlede week geskrywe het in “Die prys van die liefde” is nou baie na aan die einde van haar lewenspad. Sy het verlede week bietjie opgeflikker na al haar kinders daar was en haar gevra het om nog so bietjie te baklei teen die naderende einde. SY is nou moeg baklei…
  •  vertel jongkollega ons van sy nuwe status op facebook- hy is nie meer “single”nie maar in ‘n “relationship”… Hou dop, ek glo ons gaan die nuwe liefde in die Olimpiese spele van 2016 in Rio sien- hou dames padfietsry dop, sy is VINNIG!
  • moet ek ‘n pa van vier dogters gaan begrawe- een se man is nou al self  30 dae in die Intensiewe sorg eenheid van Pietersburg se Provinsiale hospitaal- die siek skoonseun is nou maar 39 en dodelik siek na ‘n maagsweer begin bloei het, verkeerd deur die Kubaan behandel is, en septisemia opgedoen het wat sy organe aanval.
  •  gaan my dogter Oppikoppi toe en in ‘n tent bly terwyl sy nog nie gesond is nie, en nie vir haar bejaarde vader wil luister nie…
  • Is ‘n baie goeie vriendin uit die Kaap uit in ons dorp, en hoop ek ons kan vandag na al die hartseer gebeure lekker kuier.
  • Begin my vrou en kinders se langnaweek, ek is aan diens vir die naweek.
  •  Val die sneeu op die dorpe rondom ons, maar steeds nie by ons nie. En my vrou het nog nooit self sneeu beleef nie.
  •  Moet my twee hoërskoolseuns begin leer vir Maandag se toetsreeks, hulle albei se gemiddelde lê rondom 42%. Hoe de hel kry ‘n mens ‘n hoërskoolseun om oor ‘n langnaweek te leer?
  • Eintlik maar ‘n doodgewone dag in die lewe van die plattelandse predikant…

Die kennisgewingbord in ons kombuis sê gewoonlik hoe die gesin voel…