Die Prys van die Liefde- deel 2

Ek is so jammer, verlede week se inskrywing van Die Prys van die liefde het party mense ontstel. ‘n Goeie vriend het sommer sy droom van ‘n nuwe fiets prysgegee en sy pragtige vrou meer begin aangryp…

Maar ‘n mens kan ‘n mooi verhaal nie so in die lug laat hang nie. Daar het soveel meer intussen gebeur.

Verlede Dinsdag het die kinders van die tannie deurgekom, op haar bevel. Sy het regtig ervaar die einde is nou naby, en sy wou tot siens sê. Maar hulle kuier het haar geïnspireer om nog so bietjie te wil lewe. So was daar regtig ‘n opflikkering in die lewensvlammetjie. Maar oor die naweek het dinge weer begin agteruit gaan.  Sy het geval, en haar man (nou 83 jaar oud) kon haar nie terugkry in die bed in hulle woonstelletjie in die ouetehuis toe nie. Sy moes toe maar noodgedwonge na die siekeboeg van die Ouetehuis verskuif word.   Maar Tant Tienie was nie baie gelukkig daar nie. Sy en haar man was dan nou al by die 60 jaar getroud, hulle kan nie meer sonder mekaar lewe nie.

En sy het oor die naweek in die siekeboeg gebly.  Maar die oom het gesien- sy vroutjie is nie gelukkig daar nie.Sondagoggend om half vier, toe trek die oom ‘n James Bond van epiese proporsies op die Ouetehuis. Dit was VERSKRIKLIK koud. Maar die oom het ‘n rolstoel  in die hande gekry, en in daardie donker, koue uur die Ouetehuis binnegesluip, en sy vrou gaan ontvoer.  Ek weet wraggies nie hoe op aarde het hy dit reggekry nie, sy moes met die bietjie krag wat in haar oor was, hom gehelp het om haar in die rolstoel te kry, en warm toe te draai.

Sesuur Sondagoggend is die hel los. Die verpleegster daag met die tannie se bord Oatspap op. En weg is sy! Sy skakel toe maar die kinders- Tant Tienie is weg!  Na kerk gaan kyk die kinders. Tant Tienie lê gelukkig in haar eie bed, en haar man glimlag breed met daardie onnutsige glinster in sy oog. So het hulle ‘n wonderlike avontuur beleef!

Maar die tannie was reg- haar gesondheid was vinnig besig om agteruit te gaan. Soos verlede week vertel, het sy altwee haar seuns aan hartaanvalle op ‘n jong ouderdom verloor as gevolg van ‘n aangebore hartdefek. Die een seun se vrou is weer getroud, maar behandel hierdie twee gewese skoonouers nog steeds met die mooiste respek en liefde. Sy het in die week gaan kuier waar tant Tienie weer in die siekeboeg opgeneem moes word. Met die organe wat stadig gaan staan het, was die tannie vir groot tye nie by haar bewussyn nie. Maar hier na die einde toe gistermiddag het sy helder wakker geword. Sy was in ‘n geestesvervoering- sy het beskryf hoe sien sy ‘n helder lig, en aan die ander kant sien sy van haar oorlede broers en susters, asook haar twee seuns, wat haar roep om na hulle te kom. En sy beskryf vir haar skoondogter dit asof sy dit ook moet sien- kyk hoe mooi lyk hulle!   Daar is net een ding wat haar terughou: gaan haar man sonder haar regkom?  Maar haar man het ‘n paar keer hierdie week al vir haar gesê hy wil haar nie terughou nie, as dit haar tyd is, kan sy met vrede gaan.

Gisteraand het die oom weer by haar bed gesit. Sy het al in 1982 ‘n hartaanval oorleef, en moes van toe af ‘n slaappilletjie drink om aan die slaap te raak.  Gisteraand het sy weer haar slaappilletjie gedrink. Haar man het soos gewoonlik oor haar been gevryf tot sy rustig aan die slaap raak. Toe hy dink sy slaap, vat hy sy hand weg. En die tannie vra kwaai: “Waar is jou hand?”  So het hy nog ‘n kwartier by haar gesit, tot sy rustig aan die slaap geraak het.  Hy is terug na hulle woonstelletjie toe.

Teen half twaalf gisteraand het die personeel hom kom roep. Sy is saggies in haar slaap oorlede.

VAnoggend vroeg kry ek die boodskap. Ek gaan kuier vir hom by sy woonstelletjie. Die HELE ouetehuis is in sy sitkamer. Almal gee om, almal is daar om te ondersteun. Maar  daar is nie eers sitplek vir die oom en my in sy eie huis nie. Die oumense sit en praat met mekaar oor hulle ortopede en hartspesialiste, en vertel mekaar wrede oorlogstories van hulle operasies en herstel. EK neem die oom na die klein kombuisie toe, net ons twee. Ek sit my arm om sy skouer, en bid vir hom. Dankie vir die tannie se lewe. Dankie vir hulle wonderlike 60 jaar saam, en die voorbeeld wat hulle vir ons gestel het van mense wat ware liefde verstaan.  En Here, dra asb vir oom Hans in U arms deur hierdie donker diepte…

Sy skoondogter het hom net daarna kom haal, die woonstel, en sekerlik die baie mense, was vir hom te veel.

Ek het vanmiddag weer daar gaan kuier, ek moet Maandag haar troosdiens lei. Die versoek is dat ek uit Prediker 12 sal preek.

Ek help graag, oom Hans! Maar ek gaan waarskynlik hierdie keer net so hard huil soos julle!

My begeerte is om ook so oud te kan word, dankbaar en tevrede, saam met die vrou van my jeug…

Ek sal ook daarvan hou om eendag so deur die Jordaan te kan gaan…

Ek is so bang vir daardie alleenheid…

Bid maar vir oom Hans asseblief, dis die wonderlikste, mees saggeaarde mens, wat vir my so ‘n voorbeeld van liefde is. Dit gaan vir hom ‘n baie moeilike reis vorentoe wees!

 

9 thoughts on “Die Prys van die Liefde- deel 2

  1. Ag shi… ek meen demmit man. Hier sit ek nou en tjank sulke lang trane. Ek het nie rerig kommentaar nie. Wou waar net vir jou sê ek was hier en het gelees. En op ‘n klein maniertjie is ek deel van die storie omdat ek die vooreg gehad het om dit te lees.

    geniet die vleisie. En die vrou.😉 Jy is bevoorreg.

  2. In vandag se tyd is dit so wonderlik om van so n liefde te hoor. Wat n voorreg om sulke mense in jou lewe te kon gehad het. Sal vir seker vir oom Hans bid en glo die Here hou hom styf vas en glimlag breed want Sy liefde was so sigbaar in sy lewe gewees. Sterkte met die begrafnis.

  3. Innige meegevoel met oom Hans en die familie.
    Ek lees hierdie stukkie en die opskrif en die prys wat ek in my geestesoog sien het niks te doen met uitgawes nie.
    Soos ek dit sien het hierdie paartjie die prys (cost in die rooitaal) van liefde vergete al betaal, en met haar afsterwe is hulle goddelike verpligting (tot die dood ons skei) ook volbring.

    Wat nou oorbly is die prys (reward) van die liefde. Aan die oom en familie die herhindering aan ‘n leeftyd se liefde. Aan buitestaanders soos ons die inspirasie om dit te probeer nadoen in ons eie lewens en verhoudings.

    Prys inderdaad, die soort wat in die inkomste kolom gaan.

  4. Ag, ek wou julle almal nie omkrap nie… ek sal maar liewer nie vertel van vanoggend in Unitas se onkologiese saal nie…
    Dié dinge begin nou woes aan my vat, ek wens ek kon so paar dae net op ou Huisbesoek spring en wegry… maar volgende week, na Maandag se begrafnis, gaan ons begin om 10 beeste en 23 varke te bewerk vir die fees op 1 September… soos dinge nou lyk gaan ek eers Oktober weer ‘n breuk kan maak…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s