Matriekafskeid

Cobra Starship kreun dit oor die dilapidated kegelspeakers uit:  “You make me feel… la la la la la…”

Oom Kallie se geleende, blinkgepoetsde Mercedes E 55 AMG brul met sy V8 kompressor enjin oor die rugbyveld, en kom tot stilstand voor die rooi tapyt.

Die effens verwarde graad 11 meisietjie met die mikrofoon roep hulle name uit, en vertel hoe hulle die rooi tapyt besit vanaand.

Hy klim uit met die Truworths Man broek, die Brooks Brothers hemp en Armani das. Die hare is netjies gejel, die Oakley Sonbril stewig op die neus vas.  Hy hardloop om die voertuig, om die deur vir Haar oop te maak. Die eerste span Hokkie kaptein. Lang, lenige sportiewe bene skuif eerste tot binne sig van die versamelde skare. Die fynste silwer sandale, tone wat die graad 8′ seuns in verwondering het. Die wynrooi rok, wat soveel maande lank sorgvuldig beplan is, word vir die eerste keer in die openbaar gesien.  Dit komplimenteer die blonde hare, wat vanoggend die hele salon in rep en roer gehad het.  Dis die tweede mooiste wat sy in haar lewe gaan lyk, daar wag eendag, in die toekoms, ‘n wit rok wat haar nog mooier gaan laat lyk…

Hy bied haar sy arm aan, en dan stap hulle op die rooi tapyt verby die pawiljoen, daardie sestig meter stappie wat gesamentlik R200 per meter gekos het…

Oor twee weke begin die matriek eindeksamen.  Die keuring vir Veeartseny is nog nie bekend gemaak nie. Maar met 8 potensiële onderskeidings sal daar waarskynlik weer ‘n briefie van Onderstepoort af kom: Jammer, as gevolg van akademiese redes het u aansoek nie geslaag nie.  Ook sy aansoek by die Vloot lê en wag tevergeefs- die Vloot neem net elke 2e jaar deesdae rekrute in- en dan moet jy reeds in besit wees van jou fisiese matrieksertifikaat, niks gaan dus voor Augustus 2013 besluit word deur die Militêre Hoofkantoor in Thaba Tswane nie…

Twaalf jaar se skoolopleiding is byna verby. Die pad van die toekoms, met al sy uitdagings en afdraaipaaie, sy hindernisse en slaggate lê voor die deur. Maar dit is nog ver…

Vanaand is wat saak maak! Hierdie 60 meter voor die kameras op die rooi tapyt. LMFAO featuring Natalia Kills trek los met “Champagne Showers…” Tree vir tree, terwyl die kameras flits… More is nog ver, vanaand is ons jonk en mooi. Vanaand gaan ons paartie, en dis al wat nou saak maak…

Ag dalk is dit nie die regte prentjie nie, dit was net vir my baie mooi! Kuns van Norman Engel.

 

 

 

Advertisements

By die Bandeplek het ek geween…

Vanoggend moes ek en Pastoriemoeder Gomorra toe gaan. Nommer 3 het sy pa se aandagafleibaarheid geneties geëef, en moet soms ‘n pilletjie drink om in eksamentyd te onthou hy is nog op planeet aarde. Die dokters wat daardie pilletjies voorskryf, is nie meer op planeet aarde woonagtig nie, want hulle rekeninge is gelykstaande aan die koste om iemand by die Internasionale ruitestasie te kry met Space X se vuurpyl…

Van die Moothospitaal Menlyn toe, om die tweetjies af te laai. Sewe keer is daar bottelnekke in die pad- daardie oranje kegels, dan word twee bane toegemaak om een pyltjie in die pad te verf… Dis ook die tyd wat Gomorra se ouetehuise almal wat nog 10 persent visie het, stuur om in die paaie te gaab speel met hulle 1973 Corollas. Ek dink onpastorale gedagtes…

Ek MOET ook nuwe voorwiele op my Corolla sit- soos ek soms ry moet hy kan sit in die draaie… So hol ek in by die Kietsiekat bandeplek agter Menlyn in- nie lus om nou die middestad te gaan aandurf vir Malas nie…Twee Continental Sport Contacts asb… Toe begin die verkoopsman my meer vrae vra as die Nuwe Testament prof in my eindeksamen. Bandgrootte. Seker van die model- die Michelin kos net 500 meer… Nitrogen in die bande? Balanseer 1, 2, 3 of al 4? Wielsporing? X- Sure… Die paaie is sleg, jy weet…

Met die finale bedrag wat ek moet hoes sou ek in Standerd 8 twee nuwe motorfietse kon koop! Nou sit ek en wag. Hulle het gawe koffie hier by Kietsiekat Bande. Maar die tydskrifte! Waar is die FHM of die GQ, selfs die Car of Bike SA? Nee- Longevity. Home Owner. Sarie. Rooi Rose… My magtag, wat gaan in die Ooste van die stad aan, is almal nou Metrosexuals?

My koets is amper gereed. Nou kom die verkoopsman met so begrafnisondernemer gesiggie na my toe… ” Uhm, meneer- het jy onlangs gesien hoe lyk jou AGTER wiele…”

Ek het dit verloor… Het iemand hier rond nie dalk vir my ‘n pink tissue nie?

Nou, na die Sinode…

Die vergadering van die Noordelike Sinode van die NG Kerk het gekom, en gegaan. Ek het daarheen opgeruk, vas van plan om ‘n verskil te maak. Was ek suksesvol in my ambisie? Ek weet nie.

Ek is so dankbaar oor die trant van Sinodes wat so wyd verander het. Neels Jackson van Beeld het dit baie mooi op Twitter raakgesien- hoe die NG Kerk die afgelope ruk geskuif het. Toe ek in 1994 my eerste Sinode as nat agter die ore domineetjie bygewoon het, het ek nie ervaar dat ek die reg het om iets te sê in die Ooms se geselskap nie. Daardie stywe formele setting van die Sinodale Sentrum was baie intimiderend. Die kerk het mag gehad in die samelewing. Ons het gedink ons weet alles, ons het al die antwoorde. Ons kan vir mense presies vertel hoe hulle hul lewens behoort te lewe. Magtag, ONS was baie slim en sterk destyds!

Hierdie week was toe baie meer ontspanne. Die jongste dominee wat verlede Sondag bevestig is, het met sy nat swembroek ingehardloop toe die oudste dienende dominee vir hom verwelkom by die sinode…

Die atmosfeer van die sinode het heeltemal verander. Van mag het ons baie ver geskuif terug na waar ons hoort- as dienskneg van die Here en die gemeenskap. Die drie kernwoorde op die verhoog op baniere was: Gebroke, Vrygespreek, Diensbaar…  Daarmee voel ek gemaklik. Want die Here weet- ek voel bitter selde heel, ek worstel ook maar woes met nie net die gebrokenheid van die wêreld nie, maar die gebrokenheid in myself.  Ek hou baie meer van die teologie van voete was deesdae, as die outydse teologie van koppewas.

Ek het die daaglikse wydingsgeleenthede baie geniet. Almal het uit die Knegliedere daar uit Jesaja 40-55 gekom. Kosbare beelde is weer onthou- van die Here wat geknakte riete nie breek nie en rokende lamppitte nie uitdoof nie. Dankie VAder tog daarvoor, anders was daar nie vir my plek nie… Selfs Leonard Cohen se Anthem was een aand deel van die wyding- “There is a crack in everything… that’s where the light shines in…”

Die een ding wat ek opreg beleef het by die Sinode, is die wens om wel ‘n verskil te maak in Afrika, waar ons nou is. Ons wil hier ‘n verskil maak. Nie met woorde wat vir ander verdoem nie, maar met dade wat help en hoop gee.

Ek het ook by die Sinode die begeerte beleef om eenheid te bevorder in die Here se kerk. Maar wanneer die Belhar belydenis ter sprake kom, is daar duidelike vrees teenwoordig. Iemand het dit baie mooi opgesom. Daar is drie geslagte saam in die Sinode. Daar is dié anderkant 60, wat daar was toe die land gebrand het, wat die Belhar belydenis sien as duidelike bevrydingsteologie, en dit beleef as ‘n aanval teen dié wat destyds wel die mag gehad het… Daar is die mense soos ek, wat na 1994 in die kerk begin het- in die nuwe Suid-Afrika. Van die begin af moes ons rekening hou met uiters veranderende omstandighede, en in die chaos die Here se waarheid probeer soek.  Ons geslag het baie gemengde gevoelens oor Belhar. Dan is daar die jongetjies wat nou begin het. Hulle het nie die bagasie van Belhar nie- hulle lees die dokument net op sigwaarde, en sien geen dwalinge daarin nie…  Belhar maak mense bang, en die een saak wat verwoord is, is die saak van ‘n gemeenskap wat treur oor wat hulle alles prysgegee het in die Nuwe Suid-Afrika.  Al die ou argumente wat weer vir en teen Belhar opgehaal is, is nie lekker nie. Mense, veral die ouer ouderlinge, wat dieselfde dinge langdradig vertel asof ons dit nie die afgelope 20 jaar oor en oor en oor gehoor het nie…
Ek het nog steeds nie genoeg op die hart gehad om my nooienstoespraak op hierdie sinode te lewer nie. Dis hoekom ek wonder of ek wel ‘n verskil gemaak het. Ek het wel in die tafelgesprekke gesê wat op my gemoed rus.

Die kuier in die aande om die kampvuur was die groter waarde van die sinode vir my. Daar kon ‘n mens ander kollegas beter leer ken, en regtig oop en eerlik gesels oor die stormagtige tye wat ons almal in die bediening beleef, en hoe ons hier deur kan kom…

Ek is baie moeg na die Sinode. Maar ek dink tog daar het iets gebeur, al is dit net die kollekte van R15000 wat opgeneem is om in Marikana te help waar sekere gesinne baie honger lei met al die politici se genadelose puntemakery vir Mangaung…

Net so ten slotte- wat ‘n vreemde wêreld leef ons nie in nie? Die Arabiese wêreld brand oor ‘n swak gemaakte fliek wat glo Mohammed sou negatief uitbeeld. Die VSA ambassadeur in Libië is vermoor.  JApan en China raak lus om mekaar te blik…slaan oor onbenullige eilandjies…  Die ekonomie sukkel om aan die gang te kom wêreldwyd… en dan is dit steeds hoofnuus dat iemand vir William en Kate afgeloer het by ‘n privaat chateau se swembad, waar Kate dit gewaag het om haar boobies vir haar man te wys…  Wat ‘n vreemde, vreemde wêreld Master Jack!

 

By die Sinode praat ons baie…

Op hierdie oomblik sit ek en my Swartbessie in die Noordelike Sinode se sitting by Weesgerus, Nylstroom.

Ek hou van die gesindheid van die Sinode. Toe ek destyds, 18 jaar gelede, my eerste Sinode bygewoon het, was dit nog in die Sinodale Sentrum in Visagiestraat, Pretoria. Ons moes nog in kerkpakke daar gaan sit in ‘n uiters formele omgewing, soos ‘n Parlementsgebou. Jare voor my tyd sou die manne (dames was nog nie toegelaat nie) in manelpakke bymekaar wees vir twee weke om Sinode te hou. As baie jong onervare domineetjie moes ons ook nog ‘n baadjie aanhê as ons sou waag om iets te sê. Die Sinode was deur die Ooms bestuur- die waardige OU here van die ou gemeentes in Pretoria. En die Profs. Hulle en waardige ouderlinge soos Generaals het gepraat, ons jonges het geluister en gesjarrap.

Dit het so baie verander! Die wit olifant, die Sinodesentrum, is verkoop. Dis baie goedkoper om die Sinode op die platteland te hou, as daardie duur sittings van destyds. Maar ek mis die Manhatten hotel se ontbyte!

Al is my huis baie naby, bly ek en kollega in ons karavane op die terrein, om deel te wees van wat gebeur.

Hierdie Sinode se karakter het verander. Weg is die pakke en die magsvertoon. Die tema van hierdie sinode is Gebrokenheid, Vrygespreek, Diensbaar. Ons wil nie meer heers nie. Ons is self gebroke. Maar ons wil so graag ‘n verskil in Afrika maak. Want ons is nou hier.

Ons sit nie meer in stywe rye nie. Ons sit om ronde tafels en luister saam na die Here in Jesajatekste, en na mekaar. Ons het gister begin met ‘n kerse aansteek seremonie as simboliek van ons voorbidding- vir die slagoffers van Marikana, maar ook die slagoffers van die jongste plaasmoorde in ons gebied in Brits… Vir die Paralimpiese atlete van Suid-Afrika, vir ons Jeug…

Gister was ‘n lang dag in sitting. Maar na die tyd was dit nog beter! My vrou se ou Speedqueen se stainless steel drom maak baie lekker vuur. En rondom die vuur kon ons by die karavane sit, saam met ‘n kollega van Zimbabwe en Ellisras, Tuynplaas en Levubu. Sommiges het koffie gedrink, sommiges Coke, en sommiges van die stoutes het die Hugenote Kollege se verslag deeglik bestudeer. Nee, dit was eintlik ‘n 3 jaar oue Kommissie van Waarheid en Versoening verslag…

Die wasmasjien balie het sulke oranje discoliggies geflits, die voggies het ons tonge los gemaak en groot waarhede is gepraat. Die netwerke wat so gebou word, maak so ‘n groot verskil in ons lewens. Daar is begrip vir ons situasie, empatie vir ons seer, nuwe gedagtes, nuwe drome wat ontstaan.

So, al is dit baie moeilik om so lank in ‘n vergadering te sit, gebeur daar nogal inspirerende dinge- dalk kan ons tog ‘n verskil in Afrika maak!

Lekker in die Bos

 

Hierdie week, na die fees, het my dokter my afgeboek om ‘n tydjie af te vat sodat ek die griep kan oorwin en my gestel kan opbou.

Ek is diep dankbaar! Ek was van Dinsdag af op ‘n plek waar daar geen selfone en internetopvangs is nie. Dit het my baie goed gedoen…

Nou moet ons geestelik voorberei vir die  Noordelike Sinode se vergadering van Maandag tot Donderdag volgende week.  Ek gaan die Bos mis…