Die Fees is nou op ons…

Nee, nou nie so indrukwekkend soos Aardklop of Oppikoppi nie. Dis sommer pleinweg gestel ons kerkbasaar. Maar kerkbasaar se naam klink nie mooi nie, dit klink of dit net om geld insamel gaan.

Nee, dis ‘n Fees. Ons probeer die hele gemeenskap lok om by ons op die kerkterrein te kom kuier, te sien hoe lekker almal saamwerk, en die atmosfeer te kom geniet saam met ons.

Ek dink ook nogal dat mense waarde vir hulle geld kry. Vanaand is die Feesete om 18h00. Sorry- jy moes al Maandag kaartjies gehad het om te kom!  Die jong opkomende sanger Enrico (vergewe spelling indien nodig- dis nié Enrique Igliasis nie, maar klink glo nes Josh Groban) sing na ete vir ons. Die ete self- ‘n heerlike klein hoenderpastytjie vir voorgereg. ‘n Potjie vir hoofgereg- en ek het daardie vleis hanteer- dis Supergraad rumpsteaks, topside en silverside wat met die grootste sif gemaal is.  Daar is so mouse vir nagereg, ons het dit maandagaand in die laaste Feesvergadering geproe, en dit is baie lekker, maar ek sal die goeie bottel Rooi nie mag vergeet nie…

Vir atmosfeer en die Bosveldson is daar van 80% skadunet ‘n tent gemaak wat die paar 100 viermante meter tussen ons kerk en saal toemaak. Dit verskaf koelte en ‘n baie lekker atmosfeer. Ons het ‘n professionele klankman en -sisteem. Die verhoog is ‘n reuse sleepwa, versier met baie plante…

Vanaand na die groot ete werk ons eers hard- dan gaan al die tafels na al die verskillende stalletjies toe, wat vir more opgemaak word.

En moreoggend om 05h30 gaan haal ek die lorrie met die vrug van my span se 2 weke se harde werk- die 22 varke en 8 beeste wat saam kom feeshou. EK dink net hulle geniet dit nie so baie soos ons nie.  So dankbaar, niemand se vinger is hierdie jaar afgesny nie, niemand behoort ‘n trouring in die wors raak te byt nie.  Die pryse is fantasties- veral ons jong varkboere in die gemeente dring aan dat dit bekostigbaar moet wees- R28 per kilo vark deur die bank- en dis die mooiste kwaliteit wat jy kan kry.  Wel, die eisbeins en spareribs wat gerook en gepekel is, is natuurlik so effens duurder…

Die vleis bly die een groot trekpleister na ons fees toe. En ek is so bitterlik dankbaar as ek die lorrie met al die leë kratte kan gaan aflewer so moremiddag 13h00.  Dit is altyd ‘n gevoel van ‘n reuse taak wat suksesvol afgehandel is. Maar dit kom nie sonder stampe of stote nie.  As jy twyfel aan die sondige natuur van die mens, probeer vleis baie goedkoop aan die Here se kindertjies verkoop… so het ‘n wyse donkie verlede jaar êrens op ‘n blog gesê. Dis steeds waar.  Met die vleiswerk span het dit baie rustig gegaan, tot die laaste dag. Toe het die een broer sy moer gestrip oor almal vir hom bevele gee, en hy kom uit die weermag uit, net een ou is in beheer. Hy gryp sy mes en dril daar uit… my mond hang nou nog oop- ons het dan ons doel bereik- al die vleis is suksesvol in die gegewe tyd baie netjies verwerk. Ek is in beheer, maar ek werk met ‘n span wat baie meer van vleiswerk weet as ek. Daarom lewer elkeen insette oor wat hulle dink die beste manier is om hierdie betrokke stukkie vleis met respek aan te spreek en aan te bied.

Dan gaan daar weer die bakleiery by die verkope wees- daar is net soveel fillets (Supergraad) teen R80 per kilo. Ons rumpsteaks teen R60 is ook net soveel… Ons het die keursnitte nou maar in “hampers” verpak, as jy ‘n fillet wil hê, koop jy ‘n pakket wat wors en maalvleis en varktjops insluit… hoekom? Sodat die enkele miljoeners nie daar instorm en al die fillets in ‘n mandjie gooi voor al die verdwaasde armes nie. Elkeen kry ‘n kans- hoop ons. Ek weet ons het die beste vleispryse in die dorp. Net ons maalvleis word op die oomblik geklop deur een van die groothandelaars.  R40 per kilo baie mooi maalvleis, waarin daar geen kliere, senings of bene, of beesharte en ander duistere dinge in is nie, is die beste wat ek kan aanbied.  Party van die Here se kindertjies gaan weer in die rye indruk, party gaan weer woes probeer pryse afstry, maar ek is nie die Orientale mark nie!  En party gaan weer vergeet om hulle eie koelhouers te bring en pleit om die kratte te leen van die groothandelaars wat ons gehelp het met die fasiliteite om die vleis op te sny. Ek staan verantwoordelik vir elke krat wat die perseel verlaat, teen R75 ‘n krat kan dit vinnig ‘n lelike klomp geld word. Ek sê nee, en tog verdwyn daar steeds elke jaar ‘n krat of twee, en staan ek verleë as ek die vragmotor en kratte gaan terugboek…  Leen is ‘n baie lelike woord, se (wat is daardie ding wat nou weer aan ‘n bout vasskroef?) man!

Die res van die fees lyk soos dit moet. Daar gaan weer lekker basaarpoeding wees teen net R5 ‘n bakkie.  Daar is kerrie en rys, vetkoeke, Plaasontbyt. Gebak- maar ons sukkel steeds met die groot- en kleinkoeke op die basaar.  Die kinders se gesiggies gaan geverf word, hulle gaan spring op die springkastele. In die hoek gaan die manne skyfskiet vir groot pryse. In die Bosveld is dit belangrik om gereken te word as ‘n goeie skut.  Al vermoed ons ‘n paar van die meer duistere karakter broers neem gereeld deel aan die nie-Olimpiese sport Poaching…

Ons gaan BAIE hard werk van vanmiddag af, ons gaan BAIE eet en koeldrank drink. Ons gaan in die sweet van ons aangesig vir die gemeenskap iets lekkers probeer aanbied.  En elkeen wat kom, behoort ‘n “bargain” of twee raak te loop.  Ai maar dit is lekker op die Platteland!

Gelukkig is daar nie hierdie jaar Donkieritte nie, die Donkie is steeds siek…

 

 

 

9 thoughts on “Die Fees is nou op ons…

  1. Skiet my maar, ek wonder net waarom mense die mentaliteit het dat Christene altyd goedkoper moet vra of betaal as die normaal. G’n wonder die kerk het nooit genoeg geld nie. Ek sou sê verkoop die vleis vir dieselfde prys as daarbuite, die mense weet hulle kry goeie kwaliteit en dit gaan vir ‘n goeie doel. Elke keer as jy hieroor skryf skud ek net my kop. Dis tyd dat die kerk bedryf word soos ‘n goeie besigheid, en die cherry op die koek sal wees as elke besigheid ook kerk is.

  2. Sien baie uit na more, dit gaan voorwaar n FEES wees. Dankie ook vir jou harde werk – om met vleis te werk is nie vir my n lekker idee nie, maar miskien eerder dit as met mense want ten minste kan n dooie bees of vark nie uit die vertrek storm nie!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s